Nuwe kerke gaan Pretoria verander

hande-in-gebed-02

Foto: Olcparishrockford.com

Deur Tiaan Jordaan

Met grusame moorde in die Pretoria-omgewing, stygende dwelmverwante misdade en politieke onrus is dit maklik om te wonder of Christenskap nie die stryd in Pretoria begin verloor nie. ʼn Onlangse studie toon tog dat Pretoria meer as 20 kerke jaarliks nodig het net sodat Christenskap in stand gehou kan word.

Sal dit nie lekker wees om weer ’n bietjie saans in die strate van Pretoria te stap, sonder vrees, en die vars aandlug te geniet nie? Om te voel dat die momentum na die ander kant geswaai het en Pretoria elke jaar net meer gevul word met geleenthede, veiliger is en ʼn skuiling word vir almal wat hier aankom? Ek wil egter met hierdie skrywe, aan die hand van vyf redes, betoog dat daar wel ʼn manier is waarop die stad op sy kop gekeer kan word … deur middel van “kerkplanting”:

1.    Kerkplanting werk positief op gevestigde gemeentes

Kerkplanting is die beginsel waarvolgens nuwe kerke deurentyd en doelgerig geskep word in omgewings waar daar ʼn duidelike behoefte is, en só op ʼn unieke manier na daardie spesifieke omgewing uitreik. As kerkplanter is dit vir my baie interessant dat ek die meeste kritiek van kerkgaande Christene kry. Ek ervaar die teendeel met nie-Christene en niekerkgaande Christene. Hoewel ek baie waardering en liefde het vir Christene wat bekommerd is oor die nuwe gemeente op die hoek, dink ek tog dat daar ’n grondwaarheid is wat baie Christene nie verstaan of snap nie. Dit is dat die plant van kerke goed is om nuwe lewe in bestaande kerke te blaas. Met ander woorde: As jou kerk sukkel om te groei en nuwe leiers voort te bring, is die beste gereedskap in die gereedskapskas wat God aan jou kerk gegee het juis die plant van ’n nuwe gemeente.

The vigorous, continual planting of new congregations is the single most crucial strategy for 1) the numerical growth of the body of Christ in any city, and 2) the continual corporate renewal and revival of the existing churches in a city. Nothing else – not crusades, outreach programs, para-church ministries, growing mega-churches, congregational consulting, nor church renewal processes – will have the consistent impact of dynamic, extensive church planting. This is an eyebrow raising statement. But to those who have done any study at all, it is not even controversial,” – Tim Keller

2.    Kerkplanting laat die kerk nuwe mense doeltreffender bereik

Nuwe intrekkers en nie-Christene is geneig om eerder na nuwe kerkplantings te gaan as na gevestigde gemeentes. Nuwe kerke is geneig om nuwe dinge te beproef. Nuwe kerke is ook geneig om meer aanpasbaar te wees en unieke metodes te ontgin ten einde ’n snel groeiende stad te bereik. Sodoende kan hulle die pas aangee vir bestaande kerke met gevestigde kulture.

3.    Kerkplanting laat die kerk meer doeltreffend en aktief betrokke wees by die kultuurvorming van die stad

Kultuur word gevorm en die vraag is of jy ’n passiewe of aktiewe rol speel. Nuwe intrekkers verander die stad en die doeltreffendste manier om hulle te bereik, is deur nuwe kerke wat beter gerat is om mense tuis te laat voel. Volgens Tim Keller[i] toon studies dat nuwe kerke se groei meestal vanuit niekerkgaande mense kom, terwyl ou bestaande kerke se groei vanuit ander gemeentes kom.

4.    Vrugte van kerkplanting bring klimaatsverandering mee

Wanneer die vrugte van die evangelieboodskap sigbaar raak in ’n stad kan die volgende vrugte herken word (bron: Redeemer City to City[ii]):

  • Christen-inwoners dien die stad en sy mense.
  • Nuwe besighede en niewinsgewende organisasies word op die been gebring.
  • Gelowiges integreer hulle geloof met hulle werk en dit bring mee dat elke aktiwiteit koninkryksgerig is en dus saamwerk om ’n beter samelewing te kweek.
  • Al meer Christenleiers beweeg in leierskapsposisies in.
  • Christenleiers en -kerke ondersteun, bevorder en stuur kunstenaars in die stad in.
  • Invloedryke leiers stel hulle mag, hulpbronne en invloed in diens van die bevordering van die algemene welsyn van almal. Hulle help ook met die bevordering van die evangelie en die totstandkoming van nuwe geloofsgemeenskappe.

Op lang termyn sal die stad gesonder gemeenskappe met minder misdaad en korrupsie tot gevolg hê. Ook sal die gesinne meer toegewyd leef, mense se menswaardigheid erken en meer leef om God te eer.

5.    Geskiedenis toon dat kerkplanting[iii] meegewerk het om nuwe kulture te kweek

Die verspreiding van Christendom het in die geskiedenis ’n groot positiewe impak gemaak. Dit het so ’n uitwerking in die Grieks-hellinistiese wêreld, die Romeinse ryk en toe later in die Germaanse stamme gehad dat hedendaagse sosioloë moet erken dat die verspreiding van Christendom positief is vir ’n gemeenskap. In Robert Woodberry (assistent-professor in Sosiologie aan die Texas Universiteit) se woorde: “From a statistical standpoint, societies where Protestant missionaries (Kerkplanters) arrived … ended up better off on all the indicators of human thriving  I have studied: literacy, educational enrollment, infant mortality, life expectancy, economic development, corruption and political democracy …” – Woodburry in Winter and Hawthrone.

Slotsom

Die evangelieboodskap is goed vir die stad Pretoria. Dit word die maklikste en doeltreffendste versprei deur die plant van nuwe kerke. As jy nie tuis voel of ingeskakel is by ’n kerk nie, is dit moontlik dat jy by ’n nuwe kerkplanting sal tuis voel. So ’n soort kerkplanting is dieKruis Pretoria wat Sondag 17 April om 17:00 amptelik sy deure in Pretoria oopmaak. Ons is ʼn Bybelgetroue kerk met ʼn droom en hoop vir Pretoria, wat verandering wil meebring deur gesinne weer sterk te maak, na die stad uit te reik en ʼn kerkplantende kerkgroep te wees.

  • Tiaan Jordaan is die leraar van die nuwe kerkplanting genaamd dieKruis in Pretoria. Hy het sy MTh-graad aan die Noordwes-Universiteit (NWU) verwerf en is tans besig met sy PhD by die South African Theological Seminary (SATS). Hy het onder meer kerkplantingskursusse in New York bygewoon, Bybelberading- en traumaberading-kursusse voltooi en is die afgelope 10 jaar reeds heeltyds in die bediening. Vir meer inligting besoek www.diekruis.co.za.

Bronne:

[i] Keller, T. 2012. Church Planting. Ongepubliseerde notas.

[ii] http://www.redeemercitytocity.com/why/

[iii] Die eindproduk van gesonde sendingpraktyk is kerkplanting of die skep van nuwe geloofsgemeenskappe.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

Nic Grobler ·

Tiaan, ek vind jou benadering dat kerkplanting moet plaasvind deur bestaande kerke te laat doodsmoor deur lou lidmate weg te rokkel, ontstellend. Mag ons Vader ons daarteen behoed. Die enigste waarheid in jou skrywe is in die laaste voetnota, dat kerkplanting die resultaat van geseende evangeliese sending is op plekke waar daar geen, of valse kerke is. Vernuwing en herlewing binne kerke (gemeentes) is die roeping en plig van die gelowiges aldaar.
Let ook daarop dat kerke nie veronderstel is om “leiers op te lewer” nie, hulle is gawes wat deur God gegee word (1 Kor. 12; Ef. 4:11-16).

Lorraine ·

Ongelukkig kan jy ‘n perd net tot by die water bring, maar nie laat drink. Dis ‘n keuse wat elke mens self moet maak, om God aan te neem en hul lewe te verander! Deur nog kerke aan te bring sal ongelukkig nie die probleem oplos nie, egter net vererger. Tronke vol en kerke leeg!

Wees minder mens en meer die één wat God daar geplaas het as instrument, dit sal die probleem oplos.

HEVW ·

Hierdie planting van nuwe kerke skep weereens die insdruk dat dit die kerk is wat jou gelukkig moet maak. Eerstens is dit die lidmaat se taak om diensbaar te wees en die bestaan van die kerk sinvol te maak. Innerlike geluk en lewensvervulling word gevind in diensbaarheid gegrond in die gehoorsaamheid aan die Woor d en gerig op die uitbou van die koninkryk en die Koning Christus Jesus.

Jaco Kleynhans ·

Wat ‘n teleurstelling. Net nog ‘n simptoom van ‘n tydperk van hiperverbruik waar ook kerke eerder na mense se behoeftes as na die Bybelse opdrag kyk. Bestaan die Katolieke Kerk uit verskillende denominasies? Nee, maar tog is daar groot interne diversiteit. Kerkplanting is goed in gebiede sonder kerke. Pretoria het egter oorgenoeg kerke en soveel denominasies. Wat hierdie artikel nie antwoord nie is die vraag waarom ‘n nuwe denominasie nodig is. Bloot kerkplanting is nie ‘n goeie genoeg rede nie.

Veritas ·

Die Rooms Katolieke kerk kan geensins as maatstaf gebruik word nie. Slegs die Woord van God moet gebruik word. Doen jouself ‘n guns en kry die vídeo oor die RK van prof. Walter Veitz genaamd ‘Total Onslaught’. Dit sal jou oë oopmaak.

Gemsbok ·

Veritas, ek vind weer dat die Katolieke Kerk baie meer skrifgetroue standpunte huldig as ‘n reuse aantal, veral liberale, Gereformeerde en Charismatiese Kerke. Voorbeelde sluit in hul standpunt oor egskeiding, die gebruik van voorbehoedmiddels en seks buite die huwelik, aborsie, homoseksuele verhoudings, die bestaan van satan, die maagdelike geboorte van Jesus, sy liggaamlike opstanding en Hemelvaart en die effek van sonde in die lewe van ‘n Christen.
Ek sal glad nie verbaas wees as die Hemel ‘n meerderheid Katolieke Christene bestaan nie.

Gemsbok ·

Christenskap werk duidelik baie beter as die Ateisme van Josef Stalin, Mau Tse Tung, Pol Pot, Fidel Castro, Kim Jong-un, die Heidenisme van Adolf Hitler, die Islam van ISIS, Al Qaida, Boko Haram, en die Boeddhisme van die Karen Weermag en Nissho Inoue.

