Noem regstellende aksie by die naam – ʼn remfaktor vir ekonomiese groei

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto.

“Suksesvolle bemagtiging is die produk van eie inisiatief en harde werk sonder enige regeringsbystand. In Suid-Afrika, soos in talle lande met regstellende ekonomiese programme, is die ontvangs daarvan oor die algemeen uiters ongunstig. Die les wat daaruit te leer is, is dat sulke programme skadelik vir die ekonomie is omdat dit intellektuele en finansiële hulpbronne, wat werkgeleenthede kan skep, van ekonomiese aktiwiteite vervreem.”

By die lees van die bogenoemde paragraaf, is die eerste indruk dat dit uit die mond van ʼn wit persoon kom. Die gedagtes is egter in 2017 geopper in ʼn toespraak deur mnr. Temba Nolutshungu, Direkteur van die Vryemarkstigting. Hy sê dan verder “Die oorsake van die sosiaal-ekonomiese ongelykhede van Suid-Afrika kan veel eerder toegeskryf word aan die ekonomie se rommelstatus en die hoë werkloosheidsyfer. Ekonomiese groei word juis bevorder wanneer ’n regering sy inmenging in die ekonomie tot die minimum beperk en eerder ’n klimaat skep waarbinne die private sektor welvaart en werkgeleenthede kan bevorder.”

Juis dit alleen kan ʼn antwoord wees op die president, mnr. Cyril Ramaphosa, se siening oor regstellende aksie toe hy onlangs die Bondsraad van die Afrikanerbond toegespreek het. Die vertaalde weergawe van sy standpunt lui soos volg:

“Albie Sachs, oudregter, het só geskryf oor regstellende aksie:

‘Die vraag is nie óf ons regstellende aksie moet hê nie. Ons moet, op ’n diep en betekenisvolle manier… Word dit reg hanteer, sal dit help om die nasie saam te bind en voordele vir almal inhou. As dit sleg bestuur word, sal dit bloot wrokkigheid herversprei, die ekonomie skaad en maatskaplike vrede vernietig. As ons dit glad nie doen nie, sal die land onontwikkeld bly en in sy hart verdeeld’.”

Die president bevestig dan sy regering se omarming van die beleid as hy dan sê “Terwyl ons worstel met die ingewikkelde uitdaging van transformasie, bly dié sentiment ons riglyn.”

Dr. Dirk Hermann van Solidariteit omskryf Regstellende Aksie vanuit die definisie deur die Internasionale Arbeidsorganisasie as “ ʼn Samehangende groep maatreëls met ʼn tydelike karakter met die spesifieke oogmerk om die posisie van lede van ʼn geteikende groep reg te stel in een of meer aspekte van die sosiale lewe ten einde gelykheid te bewerkstellig.”

Met die apartheidnalatenskap het die nuwe bedeling dan begin met regstellende aksie wat verder momentum gekry het deur wetgewing oor gelyke indiensneming en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) om die verlede reg te stel. Die teorie het goed geklink, maar die praktyk het ontnugtering gebring.

Die sogenaamde “samehangende groep maatreëls” om daadwerklike aandag aan ekonomiese ongelykhede te gee, het mettertyd in ʼn ideologie verval wat weer ander oogmerke het anders as gelykheid en regstelling. Dit het eerder een van die pilare van transformasie geword wat op sy eie wéér rasgebaseerd was (demografiese verteenwoordiging uitgesluit), groter ongelykheid bewerkstellig het en ʼn syferspel geword wat die regering gedienstig moet wees. Dit het op sy beurt weer die weg gebaan vir ongebreidelde korrupsie, gebrekkige dienslewering, kaderontplooiing, nepotisme en staatskaping.

Onlangse standpunte deur twee uiteenlopende organisasies bevestig dit. Rapport haal aan uit ʼn verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie wat voor die Parlement gedien het.

“Regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) skep “nuwe vorme van ongelykheid” in Suid-Afrika en het in die doelwit misluk om swart mense toegang te gee tot die ekonomie. Luidens die verslag is daar steeds buite verhouding min swart mense in die arbeidsmark en buite verhouding baie mans aan die stuur van maatskappye.”

ʼn Omvattende verslag van die Instituut vir Rasse Aangeleenthede wat op 23 Julie 2018 bekendgestel is, maak die bewysbare gevolgtrekking dat alhoewel daar edele doelwitte was om die ongeregtighede van die verlede reg te stel, het Swart Ekonomiese Bemagtiging en Gelyke Indiensneming in die meeste gevalle misluk om dit te doen. Diegene wat deur beide bevoordeel is, is meestal reeds gevorderd op die sosiale vlakke – mense met ‘n goeie opvoeding of goeie sosiale konneksies.

