Nuwe politieke skeidslyn: ‘Oop’ teenoor ‘geslote’

Foto: static.guim.co.uk

Foto: static.guim.co.uk

Waardeur laat die kieserspubliek hom lei wanneer daar, soos vandeesweek, gestem moet word?

In die ou Suid-Afrika was die begrippe links en regs bepalend. Links (dieselfde as “liberaal”) was ’n vloekwoord; regs (of “konserwatief”) ’n towerwoord.

Die begrippe het saamgehang met hoe jy teenoor die rassevraagstuk gestaan het. Linkses was in mindere of meerdere mate vir rasse-integrasie en gelyke regte; regses was vir apartheid.

In Europa was die rassekwessie en identiteitspolitiek ondergeskikte sake. Die skeidslyn tussen links en regs is op ekonomiese terrein getrek.

Linkses het meer in die rigting van die sosialisme of selfs die kommunisme geneig; regses in die rigting van die vrye mark en die kapitalisme.

In Amerika het die begrippe links en regs as sodanig selfs byna geen rol gespeel nie. Dáár was die onderskeid tussen “liberal” en “conservative”. Eersgenoemde was ten gunste van ’n sterk owerheid en gelyke regte vir alle kleure en geure; laasgenoemde vir ’n kleiner owerheid en soms ook waardes wat volgens die betrokkenes Bybels was, soos teenkanting teen homoseksualiteit, vrye seks en aborsie.

Die inhoud wat tradisioneel aan die begrippe links en regs geheg is, het mettertyd vervaag. In Europa is die harde kern van die sosialiste ná die verkrummeling van die kommunisme byna onherstelbaar geknou, ofskoon hulle met die koms van die ekonomiese krisis in 2008 nuwe lewe gekry het.

In Amerika weet niemand behoorlik waar Donald Trump, die Republikeinse presidentskandidaat, staan nie, behalwe dat hy ’n muur aan die grens met Mexiko wil bou, teen Moslems en vir die vrye besit van vuurwapens is. Maar waar staan hy ekonomies? Soms verkondig hy drie verskillende benaderings in drie agtereenvolgende sinne.

Die punt is dat “links” en “regs” wêreldwyd as nuttige kategorieë aan die vervaag is.

In sy jongste uitgawe doen die gerespekteerde Britse nuustydskrif The Economist ’n ander skeidslyn aan die hand: “oop” teenoor “geslote”.

Die “opes” is volgens die tydskrif diegene wat die globalisering van die wêreld aanvaar en hulle oopstel vir mense en idees van elders; die “geslotenes” dié wat mure wil bou en mense en idees van elders naarstig wil weer.

Ek het self al voorgestel dat “gematig” en “ekstreem” ’n goeie skeidslyn sou kon wees. Dit sny naamlik deur die links en regs van weleer.

In Europa is daar byvoorbeeld in sekere opsigte nie veel verskil tussen byvoorbeeld die Partij voor de Vrijheid (PVV) in Nederland of Syriza in Griekeland en Podemos in Spanje nie, al word eersgenoemde normaalweg as régs en die ander twee as línks beskryf. Hulle is almal teen die oop grense van die Europese Unie en die gepaardgaande vrye beweging van mense en goedere, hulle is vir die herstel van die sosiaal-demokratiese ekonomiese stelsel van ’n dekade of twee gelede, ensovoorts.

Dalk belangriker nog: Hulle is almal populisties.

Nou ja, populisme is een van daardie begrippe wat maklik is om te gebruik, maar misleidend kan wees; in sekere sin is álle politici in mindere of meerdere mate populiste. Maar laat ons populisme by gebrek aan beter definieer as komende van politici wat egte of gewaande griewe in die samelewing oordryf, voorgee dat die oplossing van ingewikkelde vraagstukke belaglik eenvoudig en maklik is, en dat net húlle dit kan doen.

Al ooit van Julius Malema gehoor? Nou ja, sy ekwivalente in Europa is mense soos Geert Wilders van die PVV (na bewering regs) of Pablo Iglesias van Podemos (glo links). In Amerika is daar betreffende inhoud en veral styl meer wat Trump en die Demokratiese rebel Bernie Sanders verbind as wat hulle skei.

