Nog ʼn vals ‘boerestorie’

graankorrels-hand-boer-landbou

Foto: Imagesthai.com/Pexels.com

Deur Terence Corrigan

Een van die algemeenste aanhalings deur Winston Churchill – ʼn man wat bekend was vir sy gevatheid en taalkundige vaardigheid – is dat ”n leuen halfpad om die wêreld loop voordat die waarheid ʼn kans het om sy broek aan te trek’.

Ná jare van maatskaplike spanning het hierdie gevatte gesegde vandag ʼn treffende weerklank in Suid-Afrika beleef. Niemand betwis die feit dat moeilike en eerlike gesprekke noodsaaklik is vir ons samelewing om iets te kry om oor saam te stem sodat ons vorentoe kan beweeg nie. Grondliggend aan ons vermoë om ons weg na die toekoms te navigeer, is die behoefte aan nougesette respek vir die waarheid.

Dit is dalk nêrens so belangrik nie as in ʼn gesprek oor die dinamiek van die ekonomie van die boeregemeenskap, ʼn gelaaide onderwerp en die teiken van baie politieke vyandigheid.

ʼn Goeie voorbeeld is die dekking wat aan ʼn onlangse skietery in Bergville in KwaZulu-Natal, verskaf is. Volgens aanvanklike verslae, grootliks gebaseer op polisieverklarings, het ʼn 80-jarige “boer” iemand wat op sy eiendom oortree het in ʼn poging om bokke terug te kry, in ʼn skietvoorval beseer. Polisiebeamptes het op die toneel aangekom om die voorval te ondersoek en te ontlont, maar die “boer” wat blykbaar sy vuurwapen op hulle gerig het, is doodgeskiet.

Op die oog af is daar iets tragies bekend aan hierdie storie propvol aanwysers van Suid-Afrika se politieke mitologieë. Dit het diep wortels in die manier waarop die Suid-Afrikaanse gemeenskap so dikwels voorgestel word: die beledigende, skietlustige wit plaasboer, ʼn geskil oor toegang tot eiendom, die vinnige toepassing van grensgeregtigheid, en die tragiese einde.

Maar dit is nie wat gebeur het nie.

Die eiendom waarop die “boer” gebly het, was nie ʼn plaas nie, dit kan waarskynlik beter beskryf word as ‘n werf, ongeveer ‘n halwe hektaar groot. Die belangrikste feit in hierdie storie is dat die hoofspeler geen plaasboer in die werklike sin van die woord was nie. Soos Angus Braithwaite van die Bergville Boerevereniging aan die Instituut vir Rassebetrekkinge (IRV) uitgewys het, het die betrokke “boer” ʼn lang rekord van wisselvallige en roekelose gedrag openbaar. Hy het ʼn reputasie gehad dat hy gereeld met ander lede van die gemeenskap geargumenteer het en dat hy mense met sy vuurwapen gedreig het. Sy gedrag het sterk daarop gedui dat hy gely het aan wat Braithwaite as “geestelike uitdagings” beskryf het.

Hierdie saak is ʼn eggo van voorvalle wat vroeër vanjaar plaasgevind het. In Januarie het die dood van Aaron Mutavhatsidi op ʼn plaas in Tarlton naby Krugersdorp met reg wye belangstelling ontvang. Mediaverslae – aangevuur deur die beskrywing van die saak wat deur die polisie uitgereik is – identifiseer die vermeende beskuldigde as ʼn plaasboer, maar hy was in werklikheid ʼn veiligheidswag.

ʼn Ander saak wat wye belangstelling geniet het, is die een wat openbaar het hoe ʼn werker op ʼn plot naby Endicott in Springs, gedwing is om ontlasting te eet. Hier is terme wat met “boer” te doen het tot die uiterste aangewend: ʼn voorbladartikel in een koerant het nie minder nie as 13 keer die woorde “plaas”, “plaasboer” en “plaaswerker” gebruik om die brutaliteit van die storie te beklemtoon. Op die koop toe is bygevoeg dat hierdie “die laaste skokkende voorval in ‘n reeks rassevoorvalle was wat toon wat plaaswerkers alles deur die toedoen van hul werkgewers moes verduur”.

Vanweë die grillerige besonderhede van die verslag en die polariserende toon van verslagdoening, het ons hier by die IRV alles in ons vermoë gedoen om die omstandighede hiervan vas te stel. Dit was maklik om die woning op te spoor, en bykans net so maklik om vas te stel dat indien enige boerdery ooit plaasgevind het, dit op ʼn uiters klein skaal was. ʼn Motorbesigheid is op kennisgewingborde op die heining om die eiendom adverteer. Gesprekke met bure (en ook die nuusberigte) het ʼn patroon van onverantwoordelike gedrag openbaar.

Volgens wat ons kon vasstel, was hierdie werklik gruwelike voorvalle. Elke voorval was egter werklik uniek; daar is niks wat aandui dat alle plaasboere, as gevolg van voorvalle soos hierdie, oor dieselfde kam geskeer kan word as uitbuitend en beledigend nie.

