Nóg hier, nóg DA

Mmusi Maimane, leier van die DA. Foto: DA/Twitter

Deur Monica Mynhardt

Saterdag 23 Februarie het die DA hul lang verwagte manifesbekendestelling gehou. Hierdie was vir die DA die perfekte geleentheid om duidelik te posisioneer te midde van die grys wolk van ideologiese onsekerheid wat oor hul koppe hang. Die belangrike vraag is of hulle dit suksesvol kon doen. Die inhoud van die manifes asook die geleentheid rakende die bekenstelling daarvan het egter luidkeels gespreek van die identiteitskrisis waaraan dié party ly. Hul voortgesette poging om alle ideologiese gronde gelyk te dek, hét hul sukses in twyfel getrek.

Die manifes

’n Goed gedefinieerde ideologiese fondasie was die afgelope paar jaar afwesig by die DA. Eerder as om ’n pro-iets party te wees, was hulle die afgelope tyd die anti-iets party. Weens die enorme afwesigheid van bevoegdheid in oudpresident Jacob Zuma, was dit besonders gerieflik en aanloklik om die anti-Zuma party te wees. Hierdie identiteit het egter met die val van Zuma ook ten gronde gegaan.

Eerder as om ’n suiwer selfstandige beleidsposisie in te neem, het die DA vir die 2019-verkiesing in hierdie selfde strik getrap. In sy openingsbrief vir die manifesdokument beskryf die partyleier Mmusi Maimane weer eens wat alles fout is met die ANC en hoe die DA dit nié is nie. Maimane se brief, tesame met die anti-ANC-advertensieborde wat die res van hul verkiesingsveldtog gekenmerk het, spreek boekdele van die party se insigloosheid rakende hierdie kwessie.

’n Opvallende eienskap van die manifes is die eggo’s van ander partye se konsepte en beleide. Die eerste fokuspunt wat die DA wil pak, is die sogenaamde “Economic growth and jobs, now”. In hul manifesbekendstelling vroeër die jaar het die EFF se kreet “Our land and jobs, now” hul dokument oorheers. Die derde fokuspunt van die DA is die skep van die “Capable State”. Hierdie uitdrukking is ook deur president Cyril Ramaphosa in sy eerste SONA bekendgestel.

Hoewel hierdie kwessies vanselfsprekend eerbare sake is om te ondersteun, is die DA se tekort aan eie innovasie eerder die probleem. Deur só van sy twee grootste teenstanders te aas, water die DA sy eie uitgangspunte vir hierdie verkiesing af en bevestig hy bloot sy eie tekort aan ideologiese integriteit. Verder verbeur hulle so ook alle morele grond van waar hulle die ANC kasty het oor die One South Africa For All-diefstal vroeër die verkiesingseisoen.

Wat die beleid self betref, bevind die DA hulself steeds redelik oor die hele ideologiese spektrum. Talle van hul uitgangspunte is doodeenvoudig teenstrydig. In ’n poging om die geheel van die Suid-Afrikaanse kieserskorps te dek, moes hulle noodwendig talle onversoenbare beleidstandpunte inneem. Die oorkoepelende waardes wat hulle in die dokument beskryf, is vryheid, regverdigheid, geleenthede en diversiteit. Onder die vaandel van regverdigheid noem hulle uitdruklik dat hulle ’n meritokrasie voorstaan en glo dat Suid-Afrikaners se sukses deur harde werk eerder as hul geboortestatus bepaal moet word.

In skrille kontras hiermee hou hulle twee sinne later voor dat “gelyke en regverdige geregtigheid” die nalatenskap van apartheid in ag neem met ’n verbintenis om dit reg te stel. Hierdie bevestig natuurlik indirek die omstrede posisie wat die DA onlangs ten gunste van SEB ingeneem het. Hoewel hulle aangevoer het dat hulle nie saamstem met die wyse waarop die ANC dit implementeer nie, het hulle wel erken dat hulle die beginsel daarvan ondersteun.

