Nuwe Afrikaners en die jaar ‘nul’

Tim du Plessis vra onlangs in een van sy rubrieke of daar vandag van iets soos ’n ‘nuwe’ Afrikaner gepraat kan word. Omdat Du Plessis nie die vraag beantwoord nie, laat hy sy lesers met ’n frons op die voorkop: Wie en wat is die nuwe Afrikaner waarvan hy skryf?

Nou, juis hieroor enkele gedagtes.

’n Goeie wegspringplek is om eers iets oor die woord ‘nuut’ te sê. Wat word daarmee bedoel? Ten minste twee uiteenlopende betekenisse kan daaraan geheg word. Ekself verkies die tweede betekenis.

In die eerste plek kan iets ‘nuut’ wees omdat dit voorheen nog nie bestaan het nie. Hiervolgens is die nuwe Afrikaner ’n wese waarvan daar nie spore in die verlede raakgeloop kan word nie.

Die vooronderstelling waarop hierdie idee van ‘nuut’ rus, is dat ons by ’n skoon lei kan begin. Alles wat in die verlede kenmerkend van die Afrikaner was, kan met ander woorde van die tafel afgevee word. Nuwe Afrikaners is diegene wat hulself as’t ware van nuut af kan ontwerp.

Histories gesproke kan na talle voorbeelde van hierdie soort denke verwys word. Byvoorbeeld die Franse rewolusionêre tydens die 18de eeu. Franse rewolusionêre het destyds uitgegaan van die standpunt dat hulle rewolusie (en in die besonder die dag waarop die bestorming van die Bastille plaasgevind het) letterlik as ’n soort jaar ‘Nul’ gesien moet word. Alles wat hierdie jaar Nul voorafgegaan het, moet van die tafel afgevee word. Tegelyk is die Frankryk van die toekoms dié Frankryk wat vanaf die jaar Nul radikaal nuut ontwerp word.

Die interessante is dat daar onder ons mense ook diegene is wat hierdie idee van ‘nuut’ aanhang. Volgens hulle funksioneer die groot oorgang van 1994 vir alle praktiese doeleindes ook as ’n jaar Nul. Alles wat dié jaar voorafgegaan het, moet aan die vergetelheid toevertrou word. Tegelyk moet alles wat daarop volg, gesien word as ’n geleentheid om ’n radikaal nuwe werklikheid tot stand te bring. Letterlik asof Suid-Afrika van toe af ’n soort skoon lei is waarop ons voortaan ons nuwe ontwerpe kon neerpen.

Oudpres. FW de Klerk is ’n ter saaklike voorbeeld. As ’n mens sy onlangse uitsprake oor die grondwetlike bedeling lees, is dit opvallend met watter hoë verwagtinge hy die oorgang van 1994 hanteer. Hy skryf dat 1994 die geleentheid was waardeur ’n ‘nuwe’ nasie aan die suidpunt van Afrika gebore sal word. Grondliggend hieraan is dat 1994 ook ons jaar Nul was, ons leë lei waarop voortaan iets radikaal nuuts ontwerp kan word. As Oudpres. de Klerk vandag ontnugter is in aspekte van die bestaande orde, is dit omdat dit nie aan sy buitengewoon optimistiese verwagting oor dié nuwe nasie voldoen nie.

Nou, hier is nie die tyd om hierdie idee van ‘nuut’ volledig te kritiseer nie. Ek wil slegs op een implikasie daarvan wys, naamlik die feit dat dit (die jaar Nul-sindroom) die Afrikaners aan ’n historiese vakuum – ’n soort geestelike lugleeg – oorgee. Met verwoestende gevolge. Want sonder ’n (gesaghebbende) verlede waarby aangehaak kan word, word gemeenskappe aan die grille en giere van die jongste modes, aan die subtiele voorskrifte van die mark, aan die willekeur van gewetenlose politici, aan die vlak- en twakpraat van die media en die clichés van die politiek-korrektes uitgelewer.

En hoe gaan Afrikaners nie vandag hieronder gebuk nie!

Maar dit bring ons by die tweede opvatting van ‘nuut’. Hier lê die klem nie op die beeld van die leë lei nie, maar eerder op die beeld van die boek wat met elke lees daarvan nuwe insigte moontlik maak. Hiervolgens tree die nuwe telkens daar na vore wanneer ons die ou boek (van die verlede) telkens weer oopslaan, om nuwe dinge daarin te ontdek.

In geleerde taal geformuleer, as die eerste idee van ‘nuut’ as ‘rewolusionêr’ beskryf kan word, is die tweede idee die ‘hermeneutiese’ opvatting daarvan. Die hermeneutiek handel immers oor die kuns van lees en in die besonder oor die vermoë om die nuwe in en deur die ou te (her)ontdek.

As ’n mens hierdie idee van ‘nuut’ op die Afrikaners van toepassing maak, kan ons sê dat die nuwe Afrikaner daardie Afrikaner is wat in staat is om sy of haar verlede telkens nuut te ontdek. En hoeveel dinge is daar nie in ons verlede wat telkens weer nuut ontdek kan word nie!

Dink maar aan die vroeë Afrikaners se sin vir plek en tyd; hulle lojaliteit teenoor die plaaslike en die kleine; hulle sin vir selfverantwoordelikheid; hulle klem op die belangrikheid van gemeenskapsinstellings; die noodsaak van kontinuïteit te midde van die diskontinuïteite; hulle wantroue in sentralisme en hulle gelyktydige respek vir gesag; ensovoorts.

Mag die nuwe Afrikaner in die hermeneutiese sin van die woord opstaan! Of is hulle reeds daarmee besig? Orals om my sien ek immers Afrikaners wat aan bogenoemde omskrywing voldoen!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Goosen

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Danie Goosen is voorsitter van die FAK en professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae