Nóg ’n skok vir die kerk

Deur prof. Johan Janse van Rensburg

Prof. Johan Janse van Rensburg.

Die media berig oor ʼn bekende teoloog wat ʼn tweede boek geskryf het, waarin hy openbaar dat hy nie meer in God of die hemel glo nie.

Dr. Ben du Toit het met sy eerste boek opslae gemaak, waarin hy bepaalde geloofswaarhede afgesweer het. Hy is oor sy standpunte aangekla, maar deur die kerk se ondersoekliggaam onskuldig bevind. Nou is hy weer aangekla. Hy het egter aangedui dat hy as lidmaat sal bedank, klaarblyklik om die onaangenaamheid van nóg ʼn kerklike ondersoek te ontduik. Dit is begryplik dat die pers hieroor sou berig, maar wat is die uitwerking op lidmate van die kerk? Hoe moet ons hieroor oordeel?

Enkele kort opmerkings is nodig:

Die boek en verklarings is hoegenaamd nie aardskuddend nie. In die loop van honderde jare, sedert Psalm 14:1, het ʼn skare van mense ongeloof oor die bestaan van God uitgespreek. Ons lees van Demas wat Paulus verlaat en die teenswoordige wêreld liefgekry het (2 Tim. 4:10). Die geskiedenis van die filosofie meld ook die name van formidabele filosowe wat van dieselfde ongeloof getuig het. Name soos Descartes, Kant, Heidegger en Sartre (om net ʼn paar te noem) het die wêreld se denke beïnvloed. Postmodernisme het vanweë die relativerende aard van die filosofie waarskynlik die grootste skade aangerig.

In kerklike kringe was daar die rebelse teologie van die Anglikaanse Biskop John A.T. Robinson wat in die sewentigerjare van die vorige eeu boeke soos But That I Can’t Believe! en Honest to God geskryf het. In die geledere van die NG Kerk het prof. Julian Muller die eerste keer die uitdrukking “postteïsties” gebruik. Die tweede boek van dr. Ben du Toit is dus regtig niks nuut nie.

Die hele konteks laat egter ʼn aantal dringende vrae ontstaan. Waarom het dr. Du Toit en ander, wat lank reeds met hierdie ongeloof (nie twyfel nie) rondgeloop het, nie die eerbare weg gevolg om te bedank nie? Hoe het dit gebeur dat ʼn ondersoekkommissie van die Kerk destyds vir dr. Du Toit op ʼn klag van leerdwalings onskuldig bevind het? Hoe was dit moontlik dat dr. Du Toit ’n geruime tyd in so ʼn vername sleutelpos in die NG Kerk kon dien?

Die antwoord op hierdie en talle ander vrae moet na die algemene sinode se besluit van ʼn paar jaar gelede terugherlei word: die sinode het besluit om onder die beginsel van diversiteit kerk te wees. Dié besluit is juis geneem om steeds vir lidmate en teoloë met afwykende geloofsoortuigings plek in die kerk te ruim. Die besluit was daarom teologies en selfs juridies ultra vires. Nadat die besluit sonder veel teenstand van sinodegangers aanvaar is, het ek ʼn voorstel ingedien dat die besluit net kan geld mits dit nie met die kerk se belydenis teenstrydig is nie. Hierdie voorstel is sonder teenstem aanvaar, maar ek twyfel of dit ooit genotuleer was. Dit spreek ook vanself dat my voorstel nooit in werking gestel is nie, want die diversiteit het van krag tot krag in die liberale teologie gegaan tot waar dit vandag is. Talle besluite wat by die algemene sinode geneem is, is bewys daarvan.

Wat nou hiervandaan verder? Hoe lank moet lidmate nog in hierdie soort leerdwalings en verwarring voortleef? Die kerkleiers van die NG Kerk pleit dat die kerk nie moet skeur nie. Daar word naarstiglik gekeer dat gemeentes en sinodes nie moet doleer (afskei van die algemene sinode) nie.

Ek kan nie anders nie as om te vra of daar regtig ʼn ander opsie oor is. Die Skrif vermaan ons om nie met leerdwalings te doen te hê nie (Galasiërs 1:8). Artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis identifiseer die suiwer verkondiging van die Woord as ʼn vereiste om suiwer en ware kerk te wees. Hoe lank nog sal hierdie teenstand teen God se Woord en die kerk se belydenis geduld word?