In hierdie oënskynlike teenstrydigheid maak die DA eintlik hul ware bedoelings bekend. Hulle werf hierdeur besonders hard stemme by die swart kieserskorps waaragter hulle so koorsagtig aan is. In ag genome watter deurslaggewende faktor die uitwis van rasideologie tot die algehele sukses van Suid-Afrika is, dra die DA werklik negatief by tot hierdie stryd. Deur vas te klou aan hierdie geïmpliseerde rasseonderskeid, verwyder hulle ons as’t ware net verder van een Suid-Afrika vir álmal.

Wat ekonomiese beleid betref, ondersteun die DA ’n vry en relatief ongereguleerde ekonomie. Verder het hulle hulself uiteindelik duidelik uitgespreek teen onteiening sonder vergoeding. Hulle het egter nie standpunt vir of teen die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering ingeneem nie. Verder ondersteun die DA steeds grondhervorming gedryf deur die staat. Hieruit volg die afleiding dat hulle dalk daarin belangstel om ekonomies gunstige omstandighede in die land te bewerkstellig, maar dat hulle ongetwyfeld steeds ’n sosialistiese en gesentraliseerde regering wil behou.

Die bekendstelling

Die manifesbekendstelling by die Randse Stadion in Johannesburg het veel meer as die manifes sélf gespreek van die DA se mikpunte vir hierdie verkiesing. Hierdie dag, met ondertone van ’n tradisionele EFF-geleentheid, het ’n baie duidelike boodskap gestuur oor wie die DA se teikenmark is.

Oor die jare heen, en spesifiek in hierdie verkiesingsveldtog, bestempel die DA hulself as ’n party vir alle Suid-Afrikaners, ongeag ras of herkoms. In die 2014-verkiesing het hulle ook die boodskap oorgedra dat hulle ’n party is wat bestaan uit dinamiese en diverse leiers. Leiers wat alle groepe van die samelewing verteenwoordig en waarmee almal kan vereenselwig. Dit was duidelik in die talle verkiesingsplakkate wat Helen Zille, Patricia de Lille, Lindiwe Mazibuko en die einste Maimane saam uitbeeld – die groot leiers in die party. Die manifesbekendstelling het egter duidelik gespreek van die verandering wat die party sedertdien ondergaan het.

Vyf jaar later is slegs twee van daardie vier nog deel van die party. By die bekendstelling was een die party se gewildste en uitkomsgewys mees suksesvolle leiers nie eers by die bekendstelling teenwoordig nie. Zille was afwesig ten spyte van die feit dat sy steeds ongelooflike status in die party beklee. Die DA het dit baie duidelik gemaak dat hulle enigste fokus die potensiële swart kieserskorps is. Deur een van hul mees ikoniese partyleiers nie hier aan te wend nie, het die DA hul tradisionele ouer wit kieserskorps vervreem. Verder het hulle die voorheen De Lille-lojale bruin kieserskorps ook nie by hierdie geleentheid “ingesluit” nie, veral aangesien sy nie eers meer deel van die party is nie.

Die feit dat die stemme van die bruin en wit groep nie van kardinale politieke belang is nie, het veroorsaak dat die DA hulle amper ignoreer. Die DA is heeltemal bewus van die feit dat ’n meerderheid vir hulle die verkiesing gaan wen en dat wit en bruin mense in die minderheid is. In hierdie najaag van die 80 in die 80:9:9:2-verhouding van ons land, het hulle histories lojale kiesers bloot agtergelaat.

So het dit ook baie duidelik geword dat die DA nie werklik daarin belangstel om ’n Suid-Afrika vir álmal na te jaag nie, maar eerder ’n Suid-Afrika vir diegene wat hulle in ’n magsposisie sal kan plaas. Dit het ’n party geword waar een alleenleier oral op plakkate en verhoë verskyn as die prominente figuur. Alles rakende die verkiesingsveldtog en manifesbekendstelling het sentreer rondom Maimane en ’n kieserskorps wat soos hy lyk. Hulle fasade van politieke en morele eerbaarheid is hier uitmekaargeruk deur die blootlegging van hul spel van getalle en ras.

