NSFAS: tragies, onafwendbaar, onvolhoubaar

Deur Paul Maritz

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die nuus dat iemand sy lewe verloor het tydens ’n optog in Johannesburg het soos ’n skokgolf deur die media gebars. Die optog is deur Wits-studente georganiseer om hul misnoeë met die huidige stand van veral die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) uit te spreek. Die gebeurtenis is tragies. ’n Sinnelose verlies van ’n jong lewe wat in werklikheid verhoed kon gewees het.

Die tragedie is met reg die hoofnuus, maar die dieperliggende oorsake van die huidige vlaag studente-optogte moet dringend ondersoek word. Die NSFAS het meer as ’n halfmiljoen studente op hul boeke, dus is die toekoms van ons jeug in ’n groot hoeveelheid gevalle direk afhanklik van die befondsing wat NSFAS voorsien. Dit is ’n té belangrike instelling om wanbestuur oor die hoof te sien, (so sou ’n mens dink), maar net soos met etlike ander kerninstellings in Suid-Afrika, is hierdie organisasie tans oneffektief in sy hooffokusarea, en die gevolge daarvan kan slegs in donker skakerings van risiko en gevaar geverf word.

Solidariteit Jeug waarsku reeds ’n geruime tyd dat hier ’n krisis aan die kom is, en het reeds al van ons lede suksesvol verteenwoordig met betrekking tot die uitbetaling van fondse wat aan hulle belowe is.

Die redes vir NSFAS se mislukkings blyk veelvuldig te wees, tog staan ’n paar probleme prominent uit. Eerstens was daar die toegewings na afloop van die #FeesMustFall-optogte, wat tot gevolg gehad het dat baie ouers wat dalk gedeeltelik sou kon betaal, heeltemal opgehou betaal het – die logiese gevolg van ’n oudpresident wat op nasionale televisie belowe het dat gratis hoër onderwys moontlik is.

Die tweede probleem is die staking van terugbetalings. Ná bogenoemde uitlating van oudpres. Jacob Zuma wat gemeld het dat gratis hoër onderwys moontlik is, het die NSFAS oornag van ’n leningskema na ’n beursskema verander. Waar daar voorheen van studente verwag is om geld terug te betaal om toekomstige jeugdiges te befonds, word weinig van daardie beleid vandag geïmplementeer. Dié wat voor of in 2017 fondse ontvang het se terugbetalings is minimaal, wat daartoe gelei het dat nuwe fondse jaarliks bekom moet word – alles uit die poel van belastingbetalersgeld.

Derdens sukkel die NSFAS al vir jare met wanadministrasie, met die tussentydse bestuurder Randall Carolissen wat ook onlangs, midde ’n wolk van vrae oor sy bestuurstyl, bedank het. Daar kan verder oor die disfunksionaliteit van NSFAS uitgebrei word, maar dit is belangriker om na aanleiding van die lesse wat daaruit geleer is, beter besluite in die toekoms te maak.

Die drie belangrike lesse:

’n Staatsinstelling maak jou staatsafhanklik

Daar is geen manier om dit te ignoreer nie: as ’n staatsinstelling verantwoordelik is vir ’n produk of diens, gaan die persone wat afhanklik is van daardie produk of diens, ’n ooreenkoms met die staat aan. Dieselfde staat wat die SAL en Eskom in die grond in bestuur het, staan aan die stuur van ander staatsinstellings, en al blink die buitekant, heers daar ’n donker ideologie aan die binnekant daarvan. Vir meeste NSFAS-studente was daar geen ander keuse nie, maar slimmer besluite kan nou geneem word om jongmense se toekoms los te maak van ’n onbevoegde staat.