In 1998 het die fakulteit teologie van die Universiteit van die Vrystaat ʼn boek uitgegee met die titel: Is die NG Kerk nog die NG Kerk? Dosente het hierin ʼn bydrae gelewer. In my bydrae onder die titel
“Kla jou moeder aan” (na aanleiding van Hosea 2:1), het ek ʼn aantal gevaartekens geïdentifiseer wat die kerk se identiteit ernstig bedreig. Soos verwag, is ek hieroor vriendelik vermaan.

ʼn Paar jaar later het ek enkele gevaartekens in ʼn Vrystaatse sinode geopper. Daar was soveel reaksie dat ek versoek is om om verskoning te vra. Die bedoeling is nie om my as profeet of martelaar te teken nie. Dit, en waarskuwings uit ander geledere, is eenvoudig geïgnoreer.

Het die NG Kerk nou by ʼn spreekwoordelike rubikon gekom? Dit is nie duidelik hoe my geestelike moeder hieruit gaan kom nie. Kan ek dan kwalik geneem word as ek treur? In ʼn skerp aanval op my vra iemand of ek my eie kerk wil stig. Nee, natuurlik nie. Martin Luther het nie uit die kerk bedank nie. Hy wou die kerk reformeer. Die vraag is egter: Is ʼn reformasie in die kerk nog moontlik?

  • Prof. Johan Janse van Rensburg is reeds meer as 40 jaar ’n predikant van die NG Kerk. In 1994 het hy ook ’n pos aan die fakulteit teologie van die Universiteit van die Vrystaat aanvaar waar hy 16 jaar praktiese teologie doseer het. Hy het drie doktorsgrade verwerf by Stellenbosch, Unisa en die UV.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Rentia ·

As jy nie in God of die hemel meer wil glo nie, sterkte. Jy weet wat is die gevolge van jou keuse. Moet die kerk nou ophou bestaan want een prof val uit? Asseblief, niemand is SO belangrik nie.. Buitendien om ‘n teoloog te wees en om werklik God te ken en te leef is verskillende goed.. So ook met ENIGE godsdiens wat jy afsweer. Daar is gevolge vir jou keuses. As jy daarmee kan saamleef, mooi so.
Sou dit regtig nie as aardskuddende nuus bestempel nie, en nee ek glo regtig nie die kerk sal daaroor “skeur” nie…

Miskruier ·

Skeur maar, my geloof het ek en selfs as daar geen kerk meer is nie, bly ek glo.

Jack ·

Die NG Kerk het jare gelede reeds geskeur. Dis hoe die Afrikaanse protestantse Kerk tot stand gekom het. Hierdie skeuring het, as my geheue my nie in die steek laat nie, gegaan oor die NG kerk se skuldbelydenis dat apartheid sonde was.

Adam Adriaan ·

Meneer ongelowige ek sal maar net vir jou bid dat die Heilige Gees jou sal aanraak en jy soos Paulus in Damaskus ervaring sal hê. Mag Jesus jou red uit jou penarie, want Hy wil nie hê dat jou siel verlore moet gaan nie. Jy is ook belangrik vir Hom!!!!

Anoniem ·

Net nog ‘n teken van die tye. God se woord waarsku dat mense sal begin wegdwaal. Maar dié wat aanhou glo sal in die hiernamaals in die teenwoordigheid van Jesus woon. Daar sal nie baie van ons wees nie. Hoop ek sien jou daar!

Sarel ·

Ek het sk gewaarsku dat in Christus se tyd was die ” Farriseërs ” gesien as die Kerk of Geestekike Leiers.

Dubbelloop ·

Dit is darem maar skokkend om dit te lees hierbo. Gaan kyk maar wat God in sy Woord vir ons gee, 1Petr.4:17-18. Jammer om te sê, maar die waarheid is dat die NG Kerk vir ń baie lang tyd al besig is met dwaalleer. Dit is hartseer maar waar.????

Jack ·

Allan Boesak en sy Belhar belydenis? Al die dwaalleer rondom seksualiteit?

