Nou wie weet wanneer ons weer kan gaan jag?

Deur Hennie Van Der Walt

Hennie van der Walt.

Gesien in die lig van die reaksie wat ons publikasie, WILD & JAG / GAME & HUNT, gekry het ná die publikasie van twee onlangse nuusbriewe, is dit duidelik dat die leunstoelkenner kan lees, maar nie verstaan nie, en dan maak hul boonop oningeligte stellings op sosiale media.

Baie van hierdie sogenaamde kenners verwar die feite met vorige gepubliseerde skrywes op sosialemediagroepe dat minister Barbara Creecy, minister van omgewing, bosbou en visserye, gesê het dat die oes van wild vir die spesifieke doel om wildsvleis te voorsien, toegelaat word. Die skrywes verwys ook dat daar voorsien word dat dit ’n baie lang tyd sal duur voordat “ontspannings”-reise vanaf stedelike gebiede na landelike gebiede (waar daar gejag word) toegelaat sal word.

Misleidende opskrifte in ander media wat lees “Verbied wildsvleis eet in SA” het ook aanleiding gegee dat mense op hol gegaan het en aangeneem het daar gaan ’n verbod op jag geplaas word.

Saterdag se aankondiging “Draft Framework for Sectors”, noem wel onder afdeling A: “Landbou, jag, bosbou en visserye” dat jag en verwante dienste op vlak 4 toegelaat word. Maar dit moet saam gelees word dat op vlak 4, onder afdeling I: “Akkommodasie en voedselvoorsieningsaktiwiteite” daar nog steeds geen akkommodasie voorsien mag word nie, behalwe vir kwarantyn en noodsaaklike dienste, sowel as onder afdeling R: “Persoonlike beweging” word interprovinsiale reis verbied, behalwe vir buitengewone omstandighede soos begrafnisse en vir noodsaaklike dienste. Onder “Persoonlike beweging” word dit ook gestel jy mag reis vir werk en om noodsaaklike goedere te koop.

Dus blyk dit dat jagters binne hul provinsies sal mag jag, maar hulle mag nie oorslaap nie, en uiteraard sal hulle terwyl hulle reis en jag, moet voldoen aan sosiale distansiëring van twee meter en om gesigsmaskers te dra. Die vraag is, word die produk van jag, dus wildsvleis, gesien as voedsel (noodsaaklike goedere)? Dieselfde sal geld vir vlakke 3 tot 1, myns insiens, op watter vlak mens interprovinsiaal mag reis en oorslaap.

Wat van belang is, is dat dié aankondiging ’n konsepdokument is, en dat wild- en jagorganisasies in Suid-Afrika as bedryfsliggame, toegelaat word om kommentaar te lewer op die finale bewoording wat ingesluit moet word in die regulasies voordat dit gepubliseer word. Van die lid- en verenigingsorganisasies, soos HAWASA (Hunting and Wildlife Associations of South Africa), WRSA (Wildlife Ranching South Africa), PHASA (Professional Hunter’s Association of South Africa), CHASA (Confederation of Hunting Associations of South Africa), NHSA (National Hunting & Shooting Association), SA JAGTERS, SAPA (South Africa Predator Association), en nog meer,  het reeds na die president se aankondiging verlede Donderdag in oorleg met mekaar begin korrespondeer, en sal dus hul kommentaar binne die toegelate tyd lewer.

Die wild- en jagbedryf, sowel as die jagter se belang, sal deur die verenigings wat gaan kommentaar lewer, oorgedra word aan die regering. Al wat die jagpubliek nou kan doen, is om te wag vir die publikasie van die finale regulasies en om, as jy nie ’n lid is van ’n jag- of sportskietvereniging nie, aan te sluit sodat jy die amptelike inligting deur die regte kanaal kan kry, en nie hoef te luister na die virtuele vegters nie.

WILD & JAG saam met Bakkies the Butcher ondersteun die welsynsorganisasie Solidariteit Helpende Hand se #HelpJag-voedingskema wat help om daagliks minstens 8 000 behoeftige kinders van wildsvleis te voorsien sodat hulle hierdie belangrike bron van proteïene in ’n gesonde ete kan ontvang. Ons is dus vanjaar bekommerd dat die publiek bitter min wild gaan hê om te skenk aan HelpJag. Ons het intussen saam met  Bakkies Botha en Helpende Hand die #BraaiVirAnder-inisiatief van stapel gestuur om daardeur geld in te samel vir honger kinders.

  • Hennie van der Walt is die hoofredakteur en uitgewer van die gewilde jagtydskrif WILD & JAG / GAME & HUNT. Die tydskrif is ’n onafhanklike maandelikse publikasie vir die breë wildbedryf in Suid-Afrika, wat die sinergie tussen wildproduksie, jag en bewaring bevorder.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SomeOne ·

dit hang af hoe vertel jy jouself wat die volgende beteken:
die gedeelte kom nou uit die staatskoerant
Level Four: Permitted Retail and Service Operations; and Personal Movement
1. All agriculture, hunting, forestry, fishing and related services, including the export of agricultural products permitted

Martie Smartie ·

Nog een vd regering se balaglikhede, wil 40 kinders in een klas inprop, maar twee of drie volwasse jagters mag nie jag nie. Geen maar GEEN logika nie. Dis nou publiek bekend hoe die sg regering werk, spring rond soos katte op n warm plaat met geen vorm van logiese denke nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.