Noordwes se “suksesresep” vir mislukking

ʼn Bus is aan die brand gesteek tydens ʼn betoging in Montshioa naby Mahikeng in Noordwes (18 April 2018). Foto: ANA

Die afgelope weke se verskeuring van talle dorpe in die provinsie Noordwes het nie vanself gebeur nie. Dit het dekade lange “toegewyde” wanbestuur en harde niks werk gekos om die soveel opstande in soveel dorpe te ontlok. Dit is asof die ANC-regering van die gebied alles in die stryd gewerp het om die dorpe vir ’n krisis ryp te maak deur hulle tot in die grond korrup te regeer dat die dienste gaan staan het.

Die langtermynuitwerking wat dit op hierdie dorpe se veiligheid, ekonomie, werkmag, infrastruktuur en volhoubaarheid gaan hê, spreek vanself. Dit gaan beslis die leefbaarheid van hierdie reeds swak dorpe verder benadeel, met die gevaar van versnelde agteruitgang daarmee saam.

Nie een van die 22 munisipale rade het die laaste vier jaar skoon ouditverslae ontvang nie, en ses rade tel onder die swakste 25% in die land. Gereelde betogings en gemeenskapsgeweld in talle dorpe gee gereeld aanleiding tot brandstigting, plundering en selfs rassekonflik.

Die politieke klimaat vir die onlangse opstande teen die regering van premier Supra Mahumapelo, het soos in ’n drukkoker opgebou en ­uiteindelik tot hierdie uitbarstings gelei. Die gevaar is dat enige iets kan gebeur wat hierdie konflik kan laat oorkook en geweld teen minderhede (soos buitelanders of witmense) veroorsaak –  soos verlede jaar in Coligny.

Hierdie kokende gifbrousel wat in die aanloop tot hierdie onrus aangemaak is, kan soos ’n “resep” beskryf word, kompleet met bestanddele, metode en al. Dit is belangrik dat hierdie resep ontleed word om te kyk of daar nie nog “Colignys” is wat net vir ’n vonkie wag nie.

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes. Foto: ANA

Die resep kan só saamgevat word:

Bestanddele: Neem een arm, landelike provinsie. Ontplooi swak munisipale kaders in beheer van die dorpe sodat hulle by tye onder administrasie geplaas moet word. Sorg dat daar nie bestuursbestendigheid in die senior bestuur is nie, en wissel gereeld die munisipale en finansiële bestuurders. Roer die brousel gereeld met politici se ondeurdagte uitsprake teen boere, die opposisie, sakelui en wit mense.

Maak seker dat die aankopestelsels, tenderprosesse en finansiële bestuur gebrekkig is en dat daar jaarliks miljoene rande se (straflose) ongemagtige en vrugtelose bestedings en korrupsieskandale is. Sorg dat die ouditeur-generaal vir jare móét weier om ’n bevinding oor die meeste dorpe se munisipale finansies te maak omdat daar nie behoorlike dokumentasie vir ’n ouditmening is nie. Vestig so ’n vrot regering dat selfs die ouditeur-generaal die swak politieke toesig moet uitwys. Dit alles sal meebring dat die munisipaliteite van een krisis na die ander struikel. Verseker dat baie munisipaliteite so hopeloos vaar, dat selfs die sukkelende provinsiale regering hulle as wanfunksioneel beskryf. Lewer besonder power dienste deur nie genoeg bekwame bestuurders en kundige personeellede aan te stel nie. Moenie ag slaan op die waarskuwende aanwysers in Solidariteit se Leefbaarheidsindeks van 2014, waarin die munisipaliteit net een uit tien kry, nie. Moet ook nie AfriForum se gratis hulp aanvaar om die dienste in die dorpe op te knap in ’n poging om almal se veiligheid en voorspoed te verbeter nie.

Foto: Facebook via Economic Freedom Fighters.

Woede

Blaas die mense se woede aan deur voor elke verkiesing onhaalbare beloftes te maak en verbreek dit dan herhaaldelik nadat jou party verkies is. Verwaarloos die belange van die sakelui en boere wat verskeie dorpe in die munisipaliteit se dienste in almal se belang aan die gang hou, en hul bes doen om jou beloftes van werkskepping na te kom.