Kosie ·

Die kerk is veronderstel om die bruid van Christus te wees, maar ek is bevrees die teoloë het haar in ‘n hoer verander… Hoeveel van die “teoloë” is gered en het ‘n verhouding met Jesus? Hoeveel skade en hierdie goddelose teoloë nie al berokken nie? Hoeveel van die teoloë is nie vrymesselaars nie? Hoeveel valse teologie word nie elke week van kansels in Suid-Afrika verkondig nie? Hoeveel dominees staan op kansels, sê die twaalf artikels op, en glo self nie die artikels nie. Hoekom is daar nie meer sonde in die kerk nie? Ek is van mening dat daar nie hoop vir die verrotting is nie en dat God self die kerk gaan vernietig. Kyk maar hoe God in die boeke Jeremia en Esegiël oor en oor gewaarsku het, en op die ou en het Hy self die vyand geword. Die teoloë word lekker beskerm en vet op universiteite; melk die ou mensies wat hulle geldjies vir die kerk gee en intussen haat hulle Jesus – hoe vals kry mens? Julle bloed is op hulle koppe.

Toktokkie ·

Die bybel sê baie duidelik dat mense wat leeraars is baie versigitg moet wees omdat hulle persoonlik vir elke siel wat hulle op ‘n dwaal bring verantwoordelik gehou sal word. Die vraag is nie of die NG Kerk moet skeur nie, die vraag is hoekom het dit nog nie gebeur nie. As die oormeerderheid lede mate saam met die NG kerk se “diversiteit” stem, beteken dit dalk dat die NG kerk nou ‘n nuwe beleid volg en moet elke christen by homself besluit of hy of sy hom of haar of hulle kinders wil blootstel aan sulke dwaal leringe. Hierdie kom al ‘n baie lang pad en ek wil nie eers weet hoeveel verlore siele daar buite rondloop as gevolg van hierdie Satan demoon wat Janse Van Rensburg gebruik om mense van die pad af te stuur nie. Maar die bybel sê ook dat dienaars van God verlei sal word maar nie mislei sal word nie. Miskien moet elkeen self besluit waar hy volgens sy opinie inpas en in watter kerk (indien enige) deesdae ‘n plekkie kan vind.

Joof ·

Dit is net n kwessie van tyd voor geloof in gode met dieselfde minagting as rassisme bejeën word. En goed en reg so! Dis hoog tyd dat die snert tot die geskiedenis verban word.

MakersMark ·

Gelukkig hang ons heil nie van die kerk, onsself, of skrifgeleerdes en wat hul glo of nie, af nie nie maar van Jesus Christus alleen wat reeds ons heil verwerf het. Dis ons enigste troos in lewe en dood. So mooi beskryf in die Heidelbergse Kategismus vraag 1.

Frans ·

Omdat ek ‘n draai deur al susterkerke gemaak het en in verskillende hoedanighede in al drie gedien het,was daar een gemene faktor.Nie een van die drie weet hoe om wetenskaplike ontdekkings oor die onstaan van ons heelal.die aarde en dan veral die mens te hanteer nie.
Die Rooms Katolieke kerk het wel op Augustus10, 2004 ‘Adam, Eve, and Evolution’ gepubliseer maar omdat daar soveel onkunde oor dit bestaan was die susterkerke maar skrikkerig om aan die gesprek deel te neem.
Vra jouself nou ‘n eenvoudige vraag af-hoekom sou ‘n WESE ver bokant menslike begrip sigself laat bind aan ‘n tydskedule waarin die aarde 6000 jaar oud is en in ses dae tot stand gekom het,veral in agnemende dat die Skepper nie soos die mens tydgebonde is nie en tyd nie bestaan het voor die ontstaan van ons heelal.

Solank die kerk nie bereid is om die vrae te beantwoord bly Christelike wetenskaplikes soos die wat die webblad ‘Fact and faith’ bedryf ‘n stem roepend in die woestyn.

Vrijburger ·

Jammer Prof ek vermoed jy is “een stem des roependen in de woestijn”. Die NGK het reeds die rubikon oorgesteek toe die sinode besluit het om die beginsel van diverse kerk te aanvaar.