Ek twyfel of jou ‘nuwe denke’ enigsens meer kan bydra tot die welsyn van die mensdom as wat Christenskap gedoen het met die daarstel van begrippe soos gelykheid voor die reg, die waarde van lewe, universele onderwys, versorging van oues en siekes, die gawe van eerbare werk, onbaatsugtigheid en vele meer.

Graeme ·

Die wat dink die christendom van vandag is “vredeliewend” het nog nooit hul eie tradisie se geskiedenis bestudeer nie. In elk geval, Stalin het sy vormingsjare in ‘n priesterskool deurgebring en dit het duidelik nie so goed uitgewerk nie. Hitler was tot sy laaste asem ‘n ver-regse christen. Soverre dit Islam aanbetref – hul is ongeveer op dieselfe peil van geweld wat ‘n ou sou aantref in die 6de of 7de eeu in “Christelike” Europa.

Hierdie “kerkplanting” idee is ‘n “foefie” wat van Texas af ooirwaai SA-toe – en die skape val daarvoor “lock, stock and clinker”. Nie dat Texas nou juis ‘n wêreldsentrum van spiritualiteit is nie. The “Deep South”. Dit is net nog ‘n geldmaakstorie. Soos die “Mighty Mouse” veldtog.

Wat die mens nodig is het, meer was water en kos, is meer Wysheid. Nie meer godsdiens of kerke nie. Daarvan is daar meer as genoeg. Een op feitlik elke hoek. En kyk hoe gaan dit. Die godsdiens van die dag is moreel korrup en bankrot. Meer kerke gaan dit nie verander nie.

“Stupidity is doing the same thing, over and over again, but expecting different results.”

Leonard van der Dussen ·

Tiaan se kerkbegrip begin by die mens, en sy behoeftes en versugtinge. Die ware kerk is die kerk van Christus en begin en het sy bestaansrede in die eer van God.

Die klem wat hy plaas op die kerk se taak vir beter lewe op hierdie aarde, asof hierdie jammerdal ons eindbestemming en hoofdoel is, is ‘n arm geloof, teenoor die oneindige rykdom van die strydende kerk van Christus in ewige werk.

Die laaste deel van sy “artikel” lig die onderrok om te sien dis maar net nog ‘n advertensie vir nog ‘n selfaangestelde persoon in die “kerkbedryf”.

Wat besonder interessant is, is dat hy sy mensgerigte teologie by die NWU geleer het, daar waar die Doppers mos in beheer is, tot by die rektorskap van die Potch-kampus.

Mina ·

Leonard, ek stem saam met jou behalwe jou laaste paragraaf…dit was rerig onnodig! So what as hy op Potch by die Doppers geleer het. Ons is immers ook net mense met foute soos alle ander mense…jy ingesluit.

Leonard van der Dussen ·

Predikantsopleiding van die Gereformeerde Kerke vind in Potchefstroom plaas, Dis die werk van die “Teologiese Skool”, maar wat grootliks deur die “Fakulteit Teologie” van die NWU in praktyk opgeslurp is. Die kerklike professore is ‘n amp as predikante met spesiale opdrag, wat in terme van die Kerkorde (Artikel 18) moet sodanige professore predikante oplei, die Heilige Skrif uitlê en die suiwere leer teen die ketterye en dwalinge verdedig. Dit is dan merkwaardig en noemenswaardig om op te let as daar vanuit hierdie dampkring waar sodanige professore werksaam is in die teologie, mense studeer aan wie se insigte dit wil lyk of hulle ‘n kerkbegrip het wat vreemd aan die gereformeerde leer is.

Leon ·

Duidelik kan jy nie lees nie. MtH is n meestersgraad in Teologie. Dit beteken nie dat sy aanvanklike opleiding daar was nie.

Marius ·

Die doel van die kerk is om God se naam te verheerlik deur die Woord te verkondig, en mense te dien. Gaan kyk maar hoe die eerste Handelinge kerk gefunksioneer het. Tiaan ek wil jou gelukwens met dit wat jy as Kerkplanter doen. Die byproduk van die verheerliking van God is wanneer gemeenskappe herstel word, gebroke huisgesinne heel word. Ek sien geen mensgerigte teologie in dit wat jy sê nie. God kry die eer wanneer ‘n pa teruggaan na sy huisgesin, en rowers en prostitute hul tot God wend. Tim Keller is ‘n prediker by ‘n ware Bybelgefundeerde kerk in New York. Jy sal hom nie op die populêre Christelike TV kanale kry nie, want wat hulle doen is ware kerk en nie vermaak nie. Baie predikers wat ernstig is om kerke te plant in gemeenskappe wat honger is vir die woord kan leer hoe God dit deur iemand soos Tim Keller in die middestad van New York gedoen het. Net Bybelse waarhede en beginsels word toegepas, en ek dink Tiaan het by die regte mense gaan aanklop. Net omdat daar geboue is, beteken dit nie dat daar nog kerke is nie. Tiaan, vermy al die doemprofete en hou aan om God sie eer te gee deur jou roeping.

