(Nuwe) Fratse in die Vloot

Vloot

Foto: Navy.mil.za

Fratse in die Vloot is ʼn klugtige komedie met All Debbo en Frederik Burgers. Dit was – saam met ʼn hele paar ander deur dieselfde akteurs – die stapeldieet vir Afrikaanse rolprentgangers in die 1950’s.

Dis nou meer as 50 jaar later, maar die SA Vloot (en lugmag en regering) lewer steeds gereeld komedies op, met die verskil dat hulle meer ontstellend as snaaks is.

Suid-Afrika het duikbote nodig weens die gevaar van haaie. “Kan ons die risiko loop van mense wat dit in ʼn rivier of ʼn see vol haaie waag?” het ʼn vlootkommandeur onlangs op die Gewapendemagtedag gesê en toe verduidelik dat die duikbote noodsaaklike afskrikmiddels is.

(Terloops, ons het vier as jy die een wat in die sand vasgeduik en die een wie se elektronika opgeblaas is omdat hy aan die verkeerde kragprop gekoppel was, bytel.)

Daar was op dieselfde dag maar ʼn kleinerige verbyvlug, want die lugmag het sy eie probleme, waaronder ʼn gebrek aan vliegtuie. Volgens die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, is die hoofrede vir hierdie gebrek dat hulle gesteel is of in museums staan.

Leigh-Ann Mathys van die EFF was hewig ontsteld oor hierdie “eerstehandse bewyse van die rassistiese koloniale setlaars se plundertog op ons vliegtuie.”

“As mense ons toerusting gesteel het, moet ons dit terugvat, net soos ons grond!”

Die minister het ook die gebrek of tekort aan vliegtuie as die rede gegee waarom die lugmag se vlieëniers nou in Kuba en Rusland opgelei word. Sy sê hulle kan nie in Suid-Afrika genoeg vliegure versamel om vir hul vlerkies te kwalifiseer nie. Maar dit sê nog nie met watter begroting of vliegtuie hulle gaan vlieg nadat hulle gekwalifiseer het nie . . .

Miskien het iemand agterna in haar en Mathys se ore gefluister Suid-Afrika het sy Impalas aan Brasilië verkoop en meer as die helfte van sy 28 Gripens op pensioen geplaas. Daar is net ses vlieëniers vir die 12 wat nog in sirkulasie is. Daar is ook nie geld om die meerderheid van die lugmag se 30 helikopters te laat vlieg nie.

Drie jaar gelede het drie van die lugmag se BBP-vlieëniers hul internasionale status verloor omdat hulle nie genoeg kon vlieg nie. Dan was daar die 13 vlieëniers wat nie hul vliegassimilasiekursusse in die VSA kon bywoon nie omdat die die lugmag nie die geld vir hul vliegkaartjies en verblyf gehad het nie.

Arbeidswetgewing verhinder die afdanking van die ongewenstes.

Die weermag se probleme het by Thabo Mbeki begin toe hy die effektiewe kommandostelsel ontbind het. Daarmee het die republiek die vermoë om wet en orde te handhaaf verloor wat hy regoor die land gehad het.

Vandag het die weermag ook ʼn arbeidsprobleem: Hy het te min kundige mense en te veel wat nie geskik is vir hul taak nie. Sowat 55% van die begroting word aan personeel betaal, terwyl die meer aanvaarbare syfer 40% is.

Analiste van buite en voormalige bevelvoerders gaan verder: Die toepassing van arbeidspraktyke kom neer op ʼn onvermoë om soldate en polisielede te dissiplineer en verhinder dat die ongewenstes afgedank word. Aan die Kaapse suidkus word perlemoen helder oordag voor die oë van die “wetstoepassers” geplunder.

Die vervoervakbond Satawu het ook hard gekla oor die gebrek aan transformasie in die SA Lugdiens, waar net 39 van die 800 vlieëniers swart is.

“As die wittes so goed is, hoekom gaan kry hulle nie elders werk nie? Hulle is nie spesiaal nie, hulle is net drywers wat dieselfde voordele as onder apartheid wil hê.” Drywers?

Maar ongelukkig is dit nie waar die fratse ophou nie. ʼn Paar jaar gelede wou Nomsa Dube van die KwaZulu-Natalse regering ʼn ondersoek gelas na die rede waarom weerlig meestal swart mense tref.

Twee jaar gelede het Edna Molewa aangevoer die land het genoeg water vir honderd jaar – en dan is daar nog die see. Dinge lyk nou bietjie anders . . .