Die DA het hier weer eens bevestig dat hulle totaal en al uit voeling is met hul kieserskorps. Hulle het ’n baie groot gedeelte van Suid-Afrikaners vervreem en weggedryf deur blind te wees vir hulself en die land.

Opsommend

Talle van die DA se beleidsvoorstelle is positief, ’n mens moet dit toegee. Ekonomiese beleid is egter nie wat sentraal staan tot die oorlog van idees in ons land tans nie – absolute gelykheid, geregtigheid en regverdigheid is. Die daadwerklike optrede ten opsigte van hiérdie kwessies, sal Suid-Afrika veel meer in die lang termyn baat.

Die probleem is dat die DA totaal en al versuim het om ernstige en sinvolle aandag te gee aan hierdie kwessies wat sentraal staan tot byna alle konflik in ons land. Eerder as om met politieke integriteit ʼn ideologiese posisie in te neem, het hulle gepoog om almal gelukkig te hou.

Deur óral te probeer wees in die oploop tot hierdie verkiesing, is die DA eintlik nêrens.

  • Monica Mynhardt doen tans ‘n internskap by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Ek ook ·

Ek ook. Ek gaan nie meer vir iemand stem net omdat hulle n beter kans het as ander nie. Ek gaan nou stem vir die party wat my en my mede burgers se belange dra. Afgesien van vel kleur. Die party wat die land en AL sy mense wil laat groei. Die party wat hopenlik beter morele waardes as die res het.

Frank ·

Ook finaal klaar met die rigtinglose en identiteitlose DA. Moet met my gewete ook kan saamleef! Koalisies is maar die antwoord.
Trek jou kruisie waar jy glo reg is (of die naaste aan reg is) en WEET die Here is in beheer.

Dries du Toit ·

Dit is so verblydend om dit te hoor. Laat ons getel word. Hoop daar is baie sodat die VF+ sy mandaad kan versterk. Ons het geen mandaad by die DA nie. Blankes en kleurlinge is net stemvee by hulle

Katerina ·

Netso Dries…vra maar die VF+ en Peter Marais self ook nehhh….?

TN ·

Monica , jou artikel is deurspek met onwaarhede en wanvoorstellings ; solank enige party weier om te erken dat die land vir al sy inwoners ‘n tuiste moet bied , is so’n party gedoem . Ons kan weer oor taal en kultuur bekommer wanneer die land beveilig is teen die Marxistiese aanslag van die ANC / EFF .

Kerneels ·

TN Jou oe sal nog oopgaan. Dit kom voor of jy ‘n DA ondersteuner is. Die veranderinge in DA was so subtiel. Jy kom dit eers agter as jy terug kyk hoe dit was en hoe dit nou is. Amandla is nie deel van my kultuur nie. Dis ‘n ANC strugle kreet. Die DA leier het dit kort kort geskree. Sou jy tuis daar gewees het.

Riaan ·

Ek gaan vir die party stem wat my stem hard en duidelik laat hoor. VF+!

aj ·

‘Kommunisme flop altyd sodra hulle al die geld uitgegee het (wat deur kapitaliste gegenereer is).’.

Dit is kommerqekkend dat die DA besig is om sy ‘wortels’ af te skeep naamlik VRYE ONDERNEMING, PRIVAATBESIT en gesonde MEDEDINGING!

Dit het tot gevolg dat die ‘ganse wat die goue eiers lê’ besig is om weg te vlieg vanaf die DA na groener weivelde, elders!

Die DA gaan binnekort agterkom dat daar ongelukkig nie iets bestaan soos ‘n ‘free lunch’ nie! Iemand moet uiteindelik betaal vir ALLES!

Die DA beywer hulle nou ook (soos die ANC en EFF) vir die “herverdeling van arnoede”?

