Nóg hier, nóg DA

Mmusi Maimane, leier van die DA. Foto: DA/Twitter

Deur Monica Mynhardt

Saterdag 23 Februarie het die DA hul lang verwagte manifesbekendestelling gehou. Hierdie was vir die DA die perfekte geleentheid om duidelik te posisioneer te midde van die grys wolk van ideologiese onsekerheid wat oor hul koppe hang. Die belangrike vraag is of hulle dit suksesvol kon doen. Die inhoud van die manifes asook die geleentheid rakende die bekenstelling daarvan het egter luidkeels gespreek van die identiteitskrisis waaraan dié party ly. Hul voortgesette poging om alle ideologiese gronde gelyk te dek, hét hul sukses in twyfel getrek.

Die manifes

’n Goed gedefinieerde ideologiese fondasie was die afgelope paar jaar afwesig by die DA. Eerder as om ’n pro-iets party te wees, was hulle die afgelope tyd die anti-iets party. Weens die enorme afwesigheid van bevoegdheid in oudpresident Jacob Zuma, was dit besonders gerieflik en aanloklik om die anti-Zuma party te wees. Hierdie identiteit het egter met die val van Zuma ook ten gronde gegaan.

Eerder as om ’n suiwer selfstandige beleidsposisie in te neem, het die DA vir die 2019-verkiesing in hierdie selfde strik getrap. In sy openingsbrief vir die manifesdokument beskryf die partyleier Mmusi Maimane weer eens wat alles fout is met die ANC en hoe die DA dit nié is nie. Maimane se brief, tesame met die anti-ANC-advertensieborde wat die res van hul verkiesingsveldtog gekenmerk het, spreek boekdele van die party se insigloosheid rakende hierdie kwessie.

’n Opvallende eienskap van die manifes is die eggo’s van ander partye se konsepte en beleide. Die eerste fokuspunt wat die DA wil pak, is die sogenaamde “Economic growth and jobs, now”. In hul manifesbekendstelling vroeër die jaar het die EFF se kreet “Our land and jobs, now” hul dokument oorheers. Die derde fokuspunt van die DA is die skep van die “Capable State”. Hierdie uitdrukking is ook deur president Cyril Ramaphosa in sy eerste SONA bekendgestel.

Hoewel hierdie kwessies vanselfsprekend eerbare sake is om te ondersteun, is die DA se tekort aan eie innovasie eerder die probleem. Deur só van sy twee grootste teenstanders te aas, water die DA sy eie uitgangspunte vir hierdie verkiesing af en bevestig hy bloot sy eie tekort aan ideologiese integriteit. Verder verbeur hulle so ook alle morele grond van waar hulle die ANC kasty het oor die One South Africa For All-diefstal vroeër die verkiesingseisoen.

Wat die beleid self betref, bevind die DA hulself steeds redelik oor die hele ideologiese spektrum. Talle van hul uitgangspunte is doodeenvoudig teenstrydig. In ’n poging om die geheel van die Suid-Afrikaanse kieserskorps te dek, moes hulle noodwendig talle onversoenbare beleidstandpunte inneem. Die oorkoepelende waardes wat hulle in die dokument beskryf, is vryheid, regverdigheid, geleenthede en diversiteit. Onder die vaandel van regverdigheid noem hulle uitdruklik dat hulle ’n meritokrasie voorstaan en glo dat Suid-Afrikaners se sukses deur harde werk eerder as hul geboortestatus bepaal moet word.

In skrille kontras hiermee hou hulle twee sinne later voor dat “gelyke en regverdige geregtigheid” die nalatenskap van apartheid in ag neem met ’n verbintenis om dit reg te stel. Hierdie bevestig natuurlik indirek die omstrede posisie wat die DA onlangs ten gunste van SEB ingeneem het. Hoewel hulle aangevoer het dat hulle nie saamstem met die wyse waarop die ANC dit implementeer nie, het hulle wel erken dat hulle die beginsel daarvan ondersteun.

In hierdie oënskynlike teenstrydigheid maak die DA eintlik hul ware bedoelings bekend. Hulle werf hierdeur besonders hard stemme by die swart kieserskorps waaragter hulle so koorsagtig aan is. In ag genome watter deurslaggewende faktor die uitwis van rasideologie tot die algehele sukses van Suid-Afrika is, dra die DA werklik negatief by tot hierdie stryd. Deur vas te klou aan hierdie geïmpliseerde rasseonderskeid, verwyder hulle ons as’t ware net verder van een Suid-Afrika vir álmal.

Wat ekonomiese beleid betref, ondersteun die DA ’n vry en relatief ongereguleerde ekonomie. Verder het hulle hulself uiteindelik duidelik uitgespreek teen onteiening sonder vergoeding. Hulle het egter nie standpunt vir of teen die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering ingeneem nie. Verder ondersteun die DA steeds grondhervorming gedryf deur die staat. Hieruit volg die afleiding dat hulle dalk daarin belangstel om ekonomies gunstige omstandighede in die land te bewerkstellig, maar dat hulle ongetwyfeld steeds ’n sosialistiese en gesentraliseerde regering wil behou.

Die bekendstelling

Die manifesbekendstelling by die Randse Stadion in Johannesburg het veel meer as die manifes sélf gespreek van die DA se mikpunte vir hierdie verkiesing. Hierdie dag, met ondertone van ’n tradisionele EFF-geleentheid, het ’n baie duidelike boodskap gestuur oor wie die DA se teikenmark is.

