Nuwe tendense in Suid-Afrikaanse protesmusiek

Skermskoot uit die "Nkandla Style - MRE version"-video

Skermskoot uit die “Nkandla Style – MRE version”-video

Musiek is sekerlik een van die bekendste kunsvorme waarmee protes teen die establishment aangeteken word, en van die liedjies wat ikonies geword het uit die Viëtnam-era – soos Creedence Clearwater Revival se “Fortunate son” en Joe McDonald se “Feel like I’m fixin’ to die” – is liedjies wat duidelik uitgesproke is teen die establishment.

Ook in Suid-Afrika is protesmusiek welbekend, met veral die Voëlvry-beweging – onder leiding van Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis en Bernoldus Niemand – wat wyd bestudeer is. In die nuwe Suid-Afrika sou ‘n mens kon aanvoer dat protesmusiek selfs meer gereeld voorkom, en ook nie beperk is tot ‘n enkele genre nie, maar oor die hele spektrum voorkom.

Alternatiewe kunstenaars soos Fokofpolisiekar het natuurlik protesliedjies opgeneem, byvoorbeeld “Brand Suid-Afrika” en “Antibiotika” asook Glaskas in liedjies soos “Meneer” en “Geagte Meneer President” en Klopjag se bekende “Ek sal nie langer”.

Populêre kunstenaars het ook protesliedjies opgeneem: Van Lianie May in “Pretoria” tot Bok van Blerk in “So waai die wind”, “Die kleur van my vel”, “Konyn”, “Tyd om te trek” en “Kaplyn” tot Steve Hofmeyr in “Ons sal dit oorleef”. In Afrikaanse industriële musiek is Terminatrix se “Siek+sat”, Nul se “Man van Telkom” en “Mystic Bohemia” asook Battery9 se “Geen genade” en “Blaas hom” voorbeelde van protesliedjies.

Protesliedjies word selfs in Afrikaanse ekstreme-metal aangetref, waar groepe soos K.O.B.U.S., Dieversion en Mind Assault protesliedjies opgeneem het. Koos Kombuis het ook nooit ‘n vollengte album van protesliedjies teen die NP-regering opgeneem nie, maar wel in die nuwe Suid-Afrika (Bloedrivier, 2008). Reeds in 2010 is ‘n lys van Afrikaanse protesliedjies opgestel in Senekal en Van den Berg, maar dié lys sou nou aansienlik uitgebrei kon word. Natuurlik is dié slegs Afrikaanse protesliedjies, maar Engelse protesmusiek kom ook voor.

Binne die genre van protesmusiek word verskeie kunsvorme aangewend, onder andere dié van die parodie, en dit is hierdie verskynsel wat in die afgelope paar jaar ‘n interessante verskynsel geword het. ‘n Parodie is ‘n herskrywing van ‘n oorspronklike (en gewoonlik ernstige) teks, gereeld op ‘n lagwekkende wyse, en kan ook as ‘n vorm van satire beskou word.

Parodie is natuurlik reeds teenwoordig in die liedjies van Voëlvry, soos Johannes Kerkorrel se “Wat ‘n vriend het ons in PW” wat geskryf is op die melodie van “Wat ‘n vriend het ons in Jesus”. In die nuwe Suid-Afrika parodieer Koos Kombuis Johannes Kerkorrel se “Sit dit af” met “Sit dit aan”, ʼn liedjie wat nou oor Eskom en beurtkrag handel. Van Coke Kartel parodieer Carike Keuzenkamp se “Dis ‘n land” op ‘n treffende wyse deur die oorspronklike patriotisme en optimisme te vervang met lirieke soos: “Dis ‘n land van korrupsie en goddank / Dis ‘n land van liefde vir drank”.

Meer onlangs het ‘n aantal parodieë op YouTube verskyn wat sosiale media benut. Een hiervan is ‘n liedjie geskryf op die melodie van Amy Winehouse se “Rehab” wat protes aanteken teen die e-tolstelsel in Gauteng. Die liedjie is vervaardig deur Glenn Welman en opgelaai op 28 Januarie 2014. Welman het die oorspronklike lirieke herskryf, en die vokale is gedoen deur Nicki-Lee Dorea. Die lirieke begin só:

They tried to make me buy an e-tag, but I said no, no, no
If I’m white or black, I won’t be doing that, no, no, no
I aint got the time, and if SANRAL thinks it’s fine
They tried to make me buy an e-tag, but I won’t go, go go
I’d rather stay at home than pay
I ain’t gonna pay within seven days

