NWU en die AfriForum & Solidariteit-taalverslag

Prof-Fernand-de-Varennes-taalverslag-2015

Profesor Fernand de Varennes het in ‘n verslag die bestaansreg van Afrikaanse universiteite onderskryf. Foto: Este Meyer Jansen, Maroela Media

Universiteite is veronderstel om mense op te lei tot diensbaarheid aan die gemeenskap. Daarmee word bedoel die breër gemeenskap, want ʼn onlosmaaklike deel van die idee van ʼn universiteit is die konsep van akademiese vryheid, die vryheid om wetenskaplike navorsing te doen en aan die hand daarvan te kommunikeer en te onderrig sonder vrees vir vervolging van enige aard. Akademiese vryheid het al so vroeg as 1155 of 1158 met betrekking tot die Universiteit van Bologna ter sprake gekom.

In Suid-Afrika, waar die meeste universiteite tot ʼn groot mate van staatsbefondsing afhanklik is, kom akademiese vryheid skynbaar al meer onder druk. So het president Jacob Zuma in September 2014 onder meer gesê universiteite se doel is om “patriotiese burgers” te skep. Patriotisme is ʼn ANC kodewoord vir ANC-lojaliteit.

Die doel van ʼn universiteit is juis om kritiese denkers te skep wat bevraagteken en innoveer. Verder moet ʼn universiteit die plig verrig op die beste manier moontlik, en as enige van die vele akademiese studies in die wêreld wat oor taal handel, geglo moet word, is die beste wyse waarop hierdie doel bereik kan word, om onderrig aan studente in hulle moedertaal te bied.

Moedertaalonderrig is egter eweneens ʼn konsep wat in Suid-Afrika onder skoot is. Universiteite wat tradisioneel in Afrikaans onderrig gebied het, beweeg toenemend weg van Afrikaans en die minister van hoër onderwys en opleiding, dr. Blade Nzimande, asook ander owerheidsverteenwoordigers, laat hoor gereeld dat onderrig in Afrikaans studente van onderwysgeleenthede uitsluit en dus diskriminerend is.

Oor die hele debakel van NWU Potchefstroom, die verslae oor die universiteit en die kontroversie wat tans steeds op die kampus geld, hoef ek niks te sê nie. Berigte in die Afrikaanse media hieroor is legio en op ons blogs en in ons mediaverklarings kan die betrokkenheid van AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit gesien word.

Wat ek wel moet noem, is dat een van die verslae oor NWU en die noodsaak van transformasie wat in 2014 die lig gesien het, as verslag deur internasionale deskundiges voorgehou is. Interessant genoeg was nie een van hulle spesifiek ʼn internasionale taalregtedeskundige nie. Hierdie leemte het AfriForum genoop om die voorste kenner op die gebied, dr. Fernand de Varennes, te vra of die versoek om ʼn universiteit of selfs net ʼn kampus met Afrikaans as primêre onderrigtaal te hê, onbillik, uitsluitend en diskriminerend is – kortom in stryd met internasionaal aanvaarde menseregte?

Dr. de Varennes gee klas en lewer referate regoor die wêreld – van China tot Brasilië, Spanje tot Suid-Afrika.  Volgende week gee hy toeligting aan die regters van die Afrikahof.  Kortom, hy is ʼn onafhanklike akademikus wie se werk bo verdenking staan en wat hom nie gaan laat beïnvloed deur plaaslike sentiment nie. Ons het geweet sy verslag sal akademies vas begrond wees en nasionaal, maar ook internasionaal, positief tot die debat oor taal aan universiteite bydra.

Sy bevinding is dat die versoek om ʼn primêr Afrikaanse universiteit internasionaal regverdigbaar is omdat Afrikaans ʼn hoëfunksietaal is waarin onderrig op tersiêre vlak moontlik is, omdat daar ʼn groot taalgemeenskap met die behoefte is, omdat die Suid-Afrikaanse grondwet die reg tot toegang tot Afrikaanse onderrig erken, omdat daar in die internasionale reg voorbeelde is wat die soort keuse regverdig en omdat dit juis diskriminerend sal wees om mense wat op hierdie reg aanspraak maak, daarvan te probeer weerhou.