Nieteenstaande, verslae soos hierdie veroorsaak stories waarin die Feindbild, (letterlik, die beeld van die vyand) van die plaasboer, buitengewoon opgeblaas word. Die wortels hiervan lê diep in Suid-Afrika se geskiedenis, maar dit word vandag steeds naarstiglik deur sekere gewetenlose politici aangemoedig.

Die vuur word ook bewustelik of onbewustelik deur gesagsfigure aangeblaas wat verkies om nie die volle besonderhede van betwiste voorvalle vas te stel voordat hulle hul monde daaroor oopmaak nie – of wat steun op vae beskrywings dat alle mense wat buite digbevolkte voorstede woon, plaasboere is. Hulle feite mag wel nie akkuraat wees nie, maar as dít wat hulle kwytraak aanhoudend herhaal word, “maak dit op die ou end sin”.

Wat baie ontstellend is, is dat dit bekend gemaak word deur magsbronne – in twee gevalle, deur woordvoerders van die polisie. Daar rus (of dit behoort die geval te wees) duidelike verantwoordelikheid op die skouers van mense wie se gesagsposisie onberispelike eerlikheidstandaarde en integriteit vereis. Of hul mislukking toevallig of doelbewus is, is van weinig praktiese waarde.

Ten tyde van die Tarlton-skietery het Dan Kriek, president van Agri SA geargumenteer dat “valse verslagdoening oor die voorval en swak joernalisme veroorsaak het dat plaasboere se reputasie en openbare beeld skade aangedoen is”.

Die skade is egter veel erger as wat hy voorgegee het, want hierdie soort waninligting dien om bestaande aannames te bevestig en te verdiep.

Sodanige “valse nuus” het ʼn handige politieke en ideologiese instrument geword. Die doel daarvan is tipies nie om net een storie te verwring nie, maar om verskillende stories aan te dryf of te versterk, om die polarisasie graad vir graad, oor ‘n lang tydperk verder te vergroot. Op die ou end sal dit hul teikengehoor help om ʼn sekere houding teenoor dinge aan te neem en persepsies te vestig.

Deur roekeloos met die waarheid om te gaan, word polarisasie verhoog en die afstande tussen ons word vergroot, so ook die vooruitsig op ʼn oplossing van ons probleme. Plaasboere is glad nie meer uitbuitend as enige ander groot groep mense nie, en om ʼn storie te versprei dat hulle wel so is, dra by tot Suid-Afrika se laste en probleme. Dit maak enige eerlike gesprekke toenemend baie moeilik.

Dit is ʼn prys wat ons as samelewing skaars kan bekostig – want nie alleen plaasboere nie, maar elke Suid-Afrikaner sal op die lange duur daarvoor moet opdok.

  • Terence Corrigan is ʼn projekbestuurder by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), ʼn dinkskrum wat politieke en ekonomiese vryheid bevorder. Die artikel wat in Politicsweb verskyn het, word met vergunning van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) gebruik en is deur die Afrikanerbond na Afrikaans vertaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

pieter ·

ONGELUKKIG IS DIE MEDIA EN DIE MANIER WAAR DAAR OMGEGAAN WORD MET BERIGGEWING HIERVOOR VERANTWOORDELIK. AS N BERIG NIE N STERTJIE HET NIE BERIG ONS NIE DAAROOR NIE.

John ·

Sedert 1652 het hierdie mode ook in SA, naamlik verdraaide beriggewing, posgevat; subjektiewe aanbieding. Daar is talle voorbeelde in die geskiedenis waar die boere daarvan beskuldig is dat hulle slawe sleg behandel het en die sendelinge het ongelukkig ‘n groot rol hierin gespeel en talle briewe is na die buiteland gepos waarin liederlike leuens verewig opgeteken staan selfs in ou argiewe. Die titel ‘Afrikanerboere die wrede skandemakers’ is toe reeds aan ons toegedig. Die fopnuus wat nou so skielik as iets nuut opgehemel word, is is so oud soos die berge en dien altoos iemand wie daaruit kon baat. Selfs die aangehaalde gebeure hierbo draai steeds maar na die witman se ‘verkeerde’ maar bloot oordrewe feite, maar die Afro’s is ewiglik die lydende party. Al die wreedhede en misdrywe van anderskleuriges het altyd ‘n begin by die slegte witmense. Selfs hierdie berig is gekleurd en fopnuusgeskoold.

Spike ·

Onthou die meeste polisielede is comarades. Dit is hulle wat die rassistiese inligting deur gee sodat dit die boer in ñ slegte lig kan plaas.

Johan ·

Pieter, jy is reg. Media soek sensasie, sensasie is verkope. Die oorspronklike “verteller van die leuen” is sekerlik aanspreeklik en dit is inderdaad soos berig word, swak (nee pateties) dat belangrike mense in bv die SAP uitlatings maak voor hulle hul van feite vergewis. Maar nou kom die media en versprei eintlik die leuen.