Die liedjie is nie alleen uitdagend nie (soos die oorspronklike liedjie van Winehouse), maar merk ook dat protes teen die e-tolstelsel verskeie bevolkingsgroepe in Suid-Afrika saamgesnoer het (reël 2). Ook gaan dit nie bloot om entniese groepe wat saamgesnoer word nie; selfs klasse word in die liriek saamgesnoer: “It don’t matter what your class / Tell Vusi Mona to kiss your ass!” Wat dus veral opval in hierdie liedjie is dat dit ‘n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse protes teen die regering aanteken, nie bloot vanuit een etniese groep nie (anders as byvoorbeeld Bok van Blerk se lirieke wat vanuit die oogmerk van die Afrikaner gerig is).

Welman het ook in Maart 2014 die “JZ-song” vrygestel, wat geskryf is op Bruno Mars se “The Lazy Song”. Dié liedjie begin:

Today I don’t feel like being president
I just wanna lay in my bed
Don’t feel like picking up the phone
Wish the press would just leave me alone
Cuz today I swear I’m not being president
Gonna put my feet up and read the Daily Sun
I ain’t gonna page through the Mail & Guardian
Cuz Zapiro showered me again
Now the Guptas called again
I wish they’d lose my number
Cuz I ain’t gonna let them land at Nkandla
The astroturf won’t take a Boeing
Yes I said it, cuz I read it
I spun it cuz I can

Today I don’t feel like being president
I just wanna lay in my bed
Don’t feel like picking up the phone
Wish the press would just leave me alone
Cuz today I swear I’m not being president
I’m just gonna sing:
“Umshiniwam umshini wam”
“Umshiniwam umshini wam”

Tomorrow I’ll wake up and meet up with my ex
Maybe one of my wives, have some really nice sex
Then they’re just gonna want taxi fare…
“I want taxi fare”
I might go to school, get my college degree
Cuz all these numbers are really messin’ with me
“Nine hundred and thirty nine million three thousand and sixty thousand”
Yes I said it, cuz I read it
I spun it cuz I can

Dié liedjie dryf die spot met verskeie dinge waarvoor die presidentskap van Zuma bekend gework het: Die Gupta’s, die bewering dat dit nie verkragting is as ‘n man vir ‘n vrou taxigeld gee nie, ensovoorts.

‘n Verdere protesliedjie op YouTube is ‘n parodie van PSY se “Gangnam style” wat nou “Nkandla style” geword het. Die video is op 27 Maart 2014 op Youtube gelaai (die skrywer is onbekend), en is teen 31 Maart reeds 250,000 keer gekyk. Alhoewel die oorspronklike video verwyder is, is twee plaasvervangers opgelaai: Een met die lirieke (wat nodig is om reëls soos “Shake it Shake it Shaik it” te verstaan), en een met videogrepe (die sogenaamde MRE-cut) wat ‘n dansende President Zuma en verskeie insidente uit die nuwe Suid-Afrika uitwys (byvoorbeeld die onlangse gebaretolk-insident, e-tolhekke en regeringskonvooie). Die lirieke lui soos volg:

Since the day I can remember, I always wanted more
I wanted more money like the Afrikaner Boer
So I became a comrade when I was still young
And yes to have it all I must be Number One

If you’re Number One
You get to drive the gravy train
If you’re number One
You get to fly the Gupta’s plane
If you’re number One
You know the power of the shower
Number One, Number One

Yes I’m swimming in your money
But I don’t know, I don’t know
Skinny dipping with all my honeys
We’re in the pool, my fire pool
We’re gonna party party Marco Polo yo yo yo
Nkandla style

Hey lazy JZ
Hey this is crazy
Hehehehehe

I get you out of jail, just shake it shake it Shaik it
And if the scandal bites get very sick or fake it
Another empty promise will make the nation see
I am the Number One and I’ll set my chickens free

From the streets of Limpopo I met a Skippy dog
Defecating in the kitchen, Skippy the bog
But to really love a dog, it is a white man thing
So I fired Skippy dog ‘cause I had enough of him
And if you’re number two, you go down the drain
So for Skippy dog it’s EFF off and no more gravy train
I am the Big Kahuna, the Mighty One Induna
And the Public Protector, I never should’ve kept her

Hierdie liedjie is ryk van kommentaar op die Suid-Afrikaanse regering, en gooi die net aansienlik wyer as blote verwysings na Nkandla deur ook byvoorbeeld die Gupta-kontroversie, die Shaik-saak en verwysings na Malema in te sluit. Let op die voorkoms van die persepsie dat Afrikaner wit mense ryk is, en ook die benoeming van wit mense as “Boere”. So ‘n uitlating erken dus geensins dat daar wel ryk swart mense sowel as arm wit Afrikaners onder die NP bestaan het nie. Die persepsie is egter belangriker as die werklikheid in sosiale media, aangesien dit dui op waarin mense glo.