Oor die jare heen, en spesifiek in hierdie verkiesingsveldtog, bestempel die DA hulself as ’n party vir alle Suid-Afrikaners, ongeag ras of herkoms. In die 2014-verkiesing het hulle ook die boodskap oorgedra dat hulle ’n party is wat bestaan uit dinamiese en diverse leiers. Leiers wat alle groepe van die samelewing verteenwoordig en waarmee almal kan vereenselwig. Dit was duidelik in die talle verkiesingsplakkate wat Helen Zille, Patricia de Lille, Lindiwe Mazibuko en die einste Maimane saam uitbeeld – die groot leiers in die party. Die manifesbekendstelling het egter duidelik gespreek van die verandering wat die party sedertdien ondergaan het.

Vyf jaar later is slegs twee van daardie vier nog deel van die party. By die bekendstelling was een die party se gewildste en uitkomsgewys mees suksesvolle leiers nie eers by die bekendstelling teenwoordig nie. Zille was afwesig ten spyte van die feit dat sy steeds ongelooflike status in die party beklee. Die DA het dit baie duidelik gemaak dat hulle enigste fokus die potensiële swart kieserskorps is. Deur een van hul mees ikoniese partyleiers nie hier aan te wend nie, het die DA hul tradisionele ouer wit kieserskorps vervreem. Verder het hulle die voorheen De Lille-lojale bruin kieserskorps ook nie by hierdie geleentheid “ingesluit” nie, veral aangesien sy nie eers meer deel van die party is nie.

Die feit dat die stemme van die bruin en wit groep nie van kardinale politieke belang is nie, het veroorsaak dat die DA hulle amper ignoreer. Die DA is heeltemal bewus van die feit dat ’n meerderheid vir hulle die verkiesing gaan wen en dat wit en bruin mense in die minderheid is. In hierdie najaag van die 80 in die 80:9:9:2-verhouding van ons land, het hulle histories lojale kiesers bloot agtergelaat.

So het dit ook baie duidelik geword dat die DA nie werklik daarin belangstel om ’n Suid-Afrika vir álmal na te jaag nie, maar eerder ’n Suid-Afrika vir diegene wat hulle in ’n magsposisie sal kan plaas. Dit het ’n party geword waar een alleenleier oral op plakkate en verhoë verskyn as die prominente figuur. Alles rakende die verkiesingsveldtog en manifesbekendstelling het sentreer rondom Maimane en ’n kieserskorps wat soos hy lyk. Hulle fasade van politieke en morele eerbaarheid is hier uitmekaargeruk deur die blootlegging van hul spel van getalle en ras.

Die DA het hier weer eens bevestig dat hulle totaal en al uit voeling is met hul kieserskorps. Hulle het ’n baie groot gedeelte van Suid-Afrikaners vervreem en weggedryf deur blind te wees vir hulself en die land.

Opsommend

Talle van die DA se beleidsvoorstelle is positief, ’n mens moet dit toegee. Ekonomiese beleid is egter nie wat sentraal staan tot die oorlog van idees in ons land tans nie – absolute gelykheid, geregtigheid en regverdigheid is. Die daadwerklike optrede ten opsigte van hiérdie kwessies, sal Suid-Afrika veel meer in die lang termyn baat.

Die probleem is dat die DA totaal en al versuim het om ernstige en sinvolle aandag te gee aan hierdie kwessies wat sentraal staan tot byna alle konflik in ons land. Eerder as om met politieke integriteit ʼn ideologiese posisie in te neem, het hulle gepoog om almal gelukkig te hou.

Deur óral te probeer wees in die oploop tot hierdie verkiesing, is die DA eintlik nêrens.

  • Monica Mynhardt doen tans ‘n internskap by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Skuilnaam

Ek gaan hierdie verkiesing VF Plus stem

Dries du Toit

Dit is so verblydend om dit te hoor. Laat ons getel word. Hoop daar is baie sodat die VF+ sy mandaad kan versterk. Ons het geen mandaad by die DA nie. Blankes en kleurlinge is net stemvee by hulle

TN

Monica , jou artikel is deurspek met onwaarhede en wanvoorstellings ; solank enige party weier om te erken dat die land vir al sy inwoners ‘n tuiste moet bied , is so’n party gedoem . Ons kan weer oor taal en kultuur bekommer wanneer die land beveilig is teen die Marxistiese aanslag van die ANC / EFF .

Riaan

Ek gaan vir die party stem wat my stem hard en duidelik laat hoor. VF+!

aj

‘Kommunisme flop altyd sodra hulle al die geld uitgegee het (wat deur kapitaliste gegenereer is).’. Dit is kommerqekkend dat die DA besig is om sy ‘wortels’ af te skeep naamlik VRYE ONDERNEMING, PRIVAATBESIT en gesonde MEDEDINGING! Dit het tot gevolg dat die ‘ganse wat die goue eiers lê’ besig is om weg te vlieg vanaf die DA na groener weivelde, elders! Die DA gaan binnekort agterkom dat daar ongelukkig nie iets bestaan soos ‘n ‘free lunch’ nie! Iemand moet uiteindelik betaal vir ALLES! Die DA beywer hulle nou ook (soos die ANC en EFF) vir die “herverdeling van arnoede”? Nog… Lees meer »