Nuwe fase van Swart Ekonomiese Bemagtiging

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie AfriSake. (Foto: Solidariteit Beweging)

ʼn Nuwe en verskerpte fase van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) staar Suid-Afrika in die gesig indien die voorgestelde Mededingingswysigingswetsontwerp aanvaar word. Ingevolge die Wysigingswetsontwerp sal Suid-Afrika se mededingingsowerhede as’t ware in instrumente vir SEB omskep word.

Die Wysigingswetsontwerp vergroot die omvang van mededingingsregulering aansienlik, wat op sigself jammer is. Maar selfs belangriker, dit vergroot mededingingsowerhede se vermoë om pryse, samesmeltings en ander markgedrag te reguleer op grond van kriteria soos dié wat tans toegepas word onder die Wet op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging.

In beginsel val alle markgedrag reeds onder die jurisdiksie van die Mededingingswet. Tans gebruik mededingingsowerhede kwansuis kliniese maatstawwe van markkrag, billikheid en openbare belang om pryse, samesmeltings en ander markgedrag te reguleer. Nou stel die Wysigingswetsontwerp voor dat mededingingsowerhede ook verplig moet wees om arbitrêre kriteria vir rasseverteenwoordiging toe te pas.

Deur die rassetransformasie van eienaarskap by die kern van die mededingingsbeleid te voeg, word die Mededingingswet dus een van die kragtigste stukke SEB-wetgewing in die land. In beginsel, en sonder dat ‘n grondwetwysiging nodig is, kan mededingingsowerhede dan enige ekonomiese rolspeler intimideer of opdrag gee om aan daardie owerheid se arbitrêre visie vir rassetransformasie te voldoen. Groot maatskappye sal in die grootste gevaar wees, maar geen markgedrag sal buite die wet se bestek wees nie.

Twee voorbeelde van die wetsontwerp se mees problematiese wysigings rakende rassetransformasie kan uitgewys word:

Eerstens kan dit sogenaamde onmededingende gedrag verbied, straf of toelaat, afhangende van ras. Onder artikel 10 van die gewysigde wet kan die Mededingingskommissie byvoorbeeld vrystelling verleen vir ooreenkomste en praktyke wat andersins verbied sou word, afhangende van die betrokke maatskappye se verspreiding van eienaarskap volgens ras.

Tweedens word ras bepalend by die goedkeuring of verwerping van samesmeltings. Byvoorbeeld, onder artikel 12 van die gewysigde wet, word samesmeltings beoordeel op grond van hoe dit ʼn groter rasgebaseerde verspreiding van eienaarskap bevorder, of nie.

Nou, daar sou beweer kon word dat bogenoemde klousules nie in so ʼn ernstige lig beskou moet word nie. Die wet moet immers welwillend en sonder ekonomiese skade geïmplementeer word. Sulke optimisme is egter nie geregverdig nie.

Eerstens word dit in die agtergrondnota van die Wysigingswetsontwerp duidelik gemaak dat dit die bedoeling is om rasgebaseerde eienaarskapsveranderinge nougeset deur te voer.

Tweedens word die ideale maatstaf, aan die hand waarvan mededingingsowerhede moet poog om rassetransformasie te bevorder, geheel en al aan die betrokke owerhede se goeddunke oorgelaat. Dit hou ʼn beduidende risiko in.

Derdens moet die nuwe bepalings verstaan word as dat dit ANC-beleid verteenwoordig en wil volbring. Oproepe tot radikale ekonomiese transformasie word dan juis voortdurend op die hoogste vlakke van openbare ampsbekleding in Suid-Afrika gemaak. Selfs die nuwe staatshoof, president Cyril Ramaphosa, verwys by name na mededingingsbeleid wanneer hy in sy toesprake oor ekonomiese transformasie praat.

En vierdens sal die bepalings die aandag van politici en aspirant-begunstigdes van bemagtigingstransaksies trek, wat sal lei tot aansienlike druk op mededingingsowerhede om die bepalings te interpreteer met ʼn vooroordeel ten opsigte van eiendomsoordrag.

Die mededingingswysigingswet is tans nog net onder oorweging, maar regverdig veel meer debat as wat dit tans ontlok.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Theresa ·

Skuus, maar nou voel ek uiters onnosel. As ras in soveel van hierdie stipulasies so ‘n groot rol speel, is dit rassisties?