Dit beteken nie dat hulle identies is nie. Tussen Adolf Hitler en Josef Stalin was daar wat betref die inhoud van hul ideologieë duidelike verskille. Hul ooreenkoms was veral in hoe hul diktature hulself in die praktyk gemanifesteer het.

Net so is daar tussen Trump en Sanders sekere ideologiese verskille. Maar albei is téén vryhandelsooreenkomste, albei maak onuitvoerbare beloftes aan die kiesers, albei is vir die bou van mure (by Trump selfs ’n fisieke muur; by Sanders gaan dit om tariefmure), en so meer.

Tradisioneel word die politieke verskil gesien as ’n reguit lyn vanaf ekstreem links (die kommunisme) aan die een kant tot ekstreem regs (die fascisme of die nasionaal-sosialisme) aan die ander kant. Tussenin is daar dan ’n klomp skakerings.

Dié paradigma kon dalk voorheen gedeug het, maar selfs toe was dit van beperkte waarde. Teenswoordig is die waarde selfs nóg minder.

Pleks van ’n reguit lyn, moet ’n mens eerder aan ’n amperse sirkel dink waar die twee ekstreme bymekaar uitkom. Met ander woorde, die grootste afstand is nie tussen links en regs nie, maar tussen ekstreem aan die een kant van die sirkel en gematig aan die ander kant.

Dit alles beteken nie dat die ekstremiste géén deel van die waarheid het en die gematigdes álles nie. Alle rigtings het bepaalde waarheidsmomente, selfs al is dit ook hoe klein – selfs die fascisme, die kommunisme, apartheid, Malema, Wilders – almal.

Die probleem is dat talle mense (en dit geld by uitstek vir professionele politici) nie in staat is om hulle in ánder se situasie in te dink nie. Hulle het dikwels ’n belangrike deel van die waarheid, maar net hul eie waarheid.

Ek het die waarheid by geleentheid met Tafelberg vergelyk. Die berg stáán, onveranderlik. Maar na gelang van waar jy na hom kyk – van Wynberg, die Tygerberg of Blouberg – verander hy steeds van vorm.

Dus: Die waarheid is absoluut. Maar dis ook relatief. En daar is meer as een waarheid.

Help dié gedagtes jou by die stembus en daarna? Nee? Vir my ook nie. Maar só is die lewe – nie swart/wit nie, maar met skakerings van grys.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

LeonR ·

Oom, Dr, Leopold, hoeveel keer het jy in die loop gestaar?? Ek is nog hier en daag jou uit om my te antwoord? Dit was 30 jaar terug en ek sukkel nog steeds met die letsels, geen mediese fonds soek my nie want, ja, ek het een ‘point blank’ in die bors gekry. Het 2 maande terug een in my huis wat my wou keelafsny gepot. Die beste is ek is die een wat toegesluit is.

Ja, ek lees al jou, u se artikels.

Leon van Rensburg

Leopold Scholtz ·

Beste Leon, ek het jou e-pos twee keer gelees, en dalk lê die fout by my, maar ek verstaan regtig nie wat jy vir my probeer sê nie. Help my asseblief. Wat het jou ervarings van 30 jaar gelede met my artikel te make?

Messelaar ·

Waarom die negativiteit teenoor trump, dalk beinvloed deur die media of druk van iewers? Waarom word die bou van n fisiese muur as onrealisties of radikaal gesien terwyl die skep van fisiese verspreidingsversperrings soos mure, forte in n ry, heinings, geen toegang zones ens. al vir eeue der eeue, deur baie volke met groot sukses al toegepas was?

Trump sê ekonomiese beleid is nie vaer as die ander nie, inteendeel, hy het baie meer praktiese ervaring en sukses self in die ekonomie behaal en weet waarvan hy praat, is dit nie?

