Nuwe normaal, postnormaal of ou normaal?

Monica Mynhardt.

Die Covid-19-pandemie is nou al byna tot vervelens toe beskryf as een van die ingrypendste gebeurtenisse in moderne geskiedenis. Dit is ook al beskryf as die nuwe verwysingspunt van die onlangse geskiedenis wat die Tweede Wêreldoorlog in hierdie opsig vervang. Sonder enige twyfel het die koronaviruspandemie en die inperkingsmaatreëls wat ingestel is om dit te bekamp, ʼn onomkeerbare wêreldwye herskikking veroorsaak.

Een van die werklikhede wat byna onbetwisbaar vroeg na vore getree het, is die feit dat die wêreld nooit weer dieselfde na Covid sou wees nie. ʼn Verandering was noodwendig in die vooruitsig met die aard daarvan minder seker en voorspelbaar – hoe sou die nuwe normaal lyk? Watter ordes is aan’t verval, watter stryde gaan nog in die voorsienbare toekoms woed en watter nuwe werklikheid is post-Covid in die vooruitsig? Hoe lyk die voorsienbare toekoms?

Reeds in April van verlede jaar, het ʼn artikel getiteld “The Postnormal Perfect Storm” verskyn wat gepoog het om dit te voorspel – wat gaan Covid aan die wêreld doen en wat gaan uiteindelik die impak daarvan wees? Hierdie artikel beskryf die fenomeen van die postnormale tydsverskynsel – dit is ʼn sogenaamde nie-meer-nie-maar-nog-nie-tydperk waarin ou ordes en idees verval, maar daar nog nie nuwe ordes en idees tot stand gekom het om dit te vervang nie. In hierdie tyd maak dinge gewoonlik baie min sin.

Sodoende is dit eintlik ʼn vreeslike onsekere tydperk waarin die groot verandering wat plaasvind gepaardgaan met groot onsekerheid. Mense is bewus daarvan dat hulle nie sal kan terugkeer na die ou orde nie, maar is nog nie presies seker hoe die nuwe orde lyk waarheen die wêreld en werklikheid gaan neig nie. Die postnormale tydsverskynsel word so ook gedefinieer deur die feit dat hierdie grootskaalse onsekerheid ook bydra tot die wyse waarop dié tydsverskynsel uiteindelik vergestalt. Postnormale verandering word omvorm tot ʼn postnormale tydsverskynsel wanneer die kompleksiteit van die moderne wêreld en die inherente teenstrydighede daarvan bykomend as konteks verstaan word. Sodoende lei hierdie kompleksiteite en teenstrydighede in ʼn postnormale oorgang tot die chaos wat aan die kern staan van die postnormale tydsverskynsel.

Covid kan verstaan word as ʼn postnormale tydsverskynsel juis omdat dit gelyktydig vier belangrike elemente bevat – die spoed waarteen dit veranderinge teweeg gebring het, die blote grootte en skaal waarop dit plaasgevind het, die omvangrykheid van die impak daarvan asook die gelyktydigheid waarmee alles so drasties en ingrypend verander het. Hoewel ons met dieselfde wêreld na Covid gaan sit, gaan die wêreld beslis nie dieselfde lyk nie.

Uiteindelik was Covid aansienlik meer as ʼn blote wêreldwye gesondheidskrisis. Die Covid-pandemie het op die ou einde ou ordes en idees grootskaals uitgedaag, laat verval en ʼn groot herskikking tot gevolg gehad. Die wêreldwye instinktiewe reaksie teenoor Covid was vir nasiestate om in hulself te keer met harde grense wat weer soos ʼn streep deur liberaal‑demokratiese globalisme getrek is. Elke staat moes skielik weer na homself omsien met die sogenaamde globale burger wat eensklaps sy globale stad verloor het.

In hierdie opsig is daar dus ʼn mate van kritiek te lewer teen die idee van die postnormale tydsverskynsel. Covid het beslis ou idees en ordes uitgedaag en tot ʼn groot mate laat verval of herstruktureer – daar is net nie noodwendig soveel onsekerheid oor dit wat in die vooruitsig is nie. Hoewel hierdie sonder twyfel ʼn onsekere tyd is, is dit tog moontlik om te voorspel hoe die wêreld post-Covid gaan herstruktureer word deur terug in die verlede te kyk.

