Noodkreet van uitgemergelde gesondheidswerkers

(Foto: Gent SHKULLAKU/AFP)

Internis Rust Theron stop op sy gewone plek in die parkeerterrein van die Mediclinic-hospitaal in Durbanville. Dis midde nog ‘n vlaag van die Covid-19-pandemie. Een uit elke vier verpleegsters in die hospitaal is al deur die koronavirus platgetrek. Al die fisioterapeute het dit gekry. Van die ses spesialiste, waarvan hy een is, het drie siek geword. Hy is die oudste en moet teoreties die kwesbaarste wees.

Hy sit in die motor en peins. Vir die eerste keer in sy loopbaan is hy bang om die hospitaal in te loop. Is dit dalk vandag sy beurt om die virus te kry? Hoe erg sal dit wees? Wat sal sy kanse op oorlewing wees? Gaan hy sy vrou en kinders aansteek? Hoe sal hulle die situasie hanteer?

Hy skraap moed bymekaar en loop na sy spreekkamer in die hospitaal. Gelukkig is daar positiewe nuus ook. Die regering het maar ʼn stadige wegspring gehad om die entstowwe te bestel, maar het dit met ʼn doelgerigte strategie eerste aan gesondheidspersoneel beskikbaar gestel. Dit is toe wel gedoen en intussen aan alle ouderdomsgroepe beskikbaar gestel. Al vorder die inentingsproses nie na wense nie, het dit reeds ʼn drastiese uitwerking gehad om te keer dat mense wat volledig ingeënt is, nie ʼn ernstige graad van die siekte opdoen nie. Sedert al die personeel by die Durbanville-kliniek die nodige entstof toegedien is, was dit nog nie weer nodig om een enkele een in die hospitaal op te neem nie.

By tye het dit baie erg gegaan wat betref druk op personeel en geriewe soos wat die virus soos ʼn veldbrand deur die land versprei het. Niemand van die personeel kon met verlof gaan nie. Dis nou November, meer as ʼn jaar en ʼn half sedert die begin van die pandemie. Die sterftesyfer in die laaste week van Oktober was 295 – die laagste sedert die laaste week van Mei verlede jaar toe dit 240 was. Ons moet egter nie te gou opgewonde raak nie, waarsku dokter Theron. ʼn Nuwe werklikheid het intussen toegeslaan: sogenaamde lang-Covid. Medici begin nou ʼn beeld kry oor die sielkundige gevolge van Covid op die hele bevolking – selfs by mense wat nog nie die virus gekry het nie.

Lang-Covid kan as’t ware as ʼn nuwe siektetoestand beskryf word. Dit het te doen met die gevolge van Covid. Dit manifesteer as erge moegheid, kortasemheid, ʼn gesukkel met konsentrasie, dink-dofheid, geheueverlies en slapeloosheid. As die simptome so 12 weke nadat die pasiënt Covid onder lede gehad het waargeneem word, word dit as lang-Covid beskou. Dit kan ses maande of selfs langer duur. ʼn Ruim 40% van Covid-gevalle ly daarna aan hierdie langer toestand.

As internis moet dokter Theron ʼn deeglike ondersoek na die verwoesting wat die virus agtergelaat het doen. Mense wat veral kandidate vir die siekte is, is diegene wat vir Covid gehospitaliseer is, bejaarde mense, dié met suikersiekte en dan ook veral vroue.

Eerstens word die longe ondersoek. Is daar tekens van klonte in die longe of ʼn “stywe” long? Dan die hart – het van die spiere in dié orgaan infeksie opgedoen? Of is die hart uit ritme uit? Is daar hartversaking? Is die bloeddruk hoog? Die pankreas kan ook skade kry. Byna een uit vyf Covid-pasiënte kry gevolglik diabetes. Pasiënte raak angstig oor hulle situasie en ervaar slaapsteuring. Gewone slaappille kan egter nie gegee word nie omdat dit die drang om asem te haal nadelig beïnvloed wat hulle dan op ventilators laat beland.