Leopold Scholtz ·

Beste Messelaar, wel, as jy al die kere in aanmerking neem dat Trump al bankrot gespeel het – ja, dan is sy ekonomiese ervaring seker aansienlik! Aan die ander kant het Hillary geen noemenswaardige ervaring nie. Sy vertel nou oral aan werkersgehore hoe Trump werkers van die buiteland invoer omdat hy glo nie werkers in Amerika kan kry nie. As ek na die peilings kyk, begin dit haar duidelik te laat vorder. Maar weer eens, ek het maar min ooghare vir albei. As ek ‘n Amerikaner was, het ek by wyse van spreke selfmoord ernstig oorweeg. (!!) Lekker dag.,\

Kaufman ·

Een groot rede vir die opkoms van geslote wil wees is omdat globalisering nou maak dat individue nou in mekaar se persoonlike spasie beweeg. Dit was maklik vir Europa om in hulle veilige woongebiede te sit waar almal sekere kernwaardes wat aan kultuur gekoppel is respekteer, om ons destyds met klippe te gooi oor papartheid. Maar noudat hulle persoonlike spasie, hulle eie woongebiede, malls en werksplekke gedeel word met mense met ander, soms vreemde of onversoenbare waardes, nou verstaan hulle waarom ons ook ons eie spasie wou gehad het.

Leopold Scholtz ·

Beste Kaufman, dis op sigself heeltemal waar. Die probleem is wat prakties haalbaar is of nie. Of globalisering goed of sleg is, dis met ons – en dit sal in belangrikheid toeneem. Die kuns is om dit tot hanteerbare proporsies te beperk. En dis minder maklik as wat dit klink. Ek hoop jy het ‘n lekker naweek.

E ·

Die links en regs kwessies pla my nie, so dan is ek seker ‘oop’?, met natuurlik my eie ‘geslote’ waardes wat ek nooit as te nimmer sal opgee nie!, nou is ek seker ‘toe’? So ja!, nou’s ek grys. Huh?

Wat wel vir my belangrik is is waarheid, morele waardes, wedersydse respek vir my medemens, anti korrupsie!!!!!Vooruitgang, soos vandag.
Vandag het ons land ń tree vorentoe gegee.

My God is nie wit nie.
My God is nie swart nie.
My God is liefde.
My God is waarheid.

Leopold Scholtz ·

Beste E, ek deel jou oortuiging in godsdienstige opsig. Dankie dat jy dit met ons gedeel het.

Theuns ·

Dr. Leopold, bly jy is terug! U gee ‘n baie goeie beskrywing van al die politieke skakerings tussen wit en swart, maw Grys. Hier is n paar ouens hierbo wat heel goeie kommentaar lewer en verstaan wat jy probeer se en dan ander ouens wat wragtig net bevestig wat jy in jou kommentaar se! Elke ou het maar sy eie opinie gebaseer of sy eie waarheid en kan maklik praat. Ek sal ook graag wil weet wat Leon bedoel en hoe hy die aanslag op sy lewe ivb bring met jou skrywe?

Karin ·

Lanklaas n artikel so geniet. Dit spreek van jare se kennis en insig en fyn waarneming. By die Tafelberg vergelyking met die waarheid vind ek SO aanklank.

Die boek Prediker se alles kom tot niks selfs ons kennis en insig (of dit nou te doen het met dinge so klein soos elke dag se take of die oplossing of verstaan van wereldpolitiek BEHALWE
as dit ons reeds kan lei tot die verstaan van God as Almagtige en Koning van ons lewens.
Ek saluteer u oom Leopoldt!
Mag ons land en die Wereld in hierdie Waarheid vrede vind.

Leopold Scholtz ·

Beste Karin, my ore brand skoon van verleentheid. Baie dankie vir jou mooi woorde. Goed gaan!

DewaldS ·

My opinie sou meer wees dat die hedendaagse regses v kleiner, meer direkte en ‘plat’ regerings ondersteun (soos tipies in Switzerland) en dat hulle glo dat mense self die vorm en magte van hulle keliner, meer plaaslike regering moet kan kies. Die linkses daarenteen sal eerder graag groot mega-regerings met verskillende lae (soos die EU) ondersteun. Die linkses glo weer meer dat daar net een moontlike politieke stelsel kan wees an dat die regerings dieselfde moet lyk en al die mag moet hê

Dit is ‘n interessante onderwerp wat ‘n goeie gesprek deur ‘oop’ mense sou kon afgee, maar om Julius Malema aan Geert Wilders gelyk te stel laat die hoop vervaag vir enige ‘oopheid van die skrywer se kant . Om sulke soort redenasies te sien, laat mens wonder waarmee jy te doen het. Sommer net kwaadwilligheid? Of ‘n soort onkunde – of meer ‘n onvermoë – selfs al is dit net ‘n onvermoë tot redelikheid waar dit regses aangaam? Hanlon se skeermes sê dat mens nooit gedrag aan kwaadwilligheid moet toeskryf wat aan onvermoë toegeskryf kan word nie. So – ek sal dit nie doen nie.

Leopold Scholtz ·

Beste neef Dewald, Sowel Wilders as Malema is populiste wat ‘n klomp onuitvoerbare dinge beloof en ‘n sekere minderheid as sondebok uitkies. Natuurlik verskil die inhoud van hul denke. Die manier waarop hulle dink, is dieselfde. Dit spyt my dat jy dit nie wil insien nie. Maar nou ja, dan verskil ons maar daaroor. Lekker naweek, en s^e groete vir die Scholtze daar in jou wereld!

Louwrens ·

Ja nee, ek stem saam dat ek ook nie altyd die kloutjie by die oor kry wanneer sommige lesers kommentaar lewer oor n spesifieke onderwerp nie. My komplimente aan die skrywer.
Ek glo dat hoe meer ons onsself en ons kultuur eksklusief wil hou (ekstreem regs) hoe meer en vinniger gaan ons dit verloor. Dieselfde geld na die ekstreme linkse kant toe. Oorlewing in enige samelewing beteken noodwendig dan dat ons die goue middelweg moet volg of soos die skrywer dit stel, “die grys area” As meer mense dit verstaan het kon daar dalk nou al n meer gebalanseerde regering aan bewind gewees het.

johan ·

Beste Leopold
Ek geniet jou artikels oor wereldgebeure in die Afrikaanse dagblaaie. Dit getuig van insig in die geskiedenis en gebeure in Europa.

Tov jou jongste artikel die volgende:
Elke tipering skep sy eie probleme. Oop grense is immers maar een aspek van ‘n saak met baie kante.(Jou Tafelberg argument) Volgens hierdie indeling word Afrika lande en swaargewigte soos Duitsland, Frankryk en die VSA rofweg in dieselfde kamp geplaas. Amper die hele Afrika kan as ‘oop’ beskryf word – vir ten minste ander Afrikane. In Europa is Duitsland en in ‘n mindere mate Frankryk se grense ten minste gedeeltelik oop vir vlugtelinge uit Sirie. Amerika se grense is amptelik toe maar Mesikane beweeg in hul duisentalle heen en weer oor die grens. Beteken dit dat jy hierdiehoogsontwikkelde lande nou in dieselfde kamp as Afrika lande plaas? Dit terwyl daar eintlik bitter min is wat hulle andersins deel.

Geen indeling is waterdig. Elke tipering het sy probleme. Dit bring ons terug by grys nie waar?
Vraag is : bly die ‘outydse’ verdeling van ‘ontwikkeld’ en ‘minder ontwikkeld’ nie maar ‘n beter tipering ?
Groete
Johan

Veritas ·

Johan. Jy vra vrae wat my ook kwel. Ongelukkig is dit ook ‘grys’ vrae met ‘grys’ antwoorde. Dinge soos taal, kultuur, godsdiens en assosiasie, kom hier ter sprake. Na my mening, is die woord ‘tipering’ die groot sondebok. Mense met dieselfde taal, kulltuur en godsdiens sal uiteraard verkies om met ander diesulkes te assosieer. Ras of herkoms het niks daarmee uit te waai nie maar die vinger word vinnig gewys na groepe vir wie, hierdie waardes belangrik is. Aan die ander kant moet mens vra of iemand wat dit teenstaan, dan heeltemal ‘anders’ of verkeerd is? Moeilike vrae met nog moeiliker antwoorde. Wat ek wel weet is dat ‘n mengelmoes van tale, kulture en godsdienste, nooit in harmonie sal kan saamleef nie. Die verskille is té groot.

Johan 2 ·

Ek hou van jou redenasie Veritas. Daarom hou ek ook van Mr. Putin. Hy glo lyk my ook nie in die mengelmoes wat die EU probeer skep het en wat nooit in harmonie kan werk nie. Oulike boek(ie) van MS. King oor Mr. Putin op kindle as jy meer wil lees. Vriendelike groete J.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.