Nog ʼn D-dag vir Ace se toekoms

Ace Magashule, beleërde sekretaris-generaal van die ANC. (Foto: Twitter)

Sondag is oënskynlik (weer) D-dag vir die politieke toekoms van die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule.

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) moet besluit of Magashule “opsy moet staan” (tydelik sy pos ontruim) noudat hy in Bloemfontein op talle en omvattende korrupsieklagte tereg staan. Hy is op borgtog van R200 000 vrygelaat.

Die waarskynlikheid is dat dit nié gaan gebeur nie omdat daar aspekte van Magashule se werkverrigting spesifiek as sekretaris-generaal is wat in sy guns tel, maar al te dikwels in beriggewing verswyg word; asook omdat Ramaphosa sekere basiese strategiese foute gemaak het met sy aanpak van die hele “opsy staan”-kwessie.

In beriggewing oor Magashule is daar ʼn verstaanbare en waarskynlik korrekte neiging om te fokus op die oorweldigende dokumentêre en op die oog af onomstootlike bewyse van korrupsie.

In die bykans eksklusiewe fokus daarop verloor mense perspektief van die argument (eties ondergeskik soos dit sekerlik is) waarom mense sou kon aanvoer dat hy nié moet terugstaan nie.

Daar is drie dinge wat Magashule as sekretaris-generaal reggekry het wat uit ʼn ANC-perspektief groot verbeterings is. Eerstens het ANC-lidmaatskap kragtens die party se amptelike syfers toegeneem tot 1,4 miljoen. Dit is die meeste nog. Gegewe die gevaar van jakkals hoof van die hoenderhok maak, wag ʼn mens rustig op ʼn deeglike oudit van hierdie syfers.

Tweedens het die ewige verdeeldheid in provinsiale ANC-strukture minder ooglopend geword tydens Magashule se ampstyd, en derdens is daar ook minder openbare verdeeldheid in die ANC-hoofkantoor, Luthuli-huis.

Voorts het Ramaphosa nie die “opsy staan”-kwessie strategies goed benader nie. Die regsbeginsel van “onskuldig tot skuldig bewys” is ter sprake. Die onvermoë van die Ramaphosa-kamp om vrae in daardie verband te beantwoord, skep ʼn gaping vir Magashule en oudpres. Jacob Zuma se ondersteuners, en aan die tallose ANC-ontplooides wat ten sterkste betrek word by die korrupsie, wanbestuur, onkunde, slapheid en agteruitgang wat sinoniem is met ANC-regerings op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak.

Die NUK se besluit hierdie naweek is ʼn veldslag in ʼn voortgesette oorlog en ʼn terugslag vir enige van die twee kante is nie die volvoering van die stryd nie.

Nuus oor die NUK-besluit sal uitlek en die amptelike ANC-terugvoer word Maandag of Dinsdag verwag.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Ek stem, Op die knie vir Ace. Waarom is hy nie ons president nie, vra ek met trane in my oè. Die man is die beste wat ons nog getref het nadat Klipdrif die 1e keer getap is. En die Guptas, nooi hul terug. Ons kort mense met ondernemingsgees wat weet hoe om met geld se gal te werk. Dan sal prez Zuma weer met respek behandel word, soos dit hoort, en al die nonsies van kommissies vir goed van die baan wees. Hoera vir acelike-menseregte, tweehonderdrand-drukperse en oopboek-matriekeksamens…

AJ

Jan Jan Is dit Wetstoepassing …? of Politiek …? Al ons landsburgers word vervolg en gestraf as ons misdaad pleeg. Dit is wetstoepassing! Maar waarom word ALLE MISDADE van ANC kaders NIE hanteer as gewone WETSTOEPASSING nie? Waarom word ALLE ANC KADERS se misdade skielik as POLITIEKERY hanteer? …. veral die breindood MEDIA onderskei nie tussen WETSTOEPASSING en POLITIEKERY nie. As WETSTOEPASSING teen misdadige ANC KADERS (inderwaarheid) affekteer word deur POLITIEKERY … dan is die Konstitusionele REGSTAAT reeds gekompromitteer. As die ANC se NUK die SA regstelsel manipuleer om politieke opponente te elimineer soos Jan Jan hier bo impliseer, dan… Lees meer »

Sarel

1. Hierdie man is, so tipies ANC, Magsbehep en sal klou solank hy kan. Maar hy is ook agter die skerms besig met iets onderduims. Vertrou nie sy besoek azn Zimbabwe en sy bande met die Party wat Mosie van Wantroue ingedien het nie.
Hierdie man soek niks anders as SP pos nie. Weereebs bewys dat die ANC mense koester en beskerm tot hulle byt.
Zuma en EFF se Advokaat gaan sy saak ook asnvoer. Hierdie ou maak lekker geld

koos10

Hierdie is net weer ‘n bewys van hoe ver die ANC verdeel is.
Volgens die regering (lees ANC) moet enige staatsamptenaar geskors word indien as beskuldigde in die hof staan, en ja dit is met salaris wat deur die belating betaler betaal word.
As jy egter vir die ANC werk, verskil die reëls, en die betalings moet deur hulle self gedoen word.
Duidelik laat Ace hom nie voorsê nie, nie eers deur sy eie verkose president nie.
Nou kan Cyril gerus vir ons verduidelik hoekom ons, as burgers van die land, na hom moet luister, as sy eie lede dit nie doen nie?