Daar word gereken dat die brein ook geaffekteer word. Dit is deur professor Stoffel Grobler, psigiater van Gqebera, bevestig. Volgens hom bestaan verskeie menings oor die skade wat lang-Covid aan die brein kan aanrig, maar die presiese skade is op hierdie stadium nog onseker. Bewustelikheid word verseker aangetas. Die siekte is gevaarliker en duur langer as vorige ander pandemies. Die getal pasiënte wat aan die een of ander geestesongesteldheid ly het heelwat toegeneem – hy sien omtrent nie meer pasiënte wat nie op ʼn manier simptome toon nie. Een uit vyf wat Covid gehad het, ly aan depressie en een uit drie aan angs. Een uit vier ly aan posttraumatiese stressindroom.

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Die pandemie het die lewe soos ons dit geken het, ingrypend verander – persoonlik, in die gesin, by die werk en finansieel. Mense voel ingehok en geïsoleer. Heelwat toestande in die land werk ook negatief in op die gemoedstoestand van Suid-Afrikaners. Eskom en die voortdurende kragonderbrekings op sigself is genoeg om ʼn mens na depressie te dryf. Netso belangrik as wat die fisieke behandeling van pasiënte is, is dit ook noodsaaklik dat geestestoestande gediagnoseer en behandel word.

Volgens professor Grobler ly byna die helfte van gesondheidswerkers aan posttraumatiese stres. Die werksdruk en blootstelling aan die dood is bykans ʼn daaglikse werklikheid. Omdat familie en vriende nie toegelaat word om pasiënte te besoek nie, word die personeel hulle nuwe “familie”. Hulle kan natuurlik nooit die plek van geliefdes vol staan nie.

Gesondheidswerkers word dan die boodskappers tussen pasiënte en families. Dit plaas verdere stres op dokters en verpleegpersoneel wat ook dikwels slegte nuus moet oordra. Hulle raak uitgebrand en depressie neem toe. Hierdie personeel moes die hele tyd die sterkes wees. Dag en nag werk. Sielkundige aanslae trotseer.

Werkers berei nou vir die vierde vlaag van die pandemie voor. Hulle sien skaars daarvoor kans. Die kanse is goed dat hulle weer nie verlof sal kan neem nie. Intussen woed ʼn openbare debat oor die moontlike komplikasies van die entstowwe oor die langer duur. Feite is egter onomstootlik: Met net enkele uitsonderings is diegene wat deesdae met erge Covid in die hospitaal beland almal mense wat uit eie wil gekies het om nie die entstowwe te neem nie.

Van die verpleegpersoneel vra: “Hoekom moet ons ons afsloof en dag na dag steeds aan die dodelike virus blootstel as die pasiënte mense is wat willens en wetens gekies het om die riskante keuse te maak om nie ingeënt te word nie? Hoekom moet ons die prys vir hulle onbesonnenheid betaal?”

Gesondheidspersoneel sê jy kom op ʼn punt waar jy tot sterwens toe moeg is. Jy wil nie meer die sterk een wees nie. Jy wil nie meer ander help nie. Jy wil nou self gehelp word.

Al is dit nie oor enige ander oorweging nie, sal dit help as die teen-vaksien aktiviste na die noodkreet van die gesondheidspersoneel luister.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Gilla ·

Definisie van ‘n entstof : Die entstof veroorsaak ‘n immuunrespons sonder om die nemer daarvan siek te maak. As sulks is hierdie inspuiting NIE ‘n entstof NIE.

Danie ·

En is dit jou siening as n mediese kenner wat in hierdie rigting spesialiseer……..of net iets wat jy gehoor het?

Gerhard ·

Net jammer dat baie mense ‘n effens seer arm en n ligte hoofpyn as dodelik siek beskou.

Alida ·

Noem dit dan n profalaktiese inspuiting teen die virus as jy wil, maar kry dit net! Of bly weg uit n hospitaal as jy besluit om dit nie te kry nie en wel siek word.