Marius ·

Tim Keller is predikant by ‘n tradisionele gereformeerde kerk in die middestad van New York. As jy dink Tiaan se kerkbegrip is vreemd was die eerste handelinge kerk seker totaal en al van lootjie getik. Tiaan hou aan met wat jy doen. Jy gee eer aan God as jy ongelowige gemeenskappe met die woord bedien en daar ‘n ommekeer in die lewens van die mense kom, en pa’s terugkeer na hul gesinne en prostitute tot inkeer kom. Dit is alles byprodukte van die eer wat ons God deur ons lewens gee. Daar is baie ingeligte mense op hierdie forum. Ek weet net nie hoeveel van hulle waarlik die tou sal vashou terwyl manne soos jy in die myn afgaan en kosbare lewens na God toe lei nie. Kom ons ondersteun die diensknegte wat sal gaan met ons gebede, finansies en seën.

Pieter Krige ·

Tiaan, wat is jul belydenis grondslag? Ek wonder ook, is kerkplanting nie vir eerste generasie Christendom nie? Klink my eerder of in jul geval gepraat kan word van afstigting. As ek dit dan so verstaan wonder ek na die redes vir so ‘n afstigting, was dit ideologies, dogmaties of praktiese teologies van aard? My vrees is dat ons beweeg in ‘n tydperk in waar kerke nismark en marknavorsing georiënteerd raak, met die teiken mark as die objek en doel van mens se bediening. Was so ‘n afstigting dan juis gedoen om ‘n bepaalde mark te teiken? Indien wel wie is jul teiken mark?

Leon ·

Pieter, duidelik verstaan jy verkeerd. Die opdrag is om die evangelie na alle mense te vat. Die doel van n kerk plant is juis om die mense ” die een verloore skaap Soos in Lukas 5 vertel word” te bereik. Die rede vir nuwe kerke is juis dat die OU kerke meer gepla is oor kolektes en Die Ds se huis as Sy gemeente lede. Of om nuwe mense te bereik. Maar wat weet ek, die ou wat opgeskop het. Jou geliefde almamater nader vir Tiaan om hulle Te kom onderrig in Kerk planting. Duidelik het hy iets beet wat van waarde is.

Pieter Krige ·

Leon, ek is dankbaar as mense geestelike tuistes vind. Ek stel belang om meer oor die belydenis grondslag van DieKruis te hoor asook die kerkordelike organisasie ens. Sou jy dit beskryf as ‘n gereformeerde kerk? Of is dit iets nuuts en anders? Met al die advertensie van die nuut geplante kerk op sosiale media gaan daar uiteraard vrae wees. Ek glo darem nie die afstigting was omdat almal in DieKruis glo dat alle ander kerke net vermoeid is met die Ds. se huis en kollekte nie. Ek lees graag en met belangstelling meer oor julle.

Anti-Kerk ·

Stig soveel as wat jy wil….maar NIE met my tyd, my geld of my inset nie. Ek wil nie op ‘n komitee dien nie, ek doen nie huisbesoek nie, ek hou nie kleingroepies nie, ek gee nie sondagskool nie, en bedien nie nagmaal nie, ek gee werklik nie om nie……As almal nou klaar klippe gegooi het, kan jy verder lees: In 2006 kry my vrou borskanker. Ek bedryf ‘n besigheid, ‘n huishouding en 3 laerskool kids. “My” kerk het ‘n sopkombuis (volledig ingerig). My kids vra “Waarvan kry mens kanker?” Sonder om te dink sê ek, “Van al die kits gemorskos wat ons eet.” Elke 3de week lê my vrou in die bed van chemo. Ek moet kook….en ek kook met my beursie…kitskos…en my kids vra “Wil pa hê ons moet ook kanker kry?” Ek gaan na “MY” kerk toe en vra “Is hier nie van die susters wat vir my asseblief, EN teen betaling, elke derde week elke aand ‘n gekookte maaltyd wil beskikbaar stel vir ‘n gesin van 4 nie?” Hulle verwys my na ‘n restaurant in die woonbuurt…..”Jy moet net onthou om jou eie bakke te vat!!!”

Willemien ·

Dis met hartseer dat ek Anti-Kerk se verhaal gelees het. Eerstens, sterkte aan hom en sy gesin en tweedens is ek baie jammer vir sy slegte ondervinding met sy gemeente. Ek self sou met die grootste plesier vir hom wou help en my doel daarmee is om hulp te verleen waar dit nodig is (en definitief nie winsjag nie). Siende dat ek self 30 jaar plus agter die blad het as pastoriemoeder en sommige van daardie jare ‘n voldag werk gehad het sou ek dit nogtans gedoen het – ek moet tog vir my eie gesin kook.

Antie Kerk ·

“My” kerk vat my bydraes en gaan vermors dit in ‘n naburige squatter kamp. Met my besoek daar vind ek uit dat daar ‘n “turf war” aan die gang is tussen verskillende kerke oor wie wat doen, waar en vir hoeveel…..want dit bepaal hoeveel geld die Europese Kerke vir Afrika stuur sodat hulle kan beter voel oor hulle self…..en die sendeling ook darem ‘n Merc kan ry. “My” kerk het ‘n huis in die squatter kamp….Die tennisbaan word nie benut nie, die net is gesteel. Die gras word nie gesny nie, die “Lawn-mower she’s broken” en niemand het nog ‘n nuwe een gebring nie. Die rekenaar kamer se PC’s is almal vol virusse en stukkend. Die naaldwerk projek het gaan staan want daar’s masjiene, lap, skêre en patrone…maar niemand het nog garing geskenk nie. Die enigste ding wat soort van iets vorendag gebring het, was ‘n kamer vol ou tydskrifte waar ‘n paar mense gesit en prentjies uitknip het…en op karton geplak het om te verkwansel aan die Christene met ‘n skuldige gewete (oor apartheid).

Antie Kerk ·

Ek stuur my kids sondagskool toe. “MY” kerk is hell-bent op self doen. Gemeente bedien, gemeente organiseer, gemeente gee sondagskool, gemeente hou kleingroepies, gemeente doen hospitaal besoek, gemeente reik uit België toe…..terwyl die arm blankes binne 5km van die kerk nie weet wie die Ds is by daardie kerk nie. Onopgeleide persoon gee vir my kids sondagskool….en dit gaan so: “Want God het die mense so lief gehad dat hy sy enigste seun vir ons gegee het…..en weet julle maatjies wat het ons met hom gedoen? Ja, ons het hom dood gemaak!!!!” En my kids kom histeries huistoe….want juffrou sê hulle’t Jesus dood gemaak!!!! Nodeloos om te sê…..nie weer nie.

Antie Kerk ·

Samevattend dus: Baie geluk met jou inisiatief….maar dis nie vir my nie. Ek leef in ‘n verhouding met ‘n Lewende God, wat elke dag huil oor wat “die kerk” met Sy Woord, Sy Beloftes en Sy Genade maak. Ek gee NIKS vir enige kerk nie……..want dit verdwyn in ‘n bodemlose swart put met NUL potensiaal, vol voorvader geeste. Ek betaal tans vir ‘n WIT student haar studies. Ek sit ‘n mede blanke se WIT kind deur laerskool (Gr 2). Ek skep werk vir WIT mense. Ek betaal vir die rehabilitasie van ‘n WIT dagga verslaafde…..wat verslaaf geraak het omdat sy pa hom op St 6 uit die skool gehaal het, en by ‘n slagpale laat werk het waar hy bees binnegoed moes oopsny en uitdruk….vir R75 ‘n week. So, gooi nou maar julle klippe, en kruisig my ook….omdat ek so anti-kerk is. Ek sien julle aan die anderkant…

Marius ·

Ek dink nie enige ware gelowiges sal jou ooit met klippe gooi nie. En die kerk so gebroke soos wat hy is sal nog steeds baie mense teleurstel, en dis jammer die kerk het jou so hanteer. Maar daar is eindelose voorbeelde van ongelooflike verandering wat plaasgevind het omdat ware gelowiges met baie deursettingsvermoë nooit opgehou het om te glo dat God die een is wat red nie. Om te kyk na die mense in die kerk is jou grootste fout. Ook as die gemeenskappe waarvan jy praat nie lyk of daar enige verandering is nie. Dit is God wat red. Dis waarom Sy woord van lankmoedigheid praat. Dit wys geloof in God se krag om te red al lyk dit of niks gebeur nie. Hierdie is alles fondasies wat gelê word vir herlewing, dalk eers oor 50 jaar van nou af. Gaan kyk maar na die geskiedenis. Ons moet ons misnoeë en seer vir God gee, en mense en kerke wat ons seergemaak het sien vir wat hulle is – gebroke en vol foute. Jou seer moet ‘n aanklag vir alle gelowiges wees.

Leonard van der Dussen ·

Vir die feitelike korrektheid: Tiaan Jordaan se studies eers by AP Akademie, en toe net die meestersgraad by NWU:
BA-graad (2001-2003; AP Akademie)
B.Th.-graad (2004-2006; AP Akademie)
M.Th.-graad (2011-2013; NWU)

Daarna:
““Redeemer Church Planting Intensive” van Redeemer City to City (NYC) bygewoon, en ook nie-graad sertifikaat- en ander kursusse geloop by ABBO (Afrikaanse Bybelse Berading en Opvoeding) en Ami-Tira (Amerikaanse Trauma Instituut), asook grondvlak-TA-Berading en ander kursusse. ……. tans besig met …. PhD by SATS.”

Johan ·

As lidmaat van ‘n Afrikaanse Protestantse Kerk neem ek aanstoot in Tiaan se dislojaliteit om nie eerlik te noem dat hy by die Afrikaanse Protestantse Akademie gestudeer het nie. Ook dat hy vir etlike jare’ n leraar binne my kerkverband was nie. Dit lyk my hy ignoreer daardie deel van sy verlede.
Tog wil ek as APK lidmaat vir Tiaan sterkte toe wens met sy nuwe bediening. Mag die Here Jesus Christus alleen die hoogste doel wees van jou nuwe bediening.

Leonard van der Dussen ·

Patrioties praat ons graag van Jan van Riebeeck se aankoms, 1652, en bv “Franse Hugenote” het ‘n mooi klank vir ons. Dit gaan alles saam met die drie formuliere van enigheid (Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), Heidelbergse Kategismus, Dordtse Leerreëls). In Artikels 27 – 32 van die NGB beskryf ons belydenis oor kerk, en is ook waarheen Tiaan sy opleiding gehad het. Dit spreek teen “kerke” wat sommer net hier en daar en orals buite verband opspring, en werk met kenmerke van ware en valse kerk. As iemand die Woord wil verkondig, begeer hy ‘n goeie saak, maar daar ontstaan vrae as iemand so op sy eie buite verband optree of daar orde en aanvaarding van gesag is, wat ook deel van ons geloofsbelydenis is.

Marius ·

Leonard, ek stem saam met jou, maar as ek Pieter se artikel lees gee hy juis daarin sterk erkenning aan sy gereformeerde wortels. Glo my, ek wil nie nou oor kerke praat nie maar ek kom uit ‘n agtergrond wat heel anders as gereformeerde kerke is. Ek is nou in ‘n gereformeerde kerk wat baie sterk Bybelgefundeerd is. Ek stem saam dat daar risikos vir losstaande kerke is in die lig dat enige leeraar met ‘n persoonlike agenda of dwaling in sy lering groot valshede kan kwytraak en mense kan lei na die verderf. Ek weet nie wat die prosedure is om as ‘n erkende kerknaam ‘n kerk te plant nie, maar ongelukkig is ook ‘n groot komponent van ons susterskerke besig om geweldig te dwaal. Ek dink Pieter doen die regte ding. Gaan lees op oor die mense wat hy raadpleeg , soos Tim Keller. Hudson Taylor het ook nie as ‘n kerk China toe gegaan nie, alhoewel hy so gereformeerd was as wat jy kon kry. As God se Gees Pieter vergesel sal daar ware vrug op sy arbeid wees.

Bokkie ·

Ek ken Tiaan etlike jare en nog het ek die Indruk gekry dat hy die verkondiging van die Woord van God gebruik vir finansiele gewin nie. Ek het Tiaan leer ken wat God as sy persoonlike Verlosser en Saligmaker met hart en siel aamgeneem het. Daarvan getuig sy dors om die Woord aan die armes van gees te gaan verkondig en hulle wat God vergeet en verwerp het weer na Hom toe terug te lei.
Hierdie besluit van Tiaan is nie ligtelik geneem nie. Baie twyfel en gebede verder het Tiaan op God se roepstem gereageer.
Tiaan word deur “ons eie mense” gekruisig maar glo my dis virTiaan n uitdaging en sal hy hierdie negatiewe kritiek met sy geloof geanker in God te bowe kom.
Ek vra myself die vraag af is dit “ons eie mense” wat so kritiek lewer. O ja ek het vergeet hulle kan want hulle woon mos in glashuise. “Ons eie mense” en dan verkondig van hulle Sondae die Woord van God van die kansel af. Broers het julle al met Tiaan ingesprek getree.
Nee want julle weet net so goed soos ek vir Tiaan gaan dit om n stukkende siel na God toe te lei.
Tiaan ek bid jou en jou gesin die seen van ons Hemelse Vader toe met die groot taak wat voorle. Mag julle God se genade en liefde regdeur die bediening ervaar. Ek weet julle kan dit doen. Onthou as GOD vir ons is wie kan teen ons wees

Tiaan ·

Ek wil begin om vir AntieKerk te bedank vir jou eerlike en reguit hart oopmaak. Ek sou graag vir jou ‘n koffie wil koop en persoonlik met jou wil praat oor baie van jou seer. Ek is jammer dat mense jou so seer gemaak het. [email protected] of 0825210480…

Aan die ouens wat positief is, ek wil dankie se…

Aan die manne wat my wil ophang… Wil ek Martin Luther aanhaal nogal op 18 April het hy gese: “Unless I am convinced by Scripture or by clear reasoning that I am in error- for popes and councils have often erred and contradicted themselves- I cannot recant, for I am subject to the Scriptures…my conscience is captive of the Word of God. It is unsafe and dangerous to do anything against ones conscience. Here I stand. I cannot do otherwise. So help me God. Amen”
Ek weet wat leer die Skrif en ek ken my Belydenisskrifte. En ek het respek vir die Presbiteriale Kerkregeringstelsel. Met die plant van dieKruis het ons vanuit hierdie grense gewerk. So pasop om oningeligte aannames te maak, jy kan dalk teen die werking van God die Heilige Gees staan.

Dit is vir my hartseer dat die debat oor my gaan(ek is niemand van nerens) en die hoop vir ons stad mis gelees word…

So dankie vir die geleentheid Maroela Media en lekker week almal…

Poplap ·

Daar is gelukkig alhoe meer van ons wat AntieKerk se standpunte deel. Wat baie gelukkig is in die wete dat ons soos miljoene Christene dwarsoor die wêreld ons geloof kan beleef, uitleef, geniet terwyl ons dieselfde Lewende God waarna AntieKerk verwys, dien.
Nie geweet dat Luther so vlot Engels magtig was nie.

Gemsbok ·

Dankie vir jou skrywe en sterkte met jou bediening Tiaan.

Die Afrikaanse vertaling van Luther se Duitse toespraak tydens die Ryksdag by Worms help my om baie meer daarmee te vereenselwig: “Tensy ek deur die getuienis van die Skrif of deur helder rede oortuig word dat ek verkeerd is (want selfs die Pouse en Sinodes het dikwels gefouteer en mekaar weerspreek) word ek deur my aanhalings uit die Skrif gebind en is my gewete die gevangene van God se Woord. Ek kan niks herroep nie, want dit is nie veilig of reg om teen die gewete in te druis nie. Hier staan ek. Ek kan nie anders nie. Mag God my help. Amen”

Johannes Meintjes ·

Ja, nuwe kerke is nodig want die oues het so geestelik verhewe gestagneer en gemeentelede het so in halwe evangelies en godsdienstige versuim in die kerkbanke vasgeval geraak in klubsoortige en wedywerende besigheid, dat die gemeenskap lankal nie meer bedien word nie en sendingwerk ‘n bote verstommende mite geword het.

Andries Kruger ·

Tiaan, sterkte met julle voorneme, ek troos my teen kritiek met hierdie woorde, mag dit ook vir julle vertroostend wees: Handelinge 5:38 – 39 …bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie – …

Sarel Roets ·

Ek skryf my repliek in dele. dis te lank vir een kommentaar. Wees asb geduldig met my.

Deel1:

Tiaan, omdat die grootste deel van my vriende en kennisse wat steeds in Pretoria woon tans betrokke is by jou nuwe kerk, was en is ek baie versigtig om ’n opinie oor Die Kruis Pretoria uit te spreek. Nou dat jy egter die gesprek aan die gang gesit het, vra ek dat jy, en al my vriende in jou gemeente, my sal verdra wanneer ek my opinie oor die saak lig.

Ons het saam Teologie studeer by die AP Akademie in Pretoria. Ons het saam graad gekry en saam in die bediening getree en die AP Kerk se sinodes bygewoon. Sedertdien het ek, jy en vele ander jong predikante die bediening in die AP Kerk verlaat. Die redes verskil soms, maar ek dink ons gedeelde frustrasies was meer. Was dit oor die gebrek aan gemeenskaplikheid tussen mense op al die vlakke van die kerk (veral tussen predikante)? Ek dink egter dit is deel van die afvalligheid van die tyd waarin ons leef. Dit is ’n algemene kerk probleem!

-> 2

Sarel Roets ·

Deel 2:
1. Die stad: Jy stel dit redelik pertinent in jou bemarkingsmateriaal dat die liefde vir die stad een van die redes is vir die nuwe kerk is. Jy sê: Hervorming van die stad sal lei tot hervorming van die land en daarna Afrika. Ek kan nie sien dat diepliggende samehorigheid hoegenaamd rondom ’n stad alleen gebou kan word nie. Is volkskultuur nie ’n baie sterker vertrekpunt vir samehorigheid nie. Het ons nie geleer dat die beste vorm van sending (kerkplanting) juis binne kultuurverband plaasvind nie?

2. Menlyn area: Waarom Menlyn area? Jou argument dat dit die nuwe Sandton sal wees bekommer my nog meer! As Menlyn, wat die nuwe Sandton sal word, jou teikenmark is, wat is dan die tipe mens wat jy wil bereik. Rykes? Om slegs een groep uit die samelewing in jou gemeente te betrek is mos nie ’n gesonde gemeenskap nie en klink al te veel na ander groot gemeentes in Pretoria-Oos (waarvan julle o.a afgestig het). As ek luister na wat Helpende Hand sê is daar tans 20% Afrikaners wat verarmd is. Ongeveer 400 000! ’n Groot deel van hulle bly in Pretoria-Wes. As die stad dan die wegspringplek is, is dit nie beter om by die grootste behoefte te begin nie? Dit is beslis minder glansryk en beslis meer uitdagend, maar dit is waar Jesus die meeste van sy tyd deurgebring het. Ek gee nie om wat Keller sê nie! Die leiers wat Christus gebruik het was arm, nederige vissermanne gewees.

->3

Sarel Roets ·

Deel 3:
3. Pieter Krige vra geldige vrae. (Toevallig nog ’n oud kollega van ons wat die AP bediening verlaat het) Die Kruis Pretoria is nie die produk van kerkplanting nie, maar afstigting. Julle was tot onlangs nog lidmaat van die AP Kerk. Baie van jou lidmate was tot onlangs nog lidmate van bestaande kerke, maar het hul lidmaatskap opgegee om by die Kruis Pretoria lidmate te word.
Watter gronde regverdig afstigting?

4. Kerk met ’n teikenmark? (Hierdie is my persepsie en as ek verkeerd is, moet julle werk maak daarvan dat julle nie die verkeerde persepsie by mense kweek nie) Dit wil voorkom asof julle daarop uit is om spesifiek welaf en invloedryke jongmense te teiken om lidmate te word. Behalwe dat die blote gedagte aan ’n teikenmark in ’n kerk die natuurlike gemeenskap (ryk & arm, oud & jonk, ens) van die heiliges skaad, berowe julle bestaande gemeentes van hulle natuurlike gemeenskap deur hulle met ’n leemte te laat. Jou argument in jou artikel dat bestaande gemeentes wat sukkel om te groei of sukkel om leiers te ontwikkel eerder hulle beste mense moet weggee aan ’n nuwe gemeente is soos om vir iemand met hartprobleme te sê hy moet dadelik sy hart skenk vir ’n hartoorplanting. Hoeveel armes en oues is in die Kruis Pretoria?

->4

Sarel Roets ·

Deel 4
5. GeRAK: Tiaan, dit is ’n pragtige gebaar maar dit is n absoluut humanistiese benadering tot evangelisasie. (As dit die doel was…) Ek sien julle webadres baie duidelik, maar niks wat eens aandui dat die gebaar ’n daad van CHRISTELIKE liefde is nie. Was die projek uit ’n bemarkingsoogpunt aangepak? Mattheus 6:3 sê dat wanneer mens barmhartigheid doen, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie. Lees gerus die hele hoofstuk. Dit is baie van toepassing.

6. Pilare van die kerk: Die pilare van ’n gemeente is die onveranderlike basis waarop die kerk gebou word. Of hoe? Die Kruis Pretoria se pilare, volgens alles wat ek kon sien, is die volgende: Die stad, Die gesin en kerkplanting. Ek sien nie dat suiwere woordverkondiging en sakramentbediening of eer aan God alleen op enige van julle bemarkingsmateriaal genoem word nie. (Vir God of vir mense?) Onthou net… Dit is maklik om mense te trek met die lekker en die mooi goed. Die toets kom wanneer God se wette met ons menslike lekkerkry bots. Tiaan, verstaan my reg. Ek praat nie van eeue oue kerk tradisies soos die orrel en die swart pakke klere nie, maar om God duidelik eerste (eintlik alleen) te eer saam met suiwer woordverkondiging, sakramente en tug. Dit is mos die eienskappe van die ware kerk.

-> 5

NT ·

Dankie, Tiaan, vir wat jy doen. Ek gaan nie meer kerk toe nie want hulle doen kerk planting in Afrika of Asie of iewers, maar dit voel nie of hulle omgee vir my mense nie, veral voel ek ons kinders, tieners en ietwat ouer, word vergeet. Daar is ‘n ongelooflike groot behoefte vir hierdie, ons kosbaarste nalatenskap, om ‘n veilige heenkome vir hulle siele te vind, Plant voort en herken die kompos (negatiewe kritiek) vir wat dit is.

Sarel Roets ·

Deel 5:
Tiaan en al my vriende wat tans by die Kruis Pretoria betrokke is. Ek wens julle met alle eerlikheid alles van die beste toe en ek hoop werklik dat al my bekommernisse in die toekoms besweer sal word deur julle woorde en dade. Ek hoop dat daar vir julle almal geestelike groei sal wees daar waar julle nou is, maar weet net dat julle baie ander gemeentes, lidmate en families meer stukkend agterlaat. Ek dink die Kruis Pretoria het meer hartseer en probleme geskep as opgelos. Die AP Kerkverband is egter aandadig aan hierdie tragedie.

Ek lees toevallig die afgelope Sondag die AP Kerk se nuutste Boodskapper. Iets wat ek doelbewus nie gereeld doen nie, omdat dit my dikwels ontstel. Twee goed val my op.

Ds. Tiaan Jordaan het die AP Kerk verband verlaat.
En
AP Kerk gemeente Johannesburg-Suid (waar jy as student gewerk het) moes sy deure gesluit.

Die kerk in hierdie wêreld is ’n gebroke plek, omdat ons dit gebreek het. So ook my tuisgemeente, AP Kerk Orania waar ek waarlik ’n tuiste kon vind. Moet nie dink dat die Kruis Pretoria ’n uitsondering is nie.

Jou oud Kollega.
Sarel

tiaan ·

Sarel dis lekker om van jou te hoor!
Daars ‘n gemeente in die suide van Johannesburg wat ontstaan het agv ‘n gemeente in Johannesburg -Suid wat hul nie wou he nie. Ekt daai ouens probeer inskakel by n gemeente in Germiston maar dieselfde storie. Hierdie gemeentetjie is ouens met tattoeermerke en is arm. Hul het die eerste keer in hul lewe klassieke musiek gehoor in die Kerke waarvoor hul nie goed genoeg was nie. Dankie tog dat God kerkplanting gebruik het want nou, al het n gemeente in Germiston en Johannesburg-Suid doodgeloop (Openbaring noem dit dat God die kandelaar verwyder), daar steeds n groepie afrikaanssprekende Christene is wat aan die wit plakkerskampe kos gee. Een keer toe ek daar aankom was daar ou tannies van die plakkerskamp wat kom stort het daar. Nou hierdie ouens is dalk nie goed genoeg gewees vir die Kerke wat nie meer bestaan nie. Maar daar is darem steeds n groepie wat gebroke dienste hou en gebroke mense heel maak. Soos ek gese het, Kerkplanting bereik mense wat nooit bereik sou word nie.

Moenie ongelig die werk van die Gees tee gaan nie. Om hier op sosiale media arm te druk doen niks meer as skade nie. Jul het my kontak besonderhede…

Terloops die groepie in Jhb-Suid wil steeds n gemeente word van die APK en dieKruis het een van hul tot laas maand finansieel gehelp om op akademiese vlak reg te wees om Teologie te kan studeer.

Lekker week.

Ex APK ·

Bogenoemde kommentare van ex APK predikante en huidige lidmate is presies die rede hoekom ek ‘n Ex APK lidmaat is, en in my lewe nooit weer een sal wees nie. Voordat julle enige klippe gooi moet julle julself afvra wat doen JULLE om God se Koningkryk uit te bou, en wat doen JULLE om seker te maak dat die kerke nie leegloop nie – wat baie vinnig besig is om te gebeur.
Tiaan, jy werk met ‘n passie en vuur wat min leraars daar buite het. Moenie dat klipgooiers en negatiewe mense jou ooit stop om die werk te doen waarvoor God jou geroep het nie! Seen vir jou werk vorentoe!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.