Moet niks doen om beleggersvertroue te verbeter of sakelui na die gebied te lok nie, sodat die jeugwerkloosheid in sekere munisipaliteite tot 80% kan styg. Dit sal die jong bevolking van baie gebiede, waar 70% van die mense onder 40 jaar oud is, nog meer wanhopig maak. Maak die pad oop vir misdadigers deur die polisiediens te verwaarloos en verhit die politieke temperatuur met ’n premier wat populistiese rasseuitsprake maak. Skreeu die kodewoord teen witmense, “radikale sosio-ekonomiese transformasie”, kliphard as jy kritiek oor jou vrot regering kry. As die klimaat so warm word dat dit byna aanbrand, moet die premier homself beskerm deur met staatsgeld beeste aan Zuma te skenk. Ná die Ramaphosa-verkiesing skep die onrus ’n krisis in die ANC, omdat party en staat in die provinsie een geword het. Weer die bedreiging van die EFF af deur te verseker dat die premier al radikaler uitsprake maak om die rooi oorpakke te “uit-EFF”.

Metode

Meng al hierdie bestanddele in ’n groot pot en kook vir jare op ’n warm politieke stoof. Roer die brousel gereeld met politici se ondeurdagte uitsprake en onbevoegde regering. Gooi kort-kort ’n groot knyp swak dienslewering by. Wag nou ongeduldig dat die pot oorkook. Weerstaan die versoeking om iets aan jou kiesers se probleme te doen wanneer hulle begin protesteer, en vra die voorvaders vir ’n weerligafleier of sondebok wat jy kan blameer. Boere en witmense is altyd ’n gewilde teiken. Probeer heeltyd om die goeie persoonlike rasseverhoudinge in die provinsie met swak politieke verhoudinge te versuur. Die klimaat is nou kookpunt, en die pot gaan oorkook as enige vonkie naby kom. Tydsberekening!

Rassisme

Trek jou ontevrede kiesers se aandag verder van jou ANC-faksie se swak regering af, deur ’n rassistiese veldtog onder die vaandel van antirassisme te voer. Wag dan op ’n wonderwerk as almal vir almal kwaad is en bykans niemand meer ’n toekoms vir een van die munisipaliteite in die provinsie sien nie. Wanneer duisende mense op talle dorpe in opstand kom en almal se veiligheid, eiendom en vrede bedreig, weier om te bedank en klou vas aan jou pos. Los die krisis vir die reeds oorlaaide nasionale ANC-leierskap om op te los, en hoop die probleme gaan vanself weg as hulle net lank genoeg ignoreer word.

Oplossing

Die hoofprobleem in Noordwes en verskeie ander provinsies, is dat die ANC daar nie in staat is om hulle te regeer nie. Hul struggle-ideologie bots lynreg met die regeringsideologie wat nodig is om suksesvol te regeer. Benewens ’n gebrek aan ’n breed genoeg kundigheidsbasis onder politici, is die kaderbeleid die oorsaak dat politieke aanstellings in munisipaliteite gemaak word in plaas van kundige professionele mense wat nodig is. Munisipale owerhede het ’n werkskeppingsprojek vir politieke lojaliste geword, wat deur politieke netwerke in plaas van harde werk in stand gehou word. Die tyd sal leer of die krisis daartoe sal lei dat die ANC sy kaderbeleid verander in ’n beleid met die klem op kundigheid.

Indien dit nie gebeur nie, sal die bestaande uitvloei van kundige belastingbetalers vanaf die plattelandse dorpies na groter streeksentrums en stede voortduur. Saam met die voortgesette invloei van arm belastingontvangers, sal die volhoubaarheid, bestendigheid en leefbaarheid van talle plattelandse dorpe as dienssentrums van die omgewing tot ’n einde kom. Die toekoms sal dan in streeksentra en die stede wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Christel Karoo ·

Sjoe Flip – ‘n uitmuntende stukkie skryfwerk! Baie dankie – dit lees soos ‘n Grimm (sic) sprokie. Respek.

Henry ·

Ek sekondeer Christel Karoo!

Dankie aan Flip Buys wat gewoonlik daarin slaag om sonder woordgimnastiek die wortel vannie kwaad uit te grawe.

Gemaskerde Sopbeen ·

Verkorte Weergawe: Die ANC is ‘n “struggle organisation”. Hulle het die hele land in ‘n “struggle” verander. Jy “struggle” om gebore te word, “struggle” om in ‘n skool te kom, “struggle” om te slaag, “struggle” om matriek te kry, “struggle” om in ‘n universiteit in te kom, “struggle” om ‘n ID boek te kry, “struggle” om ‘n paspoort te kry, “struggle” om werk te kry, “struggle” om ‘n eiendom te koop, “struggle” om ‘n korrekte munisipale rekening te kry, “struggle” om ‘n goeie hospitaal te kry, “struggle” om openbare vervoer te gebruik, “struggle” om petrol te kan bekostig, “struggle” om tot sterwe te kom, “struggle” om begrawe te word…………..alles is altyd en een groot “struggle”. Waarom? Want die ANC is ‘n “struggle organization”, en wat kan hulle goed doen? Struggle…..Hoe lank voor SA begin om ‘n politieke party in te stem wat “Achievement/Productivity/Honesty en Financial Management” verstaan?

Casper Labuschagne ·

@Eish, jy is doodreg, die ANC veg steeds dieselfde revolusionêre stryd en beskou dit steeds as ‘n geveg teen die vyand. Die vyand is natuurlik die wit minderheid, wat alhoewel dit al vir die laaste 24 jaar onder ‘n ANC regering leef, steeds beskou word as die vyand van die ANC en gevolglik die vyand van die swart meerderheid. Hierdie ideologiese verkalking in die visie van die ANC voorspel niks goeds vir ons toekoms nie en inderdaad wil die ANC nou juis die skroewe vasdraai op die wit minderheid, grootliks om die klaaglike mislukkings van ‘n ANC regering te verbloem.

Sarel ·

Ons praat nie eens van wat die gereelde opstande se uitwerking op ander lande se ekonomie nie, bv Botswana, Namibie en ander nie. Wat nog te se die NW .
Dan vernietig ons ook nog die bietjie wat wel diens lewer.

Casper Labuschagne ·

‘n Geveg binne die ANC, teen die ANC?

Ek stem heelhartig saam. Maar by alles wat gesê is, is daar nog ‘n paar dimensies.

Aanhitsing speel ‘n groot rol. Inwoners kom nie vanself in opstand nie, en selfs in Coligny het dit ‘n week geneem na die dood van ‘n kind totdat daar ‘n opstand plaasgevind het, maar eers nadat persone wat nie vanuit die gemeenskap was nie letterlik van deur tot deur gegaan het en inwoners “geaktiveer” het. En op daardie stadium was dit weliswaar nie die EFF nie, hulle het eers na die aanvanklike uitbarsting in Coligny betrokke geraak.

Die veldtog om provinsies te misluk moet nie uit die oog verloor word nie. Die ANC se doel is om provinsies of af te skaf of na enkeles te verminder en deur sentrale regeringstelsels te vervang. Hier het die sentrale regering nou ingetree en kritieke funksies van ‘n provinsie oorgeneem. Dit is moontlik ‘n voorloper vir wat vorentoe gaan kom.

Spanning tussen tradisionele leiers en die jong revolusionêre geslag speel ‘n groot rol. Saam met Limpopo, Mpumalanga en Kwa-Zulu Natal word die Noordwes se politiek in ‘n beduidende mate deur tradisionele leiers bedryf. Zuma kon die deksel op die pot hou, buiten in Vuwani, maar nou is die drukkoker se veiligheidsklep verwyder. Dit is tekenend dat die ergste geweld voorkom juis in die dorpe waar tradisionele leiers die minste inslae by die jeug het – Lichtenburg, Mahikeng (universiteitstudente speel ‘n vername rol) en tot ‘n mate in Klerksdorp.

marous ·

Alle beplan . Stroop die land en pak die skuld op die wittes sodat die massas hul kan vernietig.

Eish ·

KFC het n standaard spyskaart vir al hul winkels in die land met dieselfde prysstruktuur. Reseptering en voorbereiding is ook standaard regdeur. Die spyskaart met die beprysing sien jy sodra jy die winkel betree. Wat in die kombuis aangaan, alhoewel voorgeskryf deur prosedure, is n onbekende vir die buitestaander en onheilighede kan verbloem word hier.
Hierdie franchise, ANC, word op dieselfde beginsels bedryf en die voorbereiding vir radikale ekonomiese transformasie, grondgryp ensovoorts, speel af in die kombers waar ons geen toegang het nie, maar die onheilighede smaak met die proe.

Ou Plattelandse Vlakvark ·

Dankie Flip.
Vernietig die plattelandse bestel en dan is die stede in beleg, dit wil sê in skaakmat situasie.
Bestudeer gerus die taktieke toegepas in die kommunistiese revolusies.
En raai wie is die poppemeester(s)?

Oom Kosie ·

Dankie Flip vir hierdie geloofbare verslag. Hierdie pasient NW is baie siek. Nou moet wit mense (AfriForum) met oplossings kom wat die anti wit propaganda tèewerk. Supra het gelukkig die gramskap van pres Cyril Ramaphosa op hom gehaal wat tot binnegevegte in ANC lei. Ons moet n strooibiljet en plakaat veldtog voer teen ANC asb.

Casper Labuschagne ·

Flip is korrek as hy sê dat kundigheid na die stede verhuis. In ons dorp, die derde grootste in die Vrystaat is daar al vir ‘n dekade nie meer ‘n ginekoloog buiten die Kubaan in die staatshospitaal nie. Die gemiddelde ouderdom van wit dokters is nou net onder die sewentig en die wit tandartse asook veeartse se ouderdom is almal nader aan sestig as aan vyftig.

Maar dit is nie so eenvoudig nie. Dit is peperduur om in die stad te bly, jou lewenskwaliteit boet in want jy is nie meer deel van ‘n hegte gemeenskap nie. In die stad is jy ook ‘n produk van die kettingwinkels, in die plattelandse dorp kan jy boerewors of biltong by die plaaslike slagter bestel net soos jy dit wil hê. Op die platteland is daar ‘n lewenskwaliteit wat die stedeling eenvoudig nie kan koop nie. Om stad toe te gaan is vir die plattelander net so ontwrigtend as om na Kanada toe te emigreer.

Nee, eerder moet ons in plattelandse gebiede in woonbuurte saamtrek waar ons self sover moontlik dienste kan verskaf en die juk van onbevoegde munisipaliteite afgooi. Op ‘n klein skaal is dit moontlik vir ‘n meenthuiskompleks om self dienste te lewer, eie watervoorsiening te behartig, reserwekrag met batterye en sonpanele en selfs die eie pad te herstel en ditto vir veiligheid. Wat as ‘n straatblok se huise saam so ‘n gemeenskaplike struktuur stig en selfs die pad voor die huise koop by die munisipaliteit en eie dienste lewer?

Johannes van Rooyen ·

Presies soos die ANC se voorskrifte vir die hele SA
Nou kruip ANC agter die grond storie weg terwyl hulle weet hulle is die mees onbevoegde en korrupste regering ter wêreld

Gemaskerde Sopbeen ·

Ag asseblief Lewies….”Julle” het GEWEET!!! Dis oor en oor en oor en oor en oor herhaal voor 1990……die “konserwatiewes” en die “regses” en watter ander naam julle ook aan ons kon toedig….het oor en oor gesê dat “mags-oorgawe” selfmoord is, maar die skapies wou eerder agter hulle herder aan dwaal…..ter wille van internasionale rugby speel!!! Die “mense” wat hierdie besluite moes neem…..was net blootgestel aan die “elite” van die meerderheid. Die res van “ons” het die werklikheid verstaan van “tussen die gepeupel lewe”. Wat nou aan die gebeur is, is nie vir een van ons ‘n verrassing nie…..want ons leef tussen die “massas”…ons ken hulle kultuur en praat hulle taal, en “hoor” wat hulle sê!! As jy maar kon weet…..sou jy jouself besmeer het!!

rollie ·

Blameer steeds die Ja-stemmers wat probeer het om ons rassistiese apartheidsargitekte se gemors te probeer regmaak. Was dit nie vir die ja-stemmers nie, was daar nou geen SA meer vir wittes nie (al vir lankal nie meer nie, almal uitgemoor al in die 1990’s).

B-man ·

Water onderdeur die brug. Ons moenie in dieselfde slaggat trap as RSA se meerderheid nie. Kyk eerder vorentoe en probeer Christus-voorbeeld nastreef, al is dit hoe moeilik. Dis tyd om te wys hoe ‘n mens behoort te ‘struggle’.