Ons kon twee weke gelede eers ʼn vaste tyd en plek in dr. De Varennes se vol program kry om die verslag in Suid-Afrika bekend te stel. Vandat ons die reëlings begin tref het, het NWU owerheidsverteenwoordigers die projek bevraagteken. In reaksie het ek self ʼn paar vrae wat ek aan hulle wil stel:

  • Waarom was dit vir ons nodig om die verslag te laat opstel en die dimensie tot die debat toe te voeg – waarom het die universiteit nog nooit moeite gedoen om ʼn ware internasionale taalregtekenner te betrek en te vra of die versoek om Afrikaanse moedertaalonderrig inderdaad uitsluit en diskrimineer in terme van internasionale regte nie?
  • Noudat die verslag bestaan, waarom word dit dan nie aangegryp nie, maar eerder veroordeel voor dit nog gelees is?
  • Wat sê dit van owerhede se professionaliteit en akademiese integriteit as hulle ʼn verslag veroordeel wat hulle nog nie eens gelees het nie?
  • Waarom is daar die aandrang dat NWU se owerhede by die opstel van die verslag “betrek moes word”? Die idee was juis om ʼn onpartydige verslag op te stel. Let wel, dis nie ʼn beoordeling van die huidige taalbeleid, enige vorige taalbeleid of enige veronderstelde toekomstige taalbeleid nie, maar suiwer ʼn regsopinie oor die moontlikheid om ʼn kampus soos NWU Potchefstroom primêr in Afrikaans te bedryf (met ander woorde met Afrikaans as onderrig- en administratiewe taal). Die bevindings gaan suiwer oor regte wat die internasionale reg en die Suid-Afrikaanse grondwet erken. Daar is geen aanbevelings oor hoe Potchefstroom hulle taalbeleid moet hanteer nie. Wat dit wel doen, is om te sê hoe hulle dit mag hanteer as hulle wil.

Hierdie verslag sê aan die gemeenskap die aanspraak op Afrikaanse tersiêre onderrig vir moedertaalsprekers is nie net ʼn mooi sentiment nie. Dit is die beste akademiese praktyk. Dit is ʼn internasionaal en grondwetlik erkende reg. Dit is ʼn bekostigbare en uitvoerbare moontlikheid met ekonomiese voordele vir die gemeenskap en land. Dit is ʼn geleentheid wat owerhede en studente moet aangryp as hulle ernstig oor gehalte onderrig en diens aan die Afrikaanse gemeenskap en Afrikaans as taal is.

Dit geld vir alle amptelike tale in Suid-Afrika. As ʼn gemeenskap dit egter nie wil opneem nie, meen dit ook dat ander van die reg ontsê kan word nie. Elke gemeenskap moet vir homself besluit.

Laat ons in die lig van hierdie beginsels met selfvertroue Afrikaanse tersiêre onderrig bevorder en benut waar ons kan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

HEVW ·

Ja wragtag Alana nou pra jy. Dit was baie goed om dit te lees!!!!!!!!! Was self n PUK.

audrey ·

Orals word Afrikaans nou geteiken. Self Vrystaat Universiteit hersien jou taalbeleid. Jonathan Jansen beweer did tyd en geldmors vir tolke en meeste swart students verkies engels? Wie se skuld is dit? afsonderlike afrikaanse klasse maak glo nie deel van die transformasie nie. Wat n klomp bog. My kinders will in Afrikaans studeer en my geld is net so hard verdien om my kind te laat studeer! Wie langs my kind in die klas sit mask nice saak nie en did ook hul reg on daar te sit. Hoekom moet Afrikaners heeltyd terugstaan. Ons het ook reg on ons taal en kultuur uit te leef op alle vlakke insluitend onderrig. Ons moet opstaan en dalk is selfbeskikking die antwoord? As ons heeltyd die koue skouer kry moet one aan selfbehoud dink. SA is in elk geval mooi oppad om oor die afgrond te val. As ons saamstaan en daarmee bedoel Ek almal wat hulself as Afrikaners beskou kan ons vir onsself en kinders n wonderlike toekoms bewerkstellig!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.