Miskien moet die (verantwoordelike) media minstens ‘n lys opstel van “twyfelagtige bronne van inligting” en eers deeglik besin voor hulle berig as die bron een van die gelyste mense/instansies is. Mense is mos gou om lyste te maak (lys van seksuele oortreders, ens). So maak ook so ‘n lys van “leuenaars”, want die skade wat hulle aanrig, is enorm.

Ben ·

Dit is egter nog steeds die berig skrywer en media se verantwoordelikheid om die werklike feite en waarheid sonder hulle eie mening en emosies weer te gee. ‘n paar jare terug het die BBC ‘n foto geplaas van ‘n klomp mense wat onder die Kruger monument in Pretoria le. Die berig het gese dat die mense doodgeskiet was maar die waarheid was dat die mense in hulle etenstyd in die monument se skaduwee gele en rus en eet het. Selfde met die Bell Potgieter Indaba. Die media is gou om Persvryheid te skree maar wat van ‘n bietjie korrekte berig gewing? Weet die media dat die woord Boer ook Poliesman beteken?

Carl ·

Ben, jy is heeltemal korrek. Ek geniet dit nogal om, as ek die kans kry, tong in die kies met polisiemanne te praat en skertsenderwys na hulle te verwys as “boere”. Party lag verleë maar ek kan sien nie almal geniet dit nie. Die bordtjies is verhang.
Ja, die media kan roekeloos ‘n agenda dryf en is maar min, werklik objektief. Hulle obsessie om akkomderend te wees teenoor spesifieke groepe is eintlik pateties en hulle is verantwoordelik vir baie onmin – regoor die wêreld.

Nika ·

ja die media en mense wat so vêr links is sal altyd die stories verdraai. Moet net nie alles glo wat jy lees nie.

Hans ·

Daar moet klagtes teen die polisiebeamptes wat vals mededelings gemaak gelê word by Opod en die MRK.

Casper Labuschagne ·

Dankie vir die artikel. Hierdie manipulasie binne die geledere van die pers is vir uitgelese lede van die publiek heel sigbaar en maak my gereeld briesend. Dit is ook geen wonder nie dat meningsopnames oor die afgelope jare getoon het dat joernalistiek die beroep is wat die heel laagste aansien by die publiek het. Daarby is negatiewe naamwoorde soos “hoernaliste” in Afrikaans of “presstitudes” in Engels woorde wat ek algemeen op sosiale mede teenkom. En om nie eens van fopnuus oftwel “fake news” te praat nie. Geen wonder dat die voorkoms van aanrandings teen verslaggewers wat op straat berig doen so styg nie.

Eish ·

Pragtige nuwe beskrywende woorde om tot my woordeskat te voeg. Skerp!

Piet Pompies ·

Beste raad, hou op nuus kyk en luister, raak betrokke by die gemeenskap en leef jou lewe, dit is ervarings. Dit is die waarheid wat jy ervaar, dit bou bande, brue en stimuleer jou lewe ten goede.
In die verlede was dit die trots van ‘n verslaggewer om ‘n berig te plaas wat hy self ondersoek en bevestig het. Ondersoekende verslaggewing bestaan omtrent nie, dit is deesdae ‘n kwessie van “copy and paste” uit iemand anders se opgemaakte storie.

Oom Charles ·

Ek het nog nooit ‘n boer geken wat sy volk mishandel of verskree nie – daar is seker wel iewers enkeles, net soos wat geen groep of gemeenskap volmaak is nie. In laasgenoemde geval pluk jy een of ander tyd die vrugte van jou eie stompsinnige optrede.

Die boere wat ek ken het elkeen die respek en lojaliteit van hulle werknemers en weet om dit te waardeer. Hulle besef dat hulle voedingsgebied die direkte omgewing is en dat, as jy ‘n goeie reputasie bou, jy goeie en lojale werknemers aantrek.
Ons huis op my pa se plaas het nie eers diefwering gehad nie en die voertuie was onder afdakke, nie in toesluitgarages nie. Nooit skade gehad nie, omdat die swart plaasvoorman na alles omgesien het as my pa ‘n dag of wat weg was. Almal het in mekaar se belang gedeel en opgetree.

Die gewone Suid-Afrikaner met wie ons daagliks te doen het, swart, wit, ens., is mensliewend, stel belang in vrede en ‘n beter toekoms vir sy nageslag. Ek gesels met enige mens as ek iewers in ‘n ry moet wag, hetsy winkel of poskantoor, waar ookal. Daar is net nooit die soort wrywing waarvan die media hulle monde vol het nie. Die kwaadstokers is almal politici en ander onnosel marxistiese meelopers wat nog nooite die waarde van eerlikheid en harde werk besef het nie. Ons het hulle en hulle mediamaats nie nodig nie.

Celtis Africana ·

Die reëlmaat waarteen die klas berriggewing soos uitgewys, die laaste kwarteeu “gepleeg” is, toon duidelike kenmerke van n agenda.
Dus, wees voorbereid en moenie gebreinspoel word nie. Bowenal, bly positief as mens te midde van radikale omstandighede.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.