In die VSA is daar die gevallestudie van die Baptiste en Metodiste. Die Metodiste het die roete van ‘diverse kerk’ gegaan, hulle is besig om te skeur en die ‘diverse’ gedeelte is stadig aan die dood bloei. Die Baptiste het die roete van streng Bybel gebaseerdheid gekies en gaan van krag tot krag.

Persoonlik glo ek die NGK se humanistiese & sekulere element in die senode (hogere echelons) is deel van die bose se plan om die kerk te vernietig.

My gebed is dat julle die aanslag sal kan afweer.

Andries ·

Waarom het dr. Du Toit nie die eerbare weg gevolg om te bedank nie? Natuurlik omdat hy nie sy pensioen wou verloor nie en nie in staat was om saam met die gevolge van ‘n bedanking te leef nie.

Frans ·

Ons lewe in ‘n tydperk waar die wetenskap,’n ontdekking van dit wat bestaan,sover op alle gebiede gevorder het dat ‘n mens net nie kan bybly nie.Tog bly ons praat van ‘n son wat opkom en ondergaan,al weet ons dat dit nie so is nie.
Hierdie opkomende en ondergaande son word dan ook aan tyd verbind,’Maak klaar die son trek water,tydverstreke in eksamenlokale.Vra jou dan self die vraag af-wat is tyd- en as jy weet wat tyd is-gee dan ‘n definisie van tyd,
Tyd is ‘n illusie baseer op waarneming van beweging.Wanneer tyd verdwyn wat bly oor-in die ewige lewe saam met Christus is daar nie tyd nie-net ‘n ewigheid vir die wat Hom as hul enigste Saligmaker en Verlosser aangeneem het.

Adam Adriaan ·

Kyk na Dr Kent Hovind 7 x seminare op you tube om te verstaan hoekom die bybel 100 % waar is. Daar bestaan nie so ‘n ding soos evolusie nie. Nie een kom nog die stelling verkeerd bewys nie. U sal dan ook verstaan waarom die kerke erns die kluts kwyt geraak het.

Vlooi ·

Die enkel grootste probleem is daarin gesetel dat die Kerk aangepas word om tog net nie die mens te na te kom nie. Dit is presies soos landswette, gaan oor die mens en nie die Oppergesag van God wat Sy Woord aan ons geopenbaar het nie. Indien ek my uitspreek teen onbybelse waarhede word ek met regsprosesse gedreig want ek moet tog net nie iemand te na kom nie . Prof Janse van Rensburg gee aan ons ‘n duidelike uiteensetting van jare se Kerklike verval, dit is ook duidelik dat elke keer wanneer hy sy mening sou lug hy dan moet verskoning vra. Waarheid maak seer, in teenstelling word diegene wat nou skielik andersdenkend is beskerm, ongeag of hulle met hul vrysprake my seermaak. Ek volg ook mense soos Chris Saayman se bediening. Hy is uitgesproke oor die dwaalleer wat die rondte doen en is hy ‘n voorstaander van dolerende gemeentes. Kerkskeuring is niks nuut nie, as dit so moet gebeur dan moet dit, ek is nie ‘n hoog heilige Christen nie, maar daar is net een weg en dit is die waarheid.

Frans ·

Die meeste mense val vas oor die begrip evolusie asof dit iets is wat uit die hel kom.Biologiese evolusie is die verandering van karaktertrekke oor baie generasies deur genetiese variasies.Dit is presies dieselfde proses wat die mens volg deur bv verskillende honde en bees en perderasse te skep.

In die natuur het swakkes uitgesterf en slegs diegene wat kon aanpas by veranderde klimaatomstandighede het bly voortbestaan.Daarom het die Neanderdalmens verdwyn,maar mense noord van die Sahara kan tog nog soveel as drie persent van die uitgestorwe mensras se gene dra.
Gaan staan vir ‘n spieêl en maak jou mond oop.Ons hoektande het kleiner geword omdat die mens van vleiseters na graaneters deur landbouontwikkeling oorgegaan het.JOHANNES 1:3 NLV
Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.
Ja God is die God van alles ook van die natuurlike proses van evolusie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.