Bogenoemde liedjies gebruik die parodie om op verskillende wyses met die oorspronklike liedjie in gesprek te tree. In die geval van Koos Kombuis se “Sit dit aan” sluit sy liedjie aan by die gees van protes wat in Kerkorrel se “Sit dit af” uitgebeeld word, terwyl Van Coke Kartel juis die gees van Carike Keuzenkamp se “Dis ‘n land” aanval. In die geval van die YouTube-video’s word die gees van die oorspronklike liedjie in ‘n nuwe konteks geplaas: Winehouse se uitdagendheid teenoor dié wat haar in rehabilitasie wil plaas word uitdagendheid teenoor die regering, Bruno Mars se luilekker atmosfeer word kritiek op Zuma se luilekker lewensstyl, en PSY se vrolike partytjie-atmosfeer word implisiete kritiek op Zuma se weelderige lewensstyl.

Wat ook interessant is, is hoe gewild die video’s is. “They tried to make me buy an e-tag” is teen 4 April reeds 100 611 keer gekyk, en 1 556 mense het aangedui dat hulle daarvan hou, teenoor 41 wat nie daarvan gehou het nie. “The JZ-song” is teen 4 April 2014 nog slegs 4,252 keer gekyk, met 68 persone wat aangedui het dat hulle daarvan hou, teenoor 1 wat nie daarvan hou nie. Die oorspronklike video van “Nkandla style” is verwyder, maar vervang met ander: Een met slegs lirieke is op 30 Maart opgelaai en is teen 4 April reeds 27 213 keer gekyk, met 176 mense wat aangedui het dat hulle daarvan hou, teenoor 6 wat nie daarvan hou nie. Die ander is ook op 30 Maart opgelaai en is teen 4 April reeds 43 342 keer gekyk, met 310 mense wat daarvan gehou het, teenoor 17 wat nie daarvan gehou het nie. In al drie gevalle trek dié protesliedjies dus heelwat aandag, en boonop hou die oorweldigende meerderheid kykers daarvan. Die liedjies is ook deur middel van ander sosiale media versprei, insluitend BBM.

Dié video’s dien ook as aanknopingspunt vir aanlyngespreksvoering. Soms is kommentare beperk tot die onderwerp, soos een kommentaar op “They tried to make me buy an e-tag”:
Bloody darn brilliant! Sanral go #@ck yourself”. Ander male word groter kwessies betrek, soos ‘n kommentaar op dieselfde liedjie:

I am white. I cannot find a job. Have to work for myself. My son has no future. He will have to work for me. While I am trying to build a future, the ANC and their Economic Fat Fighters screw up the rand/dollar rate. The ANC tax me to death. I cannot find a lot of work out there, because to do that, I have to get a black partner, which will want the money but won’t want to work. Look what happened to Piet Retief when he signed the treaty with Dingaan!!!! He and his family (including his 12 year old son) was slaughtered. That is a lesson in history I will never forget.

Die prominensie van sosiale media soos YouTube skep natuurlik die geleentheid om ander dimensies van protesmusiek te bestudeer, byvoorbeeld hoe dit ontvang word.

Protesmusiek sal altyd een van die uitlaatkleppe van onvergenoegdheid met die establishment wees, en juis ook in Suid-Afrika met sy lang geskiedenis van protes. Onlangse YouTube-video’s (daar is sekerlik nog vele meer as wat hier genoem is) dui daarop dat sosiale media ‘n belangrike rol begin speel in die bekendstelling van protesliedjies, en die kreatiewe gebruik van die parodie blyk ‘n gewilde vorm van protes te wees op hierdie platform. Ook kyk kunstenaars na internasionale brontekste in ‘n geglobaliseerde wêreld, juis omdat die parodie slegs slaag as die ontvanger van die boodskap die bronteks ken en die verband kan raaksien. Daar kan verwag word dat die toekoms nog baie meer sulke liedjies sal oplewer wat internasionale treffers parodieer en op sosialemedia-kanale bekendstel.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae