Nuwejaarsboodskap 2017: Die jaar van kulturele vryheid

vryheid

Argieffoto.

Die Solidariteit beweging gaan in die nuwe jaar die grondwetlike kulturele vryheid van Afrikaners bevorder en beskerm. Daarmee saam gaan die Beweging ook die breër belange van die hele Afrikaanse gemeenskap en ander Suid-Afrikaners bevorder.

Kulturele vryheid word internasionaal erken as ʼn onvervreembare reg van kultuurgemeenskappe en die Suid-Afrikaanse grondwet bied uitdruklik ruimte daarvoor. Die VN vertolk kulturele vryheid as mense se vryheid om hul identiteit te kies en dit voluit te leef.

Dit het die afgelope jaar duidelik geword dat die grondwetlike kulturele vryheid van Afrikaners al meer deur die uitvoerende-, wetgewende- en selfs die regterlike gesag, ingeperk word. Wat in 2016 op die land se universiteitskampusse gebeur het, is ʼn belangrike aanwyser van die stand van kulturele vryheid. Ten spyte van die grondwetlike ruimte vir moedertaalonderwys en selfs openbare enkelmediuminstellings, was daar in 2016 al minder politieke ruimtes daarvoor. As ʼn staatsgreep beskryf kan word as ongrondwetlike politieke oorname, kan wat op ons kampusse gebeur as ʼn “Taalgreep” beskou word. ʼn Taalgreep verwys na die ongrondwetlike afskaffing van Afrikaans weens politieke beweegredes. Hoewel die Suid-Afrikaanse regstelsel nog ʼn ligpunt is, wek verskeie voorvalle van juridiese aktivisme kommer, soos in die Tukkies-saak oor Afrikaans.

Daarbenewens het daar niks gekom van die grondwetlike instellings wat kulturele vryheid moes bevorder het nie, soos die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad en die Artikel 185 Kommissie vir die Beskerming van Persone wat aan Taal-, Kulturele- of Godsdienstige Gemeenskappe Behoort nie.

Werk

Daarmee saam het die grondwetlike voorsiening vir gelykheid ontaard in “verteenwoordigendheid”. Daarvolgens moet die land se werksmag in alle poste die bevolkingsverhouding van 80 swart, 8 bruin, 8 wit en 2 Indiër weerspieël. Die uitwerking hiervan is dat wit- en bruinmense se grondwetlike reg om hul werk of beroep te kies, deur rassekwotas gedwarsboom word.

Demokrasie

Die kern van die saak is dat demokrasie sonder kulturele vryheid, net vryheid vir die meerderheid is. Daarom het die VN se Ontwikkelingsverslag van 2004 al bevind dat ʼn gewone demokrasie en grondwetlike waarborge van individuele regte nie voldoende is nie. Die Verslag stel dit prontuit: “As die geskiedenis van die twintigste eeu iéts bewys het, dan is dit dat pogings om kultuurgroepe weg te wens, of in die meerderheid te laat opgaan, eerder ʼn lewenskragtige kulturele herlewing uitlok”.

Daarom gaan die instellings van die Solidariteit Beweging aan die een kant ons regmatige grondwetlike kulturele vryheid opneem en verdedig en aan die ander kant gemeenskapsinstellings vestig om dit te bevorder.

Die Beweging gaan ʼn spesiale konferensie oor grondwetlike kulturele vryheid aanbied om te kyk na metodes wat gebruik kan word om kulturele vryheid te bevorder.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ampie ·

Dankie vir die boodskap. Ek dink die Afrikaners sal meer aggressief hierdie regte moet opeis. Soos genoem is selfs die regspraak teen ons gekant. Verder het Pres Zuma weer gister na rassisme en transformasie verwys in sy nuwejaarsboodskap. Eintlik net ‘n refrein dat blankes as geheel en Afrikaans in besonder verder in die spervuur gaan wees. Afrikaners sal toenemend alternatiewe moet skep en hulself speen van die staat en sy magsverdrukking. Ons sal ook ‘n manier moet vind om ons eie belastinggeld te gebruik vir ons eie gemeenskap. Tans word ons geld lustig teen ons aangewend.

John ·

Ons sal ons vir ‘n eie tv-kanaal moet beywer vir ons kultuur en Afrikaans. Die huidige diens dra meestal Engelse advertensies met swart akteurs en ons kla nie. Anderskleuriges wat Afrikaans so-so magtig is word ingeforseer en ons aanvaar dit ook gelate. Die 30-jarige vieringe van MNet was uiters teleurstellend. Afrikaanse musiek was taboe en die bestuur het deur die bank Engels gepraat. Ons Afrikaners slaan bollemakiesie om ou mammon gelukkig te hou… Sonder daadwerklike aksie sal Afrikaans en ons kultuur mettertyd uitgedruk word en ons kinders en kleinkinders vreemdes word in ons huise.

Mike ·

Dit is asof Solidariteit/Afriforum altyd eers jare na die tyd agterkom wat gebeur in die land en wat die oplossing is, maar soos die spreukwoord sê agteros kom ook in die kraal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.