Nobelprys vir vrede vir Oos-Europese menseregtevegter

Alez Bjaljatzki (Foto: Sergei GAPON/AFP)

Nobelpryse word jaarliks, in Oktober, deur die Sweedse Nobelkomitee vir uitmuntende prestasies in verskeie natuurwetenskappe asook in ander velde soos literatuur en ekonomie verleen. Dit is seker die toekennings met die hoogste aansien ter wêreld, wat egter glad nie beteken dat daar nie al omstrede keuses uitgeoefen is wat die ontvangers betref nie.

Die prys wat die meeste aandag trek is die Nobelprys vir vrede, wat verleen word vir pogings om die wêreld ʼn beter plek te maak. Dit beteken in die eerste plek om konflikte te beëindig, maar ook om menseregte, die omgewing of persvryheid te bevorder. Dikwels word die besluit oor die Nobelprys vir vrede bepaal deur aktuele politieke gebeure, maar soms word dit ook aan mense of organisasies wat grootliks onbekend is en langdurige ideale nastreef toegeken, wat daardeur bekendheid verwerf en ʼn hupstoot vir hulle stryd kry.

Die prysgeld, amper €1 miljoen, is natuurlik ook nie te versmaai nie, veral vir organisasies wat onder die radar werk en nie toegang tot groot donateurs het nie.

Vanjaar se toekenning is sterk deur die hoofnuus beïnvloed, naamlik die oorlog tussen Rusland en Oekraïne. Die prys is tussen drie organisasies gedeel wat in dié twee lande, asook in Witrusland – wat ook indirek by die oorlog betrokke is as bondgenoot van Rusland, betrokke is. Die fokus was daarby nie soseer op pogings om die oorlog te beëindig nie (iets wat tans in elk geval uitsigloos lyk met die oorlog in volle swang), maar op die burgerlike stryd teen diktatorskap, mensregteskendings en magsmisbruik.

Die organisasie Memorial is in Rusland aktief en het veral die misdade deur die Stalinisme (die ergste tydperk van die Sowjet-Unie onder Josef Stalin van 1924-1953) gedokumenteer. Van regeringskant word die gruwelike verlede van die Sowjet-Unie liefs verswyg of gerelativeer, wat die werk van Memorial so belangrik maak. Memorial is ook teen die Russiese aanval op Oekraïne gekant. Hulle word reeds ʼn geruime tyd aan bande gelê en is sedert verlede jaar verbied, maar gaan ondergronds met hul sake voort.

In Witrusland, ʼn eng bondgenoot van Rusland en al vir dekades onder die brutale beheer van die diktator Alexander Lukashenko, is die menseregteaktivis Alez Bjaljatzki wat tans in die tronk sit, geëer. Hy is die stigter van die menseregteorganisasie, Wjasna (lente), wat reeds dekades lank op ʼn vreedsame wyse teen die diktatorskap veg. Hy is reeds in die verlede in hegtenis geneem, en is tydens die gebeure in Witrusland in 2020, waar groot getalle teen die bekookte verkiesing en teen Lukashenko betoog het, weer in hegtenis geneem.

Die derde pryswenner is die Sentrum vir Burgerlike Vryhede in Oekraïne. Dié organisasie is in 2007 gestig en het veral bekendheid verwerf met die dokumentasie en onthulling van mensregteskendings in verband met die Maidan-proteste van 2014 (waar die pro-Russiese president, Victor Janukowitsj, die betogings teen sy bewind probeer onderdruk het) asook in die dele van Oekraïne wat deur Rusland beset word.

Die keuse was vanjaar oor die algemeen goed gewees, alhoewel dit dalk te veel deur die nuushoofopskrifte beïnvloed is. Dit is goed dat geen politieke leier geëer is nie (en ʼn toekenning aan byvoorbeeld Angela Merkel of aan pres. Volodymyr Zelensky sou die verkeerde boodskap uitgedra het) en ten minste in die geval van Memorial en Bjaljatzki is dit organisasies en mense wat in hulle onderskeie lande verdruk word. Rusland, oftewel ʼn regeringskritiese Russiese joernalis, was egter al verlede keer die keuse van die Nobelkomitee en in die lig van die veel erger verdrukking in China, Noord-Korea of Iran kon ook opposisie-aktiviste in dié lande gekies gewees het.

Die Nobelprys is vernoem na die Sweedse ondernemer en uitvinder van plofstof, Alfred Nobel, wat uit sy ryk nalatenskap die prys gestig het. Dit word reeds sedert 1901 jaarliks toegeken.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.