Santie ·

Nee, Theresa, dit is nie rassisties nie. Onthou, rasisme is net wanneer dit van blankes oorgedra word na ander rasse. Indien enige ander ras tot nadeel van die blankes optree, is dit nie rassisme nie – het nog geen idee wat dit dan genoem word nie, maar dit is beslis nie rassisme nie.

Ray ·

Hi Theresa, rassisties is ‘n baie ligte woord om hier te gebruik. Dit kom eintlik op rassehaat neer. Rassisme het die neiging om te doen wat in die land gebeur het. Daar was ‘n verskuiwing tussen rasse en hulle is uitmekaar gehou. Rasse haat is wanneer een die ander so haat dat hulle, hulle wil vernietig. So stadig maar seker is dit die praktyk wat gevolg word. Daar is ‘n paar probleme daarmee, maar haat is ongelukkig so ‘n sterk emosie, dat dit logiese denke kan oorheers, en eerder as om saam ‘n probleem te probeer oplos, eerder na die uitwissing van die ander party gekyk sal word, en dus al die verskillende meganismes om dit in plek te sit. Die probleem met ‘n forsering om eienaarskap te oorhandig, is dat die huidige eienaar glad nie die geleentheid gebied word om eers te poog om werksgeleenthede te skep nie, want selfs om mense in diens te neem tel nie as bemagtiging nie, jy moet eienaarskap oorhandig, en as ek eerlik mag wees hier, daar is min mense wat die regte kwalifikasies het om besighede te bedryf, so jy kan nie net enigiemand insit nie, maar tog word dit verwag. Om ‘n besigheid te bedryf vat ongelooflik baie dissipline en deursettingsvermoe, veral as die ekonomie swak is. As ek daai persoon kan kry, sal ek hom laat oorvat met graagte want ek sal graag bitjie wil gaan golf speel.

Eish ·

Ongetwyfeld lui die doodsklok vir Kaukasiese entrepeneurs wat die hoop gehad het om n besigheid te vestig ten einde vir hul kinders n toekoms te verseker. Dit was vir welgesteldes nog altyd die pad rondom BEE.
Ek het gewonder hoe gaan die inspeksies op maatskappye gedoen word betreffende optrede teen gebrekkige transformasie. Nou het die antwoord uitgekristaliseer.
Ek weet van etlike boere wat oor die jare meulens in bedryf gestel het uitsluitlik ten einde verder in die waardeketting betrokke te raak en n toekoms vir hul kinders te verseker. Die besighede het goed gegroei oor die jare en is deur arbeidskonsultante bedien insoverre die BBEE wetgewing betref. Daar is voortdurend jaloers gewaak dat eienaarskap gesetel bly in die familie.
Nou is die bordjies verhang.
Wetgewing bepaal dat maatskappye wat in gebreke bly om die wetlike teikens te behaal wat transformasie aan betref, met tot10% van hul jaarlikse omset beboet kan word. Dié mededingingskommissie gaan die voertuig wees waardeur hierdie aksie gedryf gaan word. Met dié uitgewysde magte wat so wyd is as die Heer se genade, gaan “wit monopoliekapitaal” die finale doodslag toegedien word.
Net soos die wetgewing dié entrepeneurs uitgewys gaan aanspreek, is lanboukoöperasies verseker ook in onstuimige vaarwater, deurdat heelwat van hul ook nywerhede gevestig het om dieselfde rede as die boere soos bespreek. Alhoewel meeste van hul darem reeds swart verteenwoordiging op direksie vlak het, lê daar groot uitdagings voor betreffende eienaarskap.
Hier kom groot dinges!

Jerry ·

Die mededingingswysigingswet vir SEB is maar net een van baie rassetransformasie teikens en let wel, rassetransformasie kan nie gekeer word nie, daarvan getuig staatsdepartemente en staatsentiteite wat reeds getransformeer het. Die wet gaan die wit eienaars van ryk maatskappye en topposte teiken. Oor so 5 jaar van nou af behoort meeste van die teikens gehaal te wees. Oor 8 jaar behoort jy nie n witman in n toppos te sien nie. Die groter prentjie het al die kleure van die reenboog waarvan wit nie deel daarvan gaan wees nie tensy jy n kommunis of sosialis is! Afri-Forum se kans om vir n volkstaat te beding raak by die dag minder. In die groter prentjie word die witman in armoede gedompel en bly hy in plakkerskampe. Afri-Forum se volkstaat en selfbedingingsdroom le aan skerwe en eweskielik het die Afrikaner niks om te verloor nie. Sal die Afrikaner dan saamstaan, nee, want hy gaan nie eers kan opstaan nie! Afri-Forum lede moet ernstig besin en begin vrae vra en druk op die forum uitoefen om waarborge vir selfbeskikking en n volkstaat te lewer. Na al die jare is daar nog geen noemenswaardige en geloofwaardige waarborge dat wysigingswette nie die selfbeskikking en volkstaat sal verbied nie.

