Nuuslees het só deur die jare verander

Johannes Froneman

Die veranderende styl van nuuslees op die radio vertel ʼn eie storie. Dit is soos ʼn barometer van hoe die aanbiedingstyl op radio oor die afgelope dekades verander het.

In die 1960’s, 1970’s en selfs 1980’s was nuuslees die domein van senior omroepers — mense soos Daniel Kirstein, Blomerus Nieuwoudt, Riaan Cruywagen en Nic Swanepoel. Hulle het nuus met goeie stemme en gepaste gesag gelees. Dit geld veral vir Kirstein, wat lank as die goudstandaard van nuuslees beskou is.

Kirstein het met soveel nadruk gesê: “Hiér volg die NUUS… gelees deur Daniel Kirstein.” Die tempo was net reg, die uitspraak perfek. Die aandnuus was ʼn gebeurtenis, waarvoor huismense stil geraak het.

Gerrit Rautenbach, seun van wyle Fanus Rautenbach, vertel op Litnet hoe hy gaan kyk het hoe sy pa uitsaai:

“Voor uitsaaityd word daar eers brekfis gedoen in die kafeteria. Vir die eerste keer in my lewe het iemand anders as my ma of liewe Maggie, die huishoudster, my bedien. En dié keer met kalfsoog-eiers, spek en vir die eerste keer in my lewe gebraaide tamaties. Mensig, hierdie is die lewe van die groot sterre. En vir nou is ek deel daarvan. Terwyl ons kou aan koningsbrekfis loop Dan Kirstein verby. Nic Swanepoel is op pad vir die oggendnuus. Sterre sê ek jou.”

Maar rondom 1990 het die SAUK sy monopolie op uitsaai verloor en daarmee saam ook die monopolie op die verskaffing van nuus oor die lug. ʼn Meer ontspanne aanbiedingstyl het posgevat en nuus is nou al op die uur gelees. Nou het die kontinuïteitsomroeper sommer die nuus gelees.

ʼn Volgende stap was dat die nuusskrywers die nuus begin lees het. Dit was eers effe vreemd op die oor, maar eintlik gaan dit heel goed. Op Pretoria FM lees omroepers soos Susan Botha en Esté Gross baie professioneel die nuus, sonder drama.

Die nuus is ook gedemokratiseer deurdat die internet, allerlei nuusplatforms (soos Maroela Media) en sosiale media deel van ons lewens geword het en nuus nou in ʼn stroom na ons slimfone of rekenaars kom. Voeg daarby die beskikbaarheid van 24-uur-nuuskanale op televisie.

Die aanbod van nuus het dus aansienlik vermeerder. Niemand wag meer vir die nuus om eenuur die middag of sewe-uur saans nie. Geen nuusbulletin is meer só belangrik nie en nuuslesers is nie meer die gesagvolle boodskapdraers soos van ouds nie.

Ek meen ons verwag steeds dat nuuslesers die nuus vlot en taamlik formeel sal lees. Dit gaan immers oor ernstige sake.

Juis daarom het omroepers uit ʼn vorige era hul nuuslesende kollegas met allerlei uitdagings getreiter. (Omroepers was soms soos verveelde studente.) Hulle het dan by geleentheid die mikrofoon op en af gestel terwyl die nuus (natuurlik lewendig) gelees word. Of die velletjies papier waarop nuus destyds getik is, is aan die brand gesteek. Die nuusleser moes gewoon kophou — nie kwaad word of uitbars van die lag nie.

Gustaf Pienaar vertel hoe nuuslesers allerlei merkies op die teks gemaak het en dat dit nogal lastig was as jy ʼn vorige bulletin gekry het waarop die vorige nuusleser gekrap het. Nuuslesers het verskillend oor pouses en klem geoordeel…

Dan is daar wyle Paul Eilers se storie oor die woord wat hy net nie uitgespreek kon kry nie — waarskynlik omdat hy ʼn drankie te veel ingehad het. Hy hou toe aan om oor die moeilike woord te struikel.

Die volgende dag was hy op die tapyt. Nee, hou hy verbete vol. Hy was net moeg. Want die raad wat hy van ʼn kollega gekry het, was: “Ontken, ontken, ontken…” Want om met die nuus droog te maak, kon maklik jou werk kos.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Johannes Froneman is ‘n emeritus-professor, kurator van Mediamense.com en vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Nic Swanepoel se lees van môre se weer het geklink soos ‘n oorlog verklaring.

OW ·

Interessante skrywe oor die meester omroepers van die verlede.Daar was baie goeie omroepers gewees,maar ek dink Daniel Kirsten was die beste nuusleser wat die SAUK nog in Afrikaans gehad het.Ek het ‘n paar jaar gelede die voorreg gehad om saam met Johannes van Der Walt in die ateljee te wees toe hy werksaam by Radio Pretoria was, en hy was ook baie professioneel en aangename persoon gewees.’n Geval wat ek nooit sal vergeet nie was toe Fanus Rautenbach in die sewentigs,oor flink uit die vere, een oggend toe die Transvaalse skole heropen het na ‘n vakansie,aan die lag gegaan het oor die skole weer heropen het.In die stilligheid wens ek,ek kon hom toe net sê wat ek gedink het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.