Nydigheid kelder die DA

demokratiese alliansie advertensie

Skermskoot uit ‘n advertensie van die DA.

Jan-Jan Joubert, ʼn gesoute politieke joernalis en skrywer van die boek Wie gaan in 2019 regeer? kyk hierdie week in drie artikels na die interne omstandighede binne die land se drie grootste partye: die ANC, DA en EFF. Gister was die ANC aan die beurt en vandag kyk Joubert na die DA:

Die DA is die enigste politieke party wat nog met elke algemene verkiesing sedert 1994 gegroei het. Telkens meen sommige politieke analiste dat die DA die plafon van sy groei bereik het, maar dan pluk die party in blou ‘n haas uit die hoed en groei nogmaals.

Min mense sou egter verskil met die waarneming dat alles tans nie wel is in DA-geledere nie. Die DA skiet hulself deesdae met ‘n dubbelloophaelgeweer in die voet, en maak te midde van interne verdeeldheid klaarblyklik net hul mond oop om daardie voos geskiete voete van hulle om te ruil.

Wat in die DA se guns tel, is dat hulle relatief skoon en effektief regeer en dat hul raadslede in bykans alle munisipaliteite strate beter werk (mens wil in sommige gevalle amper beweer welsynswerk) verrig as ander partye s’n. Dit dra baie gewig by kiesers, want hul belange word gedien. Dit behoort sukses en groei vir die DA te waarborg.

Ongelukkig vir die DA word hierdie gelukkige situasie nie op nasionale vlak weerspieël nie. Die beeld van die DA as ‘n goed geoliede en effektiewe alternatiewe regeringsmasjien, gekenmerk deur samehangende en intelligente partybestuur, word daagliks geknou deur ‘n gepieker en ‘n gekyf wat duidelik gaan oor persoonlike belang en raadsaalmagspeletjies eerder as kiesersbelang en dienslewering. Dit is onaantreklik en dui op ‘n gebrek aan leierskap en diensvaardigheid.

DA- federale raadsvoorsitter James Selfe (links) en DA-leier Mmusi Maimane (Foto: ANA)

In hierdie verband moet die vinger nie te hard net na die DA-leier, Mmusi Maimane, wys nie. Leierskap is die verantwoordelikheid van elke openbare verteenwoordiger van die DA, meer spesifiek parlementslede en lede van provinsiale wetgewers. Maar dit lyk asof te veel van hierdie topleiers van die DA te gereeld fokus op wat hulle verdeel eerder as wat hulle verenig, en asof relatiewe beuselagtighede as onoortuigende vyeblaar gebruik word om die tipe persoonlike vetetjies te verberg wat ons as kiesers koud laat.

Die ergste voorbeeld van hierdie nydigheid vind tans plaas in Kaapstad en speel uit in die hantering van die Patricia de Lille-sage. Die DA is tans baie gefokus daarop om De Lille uit haar pos te kry. Dit het gelei tot ‘n lang lys bewerings teen haar wat deur die DA en sy leiers in die openbaar gemaak is en waarvan verskeie geblyk het, ongegrond te wees.

Hier’s ‘n paar voorbeelde. Die eerste bewering (aanvanklik geopper deur die DA-raadslid JP Smith) was dat daar korrupsie was met die opgradering van veiligheid by haar huis. Toe die raad se speaker, Dirk Smit, uitwys dat dit onsin is, is hy ook sommer in die pekel met ‘n dissiplinêre verhoor. Sedertdien het die DA Smit om verskoning gevra maar nie De Lille nie.

Toe kom die bewerings dat De Lille op ‘n manier aandadig of verantwoordelik was vir beweerde wanbesteding met aspekte van die stad se snelbusdiens. Dit sou deel wees van haar dissiplinêre verhoor, wat sedertdien in die hek geduik het, onder meer omdat een van die DA se paneellede self op dié dag van die verhoor toegegee het dat hy nie geskik is om die verhoor te hanteer nie. Oor die verleentheid daarvan vir die DA se beeld as bekwame en bes georganiseerde party, hoef mens seker nie uit te wei nie.