John ·

Dit is ook nie net die Gupta’s wat die vuur gestook het nie. Daar is reeds planne op die tafel vir ‘n massiewe staatsprojek onder die leiding van… uitanders? Zuma het dit ‘n tyd gelede aangekondig. Hierdie plase sal volgens die kommunistiese styl gehanteer word met kleinboere wat hul oeste lewer en dienooreenkomstig vergoed word. Die sg mieliedriehoek val in hierdie gebied. Die groot werkersdagdroom is ‘n fantoom en vergesig wat nooit sal realiseer nie. CR speel lustig saam wie moontlik mag aanvoer dat dinge-eenvoudig-net buite-beheer-geraak-het. Ace is steeds nie aangevat nie en hy is die groot Kubaanse kundige; nou aan die voorpunt van die ANC-bestuurspan. Dit is kommerwekkend.

johannes ·

As jy jou geskiedenis ken sal jy kan sien, ons het nie te doen met swak bestuur of onbeholpenheid of korrupsie nie. Daar is mense op die agtergond besig wat presies weet wat hulle doen — hulle stig Bloedige Rewolusie. Doelbewus. Dis net harde werk om die piepel te kry om saam te werk — niemand is lus vir moeilikheid nie — so word daar druk op hulle toegepas dmv intimidasie, honger en dors (agv werkloosheid/lee krane) — en selfs omkoop-persentjies (t-hempies met slagspreuke op, en kospakkies). Ons volg die ou ou pad van rewolusies wereld-oor, want as jy nie jou geskiedenis ken nie, sal die geskiedenis homself herhaal.

Jerry ·

Jy het die anargiste in die ANC se suksesresep vir mislukking goed raak gevat. Dit is opmerklik dat daar nou onderskeid getref word tussen die anargiste in die ANC wat die struggle ideologie toepas teenoor die gematigdes in die ANC wie se intensies duidellik blyk om regerings ideologie en beleid suksesvol toe te pas tot voordeel van alle Suid Afrikaners wie die intensies nie ondermyn nie. Waarom is dit so belangrik om onderskeid te tref tussen die anargiste en die gematigdes? Die gematigdes soek na vreedsame oplossings en sal Afri-Forum se kundige werkbare planne volgens die plan implementeer. Daar teenoor sal die anargiste n kundige en werkbare plan vat en presies volgens die plan die teenoorgestelde implementeer. Dus is dit belangrik om kundige en werkbare planne nie openbaar te maak nie, maar dit in geheimhouding tussen Afri-Forum en die gematigdes eers te implementeer en wanneer dit onomkeerbaar is, bekend te maak. Die EFF en die anargiste in die ANC teer op ander se kundige planne deur die planne se inhoud te verdraai na presies die teenoorgestelde en dit dan as waarheid voor te hou en die teenoorgestelde is dan kwansuis hulle plan. Die teenoorgestelde van jou kundige plan word dus die anargiste se plan en so kan hulle jou tot in lengte van dae ondermyn. Jou denkrigting tov jou mededeelsaamheid van jou kundigheid mbt idees en werkbare planne moet met groter omsigtigheid gepaard gaan aangesien die anargiste dit uitbuit tot hulle voordeel wat dan tot jou nadeel kan strek.

Hendrik ·

Is die Noordwes die begin van die algehele verval in een van die senarios wat geskets deur die Rasse Instituut? Frans Cronje vertel dat ons moet hierdie senarios moet kan oorleef. Hoe doen ons dit want die politiek invloed van die minderhede is eenvoudig te klein. Moet minderhede uit hierdie klein dorpies verskuif word sodat hulle die meerderheid kan ‘n ander gebied of dorp vorm? Daar moet dan weer ‘n nuwe ekonomie skep word. Dit is weer die Rasse Instituut se ander senarios. Moet boere groepeer en in ‘n sentrale plek bly vir beskerming en dan uitgaan na hul lande in die dag. Daar moet nou daadwerklil praktieses volhoubare planne opgestel word.

Zuma provinsies brand ·

Dis interessant dat dit spesifiek die Zuma lojale provinsies is wat nou ineenstort.

Buitelandse hulp ·

AfriForum kan gerus ook uitreik na individue in die westerse wereld om bydraes te maak soos ons hier in SA doen. Dit kan Afriforum se hulpbronne vertiendubbel want daar is miljoene mense oorsee wat met graagte sal wil help, en wat baie geld het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.