Gerhard ·

Of mense nou wil einent of nie – die mediese personeel is die groep mense wat die prys betaal vir ons roekelose gedrag want hulle moet elke dag covid pasiente in die gesig staar. Dis lekker om oor en weer te kuier en ons is almal al moeg vir maskers, maar word ons siek jaag ons hospitaal toe en verwag dat ons dadelik gehelp moet word. My simpatie met my eie mense wat net nie wil hoor nie raak al hoe minder.

piet ·

Moenie die ongehoorsame ongevaksineerdes by die hospitale toelaat en die verpleegpersoneel in gevaar stel nie. Die Michelin-mannetjies het dan gese dis net ‘n verkouetjie en in elk geval se hulle mos jou tyd is jou tyd. Laat dit dan maar hul tyd wees om ons te verlaat…..

Gerhard ·

Die goed werk. Gesels tog dalk met mense wat in die ICU’s werk en bevestig of jou wysheid so eg is.

Tjiekietor ·

Ons het ons byna dood gewerk, ons het soveel aggressie van di pasiente en hul families ervaar en was so getraumatiseer self want nog nooit het ons as verpleegsters so iets beleef ni. Ons het gehardloop van bed tot bed en saal tot saal en pasiente gerussiteer ( met volle PPE aan- plastiek oorjasse, handskoene, maskers en vizers. Traai iemand resuss met al daai aan, du sweet hardloop in jou oè. Van di pasiente was baie dankbaar. Al di sterftes het ons ook erg getraumatiseer en selfs di verpleegsters was naderhand aggressief met mekaar want ons was hopeloos te min personeel. Ons het ook ni meer geld gekry vir wat ons gedoen het ni. Nou kom di 4de vlaag en weet ni of ons weer kans sien vir al hierdi erge aggressie ni. My werk waaroor ek altyd mal was het n nagmerri geword. Ons het ook van ons personeel verloor.

Landras ·

Dankie vir wat julle doen , oningeligte mense da buite sal nie verstaan nie , ons kan net probeer verduidelik maar ons word op die hand geklap . Vaaldonkie het gister kommentaar verwyder waarop ek geantwoord het – seker die waarheid begin sien … van vêr af . Hulle rympie rym nog nie .

Gerhard ·

Dankie vir jul bydrae en dat julle steeds vasbyt. Daar is mense wat wel dit raaksien, waardeer en julle ondersteun.

Marietjie ·

Ek voel ook jammer vir die gesondheidswerkers, dit is ‘n harde tyd, maar die spuit of nie-spuit se statistiek is nog nie getoets in die samelewing nie. Dit is nie moontlik nie, want ons is nog nie eers ‘n jaar in die proses nie. Mense rondom my raak ook maar baie siek….massiewe hartaanvalle, bloedklonte, covid….en dit alles nadat hulle gespuit is. Niemand gaan se dit is as gevolg van die spuit nie, nee o wee, dit is ons omstandighede, maar nooit die spuit nie.

Alida ·

Ek is nogal verbaas om te hoor van al die mense wat iemand ken wat sooo siek geraak het van die spuit of van Covid al het hulle die spuit gehad. Ek ken baie mense wat baie ernstig siek geraak het van Covid en ook n hele paar wat oorlede is daarvan. Nie een van hulle was gespuit nie. Sommiges wou nie en ander was in daardie stadium te jonk om te spuit. Maar ek ken ook baie, baie meer mense wat wel die spuit gehad het en niks ernstiger as n seer arm daarvan gekry het nie. Niemand van die dosyne wat ek ken wat gespuit is, is oorlede nie. So twee of drie het wel covid gekry, maar baie lig, bykans geen simptome gehad nie.

piet ·

Daar moet een of ander benadeling wees vir die ongehoorsames wat ons hospitaaldienste onnodiglik wil belas. Ek stel voor hulle staan laaste in die ry vir Covid-behandeling ongeag die erns van hul toestand (dis mos in elk geval net ‘n verkouetjie vir hulle en hul is mos van mening jou tyd is jou tyd so hulle is oukei daarmee dat hulle doodgaan aan Covid). Andersins moet hulle top dollar betaal vir hul behandeling hetsy privaat (geforseerde hoë bybetalings of geen dekking) of staatshospitaal (geforseerde deposito’s en duurder/hoër glyskaal vir behandeling). Laat hulle dit aan hul sakke en lywe voel die ore wil mos nie luister nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.