Toe was daar die bewering (wat selfs as voorbladberig aan Sondagkoerante uitgelek is) dat De Lille miljoene rand aan omkoopgeld sou vra vir die installering van ‘n spesifieke tipe brandblusser in sommige Kaapse huishoudings. Ook hierdie bewering het gestrand.

Benewens vir die onbruikbaarheid van die inligting oor die brandblussers, is een ding waar vir die DA se twee ystervroue, Patricia de Lille en Helen Zille. Albei het hul foute en maak gereeld foute, albei is eiegeregtig en albei kan soms baie padlangs skel as hulle hul humeur verloor. Maar of jy nou van hulle hou of nie, min mense sou maklik glo dat De Lille of Zille hulself ooit persoonlik geldelik sal verryk uit hoofde van hul amp. Niks wat hulle al ooit gedoen het oor baie dekades in die politiek ondersteun dit nie.

Toe dit alles nie werk nie, word die een slap storie ná die ander uitgeruk: De Lille is in die pekel oor sy die EFF se Winnie Mandela-huldiging bywoon, totdat dit aan die lig kom die DA se Vrystaatse leier, Patricia Kopane, was ook daar. Toe val dit net weg.

‘n Verdere voorbeeld van die veldtog teen De Lille volg toe ‘n mosie van wantroue teen haar voor die Kaapse stadsraad ingedien is. Die DA stuur sy topleiers in om die DA-stadsraadslede, wat dink die veldtog teen De Lille is bog en nie die mosie wil steun nie, met afdanking. Dit verg ‘n bevel van die Kaapse hooggeregshof om die onwettigheid van hierdie dreigement uit te wys.

Patricia de Lille (Foto: Phando Jikelo/African News Agency/ANA)

Toe die stadsraad stem, wen De Lille teen alle verwagting in met 112 stemme teen 110. Wat is die DA se reaksie? Die party beweer dis die opposisiepartye wat haar aan bewind hou.

Enigeen wat tot by 77 kan tel, weet mos dis nie net ‘n leuen nie, maar ‘n slap leuen. Die 77 opposisielede in die Kaapse stadsraad van 231 kan niemand aan bewind plaas nie. Die dosyne DA-stadsraadslede (uit ‘n DA-koukus van 154) wat hul politieke toekoms binne die DA op die spel geplaas het deur teen die wantrouemosie te stem, en die ander DA-raadslede wat weggebly het van die raadsvergadering eerder as om teen De Lille te stem, het haar eweseer in posisie gehou. Dis tog duidelik, maar die DA beweer in hul amptelike reaksie De Lille regeer nou net danksy (of weens, afhangend van jou oogpunt) die opposisie.

‘n Laaste twee voorbeelde van vele. Eerstens: verskeie prominente DA-lede het leuenagtige en lasterlike versinsels versprei dat die ouditeur-generaal De Lille persoonlik vir die verlies van Kaapstad se volkome skoon oudit blameer. Nadat die ouditeur-generaal self moes ingryp om die bedrog uit te wys, het die DA sy lede se gedrag as sommer ‘n beuselagtigheid afgemaak. Regtig? Gestel DA-lede het sulke vervalste dokumente oor Maimane versprei? Maar dalk meet die DA De Lille tans met ‘n ander maatstaf.

En tweedens: Van die topleiers in die DA smous die storie aan die media (wat dit tereg nie koop nie) dat Kaapstad onder De Lille nou skielik swakker bestuur word as die ander drie opposisiebeheerde metro’s. Die ouditeur-generaal se syfers oor die drie grootste euwels in munisipale finansies wys egter dit is nie so nie: Tshwane, Johannesburg en Nelson Mandelabaai is onder die toptien- ergste oortreders landwyd betreffend onregmatige besteding.

Kaapstad is nie, ten spyte van die stad se groot begroting.

Tshwane, Johannesburg en Nelson Mandelabaai is ook onder die toptien- grootste sondaars betreffend onregmatige besteding.

Kaapstad is nie.

Nelson Mandelabaai is die ergste in die hele land, maar die DA is doodstil daaroor. En in die toptien- slegste oudituitslae betreffend vrugtelose besteding en geldvermorsing, is Nelson Mandelabaai en Tshwane nogmaals onder die top tien.

U het reg geraai: Kaapstad is nie.

Nogtans is Patricia de Lille die enigste DA-metroburgemeester wat deur haar party sleggemaak word oor oudituitslae. Is dit redelik?

Ten spyte van die nyd wat dit seker van sommiges in die DA gaan ontlok, moet mens dapper genoeg wees om soos die seuntjie in die sprokie te bevind: Die keiser het nie klere aan nie. De Lille is sekerlik nie sonder sonde nie (wie van ons is?), maar die DA se veldtog teen haar lyk maar dun.

Daar is een punt waarop dit op die oog af lyk asof De Lille verkeerd opgetree het, naamlik die beweerde SMS wat sy gestuur het om haar voorkeur vir die aanstelling van ‘n spesifieke persoon in ‘n belangrike stadsraadsposisie aan minstens een DA-lid van die aanstellingskomitee oor te dra en dus die proses onregmatig te beïnvloed.

Oor of dit genoeg rede is vir die DA om haar as burgemeester af te dank, kan elkeen seker self oordeel. Indien die DA argumenteer dit is wel genoegsaam om haar af te dank, is daar egter redelikerwys ‘n vraag oor konsekwentheid in die DA.

Dit het onlangs aan die lig gekom dat die DA-burgemeester van Tshwane en ‘n DA-lid van die stad se burgemeesterskomitee ‘n DA-lid as hoof van die burgemeesteskantoor aangestel het, al het sy nie oor die vereiste akademiese kwalifikasies beskik nie. Dit is tog seker erger as De Lille se SMS, maar die DA hanteer dit meer bedaard. Dis duidelik dat die twee DA-ringkoppe ook verkeerd opgetree het, maar niemand eis dat hulle nou afgedank moet word nie. De Lille behoort darem seker met dieselfde maat gemeet te word as die DA sy kernbeginsel van “regverdigheid” gestand wil doen.

Benewens die interne nydigheid in die DA is daar nog twee belangrike swak plekke in die DA se verkiesingsmondering vir volgende jaar. Eerstens het hulle nie die duidelike, praktykgerigte beleidspunte wat van ‘n party wat ernstig opgeneem wil word as alternatiewe regering, benodig nie. Die onlangse aanstelling van die briljante Gwen Ngwenya as die DA se beleidshoof behoort hierdie swakplek reg te stel.

En laastens lyk dit asof die DA nie behoorlik strategies dink nie. Hulle dink baie goed takties, maar dis waar dit stop. Wat is die verskil? Taktiese denke oor die verkiesing is die klomp klein dingetjies en aktiwiteite wat die DA elke dag doen in talle munisipaliteite en baie beteken vir sowel kiesers se dag-tot-dag-bestaan as die heil van die land. Die skrywer Jan Rabie sou dit dalk opsom as “aanhou beweeg en geraas maak”, en daarmee is die DA goed. Maar strategiese denke vereis die vermoë om op ‘n paar groot goed te fokus wat van kardinale belang is, en dit die sleutel van jou verkiesingstrategie te maak.

Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane (Foto: Demokratiese Alliansie)

Wat is die DA se verkiesingstrategie vir 2019? Dit is tog voor die hand liggend dat dit drieledig sou kon wees.

Eerstens: Om op die stryd met die ANC eerder as op die stryd met mekaar te fokus om met ander opposisiepartye saam te werk en te probeer om die ANC tot onder 50% van die landwye stem af te dwing. Tweedens: Om die verhouding met soveel opposisiepartye as moontlik uitstekend te hou sodat die tipe opposisie-koalisies wat tans sulke goeie werk op munisipale vlak doen, nasionaal beslag kan kry indien die ANC minder as 50% kry. Derdens, en miskien die mees kardinale: Om alles moontlik te doen sodat DA-kiesers se ergste scenario, naamlik ‘n ANC/EFF-koalisie, nie gebeur nie.

Daarvoor sal die DA meer ordentlik met die EFF moet wees, meer gereeld met hul vergader – spesifiek oor die hantering van onderlinge beleidsverskille – en die trant en taal van hul aanvalle op die EFF matig. Dit sal veel verg, maar dis in DA-kiesers se strategiese belang.

Daar is nog baie tyd oor voor volgende jaar se verkiesing. Die DA het twee stukkies geluk aan sy kant – hy het baie tyd om sake reg te stel, en die ander partye het groot probleme van hul eie. Nogtans sal die DA voor hul eie deur moet vee as hy nie vir die eerste keer sedert 1994 in ‘n nasionale verkiesing wil terugsak nie.

Môre kyk ons in die laaste aflewering van hierdie reeks na die interne situasie binne die land se derde grootste party, die EFF.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Boerseun ·

Die DA moes 40% van sy steun verloor om enigsins verder te groei. Anc EFF vat 75% van kiesers.. Niemand van daai 75% gaan oorloop as DA oorheers word deur 40% van die wat nou verlore is, soos jy sê.

Boerseun ·

Dink elk geval mens sal nie verbaas wees oor hoeveel afrikaners nog vir hulle sal stem nie, dis klaar in hulle koppe “ge-Rapport” en jacaranda

Ashwin ·

Ek wag nog vir Mmusi se verskoning na sy rassistiese tweet na die Ashwin saga.

Kannaland ·

Jy gaan al geraamte wees voor dit gebeur. Mmusi en sy politiekery is besig om die DA te breek.

Loei ·

Jan-Jan, jou stelling dat die DA die enigste party is wat sedert 1994 gegroei het, is feitelik verkeerd.

In 2014 het die EFF van 0% tot 6.35% gegroei, wat hulle (ongelukkig) die grootste wenner gemaak het.

Dan het VF+, NFP en APC ook groei getoon.

Meer onlangs het die IVP begin om die een minusipale setel na die ander by die ANC af te neem, wat verseker ook op groeiende steun dui, en hulle volgende jaar breed gaan laat glimlag.

Paul ·

Jy moet Jan-Jan se stelling maar weer ‘n keer lees. Hy het nie die woorde gebruik wat jy in sy mond lê nie.

Ai ·

Drie sterk vroue het die DA opgebou tot ‘n groot sukses storie, maar sedert Mmusi oorgevat het, word die party deur onsinnige rassisties uitsprake deur homself en onderlinge verdeeldheid in die party gekelder. Ek is definitief nie meer ‘n DA-ondersteuner nie. Hulle gaan met die Patricia de Lille se storie, maar rof met die waarheid om.

Albaster ·

Die DA vervreem baie bruinmense met die De Lille saak, baie blankemense met dinge soos die Ashwin uitspraak, baie joodsemense met gister se nuus, en die swartgemeenskap na wie hulle vry en ons ander in die proses aftakel wil maar netniebyt nie. Dit is nie n wenresep nie.

Hendrik ·

Dis tyd dat Patricia de Lille die DA ‘n opstopper op die neus gee en by COPE aansluit.

Hazeldean ·

Dankie Jan Jan vir die opsomming.
Ja-nee sekere vd DA leierskap reageer soos ‘n klomp hoërskool boelies.

Mymoney ·

Mmusi bewys keer op keer sy ware kleure. Hy alleen het gemaak dat ek nooit weer vir die AN ag skies DA stem nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.