Baie verklarings word gegee vir die skielike onstabiliteit in die metro’s. In Port Elizabeth (Nelson Mandelabaai), Johannesburg en Pretoria (Tshwane) is daar óf nuwe leiers op plaaslike vlak óf ’n aanslag op die huidige leiers.
As James Selfe van die DA nie bedank het nie, en Helen Zille nie verkies is nie, en Herman Mashaba as Johannesburg se burgemeester nie bedank het nie, sou Mmusi Maimane en Athol Trollip dalk ook nie bedank het nie, word geredeneer.
Dit mag waar wees. Tog moet al die onstabiliteit ná die verkiesing hierdie jaar eintlik teruggeneem word waar die DA 470 000 stemme verloor het, nie hul doelwit van 30% steun bereik het nie en die VF plus gegroei het.
Ons is waarskynlik besig om ’n totale herordening van veral opposisiepolitiek te sien voor die volgende plaaslike verkiesings in 2021. Deel hiervan is die verkiesing van John Steenhuisen as tussentydse leier van die DA.
Wat word van so ’n leier verwag? Is die DA se voortbestaan belangrik in die Suid-Afrikaanse politiek? Watter rol moet die DA en hul nuwe leier in die toekomstige opposisiepolitiek speel? Hierdie is van die vrae wat tans gevra word.
Tony Leon is kort ná die 1994-verkiesing as leier van die destydse DP gekies. In sy toesprake het hy die party se liberale waardes uitgespel. As sy belangrikste doelwit het hy gestel om die meerderheid kiesers, om só ’n verkiesingsoorwinning oor die ANC te kry.
The World Values Survey, waarby prof. Hennie Kotze van Stellenbosch betrokke is, bevind dat die meerderheid mense in Suid-Afrika, swart en wit, sterk godsdienstig-konserwatiewe standpunte oor morele sake het. Dit sluit sake soos doodstraf, aborsie, skooldissipline, ensovoorts in. Dit is alles behalwe liberale waardes.
As die DA die ANC wou wen deur die meerderheid swart Suid-Afrikaners se stemme te kry, sou die party volgens hierdie meningsopnames sy liberale waardes moes aanpas. Hiertoe was die DA nie bereid nie.
Waarom het die DA dan so goed in die verkiesings gevaar?
Met die 1999- en 2004-verkiesings groei die DA van 1,7% tot amper 10%. Met sy “Slaan terug”-veldtog, slaag Leon daarin om die meeste Afrikaners by die DA te kry. By baie van hierdie Afrikaner-stemmers het dit nie oor die DA se liberale waardes gegaan nie, maar om die ANC by die stembus te kan verslaan soos belowe is. Dit was vreemd om te sien hoe bekende KP-stadsraadslede skielik entoesiastiese DA-stadsraadslede geword het. Die DA het geglo dat hierdie kiesers bekeer is tot die DA se liberale waardes.
Zille volg Leon in 2007 as leier op. Sy teiken veral die Kaapse bruin gemeenskappe. Die bruin gemeenskap se vlerksleep by die ANC in vorige verkiesings het duidelik nie die voordele wat aan hulle belowe is, gebring nie. Hulle was veral geskok toe hulle besef dat die ANC se regstellendeaksiebeleid hulle benadeel en nie bevoordeel nie. Die hofsaak oor bruin kwotas by korrektiewe dienste het dit bevestig.
Zille dans op die “Koekie Loekie”-liedjie en wen baie bruin stemme. Sy behou ook die Afrikanersteun met die versekering dat die DA steeds op koers is om die ANC te verslaan; dat die DA die korrupte Zuma gaan stop om president te word en dat jy nie jou stem op ’n klein partytjie soos die VF Plus moet mors nie. Hiermee neem sy die DA vanaf 10% na 22%. Die DA-steun bestaan nou hoofsaaklik uit Afrikaner-, bruin- en Indiër-stemme.
Maimane volg Zille in 2015 as partyleier op. Leon het die Afrikaners na die tradisionele Engelse DA gebring en die party só ’n 10%-party gemaak. Zille het die bruin- en Indiër-minderhede gebring en daardeur die party ’n 20%-party gemaak. Maimane gaan nou die swart stemme bring en die DA ’n 30%-party maak, is die belofte.
Met Zuma as president het Maimane aanvanklik sukses om stemme uit die swart middelklas te trek. Zuma verwys smalend na die swart middelklas as die “clever blacks”. Volgens Zuma het die ANC-beleid hierdie “clever blacks” ryk en middelklas gemaak. Nou is hulle ondankbaar en het dislojaal teenoor die ANC geword deur die DA te steun.
Die feit dat baie swart middelklaskiesers wel DA gestem het, het meer te doen gehad met die beeld van Zuma as wat hulle entoesiasties DA-beleidsrigtings en waardes gesteun het. Hulle wou nie geassosieer word met ’n tradisionele Zuma met meer as 20 kinders en ’n Nkandla nie.
Met Ramaphosa as leier besef Maimane dat die DA nou die ANC beleidsgewys sal moet oorbie. Onder druk van die nie-amptelike “swart koukus” in die DA, begin Maimane verduidelik hoe die DA swart bemagtiging en regstelling beter kan toepas as die ANC. Daarmee beweeg hy geleidelik weg van die DA se liberale waardes na ’n meer sosiaal demokratiese party.
Dit laat die alarms afgaan by die ou liberale of prog-kliek in die DA wat dit as hul party beskou, maar ook by veral die Afrikaanse kiesers.
Die resultaat is dat die DA met die 2019-verkiesing 470 000 stemme verloor. Van hierdie stemme het na die ANC gegaan, maar die meerderheid na die VF Plus. Dit lei tot kritiek en heftige reaksie van sommiges binne die DA teen Maimane.
Debat oor watter tipe party die DA moet wees
Die debat oor watter tipe party die DA moet wees, kom duidelik na vore in hierdie gevegte. Kort Suid-Afrika ’n liberale party op die ou Prog-patroon of ’n meer sosiaal demokratiese party wat ontnugterde ANC-kiesers kan opvang?
Die DA-besture stel ’n paneel aan om hierdie probleme te ondersoek. Leon en Ryan Coetzee is as paneellede aangewys. Hulle is albei uit die ou DA liberale faksie. Met niemand van Maimane se faksie op die paneel nie, was dit ’n eerste groot oorwinning vir die liberale groep. Maimane was polities naïef om die paneelsamestelling net so te aanvaar.
Die paneel beveel aan dat Maimane as leier vervang moet word. Skielik verskyn Zille, ook uit hierdie liberale denkgroep, weer op die toneel as voorsitter van die federale raad.
Onder hierdie druk maak Maimane die fout om as leier en uit die DA te bedank. ’n Uitdager sou Maimane moeilik by die kongres volgende jaar kon wen. Veral waar die kongres meer verteenwoordigend van die DA se ondersteuners gaan wees en ’n sittende leier moeilik uitgestem word. As hy by die kongres ’n nuwe mandaat kon kry om die party in ’n meer sosiaal demokratiese rigting te lei, was daar druk op die liberale faksie om weg te breek. Nou is die vraag of die liberale faksie daarin gaan slaag om hul nuwe houvas op die party by die kongres te behou.
Die 2019-verkiesingsuitslag het die DA-belofte, dat die party die ANC alleen by die stembus sal kan wen, permanent vernietig. Kiesers wat daaroor DA gestem het, stem nou entoesiasties VF Plus, ACDP, Good en vir partye wat nader aan hul eie waardes is. Onder opposisiekiesers is daar wel ’n dringendheid dat die ANC-regering vervang moet word. Hierdie kiesers aanvaar dat slegs ’n koalisie van regdenkende opposisiepartye die ANC uit die kussings kan lig. So ’n koalisie moet die DA insluit en die EFF uitsluit. Dit mag selfs wees dat die Ramaphosa-faksie van die ANC deel van so ’n koalisie word as die ANC sou skeur.
Daar is ruimte vir ’n liberale DA in so ’n koalisie. Maar daar is ’n groter behoefte aan ’n party met ’n geloofwaardige swart leier wat ontnugterde ANC-kiesers se belange kan verwoord en hulle opvang. So ’n party sal minder liberaal en meer sosiaal demokraties moet wees. ’n Liberale DA kan dit nie doen nie. Kan ’n nuwe sosiaal demokratiese party betyds gevestig word om dit te doen, soos Maimane suggereer? Dalk, maar dit is baie moeilik om vandag ’n suksesvolle nuwe party te vestig.
Die 2019-verkiesing se mislukte nuwe partye wys dit. Dan sal die huidige DA daardie rol moet vervul. Die DA se nuwe leier, maar veral hul beleidskongres volgende jaar, sal die antwoord moet verskaf of die DA se liberale waardes en hierdie sosiaal demokratiese behoeftes versoen kan word.
Dink die party wat oor 5 jaar aan bewind gaan wees , se naam weet ons nog nie . Tot dan gaan dit n uitdagende pad wees. Die een wat die land verkrag het, moet nou ook genees, maak net nie sin nie.
Kan nie sien dat enige van die bestaande partye hierdie land te kan lei nie .
Da gaan nog erger stemme verloor. Geen simpatie nie.
Da is die tweede anc
Ontnugterde ANC kiesers sal by Mmusi Maimane se nuwe party aansluit omdat hy die ANC se beleid beter sal toepas en omdat hulle nie korrup is nie.
Daar is nou lekker momentum agter die VF …wees net konsekwent eerlik en nie rassig en die momentum kan bly groei
Oppas. Baie het vir die eerste keer VFPlus gestem weens hul verkiesingsbeloftes van selfbeskikking. Sal moet sien hoeveel van die setels staan julle af in die volgende verkiesing, maar wat, dan is die koeël lankal deur die kerk en al wat dan op die koekie-loekie” liedjie dans is die ANC om die gekookte padda pot!
Jawellnofine, slegte nuus vir jou mnr, hulle gaan baie meer stemme wen en dit is ‘ n waarborg maar omdat julle nie vir hulle gestem het in die vorige verkiesing nie kan hulle ook net soveel vermag, om ‘n vergelyking te maak; jy kan net sover ry met ‘ n kwart tenk petrol maar wanneer jy die tenk drie kwart vul met dieselfde petron in dieselfde voertuik word die afstand aansienlik langer, ek hoop jy verstaan wat ek probeer verduidelik.
Bottelnek, jou uitlating is nie korrek nie, jy kan nie n party oordeel alvorens hulle nie ‘n regverdige kans gegun was om die land te regeer nie, die enigste oplossing is die VF+ maar die mense wil dit nie aanvaar nie juis omdat hulle polities korrek en reguit is en nie agterbakse slinkse metodes gebruik om stemme te wen nie, maak hulle die sterkste opposisie in 2021 dan praat ons weer slaag hulle nie dan kan jy sê, maar ek het julle mos gesê.
Die VF+ het sy plafon bereik. Wie kan nog vir hulle stem? As elke Afrikaner vir hulle stem, wat nooit sal gebeur nie, sou hul nogsteeds baie klein bly. Ek hou van die VF+, maar is ook net realisties.
As hulle sterker word kry die redelijke stem wat hulle, die IVP en ACDP verteenwoordig ‘n groter sê om hierdie sirkus wat die Nuwe Suid-Afrika geword het teë te staan. Hulle beskik oor baie bekwame mense – meer as die DA wat ook net op die apartheidsnaar tokkel.
Dis tyd dat Politieke wetenskaplikes ons help om die Switserse Federale stelsel behoorlik ondersoek en die resep aanpas vir ‘n Federale Demokratiese stelsel wat vir SA sal werk
Goeie artikel dr. Mulder. Dankie.
Wat van ‘n DA Liberale Party, ‘n DA Sosialisties-Demokratiese Party, ‘n VF+ vir Afrikaners, die Afrikaner Tuisland Party, die Good Party vir die bruinmense, die Indian Party vir die Indiërs, die Chinese Party, die Khoikhoi-San Party, die EFF Party vir die sosialisties-kommunistiese denkers, die ANC met sy National Democratic Society denke (wat dit ookal beteken), die ACDP en die swetterjoel andere? Die Kommunistiese Party het in elk geval nie die ruggraat van ‘n muis om alleen onafhanklik aan algemene verkiesings deel te neem nie.
Dan kan partye besluit met welke ander party hulle wil saamwerk (of saam korrup wees of saam die land op te bou).