Nuwe krisis, dieselfde ANC

flip-buys-2017-11-01

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Dit word al meer duidelik dat die ANC-regering besig is om die Covid-19-krisis in ’n omvangryke menslike ramp te omskep. Dit is die onbedoelde, maar voorsienbare gevolge van sy krisisbestuur.

Daar was meriete in die eerste drie weke van afsondering om die vinnige verspreiding van virus te keer en hospitale gereed te maak vir ’n groot toeloop. Die onbepaalde voortsetting van die strengste inperkingsreëls ter wêreld, was egter net die jongste strategiese fout van die ANC.

Die gevolg hiervan is die gevaar van ekonomiese ineenstorting, die verlies van meer as ’n miljoen werksgeleenthede, ’n bankrot staat, ’n verarmde bevolking, ’n regering wat die krisis gebruik om radikale sosialistiese beleid in te stel, en die kans op grootskaalse anargie deur honger mense.

Die grootste gevaar is dat die ekonomie in September op ’n laagtepunt kan wees as die pandemie op sy hoogtepunt is. Daarby is die regering se mikrobestuur van die land en die ekonomie weer eens ’n bewys dat sentrale beplanning en -bestuur van state nie kan werk nie. Die owerhede hou aan om die hele land dieselfde te bestuur, ten spyte van voorsiening in die regulasies dat verskillende vlakke van afsondering vir verskillende gebiede kan geld.  Dit beteken dat ’n gebied waar geen besmettings is nie, net so dig “toegesluit” word as ’n gebied met ’n hoë voorkoms.

Daar is ook geen plan om uit die staat van afsondering te kom nie. Medici het reeds gesê dat geen afsondering/inperking die virus vir altyd kan keer nie. Hoe langer die inperking die verspreiding keer, hoe groter die kanse dat dit ná die tyd vinnig kan versprei omdat daar nie genoeg mense met immuniteit is nie.

Die oplossing is om kwesbare mense te beskerm, en soveel as moontlik mense wat gesond kan werk, weer “vry te stel”. Dit blyk nou dat al meer mense wat veral die president se hantering van die inperking geprys het, nou toenemend gekant raak teen sy ministers en amptenare se verdere bestuur daarvan.

Die wydverspreide ontnugtering met die ANC-regering se hantering van die krisis is nogal verbasend. Dit is immers dieselfde party, dieselfde regering, en dieselfde leiers wat die land oor die afgelope jare in so ’n krisis inbestuur het dat Suid-Afrika ná jare van vrugtelose waarskuwings deur graderingsagentskappe, tot rommelstatus afgradeer is.

Die swak prestasie van die regering reeds voor die krisis, is in skrille kontras met vergelykbare lande in Afrika se veel beter prestasie in dieselfde tyd. Die harde werklikheid is dat ons regering die land nie eens in goeie tye suksesvol kon bestuur nie. ’n Regering wat ons ín die krisis laat beland het en wat ook nie die krisis kan bestuur nie, sal die land nog minder weer úít die krisis kan bestuur.

Die toenemende mislukking van staatsbestuur is ’n werklikheid wat Afrikaners sal moet verreken. Ons kan dit nie verander nie, omdat Suid-Afrika ’n demografiese demokrasie is waar daar nie maklike politieke oplossings is nie.

Daarom bly selfbestuur die enigste antwoord op die mislukking van staatsbestuur.

  • Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Boerkind ·

Dankie Flip. Miskien is jy optimisties om te sê “onbedoelde” – hierdie ANC is ‘n berekende spul! So het hulle ook nie onbedoeld die land as geheel verpletter nie – dit het dan nou nie eens brieke nie! CR wys gou die ongelykhede in die samelewing uit … met sy R500 000 bul wat hy vir homself gekoop het!!

Flip, leer van die skerpioen – jy kan hom so goed as jy kan behandel, hom versorg, hom probeer mak maak…. hy bly wat hy is.

Die tyd van praat en passiewe aanvaarding is verby – massa openbare publieke verset op geen dubbelsinnige wyse moet nou plaas vind.

Die Waarheid ·

Die trop in die parlement het mag geproe. Hulle hou daarvan. Gaan dit nie gou prysgee nie.

Adam Adriaan ·

Goei artikel Flip. El wil net byvoeg dat alles wat hulle doen voorgeskryf word deur die Prison Warders en die BrotherHood Elite. Om alle kleinsake te vernietig. Sodoende kry hulle beheer oor die massas. Die massa is daarna brand arm en afhanglik van die staat(ANC) en trawante. Soortgelyk aan die vorige twee wêreld oorloë.

Jan ·

Hierdie regering is besig om n misdaad teen die mensdom te pleeg en behoort voor die Internasionale Strafhof gedaag te word.
Of het hulle betyds daarvan onttrek?

gatgogga ·

“Daarom bly selfbestuur die enigste antwoord op die mislukking van staatsbestuur.”
Absoluut.
Ons kan nie vir jare aanmekaar net hoop en bid en klae, en verder niks doen nie.
Gaan Google ULA South Africa, en kry iets waarvoor jy jouself kan beywer.

Jaco ·

maroela is n afrikaanse nuuswebwerf. meeste lesers is afrikaanssprekend en meestal wit. hier word BAIE gekla oor inperking en die regering loop lelik deur. maar ek wil graag weet: pla dit swart mense ook? Kla hulle ook? wil hulle ook inperking opgehef he?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.