Daar is nie iets soos gratis onderwys nie

In 2015 en 2016 was die oorweldigende narratief dat hoër onderwys gratis moet wees. Dit is beskou as die progressiewe ding om te doen na aanleiding van die 2013-verslag deur dr. Blade Nzimande wat verklaar het dat sodanige gratis onderwys moontlik sou wees. ’n Kleiner, minder populêre stem, het gevra: Wie gaan betaal? Die punt is tog dat die studiegeld iewers vandaan moet kom, en as die ouers nie betaal nie, sal die belastingbetaler aan die einde van elke maand moet betaal. Dit klink utopies dat ouers nie ’n rekening kry nie, maar iemand sal ’n rekening moet kry – al moet dit Suid-Afrika wees wat oor ’n tydperk van 20 jaar ’n skuldrekening van die Wêreldbank kry. Om meer belasting van die rykstes te neem, gaan ook nie help nie – dit sal gewoon tot emigrasie lei, soos dit reeds aan die gebeur is.

Gemeenskappe moet verantwoordelikheid neem

Gemeenskappe in die vorm van beroepsgemeenskappe, kultuurgemeenskappe, of geografiese gemeenskappe, moet begin om meer verantwoordelikheid vir hul kinders te neem, soos wat baie reeds doen. Solidariteit se beroepsgildes is toonaangewend in hierdie opsig, omdat die regsgilde en die finansiële gilde alreeds een beurs per jaar vir ’n student gee. Hierdie model sal egter op groot skaal uitgerol moet word indien die groot gat wat die NSFAS dalk binnekort gaan los, opgevul gaan word.

Kultuurgemeenskappe is histories die stiefkind van Suid-Afrika post-1994, met die Grondwet wat hoofsaaklik op individue en individuele regte fokus, maar die model wat Helpende Hand gebou het, waar gemeenskappe maandeliks bydra tot fondse om hul jongmense op te lei, is dupliseerbaar en staatsbestand. Ten opsigte van geografiese gemeenskappe is daar niks wat dorpies en voorstede keer om in samewerking met plaaslike skole beursfondse vir toppresteerders uit hul dorp op te stel en te implementeer nie.

Die protesoptogte oor befondsing is nog lank nie verby nie, dit sal eers staak as die massa hul sin kry. Waar hulle egter in 2015 en 2016 probeer het om nuwe wetgewing deur te druk, maak hulle nou slegs aanspraak op die status quo van die afgelope jare, wat hul argument en beweegrede natuurlik versterk. Die enigste uitweg vir Tito Mboweni, minister van finansies, is om geld êrens uit te krap om verder te mors op die skema van sy voorgangers en die wrang vrugte van sosialisme te pluk.

Op die lang termyn is die geld om hierdie probleem mee op te los, eenvoudig nie daar nie, en in plaas daarvan om te sit en wag vir die inploffing, is dit tyd vir gemeenskappe om hande te vat en met hul eie oplossings vorendag kom te kom en daarop voort te bou. ’n Gemeenskap wat verantwoordelikheid neem vir die toekoms van sy eie kinders, stimuleer groei wat outomaties ’n volhoubare toekoms vir die hele gemeenskap skep.

  •  Paul Maritz is die bestuurder van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Die regering het vir ‘n aantal jare baie jong stemme gekoop met die NSFAS skema waar studente jaarliks ongeveer R30 000-00 + ontvang tov uitgawes. Hulle het egter nie tred gehou met die bevolkings aanwas nie. Verder word toelatingsvereistes so verlaag dat selfs my foxterriër kan kwalifiseer vir toelating.

annie ·

Voor ’94 moes matriekulante uiters goed in die eindeksamen vaar om dalk ‘n beurs te bekom en dan was daar oa sekere vereistes, soos jare terugwerk by die beursskenker. Die res van die studente moes maar planmaak soos na-uurse studie. Deesdae ‘demand’ studente en kry hul sin voordat… Waar gaan al die alwetendes werk, is die eintlike probleem. Dis waar groot woede gaan oorkook en dit kom vir seker. Gaan ‘n na-studie-salaris betaal word ‘omdat julle my toegelaat het om daai kursus te loop’?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.