Anti-propaganda ·

Met ander woorde mededinging is net gemik op swart mense en neem glad nie witmense in ag nie…..dit word nou baie duidelik …….ook dat CR defintief n kommunistiese baadjie aanhet…….hulle sal net voortgaan totdat daar niks meer oorbly vir die wit mense nie – wit Afrikaners moet ek benadruk want die vroee koloniaaliste se kinders sit llekker diep in die anc op……..DIE ANC MOET UITGESTEM WORD om werklike demokrasie in hierdie land te bewerkstellig.

bgj van der westhuizen ·

wel ek sien groot werk looshied kom en die maatskap wat dit kan bekostig gaan net sy hoof kantoor skuif na die buite land en dan raak hy buitelands se maatskapy en ek sien ook baie skuif net oor ons grense en ons wit mense moet leer om werk te doen en vir ons self te werk en skaal af

Dirk Breytenbach ·

Die padda is in die pot. En wat doen Afrikaners en Afrikaner organisasies soos Afriforum, VF+ en Solidariteit: hou toesprake en maak hofsake wat nie veel bereik nie. Flip Buys staan asb. nader ons kort ‘n plan vir die +-1.8m Afrikaners wat uitgerangeer word. Die ander 2.2m blankes is gereed vir assimilasie en oorgawe. Doen ons dit nie dan is dit die einde van die Afrikanervolk en sal ons in armoede verval ingesluit diegene met huidige pensioene en gevestigde besighede.

leon ·

Janee, CR gaan die anc se rassitiese beleid net meer effektief as die vorige onbevoegde spul toepas. Ons is in vir ‘n rowwe tyd wat dekades kan duur. Ons kan maar seker wees dat indien die anc of anc/eff aliansie aan bewind bly tot 2029 sal die land soos ons hom nou ken uitmekaar spat. Die staat sal min of meer misluk. In sulke desperate omstandighede sal min omgee wat op die wetboeke staan rakende SEB. Beplan daarvoor. Miskien is selfbeskikking na die 1994 fiasko nie te vergesog nie.

Casper Labuschagne ·

Dit gelees, en weereens gelees. Die SEB implikasie is onstellend, asook die voorwaarde verbonde aan ras in die tweede voorbeeld. Dit sou beteken dat twee banke bv nie sal kan saamsmelt indien hulle nie aan SEB doelwitte voldoen nie. Maar wat my regtig ontstig is die eerste voorbeeld. Twee (of meer) SEB organisasies sal dus mag aansoek doen vir vrystelling van regulasies wat op mededinging van toepassing is op grond van hul SEB status. Dit wil sê hulle mag dan dus onregverdiglik en teenstrydig met wetgewing optree juis vanwee hul SEB status. As ek dit reg lees sal sulke SEB maatskappye mag konkel, op spesiale aansoek en teenstrydig met die wet, maar hul mededingers (wat heelwaarskynlik nie SEB organisasies is nie) se hande word dan “ter wille van regverdige handel” deur die wet vasgebind.

Spreekwoordelik moet ek dus, as persoon wat volgens wet nooit vir SEB status in aanmerking kan kom nie, in die sakewêreld in die bokskryt inklim met een hand wat boonop nou agter my rug vasgebind word. En ek mag dalk nooit my onderneming aan ‘n groter onderneming verkoop, tensy die transaksie aan SEB teikens voldoen nie.

En so sink SA net verder en verder in die moeras van Afrika in.

Sam ·

Tensy daar spoedig ‘n ‘rooi pil’ oomblik vir CR_ANC aanbreek, lyk die toekoms vir die land maar beroerd. In die vorige eeu het uhuru van noord na suid oor Afrika gespoel, en almal het gedink dat, in reaksie daarop, sou ‘n golf van vrede en welvaart van suid na noord terugwas. Dit het toe nie so uitgewerk nie, want demokrasie vaar beter as dit in sy wese ook meritokraties is. Zim was die eerste suidelike faalstaat, juis as gevolg van bekrompe nepotistiese politiek wat sinvolle landsbestuur getroef het. Gaan die RSA die tweede faalstaat word? Gaan uiteindelik voorspoed of armoede van suid na noord propageer?