“Die IRR maak egter die waarneming dat daar sedert 1994 heelwat vordering gemaak is met die vermindering van armoede, maar dat dit toegeskryf kan word aan die uitbreiding van maatskaplike toelaes, eerder as die skep van geleenthede vir die meeste Suid-Afrikaners.

Hoe tragies ironies die regstellendeaksiebeleid geword het, is ook onlangs weer gedemonstreer toe MultiChoice SA, regverdiging probeer kry het vir hul verlies van 100 000 intekenare tenoor groeiende internetvermaakdienste en by monde van hul korporatiewe bestuurder, Jackie Rakitla,  gesê het: “MultiChoice wil hê Netflix moet belasting in Suid-Afrika betaal, werknemers in diens neem en voldoen aan plaaslike reëls vir swart ekonomiese bemagtiging.”

Alhoewel daar geldige argumente kan wees oor belasting, is dit ʼn erkenning dat Suid-Afrikaanse dienverskaffers teruggehou word, minder produktief is, minder kompeterend is as gevolg van die “plaaslike reëls vir swart ekonomiese bemagtiging.”

In ʼn ekonomie wat sukkel om te groei is dit ʼn ernstige aanklag.

Die grondwetkenner, Prof Marinus Wiechers, het in ʼn ontleding oor regstellende aksie geskryf “Regstellende aksie in al die verskeidenheid van vorme, het ʼn nuwe vorm van rasseklassifikasie ingevoer. Hierdie nuwe soort arbitrêre rasseklassifikasie het tot ʼn verskeidenheid teenstrydighede, onregverdighede en onkonstitusionele praktyke gelei en het die effek dat waar die ‘Slegs vir Blankes’-kennisgewings voorheen groot onmin en haat veroorsaak het, daar nou op groot skaal, op publieke asook private terreine, uitdruklik en geïmpliseerd ‘Slegs vir Swartes’-kennisgewings opgerig word. Regstellende aksie, soos tans toegepas, en die gepaardgaande ‘transformasie’ wat ʼn ongrondwetlike term is, het op bykans alle terreine van staatsbestuur ʼn verlammende en negatiewe invloed gehad.”

Die Nasionale Ontwikkelingsplan is moontlik korrek as dit as vereiste gestel word dat programme soos “regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en grondhervorming die mees effektiefste is wanneer die ekonomie groei en die onderwysstelsel verbeter. Sonder so ʼn omgewing, kan hierdie maatreëls die vlak van sosiale spanning verhoog.”

Dit was ʼn tydige waarskuwing, maar die Nasionale Ontwikkelingsplan het, net soos ander goedbedoelde inisiatiewe, op niks uitgeloop nie. Sosiale spanning is aan die oplaai en groter polarisasie vind nog steeds plaas.

Die regstellende aksie wat in 1994 deur die regering voorsien is, het presies die teenoorgestelde nadelige effek gehad en dit is dringend noodsaaklik dat faktore wat ekonomiese groei strem, verwyder moet word.

Op ʼn onlangse toespraak by die Pietermaritzburg se Besigheidskamer sê die politieke ekonoom Moeletsi Mbeki, een van die eerste goed wat hy sou doen om die ekonomie reg te ruk (benewens die verskraling van die staatsdiens) “is om swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie af te skaf, sodat almal kan werk volgens hul vaardighede en vermoëns.

Volgens Mbeki het SEB ‘n kunsmatige tekort aan vaardighede en ‘n teelaarde vir korrupsie geskep.”

Dit is dus uiteindelik duidelik dat regstellende aksie lankal nie meer ʼn aksie is nie, maar eerder ʼn remfaktor wat groei strem en meriete aan bande lê. Dit het lankal duidelik geword dat transformasie deur rasgedrewe beleide nie kan werk nie.

Transformasie, net soos apartheid, is besig om ʼn wurggreep op die land en sy mense te kry en dit geleidelik te vernietig. Transformasie het in sy wese en in sy diepste toepassing die sirkel voltooi na ʼn nuwe vorm van apartheid.

Apartheid het neergekom op rasseverdeling, terwyl transformasie neerkom op rasbevoordeling en rasontneming.

Transformasie, net soos regstellende aksie, behoort nie meer deel van enige gesprek, onderhandeling of beleidstoepassing te wees nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

B-man ·

Ek en jy weet dit, maar hoe gaan ons die massas laat hóór, luister en verstaan?

Paul ·

Gaan lees Netwerk24 vanoggend, wie gee om? Dis tyd dat die mense aan die stuur van die land self volle verantwoordelikheid neem, hulle is niks aan ons verskuldig nie.

