Nuwe taalbeleid: Maties gerekoloniseer

Deur Bernard Pieters

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) het onder leiding van Wim de Villiers vir Engels en die koningin ʼn “oorWimming” behaal oor logika, wetenskap en Afrikaans.

Ek glo dat as jy hierdie artikel nou lees, jy (en die US-bestuur) nou alreeds al die wetenskaplike argumente en feite gehoor en gelees het oor hoekom hierdie besluit nie prakties is nie en nie in die belang van Suid-Afrika of die plaaslike gemeenskap is nie. Hierdie meningstuk poog dus nie om weer pêrels voor die US-bestuur te gooi nie, maar eerder om iets vir die jeug te bied om van kennis te neem en ʼn oop vraag aan die gehoor te stel.

Konteks

Die afgelope 27 jaar word transformasie as verskoning gebruik om rassistiese en eksklusiewe reëls te implementeer teen minderhede tot die punt waar die DA beweer dat daar vandag meer rasgebaseerde wetgewing as tydens apartheid is.

Die US-raadsvoorsitter, George Steyn, begin die artikel oor die US se nuwe taalbeleid met seker dié swakste argument wat die instelling in sy 100 jaar plus se bestaan al ooit gepubliseer het. Hy voer aan dat die US gemeenskappe reg oor die wêreld moet bedien – met Suid-Afrikaners se belastinggeld, iets wat hy en die US versuim om te noem. Die argument is dus dat ʼn land wat een van die armste bevolkings, van die grootste inkomste-ongelykhede en van die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld het, moet fokus op die belange en bevordering van buitelanders wat in Engels studeer by ʼn instelling wat Suid-Afrikaners befonds.

Geen gevolge vir huidige besluitnemers nie

Klink die volgende terme vir jou bekend: divers, transformasie, inklusiwiteit, verbind ons opnuut?

Hierdie woorde en terme is gebruik om die Poskantoor reg te stel, om die Polisiediens reg te ruk, om die weermag te moderniseer, om die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) uit te brei, om Eskom te versterk, om munisipaliteite meer toeganklik te maak en nou die US meer aanloklik te maak vir studente van China en Angola met Suid-Afrikaners se belastinggeld. En gebou op die prestasies en opofferings van Afrikaanssprekendes deur die voorafgaande dekades.

Ironie

Die US se besluitnemers van vandag sal nie meer oor 20 jaar in hul huidige posisie wees om die gevolge van hul besluit te ervaar of om verantwoordelikheid daarvoor te neem nie.

Die ironie in al hierdie gebeure is dat die bestuur wat die Poskantoor getransformeer het, vandag DHL of PostNet gebruik, die Polisiediens is vervang deur privaat sekuriteitsmaatskappye, die SAUK se raad van ouds kyk vandag almal DStv in hul luukse aftreeoorde. Eskom se raad gebruik kragopwekkers of Tesla-muurselle (batterye) en maak hul Facebook-profiele privaat sodat niemand hulle kan “tag” in beurtkragplasings nie.

Net soos die onderwysers en beheerliggame van sommige skole tans enkelmedium skole opoffer, vir verskeie persoonlike redes, sal hulle kleinkinders eendag in Curro- of AfriForum-skole onderrig ontvang. Net soos die huidige bestuur van Maties se kleinkinders en hul kinders óf oorsee sal uitwyk, óf privaat instellings sal bywoon in Suid-Afrika.

Leë beloftes

Die taalbeleid is só geskryf dat, indien slegs twee klasse by die US in Afrikaans aangebied word, dit steeds aan basies alle aspekte van die nuwe beleid sal voldoen. Deur te sê dat die US meertaligheid wil bevorder deur Afrikaans te verminder en af te gradeer, is nie wat die HAT as “bevorder” sou definieer nie.

Die US onderneem ook dat die drie amptelike tale van die Wes-Kaap gebruik en bevorder sal word, MAAR dan sê die US die volgende: “Daarbenewens moet die taal wat in studentegemeenskappe (koshuise en privaatstudenteorganisasiewyke) gebruik word almal insluit en in staat stel om deel te neem.”. Hierdie is die fynskrif waaroor daar altyd in TV-programme gespot word. Hierdie een sin kan gebruik word om die eksklusiewe gebruik van Engels by en in alle fasette van die US-struktuur voor ’n hof regverdigbaar te maak.

Waaroor was sosialisme reg?

Karl Marx, die vader van Marxisme, het in sy boek Das Kapital sy teorie van sosialisme en kommunisme baseer op die enigste feit in die boek, naamlik dat ʼn groep elite wat uit voeling is met die gewone mens, besluite neem waarvoor hulle self geen gevolge dra nie, maar die mense onder hulle dit moet doen. Hierdie situasie lei tot revolusie in ʼn land en die siklus herhaal homself. Marx se “sosialisme”-oplossing, weet enige persoon wat al ʼn geskiedenisboek oopgemaak het, werk nie en het soveel mense doodgemaak dat dit die aarde se klimaat beïnvloed het.

Tog was die basiese stelling van sy boek reg. Hier sit ons en kan nou Maties by Eskom, die Poskantoor, SAUK en Polisiediens, asook vele ander staatsondersteunde instellings voeg. Tog dra die besluitnemers weer geen gevolge vir hul besluite nie.

Hoe kan ʼn gemeenskap wat die gevolge van ander se besluite dra die besluitnemers aanspreeklik of verantwoordbaar hou wanneer die howe en akademici ons in die steek laat? Tyd sal leer.

  • Bernard Pieters is die bestuurder van AfriForum Jeug.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
casper

Die “besluitnemenrs” is net ANC poppies wat dans net soos die krieketers kniekruip.

Groen Ghoen

Wat ‘n bittere moeilike saak, in wese die gevolge van dit wat deur die gestorwe Nasionale Party (nie) beding is (nie). Tragies dat Jannie Marais se nalatenskap so vertrap word.

Nici

Hierdie artikel is baie goed geskyf!

Jan Seerot

Dít is wat die “kolon” in koloniseer probeer sê.