Oor dieselfde onderwerp het ʼn raadslid van Queenstown in die Oos-Kaap – een van die bankrot mislukte provinsies, maar waar daar nou weer ʼn swetterjoel naamveranderings op die agenda is – gesê ons het ʼn waterprobleem omdat die apartheidsregering die damme te groot gebou het.

“Kleiner damme word baie gouer vol,” het sy gesê.

Kom ons laat maar Nommer Een se siening van die grootte van die Afrika-kontinent en Julius Malema se rassistiese gebabbel eenkant. ʼn Mens moet al hierdie uitsprake seker maar eufemisties toeskryf aan die feit dat ons nog ʼn jong demokrasie het.

Miskien is humor maar die beste reddingsboei in ʼn land vol fratse.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Kobie ·

Wat kan jy verwag van ‘n kabinet waar die Hoofnar die president is!

Monica ·

Org Potgieter, ek het jou tong in die kies stuk so geniet! Dit is die waarheid. Niemand kon dit beter gestel het nie. Mens moet dit alles seker met ‘n tikkie humor probeer verwerk, maar soos jy gesê het …. dit is bitter ontstellend. Die ergste is dat hierdie mense wat die uitsprake (uit hulle grootheidswaan) maak, hulle self so ernstig opneem. Die gemiddelde mens se intelligensie word heeltemal onderskat en dit maak ‘n mens die kwaadste.

Paul ·

Dis nie wat die (baie swak) woordvoerder van die vloot gesê het oor die duikbote nie. Dis bloot moedswillig om die ou se inkoherente gepraat so uit te lê. Wat die man gesê het, is dat die duikbote afskrikmiddels is vir (ongespesifiseerde) booswigte. Hy het ‘n metafoor gebruik dat die duikbote soos haaie is wat swemmers afskrik. So as booswigte weet hier is duikbote in Suid-Afrika se gebiedswaters, sal hulle nie sommer kom moeilikheid maak hier nie.

Die argument van duikbote as afskrikmiddels is natuurlik steeds ‘n swak een, maar die ou het nie bedoel dat die duikbote daar is om swemmers teen haaie te beveilig nie. Sy Engels is maar net swak. Probeer jy bietjie in Zoeloe verduidelik hoekom duikbote nodig is en kyk hoe vaar jy…
Oor fratse in die vloot sal ek nog iets sê: SAS President Kruger. Dit sou snaaks gewees het as dit nie so tragies was nie.

Nomsa Dube het ook nie gesê dat daar ondersoek moet word hoekom weerlig meer swart mense tref nie. Sy het gevra vir ‘n ondersoek na hoe die tradisionele huise van swart mense meer veilig teen weerlig gemaak kan word. Die media het dit moedswillig gerapporteer as ‘n “ondersoek na die oorsake van weerlig”.

Monica ·

Paul, die verskil is dat as jy ‘n politikus is, moet jy kan Engels praat. Die salarisse wat hulle verdien en die taak waarvoor hulle aangestel word, verplig dit. Dit is snaaks hoe baie verskonings jy kan uitdink. Die media se skuld, die taal se skuld? Soos wat ek verstaan moet ‘n mens die werk kan doen waarvoor jy aangestel word. Daar is baie politici wat se huistaal nie Engels is nie, maar verplig word om Engels te praat oor die amp waarin hulle aangestel is.

Elna Kupke ·

Paul, probeer jy nou opkom vir die onbeholpenheid van die nasie en die rang wat hul beklee!! Laat my wonder??

Paul ·

Is daar so ‘n vereiste vir Engels, Monica? Wys my bietjie waar dit staan. Verder is die man nie ‘n politikus nie – hy is in die vloot.

Ek dink nie verskonings uit nie. Ek sê bloot dat dit duidelik is dat die man nie gesê het die duikbote hou haaie weg nie.

nic ·

Paul, ek het seker 6 keer oor en oor geluister na daardie vloot ‘Commander’ se verduideliking. EK moet sé hy praat swak. En in my mening is dit onverantwoordelik van die Vloot om daardie persoon toe te laat om op te tree as woordvoerder voor die kameras en die beeld dan die Wereld in te stuur. Jou diepere insig oor wat die persoon eintlik bedoel het verstom my.

Paul ·

Dat die man swak Engels praat, is ‘n ooglopende gegewe. Dat hulle hom stuur of toelaat om in Engels met die media te praat, is ooglopend ook swak oordeel deur die vloot.
Ek verstaan nie waarom dit verstommend is om te kan begryp wat die man eintlik bedoel nie. As jy vir ‘n oomblik jou vooroordeel opskort, sal jy dalk ook begryp.

Marelize ·

Dankie Paul. Ek verkies om die waarheid te hoor.
Glo nie Paul kom op vir die klomp nie. Die meeste van ons hou net daarvan om nie nonsens te versprei nie. Ons aanvaar te vinnig wat mense sê. Die waarheid is net altyd beter.
Daar kom genoeg nonsens uit hulle monde om oor te lag/huil. Nie nodig om dit te verdraai nie.
Nie een van ons sal daarvan hou as iemand ons woorde verdraai nie.

Danie ·

“People, on a point of order, what is da problem here ? We learn from da best, if only we had seven-hundred and sixty-nine, eight-hundred and…seven-hundred and…listen properly, seven-hundred and sixty-nine thousand, eight-hundred and twenty *clears throat* and seventy more…” – whatevah ! Just a joke ! Lag ‘n bietjie almal, om die snert ernstig op te neem gaan ons oud maak voor ons tyd :)

Monica ·

Paul, ingevolge SADC IR001 South African Navy no. 01105 (2)(d)(ii) is die amptelike taal om onder andere “co-ordinating instructions” Engels. So dit sal nogal moeilik wees om dié rang te bereik en nie instaat is om ordentlik instruksies in Engels te kan gee nie. Dink aan die choas wat kan ontstaan.

Trots Afrikaans ·

Monika, wat bedoel jy met chaos wat “kan” ontstaan. Dink jy nie daars is reeds chaos nie.

beesblaas ·

Hahaha. Dit maak sin. Bou n klomp klein damme en hulle is vinniger vol. Hoe dom was die ou regering? Hemel ek sukkel om te glo ons huidige leiers redeneer so onnosel!!! Dis geen wonder ons land, wat al die potensiaal in die wereld het, is in so n gemors.

vermeende ·

Mag dit tog vir ons gegee word om nooit op ons weermag, vloot en lugmag te moet vetrou om ons lewens te beskerm nie.

Leon Jordaan ·

Om te verwys na die SAS President Kruger is uiters onsmaakvol. n Volledige professionele onpartydige ondersoek is onmiddellik geloods na die tragedie en die ondersoek komitee se bevinding was deursigtig en professioneel deurgegee na die onderskeie instansies wat betrokke was, (vandag se sogenaamde ondersoeke is onprofessioneel en vir die publiek word gedurig gelieg).
As die SAV dan so sleg was as wat Paul weergee, hoekom het die Britse admiraliteit inderhaas die SAV se raad gevra omtrent duikboot-aanvalle. Dit gebeur na n oefening met die Britse vloot waar die Daphne klas duikboot tot onder andere n kern-aanvalsduikboot met al die bo water magte gesink het.
Ook vertel n bietjie van die aanvalsvaartuie wat n Amerikaanse vlootmag uit SA se gebiedswaters gejaag. Die lys kan al langer raak Paul, maar ek sal maar eers hier volstaan en hoop n haai my nie eersdaags sal verslind nie, want volgens my beskeie mening is die hele weermag pateties verby.

Paul ·

Ek stem saam dat dit nie in goeie smaak is om na daardie tragedie te verwys nie, maar soms moet goeie smaak oorgesien word sodat mense wat deur ‘n rooskleurige nostalgie-bril na die verlede kyk, bietjie kan onthou.

Al wat ek sê is dat daar, tussen die goeie goed van die verlede, waarvan jy sommige tereg met trots aanhaal, ook slegte goed was. Nes alles in die hede ook nie net sleg is nie. Mens moet kritiseer wat te kritiseer is, maar om iemand belaglik te maak en moedswillig verkeerd bly te verstaan net omdat sy Engels nie goed is nie, help niemand.

Elize ·

Ek sal natuurlik baie rustiger in die see swem as ek weet daar is duikbote in die omgewing om my teen die haaie te beskerm. Dis dalk baie goedkoper as haainette :)

peter ·

En so sal ons aangaan tot in ewigheid…mekaar aanvat oor loutere snert. Dis ‘n kleinigheid…beweeg aan mense en fokus op dit wat regtig belangrik is. Die media blaas als op. Dis wat hulle doen! Oral!

Banie ·

Vir die wat nog nie weet nie: Die Weermag bestaan uit die Leer (Army), Lugmag, Vloot en verskeie ondersteuningskomponente.

Thomas ·

Laat my onwillekeurig dink aan ‘n stukkie uit NP van Wyk Louw se gedig, “Die beiteltjie”
” Ek sit ‘n klippie op ‘n rots:
-mens moet jou vergewis
‘n beitel moet kan klip breek
as hy ‘n beitel is”

gatiep ·

Maak nie saak of media alles uit verhouding ruk nie een ding is seker as iemand ons gaan moet aanval strike ons soldate dadelik vir groter salaris.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.