In die 1990’s het twee verskillende denkers twee verskillende voorspellings van die toekomstige wêreld gemaak. Die een was Francis Fukuyama van die Stanford‑universiteit en die ander was Samuel Huntington van Harvard. Eersgenoemde het in die 1990’s verduidelik hoe die liberale demokrasie die sogenaamde einde van die ideologiese ontwikkelingsgeskiedenis van die mensdom verteenwoordig. Hierdie idees is aan die res van die wêreld oorgedra en gepropageer deur die verskynsel van globalisering. Hierdie globale integrasie van mense, handel en idees het sodoende omvorm tot ʼn voertuig om liberaal‑demokratiese waardes op ʼn globale skaal te verkoop en het daarom ook tot ʼn -isme ontwikkel. Globalisme het veronderstel dat elke nasie en volk in die wêreld die liberale demokrasie met ope arms gaan aangryp en in een globaal liberaal‑demokratiese gemeenskap gaan verander – die liberale demokrasie is immers die toppunt van ideologiese ontwikkeling van die mensdom.

Hierdie gedagte is ook dit wat geseëvier het in intellektuele (Westerse) ondersteuning oor die afgelope dekades. Veral die Weste was oortuig daarvan dat dit die noodwendige rigting van die wêreld is.

Die ander denker van daardie tyd, Huntington, het egter ʼn ander wêreld in die vooruitsig gestel. Huntington het voorsien hoe die wêreld nie verlig gaan opvaar in Westerse liberale demokrasie nie, maar hoe daar veel eerder ʼn groot kulturele opkoms in die wêreld op pad is. Die Weste gaan nie vir ewig heers nie en ander kulturele blokke in die wêreld gaan veel eerder, in en deur hul kultuur, ʼn opkoms maak. Sodoende gaan almal nie in Westerse liberale demokrasie verval nie, maar gaan kultuurgroepe juis in en deur hul kulturele identiteit hul plek op die wêreldverhoog inneem. Die Weste is maar een beskawing, tesame met die Islam, die Oos-Asiatiese sfeer, Japan, die Ortodokse sfeer, Hindoeïsme, Latyns-Amerika en Afrika. Hoewel dit natuurlik nie die volle kompleksiteite van kultuur vervat nie, dien dit bloot as aanduider vir die rowwe kulturele blokke waarin die wêreld verdeel kan word.

Huntington se idees het egter nie naastenby die gewildheid verwerf wat Fukuyama sʼn het nie – die een het veel meer verenigd en vreedsaam geklink as die ander. Die een was op die ou einde ook baie onrealistieser en uit voeling met die menslike werklikheid en toestand as die ander. Tog het Covid groot skade verrig aan die hele globalistiese liberaal‑demokratiese projek. Die wêreld het uitgevind dat kultuur asook die idees wat daaruit spruit, regtig saak maak – ons almal is doodeenvoudig nie liberaal‑demokratiese globale burgers nie. Die wêreld gaan inderdaad nie in globale liberale demokrasie verenig nie – so ook gaan internasionale organisasies wat uit hierdie idees vloei eintlik ʼn baie onnoemenswaardige impak in ʼn werklike wêreldwye krisis kan hê.

Dit wat ons veel eerder gesien het, is dat state, gemeenskappe en kulture veel eerder terugkeer na die eie in ʼn soeke na oplossings en veiligheid. Een van die eerste reaksies op Covid was, en is steeds met nuwe variante, om grense te sluit. Sodoende is Covid ʼn postnormale tydsverskynsel in die omvang, aard en ingrypendheid daarvan, maar kan ʼn mens tog voorspel en voorsien hoe ʼn post-pandemie wêreld sal lyk.

Covid het net dalk tot gevolg gehad dat die tyd vir Fukuyama se idees verby is en die tyd vir Huntington se idees op ʼn groter skaal as verwag aangebreek het. Die wêreld post-Covid en post-pandemie kan dus een wees waarin die plaaslike en partikuliere al meer begin saak maak as die globale of selfs die nasionale. Die nasiestaat soos wat ons dit ken, het ook groot skade tydens Covid gely met die wyse waarop regerings wêreldwyd gekies het om teenoor hulle burgers op te tree. Sodoende gaan kultuur, kultuurblokke en globale kulturele bewegings al meer die wêreld na Covid vorm.

Daarom gaan ons tog met ʼn nuwe normaal begin saamleef, maar hierdie nuwe normaal gaan baie ou en bekende elemente bevat. Baie elemente van die nuwe normaal gaan terugkeer na die wyse waarop die wêreld eens gestruktureer was – voor die absolute oorheersing van liberaal‑demokratiese globalisme. Mense leef as gemeenskappe eerder as radikale vrye individue in ʼn globale stelsel. So ook is die individu-nasiestaat‑paradigma in ʼn groter liberaal‑globalistiese stelsel nie die enigste of eers die natuurlikste strukturering van die menslike ervaring nie – gemeenskappe maak uitsonderlik baie saak. Mense vind ook oorwegend hul identiteit, vryheid en veiligheid in hul eie kultuur en kultuurgemeenskappe.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.