Nuwe regering vir Duitsland: nog verder links

Olaf Scholz (Foto: Tobias SCHWARZ/AFP)

Na wekelange, soms taai onderhandelinge het drie Duitse partye die sogenaamde “Ampelkoalition” bekendgestel (Ampel is die Duitse woord vir verkeerslig en verwys na die drie koalisievennote se partykleure rooi, geel en groen). Die grootste party is die Sosiaal-Demokrate met Olaf Scholz as kansellier. Die twee kleiner vennote is die Groen Party en die Vrye Demokrate.

Indien die lang Merkel-bewind soos ʼn skuif na links gevoel het, beweeg dinge onder die nuwe regering met asemrowende tempo nog verder links, weg van die laaste bietjie burgerlike en konserwatiewe oorblyfsels. Die koalisie beskryf homself as progressief en belowe groot en drastiese veranderings. Die Vrye Demokrate is slegs ʼn effense remskoen wat die ekonomiese beleid betref. Wat maatskaplike kwessies betref, verskil hulle weinig van die Sosiaal-Demokrate en Groenes. Aborsie sal nou volledig gewettig word en die agenda vir alle sogenaamde minderhede sal nou nog meer as ooit bevorder word. Duitsland gaan nou nog meer as in die verlede op die voorpunt van die globale “woke”-beweging wees.

Een van die eerste aankondigings was dat die privaat gebruik van dagga gewettig sal word. Verder sal die ouderdom om te kan stem van 18 na 16 verlaag word. Sowel Groenes asook die Vrye Demokrate het groot steun onder die jeug, oftewel die millenniër-generasie, en wil op dié manier hulle greep op die mag verseker. ʼn Aansienlike deel van die nuwe parlementslede is reeds verteenwoordigers van die partye se jeugvleuels, wat nog meer linksgesind as hulle hoofpartye is.

Annalena Baerbock (links) en Robert Habeck van die Groen Party. Foto: (Guido Kirchner/dpa via AP)

Een van die hooftemas van die verkiesingsveldtog was die stryd teen klimaatsverandering, en dit vind ook sy duidelike inslag in die koalisieverdrag. Alternatiewe energie word daadwerklik uitgebou en die uitfasering van steenkoolverbranding vir energieopwekking word na 2030 vervroeg. Vir motoriste en ondernemings wat groot hoeveelhede energie verbruik, sal dinge nog duurder word. In ruil daarvoor sal openbare vervoer verbeter word. Robert Habeck, leier van die Groenes, sal nie net vise-kansellier word nie, maar ’n nuwe super-ministerie vir ekonomie en klimaatsbeskerming bekom.

Een van die kernprobleme van Europa, naamlik onwettige massaimmigrasie, sal onder die nuwe regering selfs nog verder bevorder word deurdat die reeds lae drumpels om Duitsland binne te kom en aan te bly, nog verder verlaag word. Dit sal ook nog makliker vir immigrante met een of ander vorm van verblyfreg word om hulle uitgebreide familie na Duitsland te bring.

Op ekonomiese gebied sal ʼn minimumloon van 12 Euro per uur ingestel word. Te danke aan die Vrye Demokrate sal belasting en skuldvlakke egter nie nog verder verhoog word nie, alhoewel, danksy talle indirekte verbruikersbelasting, die mense finansieel nog slegter daaraan toe sal wees. Ook op die terrein van behuising wil die staat weer meer betrokke raak en nie net meer gesubsidieerde behuising skep nie, maar ook huurverhogings met wette beperk. Met toenemende massaimmigrasie sal bekostigbare behuising ook in die toekoms een van die hoofprobleme van Duitsland wees.

Annalena Baerbock. (Foto: ANNEGRET HILSE/POOL/AFP)

Wat buitelandse sake betref, sal Duitsland nog meer as wat tans onder minister Heiko Maas die geval is naïef-idealisties as pragmaties en belanggedrewe wees. Annalena Baerbock, die aangewese minister van buitelandse sake en Groenes se medeleier en kansellierskandidaat, beskik oor baie beperkte insig in buitelandse sake en oor min eienskappe wat nodig is om die belange van jou land op internasionale toneel met waardigheid en beslistheid te verteenwoordig.

Duitsland sal nou nog meer as onder Merkel sy krag en invloed gebruik om die Europese Unie in ʼn federale superstaat met ʼn progressiewe agenda te verander en sal aanwysings vanuit Brussel getrou uitvoer. Die reeds diep kloof tussen die EU se state, veral diegene in Oos-Europa wat hulle soewereiniteit koester, en globaliste wat die EU net as voortuig vir hulle eenwêrelddroom gebruik, sal nog dieper raak. Beperkings op wapenuitvoere in konflikgebiede is ’n welluidende voorneme, maar sal net meebring dat Duitsland sy ekonomiese invloed verder ten gunste van China, die VSA en Rusland verloor.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Bees Boer ·

Ai, ek’t gehoop die AfD sal een of ander tyd iets regkry.

Hoekom ·

Om links te wees beteken niks anders as iemand wat sy land en die burgers daarvan uitverkoop vir ‘n ekstra paar munte in die sak nie. Om links te wees is om jou land en sy mense te verraai en die kinders se toekoms onder hulle neuse uit te vee. Om links te wees is om jou kultuur en die se morele waardes te besoedel en te betas met waansinnige idees gebou op narsistiese mens wees, in plaas van wetenskaplike en godsdienstige beginsels. Om links te wees is om af te brand, instede van om op te bou. Om links te wees is om verskonings te soek na probleme, eerder as oplossings. Om links te wees is om soos dit ‘n narsis betaam, jou eie stert na te jaag…

pieter ·

wag maar tot hierdie immigrante getalle buite beheer begin raak dan gaan hulle laaaang trane huil, maar dit sal helaas te laat wees

Christian ·

Ek stem saam dat die hele wereld beweeg te vinnig in die “woke” rigting in. Ongelukkig of gelukkig het Duitsland ‘n heelwat anderse probleem as Suid-Afrika as dit kom by werks geleendhede. Duitsland het nie genoeg werkers vir die blouhalsnywerheid nie en met die tweede oudste bevolking in Europa word hulle ook gedwing om hul grense oop te maak om hierdie hand arbeid poste te vul wat die Duitsers self nie wil doen nie. En glo my dit is nie so maklik om in Duitsland in te kom nie.

@ Bees Boer, die AfD is nie die antwoord nie. Ja, sowat 20% van wat hulle voorstelle maak sin, maar hulle is net te ver “regs” en as dit kom by vroue en mense regte wil hulle ons terug vat na die 1800’s toe.

Wet en order bestaan nog in Duitsland. Met al die additionele “buitelanders” is dit nog steeds ‘n baie veiliger en voortstrewende land as SuidAfrika ooit kan wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.