Dirk Breytenbach ·

Stem 100% saam. Dit is hoekom die Sakeliga se siening oor staatsbestandheid van besighede en die burgerlike samelewing dwingend noodsaaklik geword het. Dit geld oor die hele spektrum van ons samelewing want politici van die dag word nie bemagtig om die beste bedeling vir sy kiesers te beding nie want hul eerste prioriteit is tog hul posisie (salaris, rangorde, onderdanigheid en aansien) en die party. Regstellende aksie het ‘n stok geword waarmee blanke sakemense mee afgransel word i.p.v om die speelveld gelyk te maak. Sosiale ingenieurswese het nog nooit gewerk nie hoekom sal dit nou werk?

John ·

Die woord ‘regstel’ het die verkeerde boodskap uitgestuur en doen dit tot vandag toe. Wat moes reggestel word? Dit beteken tog seker nie dat as iemand ‘n onderwyser is, hy summier afgedank word en ek in sy pos aangestel word nie, of soos nou, dat as hy sy plaas bewerk het, ek dit sommer afneem nie, maar eerder om gelyke geleenthede kry om met my talente tussen ander mense s’n te kan woeker; mense wat op eie stoom iets vir hulself opgebou het. Hoeveel wit jongmans kan wit boere van hul plase afdruk, want hulle wil ook grond besit? Niemand. Nie eers die boer se eie kinders nie. Wat het die nie-wit-inwoners al die jare vir hulself gedoen toe apartheid gegeld het? Het die mense hul woonbuurtes opgebou en hul kinders godsdienstig en kultureel opgevoed? Het die ANC met die miljarde skenkings oor die dekades enige skole en stadions vir hul jeug gebou. Nee. Daar is gewag en gekerm dat witmense hul fasiliteite moet oopgooi want dit sou sake regstel en net dan sal die land groei. Hoekom groei ons land dan nie nou nie?

Celtis Africana ·

Baie goeie artikel.
Dit n nasionale ramp dat waardevolle kundigheid wat werklik die verrotting kan stop en omkeer, met minagting op n syspoor rangeer word.

Gemaskerde Sopbeen ·

Gedurende apartheid (ja, ek’s oud genoeg om dit te kon beleef het) was dit nogal opvallend dat Indiërs en Portugese byvoorbeeld, wat ook as nie-blank geklassifiseer was, besighede gestig en welvaart geskep het, terwyl miljoene swart mense gestaak en afgebreek het. “Regstellende Aksie” deur wetgewing is net nodig vir groepe mense wat NIE oor die vermoë beskik om self te presteer nie, maar slegs iemand anders se hard verdiende prestasies kan afvat. Ek sien baie van hulle…….hoort eintlik agter ‘n kruiwa maar is nou agter die stuur van ‘n R1,5 miljoen voertuig!!….en nie vir enige ander rede as pigmentasie nie.

Sputnik ·

Is dit korrek om te sê dat Potugese as nie-wit geklassifiseer was? Ek vra maar net want ek is nie seker nie. Kan lesers help opklaar?

Jerry ·

Moeletsi Mbeki en andere wat jy aanhaal se opinies is geskoei op die westerse of gematigde perspektief van transformasie en regstellende aksie. Die meerderheid witmense sal met jou saamstem asook talle swartmense en selfs sekere anti-apartheidsaktiviste ook. Die realiteit en probleem egter, is dat die oorgrote meerderheid mense wat bestaan uit ANC sosialiste en kommuniste, EFF Marxistiese Pan Afrikaniste en die massas, n Afrika rewolusionere perspektief huldig wat drasties verskil van hierdie perspektief en mening en dat dit n radikale teenoorgestelde betekenis vir hulle inhou. Radikale transformasie en regstellende aksie het volgens die denkwyse dit ten doel om die onreg van die verlede reg te stel, ten spyte van enige nadelige ekonomiese of grondwetlike gevolge wat dit mag inhou. Die wit elite word deur n swart elite vervang wie dan moet toesien dat alle ander vorme van witbevoorregting met swartbevoorregting vervang word ten einde wit kolonialiste ondergeskik te maak en gelyk te stel met die massas. Dit het ook uiteindelik nasionalisering ten doel wat bewerkstellig moet word deur kaderontplooiing, kaping van akademiese instellings, kaping van wetstoepassingsagentskappe, misleiding oor stand van ekonomiese sake, staatskaping en enorme staatskuld, SARS kaping, grondkaping, besigheidskaping, reserwebankkaping, bankekaping en pensioenekaping. Die rewolusionere strategie dui baie duidellik op die denkwyse en perspektief van die heersers van die oorgrote swart meerderheid en gaan nie oornag verander nie, behalwe as dit deel uitmaak van misleiding. Om die denkwyse te ignoreer tydens die ontleding van onderwerpe soos transformasie en regstellende aksie kan dus die ware toedrag van sake verbloem.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.