Casper Labuschagne ·

Mosambiek was die eerste faalstaat wat oornag in 1974 tot een van die armste lande omskep is. Honderdeduisende Portugese burgers het vanaf Angola en Mosambiek na SA gevlug, baie met net hul motors en net die karige besittings wat hulle kon saamneem. ‘n Dekade voor dit het duisende Belge vanaf Stanleyville en Leopoldville na die destydse Noord-Rhodesië gevlug, terwyl honderde ook in die Katanga provinsie brutaal om die lewe gebring is.

Jerry ·

Dirk, ek stem saam met jou, Flip moet na die tafel toe kom en hy moet sommer die waarborge vir selfbeskikking en n volkstaat wat hy en sy kollegas moes beding het vir die Afrikaner saambring. Dit was mos die mandaat wat gevra was en gegee was, al dan nie?

Hendrik ·

Dirk en Jerry die tafel is klaar gedek, al is dit ‘n klein tafeltjie. Julle moet net kom aansit. Solidariteit en Afriforum kan wel ondersteuning gee deur hulstrukture maar ons moet maar almal die hande uit die sakke haal en begin werk. Daar is reeds twee gebiede wat alreeds inwerking is en manne moet net opdaag. Nog meer gebiede kan gestig word geskoei op die bestaande modelle. Kom klop aan en begin ‘n iets in jou gebied as jy te ver is. Bang ouens moet asb nie aanmeld nie.

Dirk Breytenbach ·

Diegene wat moes onderhandel is reeds oud en van hulle is al oorlede, hulle het nie meer die krag daarvoor nie. Die nuwe generasie leiers soos Piet le Roux, Kallie Kriel, Flip Buys, Pieter Groenewald en Dirk Hermann is nou ons leiers. Hulle sal die wa deur die drif moet sleep of dis verby met die Afrikaner kultuur, taal en volk. By die universiteite mag daar ook nou nie meer in Afrikaans gesokkie word nie. As dit nie diskriminasie en rassisme is nie dan weet ek nie.

Jerry ·

Hendrik dit gaan nie oor die tafeltjie of die 2 gebiede nie. Dit gaan oor waar is die waarborge wat beding is met die regerende party en opposisie partye dat die inisiatiewe wat reeds gedoen is en nog geloods gaan word vir die Afrikaner behoue sal bly en nie deur wysigingswette nul en void verklaar of gekaap word. Dit is baie goed as almal hulle hande uit hulle sakke haal en werk, maar dit is eweneens baie sleg as jy dit waarvoor jy werk eensklaps verloor omrede jy nooit waarborge beding het om jou harde werk te beskerm en te verseker. Die feit dat jy jou kommentaar fokus op die tafeltjie en glad nie waarborge eers noem nie se vir my daar is geen waarborge beding nie en dit se vir my dat die Afrikaner in die steek gelaat is en in groot moeilikheid is!

Gerhard ·

Nie eers die waarborge wat die NP beding het beteken iets nie. Die werklike antwoord le in eie werk doen om te verseker dit word nooit afhanklik van ‘n waarborg deur iemand wat nie daardie waarborg sal nakom nie.

Jerry ·

So, Gerhard ek verstaan dan reg dat daar geen waarborge is of gaan wees vir die inisiatiewe nie, nie nou en ook nie in die toekoms nie! Daar gaan ook geen volkstaat wees nie! Hoe beplan julle om te keer dat dit gevat word of gestop word? Toemaar, jy hoef nie regtig te antwoord nie!

Gerhard ·

Selfs al kon jy die regering oortuig om te onderhandel sal enige waarborg niks beteken nie, net soos KODESA niks beteken nie. Daar is geen waarborg nie, behalwe dat as jy niks doen nie gaan die Kaders verseker alles by jou vat. Dit is gewaarborg.

Pieter ·

https://youtu.be/ZVMpRvrCYK8 Kyk gerus na hierdie onderhoud met die eff. Dit behels die onteienigs sonder vergoeding wetgewing wat verklaar is. Sit hierdie berug en daardie wetgewing bymekaar en daar Sal ons vind dat nie eers die Sogenaamde Afrikaner gebiede wat hier bespreek word,ook nou in die spervuur geplaas is. Luister mooi wat se Ndlozi ,van die eff,hoe hul dit beplan. So enige kaukasisiese persoon wat dink hy gaan dit wat kom ontglip,gaan baie ontnugter word word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.