Nog ‘n ‘train crash’ op pad?

ANA ·

Welll…welll…mét of sónder die DA die hele land,verkiesingsveldtog en politieke sirkus stuur op ñ treinramp af…want ons kan nie ons verskille vergeet vir ñ oomblik en dit ‘tydelik’ oorkom,om nét die magtige ANC+EFF te skaakmat nie!
Wees nou maar grootmond en hou julle vreeslik slim,die minderheid gaan PLATGEVEE WORD vani tafel en sommer uit die toekoms uit ook

koos1 ·

Maklikste om te bepaal vir wie jy moet stem is om jou stemme van die afgelope 25 jaar te evalueer, en dan te bepaal wie het wat vir jou GEDOEN. Ek dink ek het al my stemme gemors op beloftes, en is amper oortuig dit gaan weer gebeur. ‘n Groot bek in die parlement help nie om korupsie te voorkom nie, ‘n groot bek in ‘n raadsaal het nog nie gemaak dat my straatligte werk nie. Die DA het Pretoria oor gevat, en ek het nog nooit my stad in so ‘n swak toestand gesien nie. Ek weet daar was probleme, maar daai probleme is nie deur my veroorsaak nie. Kan ons dit dalk die ESKOM sindroom noem – alles wat fout gaan is ander se probleme en deur hulle veroorsaak, en as die skip sink dan spring die rotte af.

bolla ·

Ek het die DA gewaarsku om nie die VF+ as koalisievennoot in te neem nie. Kyk nou net die verval daar in Pretoria. DA moet alleen regeer soos in Kaapstad waar dinge vlot verloop.

TN ·

Eienaardig dat die Wes-Kaap by ver die bes bestuurde provinsie in die land is . Moes ons nie agteruitgegaan het volgens jou ontledings nie ?

Skuilnaam ·

@Bolla lyk my jy het heeltemal van die waterkrisis en die de Lille saga vergeet. ? Pretoria het baie verbeter met die VF Plus in die koalisie regering in Pretoria. Woon jy ooit in die Weskaap?

Frik Lotz ·

Die DA is so deurmekaar soos n verkleurmannetjie op n smartiebox. Enigste party wat logies beredeneer en werkbare oplossings het en onbeskaamd veg vir minderhede se regte is die VF Plus. Dis net logies om dan vir n party soos VF Plus te stem.

Sanet ·

Praat jy nou van daai magtige 2/3% kieserskorps party,Frik??????
Wat als behalwe ñ logiese keuse is met Peter Marais,in julle midde…?

bolla ·

0,9%. Die VF+ hou volkspele op ‘n misvloer die dag as hy 2% kry.

John ·

Dis VF se + is sy ondergang. Die DA is ‘n dwarrel wat nou soos ‘n tolbos in die heining opgeland het. Die VF+ probeer al die uitskieters opvang. Uiteindelik gaan ons net met ‘n nuwe-nuwe SA sit, bont, gestres en beswaard… en geen eenheid of kulturele of godsdienstige eienskappe nie… Net Pietertjies en nogmaals Pietertjies… Bye bye… is die Afrikaners vir altyd want ons geskiedenis en geloof sal opgeoffer moet word… We do not understand your history… and…

GRIET ·

Haahaaa…ek SIEN al die jare, van stembus toegaan se TYDMORS en valse beloftes en klugspul se SE VRUG in SA!!
Wonderlikse veiligste regeerbare land denkbaar,dit WERK om te stem,jaaaa ? 8 teen 8 miljoen…majority destines
Promises,promises,promises…

