Nuwe woelinge oor die Brexit

Theresa May, die Britse eerste minister. (Foto: Francois Mori, AP)

Die Britse regering onder eerste minister Theresa May stoei nou al geruime tyd oor die toepassing van die Brexit-besluit oor uittrede uit die Europese Unie (EU). Die strydpunt is of dit ’n “sagte” of ’n “harde” Brexit moet wees. Eersgenoemde is wat die elite en veral die ekonomiese leiers soek, laasgenoemde is wat die nasionalistiese faksie binne die Konserwatiewe Party wil hê. Hul mees prominente verteenwoordiger is Boris Johnson, minister van buitelandse sake. Ook David Davis, die Britse hoofonderhandelaar oor die Brexit, is deel van die faksie wat nie wil toegee nie.

Mev. May het onlangs by ’n partyvergadering ’n kompromis bereik wat, so was die hoop, beide kante tevrede stel: Brittanje wil deel wees van ’n vryhandelsone met die EU waar handel veral oor goedere gaan, maar wil self besluit oor die beweging van persone. Een van die hoofredes vir die Brexit-oorwinning in die referendum van 2016 was juis dat binne die EU geen kontrole oor die beweging van persone meer moontlik is nie en onbeperkte migrasie dus kan plaasvind. Die voorstel van mev. May is eintlik ’n terugkeer tot die oorspronklike Europese Ekonomiese Gemeenskap, waarvan Brittanje in 1973 deel geword het.

Vir die EU-leiers en die hoofonderhandelaar van die EU, Michel Barnier, is die gemeenskaplike mark (oftewel ’n EU sonder interne grense) iets wat nie aangetas mag word nie. Brittanje kan volgens die logika nie kies waarvan hulle hou nie, soos vrye handel van goedere (Brittanje was immers van lankal af ’n volk van internasionale handelaars) en die res los, soos die finansiële bydrae tot die EU en oop grense vir almal.

Vir mense soos Barnier en die voorsitter van die EU-kommissie (effektiewelik die EU se president), Jean-Claude Juncker, was die Brexit ʼn ongeluk wat met veel moeite ongedaan gemaak moet word eerder as ʼn soewereine besluit van die Britse volk wat eerbiedig moet word. Juis om dié rede is die voorstanders van die harde Brexit skepties oor mev. May se kompromis. Hulle vrees dat die EU Brittanje weer deur allerhande verdrae met fynskrif in praktyk in die EU sal inkatrol. Reeds nou is lande wat herhaaldelik teen die toetrede tot die EU gestem het, soos Noorweë en Switserland, deur talle verdrae so gebind dat hulle in praktyk reeds deel van die EU is.

Anders as die klein Noorweë en Switserland, aldus die mening van mnre. Johnson en Davis, is Brittanje ekonomies sterk genoeg om die voorwaardes vir sy betrekkinge met die EU te stel en om te besluit waar handel stop en politieke inmenging begin.

Mev. May se voorstel klink te veel na toegewings en na ’n poging om die EU en die Britse sake-elite, wat droom van ’n “Exit van die Brexit”, ter wille te wees. Die vraag is ook hoeveel seggenskap die Europese Geregshof sal hê. Indien Brittanje nie duidelik met die EU breek nie, sal die vrye beweging van arbeid, een van die hoekstene van die EU (en dus immigrasie na Brittanje) en nie net van kapitaal en goedere nie, moeilik verhoed kan word.

Kort ná mev. May se kompromisvoorstel het mnr. Davis as hoofonderhandelaar bedank, en daarna ook mnr. Johnson as minister van buitelandse sake. Ook twee visevoorsitters van die Konserwatiewe Party het bedank. Daarmee is die reeds onstabiele May-regering in ’n krisis gedompel en die onenigheid is vir almal sigbaar. Die opposisie Arbeidersparty sal daaruit munt probeer slaan en hoop om mev. May tot bedanking te dryf deur enige voorstel oor die Brexit te opponeer, dalk nog saam met die konserwatiewe rebelle (al is die motiewe heel anders). Alhoewel die meerheid van die parlementslede van die Arbeidersparty vir die verblyf in die EU is, is die party se kiesers verdeel oor die vraagstuk.

Indien daar geen parlementere meerderheid vir die regering se voorstel oor die implementering van die Brexit behaal kan word nie, is dit ook moontlik dat Brittanje sonder ’n ooreenkoms die sperdatum van 29 Maart 2019 bereik. Daarna sal die land outomaties uit die EU uitskei en is alle verdrae wat op die EU van toepassing is, nietig. Vir sommige is dit ’n nagmerriescenario, vir ander bied dit die kans tot ’n nuwe begin op gelyke vlak.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Liberaal ·

Ek raak nou deurmekaar, my liberale globale elite meesters is tog vir demokrasie maar as die meerderheid stem vir iets wat hulle nie wil he nie dan word dit eers populusme en nou sommer ‘n ongeluk genoem? Laat ek meer CNN kyk om my brein beter te beinvloed…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.