Nog ’n perspektief op die onteieningswetsontwerp

Deur adv. Jan Heunis

Argieffoto: Pixabay

Die hoogs omstrede Onteieningswetsontwerp sal, indien dit in die toekoms in werking tree, die prosedure bepaal waarvolgens alle eiendom, nie net grond nie, in die toekoms deur staatsorgane onteien sal kan word.

Die omstredenheid van dié Wetsontwerp het hoofsaaklik te make met klousule 12(3) daarvan wat bepaal dat dit billik en regverdig mag wees dat geen vergoeding betaal word nie waar grond in die openbare belang onteien word met inagneming van alle relevante omstandighede insluitende, maar nie beperk nie, tot vyf faktore wat uitdruklik vermeld word.

Die eerste is wanneer grond nie gebruik word nie en die eienaar se hoofdoel nie is om dit te ontwikkel of te gebruik om inkomste te genereer nie, maar om die voordeel te verkry van appresiasie van die markwaarde daarvan.

Die tweede is wanneer ’n staatsorgaan grond hou sonder om dit te gebruik vir sy wesensfunksies en dit nie redelikerwys waarskynlik is dat dit die grond vir toekomstige bedrywighede sal benodig nie, maar slegs indien die staatsorgaan die grond bekom het sonder enige teenprestasie.

Derdens wanneer ’n eienaar grond geabandoneer het deur na te laat om beheer daaroor uit te oefen.

Vierdens wanneer die markwaarde van die grond gelyk is aan, of minder as, die bestaande waarde van direkte staatsinvestering in, of subsidieering van, die verkryging en voordelige kapitaalverbetering van die grond.

Laastens, wanneer die aard of toestand van die eiendom ’n gesondheids-, veiligheids- of fisieke risiko vir mense of ander eiendom inhou.

Die regverdigheids- en billikheidskriteria waarna klousule 12(3) verwys, word ontleen aan artikel 25(3) van die Grondwet wat bepaal dat die bedrag van vergoeding wanneer onteien word, en die tyd en wyse van betaling, regverdig en billik moet wees, en ’n billike ewewig moet toon tussen die openbare belang en die belange van diegene wat geraak word met inagneming van alle tersaaklike omstandighede, met inbegrip van dié wat in daardie subartikel uiteengesit word. Dit sluit die markwaarde van die eiendom in.

Artikel 25(1) van die Grondwet bepaal dat niemand van eiendom ontneem mag word nie behalwe ingevolge ’n algemeen geldende regsvoorskrif en dat geen sodanige regsvoorskrif arbitrêre ontneming van eiendom mag veroorloof nie.

Klousule 12(3) van die Wetsontwerp het verskeie ooglopende tekortkominge.

Die eerste is dat dit lynryg in stryd is met die Grondwet se vereiste dat die bedrag van vergoeding en die wyse en tyd van bepaling, regverdig en billik moet wees en ’n billike ewewig moet toon tussen die openbare belang en die belange van diegene wat geraak word met inagneming van die faktore wat in daardie subartikel uiteengesit word, onder meer omdat die bykomende kriteria in artikel 12(3) afwyk van dié van die Grondwet en aan die grondwetlike bepaling in dié verband afbreek doen.

Die tweede is dat, alhoewel soos die Wetsontwerp tans geformuleer is, dit voorkom asof die vyf kriteria met verwysing waarna ’n geen vergoedingsbesluit geneem kan word, samelopend van toepassing moet wees en nie individueel nie, is dit duidelik, wanneer daar na die aard van die kriteria verwys word, dat dít nie die bedoeling kon wees nie aangesien, byvoorbeeld, sommige daarvan inhoudelik gewoon onbestaanbaar met mekaar is. Hierdie toedrag van sake is teenstrydig met die Grondwet se voorsiening in hierdie verband.

’n Volgende probleem is dat ’n geen vergoedingsbesluit geneem kan word met inagneming van al die relevante omstandighede en nie net dié, of selfs enige van die vyf waarna ek reeds verwys het, nie. Dit open die deur vir arbitrêre geen vergoedingsonteieningsbesluite in stryd met die Grondwet. Daar is ook nie troos daarin dat, in die finale instansie, die howe so ’n beslissing sal moet neem nie aangesien die koste verbonde aan bestrede hofsake in baie gevalle tot gevolg sal hê dat dit vir die betrokkenes onbekostigbaar sal wees om onteiening teen geen vergoeding in die howe aan te veg.

’n Verwante grond waarop die Wetsontwerp aangeveg sal kan word, is dus die feit dat klousule 12(3) so wyd soos die Heer se genade is of, in hierdie geval, beter beskryf as so wyd soos die poorte van die hel.

Dit is ’n wesensvereiste van wetgewing wat in die breë op die burgery van toepassing is, dat dit toeganklik en verstaanbaar moet wees en dat die burgery moet kan bepaal wat hul regte en verpligtinge ten opsigte daarvan is. Hieraan voldoen die Wetsontwerp kennelik nie aangesien die antwoord op die vraag na of eiendom teen geen vergoeding onteien kan word, bepaal kan word met verwysing na ongedefinieerde “alle tersaaklike omstandighede”. Wat, op aarde, sal Jan Burger tereg kan vra, kan daardie omstandighede insluit? Hierdie bepaling is klaarblyklik nie bevorderlik vir regsekerheid nie aangesien iemand wat dit lees, nie enigsins ’n goeie begrip kan hê van in watter omstandighede onteiening sonder vergoeding kan plaasvind nie.

’n Verwante probleem is die feit dat staatsorgane wat klousule 12(3) onteieningsbesluite kan neem, nie riglyne het waarvolgens hulle kan bepaal of onteiening sonder vergoeding in ’n gegewe geval ’n statutêre moontlikheid is nie. Hierdie is juis die nagmerrie-aspek van die bepaling, veral as in ag geneem word dat openbare ampsdraers, staatsamptenare en staatsorgane die land op sy knieë gebring het, nie net deur volslae onbevoegdheid nie, maar ook diefstal en bedrog. ’n Mens sidder om te dink aan die gevolge van ’n carte blanche-bepaling soos klousule 12(3).

’n Interessante verdere aanvegtingsgrond het te make met die vorige Grondwet van Suid-Afrika, die sogenaamde interim-Grondwet, wat bepaal het dat die nuwe Grondwet (met ander woorde die huidige Grondwet) moes voldoen aan ’n aantal Grondwetlike Beginsels wat uiteengesit is in ’n bylae tot die interim-Grondwet. Een so ’n Grondwetlike Beginsel het bepaal dat elkeen alle universeel aanvaarde fundamentele regte, vryhede en burgerlike vryhede geniet, dat daarvoor voorsiening gemaak moet word en dat dit beskerm moet word deur verskanste en beregbare bepalings van die nuwe Grondwet wat opgestel moes word met behoorlike inagneming van, onder meer, die fundamentele regte in die tussentydse Grondwet.

Dit is dus van betekenis dat, byvoorbeeld, artikel 17 van die Universele Verklaring van Menseregte bepaal dat almal die reg het om grond te besit en dat niemand op arbitrêre wyse van grond ontneem mag word nie. Dié Verklaring word algemeen beskou as die fondament van internasionale menseregte.

Artikel 28(3) van die interim-Grondwet het, onder meer, bepaal dat wanneer regte in eiendom onteien word, sodanige onteiening slegs toelaatbaar vir openbare doeleindes was as die onteiening onderworpe aan die betaling van ooreengekome vergoeding was wat met inagneming van alle tersaaklike faktore bepaal is, met inbegrip van sekere uiteengesette faktore, nie een wat voorsiening gemaak het vir geen vergoeding nie.

Die beginsel van geen onteiening sonder vergoeding is, soos bedoel in die betrokke Grondwetlike Beginsel, ’n universeel aanvaarde fundamentele reg en dit is daaraan wat artikel 23 van die Grondwet veronderstel is om gevolg te gee.

Die argument sal dus wees dat die Onteieningswetsontwerp nie net afbreuk doen aan die bepalings van artikel 23 van die Grondwet nie, maar ook aan dié van die Grondwetlike Beginsels waaraan die Grondwet veronderstel is om te voldoen.

Alhoewel die vraag na wetswysigings wat onbestaanbaar is met die Grondwetlike Beginsels soos, byvoorbeeld, ’n wysiging aan die Grondwet, nog nie deur die Konstitusionele Hof beantwoord is nie, opper die bestaan van daardie Grondwetlike Beginsel nog ’n geleentheid vir ’n kragtige argument teen die geldigheid van klousule 12(3) van die Onteieningswetsontwerp.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.