Jerry ·

Die DA is n beter opsie as die ANC ten spyte van al die DA tekortkominge soos Monica dit so mooi gebreinspoel uitlig. Dat die DA egter ook eerste voorkeur gaan gee aan die swart jeug ten einde die onregte van die verlede aan te spreek en dit ten koste van die voorheen bevoordeelde Afrikaanssprekende minderheid, dit is n gegewe. Jong Afrikaanssprekendes gaan moet mooi dink om hulself maar eerder te vereenselwig met enige party wat hulle kan beskerm teen diskriminasie, omrede dit deurslaggewend sal wees om geleenthede te kry wat benut kan word en om daardie broodnodige kos op die tafel te kan sit vir hulle gesinne en om aan n toekoms te kan bou deur te kan leef en laat leef. Die DA gaan, wat beskerming teen diskriminasie aanbetref, jong Afrikaanssprekendes dus net erg teleurstel. Die DA sal egter darem ook sorg dat die ouergardes darem ten minste hulle huisies by die see behou en dit is die enigste werklike selfsugtige rede hoekom van die ouergarde wel vir die DA sal stem. Daar is net doodeenvoudig geen ander voor die hand liggende rede om te stem vir n party wat net soos die ANC, teen jou eie jongmense gaan diskrimineer nie! As die DA in elk geval aan bewind moet kom, dan sal dit die swartstemme wees wat dit regkry, nie die witstemme nie!

Dries du Toit ·

Baie mooi gestel ou Jerry. Dit is eintlik so voor die hand liggend maar ons ou volkie kan dit noe verstaan nie

Frik Lotz ·

In 1999 het die meerderheid blanke kiesers vir n piepklein DP, vandag die DA, gestem en niemand het toe gese die party is te klein om voor te stem nie. Hoe dan nou? Volgens die DA se redenasie moes niemand dan destyds DP(DA) gestem het nie! DA weerspreek hul op alle terreine en hoe kan jy dus so n party steun en vertrou!

Hans ·

DA-leier en party het geen eie “helde”hy verwys aanhoudend na sekere helde van die Anc in n poging om stemme te werf. Hulle ondersteun SEB ‘n beleid wat bekwame en hoogs opgeleide persone verhoed om werk te kry waarvoor hulle opgelei is-ja dit raak my kinders en nabye familie-so die DA moet nie aan my deur kom klop vir ondersteuning nie.

Deon ·

Die DA vandag is nie die DA van Tony Leon. Die DA het ‘n nuwe pad ingeslaan. Afrikaners wat die DA gesteun het moet nou ook aanbeweeg na die volgende hoofstuk.

Gert ·

Onbeskryflik goeie artikel!
Ek kan net hande klap, kan niks byvoeg of van enige stelling verskil nie.
Bravo!

Oop Ogies ·

Dit is al lankal voorspel dat die meer gematigde elemente in die ANC met die DA gaan saamsmelt en dan uit die aard van die saak die regerende party sal wees. Dit sal nie van SA die land maak wat dit kan wees en wat almal graag wil sien nie, maar dit sal ook nie SA se ondergang wees nie en ons (tydelik) red van doodsteke soos nasionalisering en grootskaalse, ondeurdagte onteiening van grond.

Iets wat mens nooit moet vergeet van ‘n politikus nie, is dat hulle in dit is vir eie gewin. Vra jouself bietjie hoekom Cyril Ramaphosa president wou/wil wees. Hy is ‘n multimiljoener en het nie die salaris nodig soos meeste van die “unemployable” LP’s in die ANC nie. Moet ook nie vir my vertel hy geniet dit om president te wees nie. Dis van die goorste werk in die land. Hy is daar om sy EIE belange te beskerm.

Nog iets van politici; die dag wat hulle verkies word begin hulle werk daaraan om oor 5 jaar weer verkies te word, want anders is hulle werkloos. Hulle hou dus die meerderheid gelukkig met “quick win” projekkies en dink nie verder as die volgende 5 jaar nie. Dis hoekom hulle die “haves” wurg vir elke laaste sent waarmee hulle die “have-nots” se stem kan koop, en toelaat dat infrastruktuur so agteruit gaan. Hulle het geen visie nie en doen nie beplanning verder as die volgende verkiesing nie. En ons is uitgelewer aan hulle…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.