Nuwe rade gaan kontrakte hersien

unie-gebou-pretoria

Die munisipaliteit van Tshwane in die hoofstad Pretoria is een van die rade wat na vanjaar se verkiesing onder nuwe bestuur is. Foto: Falco/Pixabay.com

Deur Stefan Pieterse van AfriSake

Eerbare sakelui het niks te vrees nie

Na die munisipale verkiesing is ʼn groot aantal munisipaliteite onder nuwe bewind. Die grootste hiervan is Nelson Mandelabaai, Tshwane en Johannesburg, wat met die hulp van kleiner partye nou DA-burgemeesters het.

Die vraag is wat dit inhou vir sakelui wat met die rade handel dryf en of van hierdie kontrakte summier opgeskort kan word?

Volgens die sakeregte waghond, AfriSake, val die mantel van die vorige raad gewoonlik op die skouers van die nuwe, met al die bestaande regte en verpligtinge wat aan die nuwe party oorgedra word.

Die DA se hoofonderhandelaar, asook die EFF se nasionale voorsitter, adv. Dali Mpofu, het dit egter duidelik gemaak dat waar hulle die septer swaai, ʼn oudit gedoen sal word van alle bestaande munisipale kontrakte met bestaande diensverskaffers.

Beide partye het groot gewag gemaak van hul standpunt teen korrupsie en dit is op grond daarvan dat hulle bestaande kontrakte onder die vergrootglas wil bestudeer, om seker te maak nie nog van belastingbetalers se geld word gemors nie.

In Tshwane het die DA spesifiek die omstrede elektrisiteitsslimmeterkontrak, die breëbandkontrak en die openbare-private vennootskap vir die bou van die nuwe munisipale hoofkantoor, Tshwane-huis, uitgesonder as kontrakte wat hulle onder die vergrootglas gaan plaas met die oog op kansellasie.

AfriSake het reeds vroeër vanjaar ʼn hofinterdik teen die (toe ANC beheerde) stadsraad verkry, wat die stadsraad verbied het om R950 miljoen aan PEU Capital te betaal. Volgens Stefan Pieterse, AfriSake se woordvoerder, is letterlik miljarde rande oor die laaste 3 jaar met die kontrak gemors en onnodige litigasie kan vermy word as munisipaliteite kontrakte op grond van meriete en nie politiek nie, aangaan.

Dit laat die vraag ontstaan: waar laat die oorgang van munisipale rade sakelui wat tans met sulke munisipaliteite sake doen, of kontrakte het?

Adv. Werner Zybrands, kenner van munisipale  bestuur, sê diegene wat op ʼn eerbare wyse handel dryf, het niks om te vrees nie. Die munisipaliteite behoort eenvoudig bestaande kontrakte te eer en sou dit nie die geval wees nie, is daar genoeg meganismes om regsbeskerming aan verontregte kontrakteurs te verseker.

Daar is egter twee situasies wat daartoe aanleiding kan gee dat ʼn nuwe raad ʼn kontrak met ʼn diensverskaffer regmatig beëindig, sê Zybrands.

Die munisipaliteit kan ʼn onreëlmatige kontrak ter syde laat stel waar nie aan die wetsvoorskrifte voldoen is nie. Hy beklemtoon die bewyslas berus op die munisipaliteit om die hof van sodanige onreëlmatigheid te oortuig. As die munisipaliteit daarin slaag, sal die regsgevolge van die tersydestelling deur die hof hanteer moet word.

As die onreëlmatigheid aan die kant van die munisipaliteit is en sonder die kontrakteur se medewete geskied het, soos waar die munisipaliteite nie hul eie interne goedkeuringsprosesse gevolg het nie, sal die onskuldige kontrakteur hom kan beroep op die regsbeginsel van estoppel, sê Zybrands. Dit behels die munisipaliteit is verbind tot sy eie wanvoorstelling (dat hy wel die nodige wetsvoorskrifte nagekom het) en die kontrak sal staande bly.

Zybrands sê die ander situasie wat tot die beëindiging van ʼn kontrak kan lei, is wanprestasie deur die kontrakteur. Hy sê daar is verskeie maatreëls in bestaande wette wat prestasiemeting verg. As die kontrakteur byvoorbeeld ʼn duisend huise moes bou, maar net 40 gelewer het, stel hy hom bloot aan regsoptrede deur die munisipaliteit.

Daar is egter voorgeskrewe prosesse vir die beëindiging van so ʼn kontrak, sê Zybrands. Die munisipaliteite moet die kontrakteur in kennis stel hy kom nie sy kontraktuele verpligtinge na nie en hom ʼn kans gee om dit reg te stel. As die kontrakteur nalaat om die gebreke te herstel, kan die munisipaliteit die kontrak beëindig.

Zybrands verwag nie ʼn vlaag litigasie in reaksie op die oudit van kontrakte deur nuwe rade nie. Hy sê as die rade een of twee groot sake takel en dit volvoer deur die geld wat in terme van bedenklike kontrakte uitbetaal is deur siviele aksie te verhaal, sal sakelui wat geraak word, gou besef hul sakke is nie so diep soos die van die munisipaliteit nie en skikkings aangaan of retireer.

Volgens AfriSake is litigasie is altyd die laaste uitweg en sal hy graag met die nuwe rade wil vergader om korrupte kontrakte te kanselleer, eerder as om later hof toe te gaan. “Dit is ons standpunt met al die regsake wat ons aanpak. Ons vergader eers en put interne remedies uit, maar as ons geen ander opsie het nie, bly die hof ons enigste en laaste opsie om ons lede se belange te beskerm,” het Pieterse afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

hans ·

Ek is seker julle gaan as rassiste uitgekruit word, as julle die petalje gaan oopkrap!

John ·

Munisipaliteite was die ANC se junior regering en ‘n groot werkskepper, die ‘extended family’, waar mens van nerens iemand kon word, met die geldlaai wat feitlik sonder toesig oopgestaan het. Daar is baie verwoede mense wat skielik weer op parkbankies sit. Andere wat by slinkse kontrakte gebaat het, beraam hul oorlewing dmv verdere onderduimse aksies. Die regering besef dit maar te goed. Die nuwe besture kan ‘n groot aanslag verwag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.