Nou wat nou met die DA?

Deur dr. Corné Mulder

Dr. Corné Mulder

’n Week kan ’n baie lang tyd in die politiek wees, is ’n bekende gesegde.

Die dramatiese gebeure op die Suid-Afrikaanse politieke toneel die afgelope ruk bevestig hierdie stelling. Wie sou ʼn paar weke gelede gedink het dat die DA as amptelike opposisie sou staan waar hy nou staan?

Die DA het die afgelope twintig jaar van krag tot krag gegaan en was die onbetwiste amptelike opposisie. Skielik, ná die bedanking van Herman Mashaba en Mmusi Maimane, word daar met totaal ander oë na die DA gekyk.

Helen Zille en die nuwe DA-leierskap kan herhaaldelik sê en maak of alles in die party onder beheer is, maar die kiesers, die media en die wêreld daarbuite weet dat dit nie die geval is nie. Almal weet dat die DA se huidige inploffing geaktiveer is deur Zille se hertoetrede tot die DA se leierskap. Sy het haar toetrede regverdig as ’n nodige stap om die DA te stabiliseer. Daar word algemeen aanvaar dat dit presies die teenoorgestelde veroorsaak het.

Die DA sal nooit weer dieselfde wees nie. Die politieke landskap het dramaties verander en dit raak alle politieke partye.

Hoe kom ons hier?

Die DA se groei die afgelope 20 jaar was skouspelagtig. In 1994 behaal die DA slegs 1,73% van die stemme en verkry sewe setels. By elke verkiesing daarna het die DA se setels en stemtotaal gegroei. In vier verkiesings tussen 1999 tot 2014 lyk die syfers soos volg:

1999 – 38 setels en groei met 31 setels – 1 527 337 stemme en 7,83%

2004 – 50 setels en groei met 12 setels – 1 931 201 stemme en 12,37%

2009 – 67 setels en groei met 17 setels – 2 945 829 stemme en 16,66%

2014 – 89 setels en groei met 22 setels – 4 091 584 stemme na 22,23%

En toe kom die 2019-verkiesing.

In die afgelope verkiesing van 8 Mei behaal die DA 85 setels en staan in totaal vier setels af. Hy kry 3 621 188 stemme en staan 470 396 stemme af en sy steun daal na 20,77%

Van daardie stemme is ongeveer 250 000 na die VF Plus en waarskynlik 220 000 na Cyril Ramaphosa “ter wille van Suid-Afrika”, soos sommige kiesers dit gesien het. Hierdie uitslag het die DA in ’n krisis gedompel, verwyte is geslinger en die interne gewroeg het dadelik begin.

Was dit werklik so ’n krisis en waarom het hulle so oorgereageer?

Waarskynlik het hulle oorgereageer omdat die DA bederf geraak het met deurlopende groei en sukses met elke verkiesing. Skielik is daar effens teruggesak. Die huidige leiers ken nie werklik sulke terugslae nie.

As die DA-leierskap koud, beredeneerd en logies na die 2019 uitslag gekyk het, sou hulle sien dat die DA sedert 1999 met 82 setels gegroei het en nou slegs vier setels afgestaan het. Hierdie setels was hoofsaaklik aan die VF Plus afgestaan wat hulle sekerlik moes verwag het met hul nuwe aanslag na die swart kieserskorps. Daarenteen het die ANC as regerende party sedert 2004 ’n allemintige 49 setels verloor wat die uitslag in perspektief sou plaas.

Die werklike rede vir die oorreaksie is waarskynlik dat die klein wit Engelse prog-groep in die DA lankal uiters ongemaklik is met die meer sosiaal demokratiese rigting wat Maimane en sy nieamptelike “swart koukus” begin inslaan het om ’n alternatiewe tuiste vir voormalige ANC-ondersteuners te skep. Hier was ’n geleentheid om met ’n “swak” verkiesingsuitslag “hulle” party terug te neem voor hulle alle beheer verloor. Skielik was daar allerlei medialekkasies wat gelei het tot verskeie Sondagkoerantvoorblaaie oor Maimane se foute.

Intern het die DA besluit op ’n tweeledige proses om die swak uitslag te evalueer;

  1. Mmusi Maimane en die leierskap sou al nege provinsies besoek om met strukture op grondvlak te vergader. Die doel was om vas te stel wat die rede vir die verlies aan steun was.
  2. Daarmee saam is besluit om ’n buitepaneel te betrek om advies te gee. Die paneel het onder leiding van Tony Leon en Ryan Coetzee gestaan. Die samestelling van die paneel was ’n eerste groot oorwinning vir die prog-groep. Maimane was polities naïef om dit net so te aanvaar.

Albei hierdie prosesse sou saam beoordeel word om die oorsake en pad vorentoe te bepaal. In die praktyk, egter, is die volle klem op die verslag van die buitepaneel geplaas. Die paneel moes iemand verantwoordelik hou en Mmusi Maimane is as leier daarvoor uitgesonder. Sy bedanking is as oplossing voorgestel.

Die werklike redes vir die DA se terugsak is baie meer omvattend as net die leier. Jacob Zuma was ’n aansienlike makliker opponent om teen te veg en swart stemme te werf as die gesofistikeerde Cyril Ramaphosa. Dit moet in ag geneem word. Tweedens was 2018 vir die DA se tradisionele wit en bruin kiesers ’n jaar van groot politieke ontnugtering.

Die DA se tradisionele wit en bruin kiesers het vas geglo dat die skikking van 1994, onder meer, vyf kritieke dele bevat het wat vir hulle as minderheidsgemeenskappe van groot belang was.

Daardie dele was:

  • Die swart meerderheid sou die politieke mag kry;
  • Die wit minderheid sou hul eiendom behou;
  • Kultuur- en godsdiensgroepe sou veilig wees solank hulle nie ander se regte aantas nie;
  • ‘n Handves van menseregte sou sorg dat almal gelyk behandel word; en
  • al die bogenoemde sou deur die oppergesag van die reg en die Grondwet beskerm word.

2018 en 2019 was egter jare van groot ontnugtering vir hierdie groepe soos hierdie sekerhede verval het. Die parlement het onteiening sonder vergoeding in beginsel aanvaar. Dit was toe nie moontlik om eiendomsreg te behou sonder ‘n politieke magsbasis nie.

In hierdie jare blyk dit ook dat jou godsdiens en kultuur makliker aanstoot gee as wat jy gedink het en dat die oppergesag van die reg nie jou persoonlike beskermengel is nie. Universiteite móét verengels, ongeag hoeveel Engelse universiteite daar ook al is. As daar een kampus met Afrikaanse lesings is, sluit dit party mense – na bewering – uit en dit mag tog nie.

Die gevolg is dat kiesers uit minderheidsgemeenskappe na die VF Plus stroom wat openlik opstaan en sê ons slaan terug. Slaan terug teen magsvergrype van die meerderheid, teen korrupsie, teen geweld en teen die ontkenning van ons kultuur- en ander regte as Suid-Afrikaanse burgers. Daarmee kon die DA van voor die 2019 verkiesing nie kompeteer nie, netso min as wat ’n liberale individuele regte gedrewe DA dit na Mmusi Maimane se vertrek sal kan doen. Minderheidskiesers sal in nóg groter getalle na die VF Plus bly stroom. Onthou ook dat daar nie net minderheidskiesers in die wit- en bruin gemeenskap van Suid-Afrika is nie, maar ook in die swart gemeenskap.

Kiesers is ontnugter met die DA. Ek het geen kieser buite die DA se interne strukture hoor juig omdat Mmusi Maimane uit die DA verdryf is nie, inteendeel. Zille se terugkeer is met groot ongemak begroet deur die deursnee kieser wat wel die groter opposisie- en koalisieprentjie kan insien.

Indien die ANC by die stembus verslaan moet word, is ’n groter wordende DA onder geloofwaardige swart leierskap wat ’n appèl op swart kiesers en hul sosiaal demokratiese behoeftes maak, onontbeerlik. Dit het Mmusi Maimane terdeë besef en was met sy visie van “One South Africa for All” binne daardie konteks besig. Minderheidskiesers wat daaroor die DA verlaat het en meer gemaklik binne die VF Plus voel, was geen verlies vir die groter demokratiese projek nie, want natuurlik sou die VF Plus in ’n toekomstige koalisie met ander politieke partye saamwerk om Suid-Afrika te bestendig en so weg te draai van die ANC se vernietigende koers.

Ná die 2019-verkiesing weet kiesers nou dat jy met vrymoedigheid kan stem vir die politieke party van jou keuse wat met jou ideale en waardes saamstem en wat in ’n koalisie met ander sal saamwerk.

Die drang om in hierdie krisistye die ANC uit regeermag te verdryf, het vir baie kiesers uit verskillende gemeenskappe die allesoorheersende fokuspunt geword. Dit het gemaak dat talle nie-ANC-kiesers vir die DA as grootste opposisie party, wat hulle geoordeel het die beste kans sou hê om die ANC by die stembus te verslaan, gestem het. Daardie mite is nou finaal verby.

Die huidige inploffing en prik van die DA-ballon is nie in belang van die groter demokratiese projek in Suid-Afrika nie. Suid-Afrika is tans in ’n enorme krisis op feitlik alle terreine. Daar is ’n groter wordende konsensus dat die ANC as regering vervang moet word of ten minste tot ’n koalisie met regdenkende opposisie groeperings, wat die EFF uitsluit, gedwing moet word. Hiervoor is en was die DA ’n onontbeerlike komponent.

Suid-Afrika het al ’n Liberale Party gehad. Dit is in 1953 gestig onder die leierskap van Margaret Ballinger. In die verkiesing van 1958 het die party slegs 2 934 stemme en 0,25% steun verkry en kort daarna verdwyn. Vir die stryd wat voorlê kan dit nooit die antwoord wees nie.

  • Dr Corné Mulder is die hoofsweep van die VF Plus.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
KrokodilBotha

Viva VF+. Dis belasting geld wat die DA en ANC aan die gang hou, nie stemme nie.

JohanR

In Kaapstad sal ek nog steeds vir die DA stem? Die rede! Ek is te vrek banG vir die ANC, EFF en GOOD, en lewe nog nie te sleg onder die DA!! As ek in Gauteng gebly het sou ek VFPlus gestem het.

bokke

Ek sou eerder bekommerd wees oor my eie party se lates as om kommentaar oor ander te lewer. Wanneer kom die VF+ hulle verkiesingsbelofte na om met onderhandelinge oor selfbeskikking te begin? Ons wag in spanning….

Feite

Duidelik onderskat die skrywer die kat wat weer terug gekom het na die DA in hulle uur van nood, of die skrywer oorskat sy politieke voorkeur party se kanse. Hoe dit ookal sy, of die DA goed vaar of sleg vaar moet nie meer tersprake wees nie, wat wel tersprake moet wees is vir opposisiepartye om met gemeenskaplike sake plaaslik en internasionaal saam te staan en op te staan teen die rewolusionere transformasie denke en beleid van die ANC/eff. Tans ploeter elke opposisie party voort op eie stoom, terwyl die ANC/eff woer, woer speel met die opposisiepartye en doodeenvoudig onstuitbaar… Lees meer »

Rina Brits

Regtig en van wanneer af tel dit wat hy sê. Ek sal nooit weer vir die VF+ stem nie. Waar is hulle met die vieslike seks voorligting in ons skole, nog nie eers ń woord nie!? Julle sal nooit weer my stem kry nie!!! Koebaai!