Obama: van politieke verhoog tot Hollywood-stel

Barack Obama

Oudpres. Barack Obama. Foto: AP Photo/Pablo Martinez Monsivais

Hoewel George W. Bush die presidentskap vir ʼn tweede termyn gewen het, het sy gewildheid soos mis voor die môreson verdwyn toe Amerika Irak in 2003 ingeval het. Die gevolglike destabilisasie van die Midde-Ooste was ʼn groot verleentheid en het ʼn globale minagting van die wêreld se supermag tot gevolg gehad.

Die Amerikaners, wat nou maar eenmaal nie daarvan hou om deur die res van die wêreld geminag te word nie, het Barack Obama met ope arms as hul nuwe president verwelkom. As ʼn gegradueerde van Harvard, swart en “fatsoenlik” (dink maar aan Joe Biden se beskrywing van hom)[1], het hy die politieke toneel as die Groot Verlosser betree, met beloftes van hoop en verandering. Dit was nie van belang dat hy nie juis ʼn hoogaangeskrewe senator van Chicago was of ʼn gemeenskapsorganiseerder van twyfelagtige prestasie of dat hy bande met ʼn hele klomp suspisieuse mense gehad het nie.

As die eerste swart president van Amerika sou Obama die VSA van sy besoedelde verlede verlos; hy sou die roete van ʼn buitelandse versoeningsbeleid volg, ʼn nuwe wêreldorde skep en Amerika weer in die goeie boekies van die wêreld vestig. Dit alles sou hy vermag met die hulp van die media wat hom soetsappig as ʼn soort messias besing het.

Hilary Clinton sou sy opvolger wees om dit wat hy agtergelaat het, te beskerm en voort te bou op die pad wat hy gebaan het. Met die media, die Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI), die Amerikaanse Intelligensiediens (CIA), die Nasionale Intelligensieagentskap (NIA) en Hollywood aan hul kant, sou niks haar keer in haar wedloop na die presidentstoel nie. Maar toe verloor sy die verkiesing.

Aan die een kant was dit ʼn bedekte seën, want in die proses is een van die grootste skandale in die Amerikaanse geskiedenis oopgevlek en het dit aan die lig gekom hoe ʼn voormalige president – met die hulp van sy trawante – probeer het om die verkiesing van ʼn Republikeinse presidensiële kandidaat te ontspoor.

Hierdie skandaal het gelei tot die ondersoek en verslag deur Robert Mueller en inspekteur-generaal Horowitz, en ʼn vieslike komplot deur die Demokrate, om Trump se verkiesingsveldtog en moontlike presidentskap te kelder, is aan die kaak gestel. Dit het ook aan die lig gekom dat die hoofde van die FBI, CIA, NIA, DOJ (departement van justisie) almal met Obama saamgesweer het om die verkose Donald Trump te ontsetel.

Dit is asof dit nie saakgemaak het dat Obama meer as 1 100 setels vir die Demokratiese Party in die senaat sowel as die kongres verloor het nie; dat Rusland gedurende sy presidentskap die Oekraïene gedestabiliseer het, dat hy Israel vervreem en Libië vernietig het of die verwoesting van Sirië en Jemen aanskou het nie. Of dat hy die kern-obsessiewe Iran met geskenke van $150 miljard en $1,5 miljard kontant verder in hul kwaad gesterk het.

Uit pure moedswilligheid oor Trump se oorwinning, het Hollywood ʼn hele paar dinge aan die Obama-gesin gebied: ʼn splinternuwe voorkoms vir die Obama-gesin; miljoene om hul memoires te skryf (Penguin Random House het hulle $65 miljoen aangebied); ʼn promosie van mev. Obama se boek bó ander meer verdienstelike boeke; die transformasie van Michelle Obama deur bekende Amerikaanse modehuise om haar van ʼn vaal meisie in ʼn mode-ikoon te omskep – met haar gesig op die voorblad van elke gesogte vrouetydskrif. Dis ironies dat Melania Trump, presidentsvrou asook supermodel en stylikoon in eie reg, nie hierdie luukse kon kry nie. Gereken as “wit heerssugtiges”, ryk en konserwatief, is die Trumps as die duiwel in lewende lywe beskou en moes verkieslik uit die oog gehou word.

Met die Demokratiese Party stewig onder die vlerk van die hoofstroommedia, Hollywood, die akademiese wêreld, die FBI, CIA en NIA, wou Obama sy invloed na nóg ʼn area uitbrei, naamlik die vermaaklikheidsbedryf. Sy noue bande met Harvey Weinstein (die berugte koning van vermaak), en Hollywood se kulturele hoës wat dikwels na die Withuis genooi is, het Obama onteenseglik geweet dat vermaak ʼn maklik manipuleerbare “wapen” kan wees om die publiek, en veral die ontvanklike jeug, te beïnvloed.

Om hierdie rede was dit dus geen verrassing nie dat Netflix ʼn ooreenkoms met die Obamas aangegaan het vir die produksie van verskeie reekse en rolprente (onder meer ʼn dokumentêr). Die Obamas het by monde van hul maatskappy, Higher Ground, gesê hulle hoop om hierdeur talentvolle, inspirerende en kreatiewe mense die geleentheid te gee om hul stories met die ganse wêreld te deel en só groter empatie en begrip tussen mense te bevorder. In Obama se eie woorde: “Netflix’s unparalleled service is a natural fit for the kinds of stories we want to share.”

Ted Sarandos, inhoudshoof van Netflix, en toevallig die lewensmaat van die voormalige Amerikaanse ambassadeur van die Bahamas, het die Obamas se nepotistiese bedoelings min of meer só uitgeblaker: “Om die stories van mense wat ʼn verskil in hul gemeenskappe maak en daarna streef om van die wêreld ʼn beter plek te maak, te vertel. Maar, bevorder hoop en verandering deur die Obama-gietvorm te gebruik.”

ʼn Hoofopskrif in The Wall Street Journal het onlangs my oog gevang: “Obama’s Incredible Movie Makeover”. Daarin lewer Mike Turner, voormalige burgemeester van Ohio ʼn snydende resensie oor American Factory, ʼn Netflix-rolprent wat onlangs begin draai het en deur Obama se maatskappy, Higher Ground, vervaardig is.

Dit vertel die feitelike verhaal van ʼn General Motors (GM)-aanleg in Moraine, Ohio, wat in 2008 gesluit is en hoe die lewe van die afgelegde werkers daardeur geraak is. Bekend vir sy gehalte, doeltreffendheid en produksie, kon hierdie fabriek eintlik gered word, maar gedurende die resessie het Obama dit uitgekoop in ooreenkoms met die United Auto Workers (UAW) op voorwaarde dat die afgelegde werkers laaste sal aansoek doen om na ander GM-aanlegte oorgeplaas te word.

Die uitwerking daarvan was ʼn ramp – werkers sou al hul voordele en byvoordele verbeur en van vooraf moet begin. Alle nie-UAW-werknemers wat by ander GM-aanlegte geplaas wou word, was verplig om as nuwe werknemers te begin en het alle salarisse, vaste poste en voordele wat hulle gedurende hul loopbaan by vorige GM-fabrieke opgebou het, verloor.

Dis vanselfsprekend dat die duisende werkers wat afgelê is, die toenemende armoede in daardie gemeenskap nog verder vererger het. Plaaslike beamptes was seker daarvan dat die fabriek weer in die lewe geroep kon word, gegewe sy prestasiegeskiedenis. Maar enige beleggings is deur Obama se regulasies en verlammende belastingreëls gestuit. Trouens, Obama het gespog dat geen vervaardiging ooit weer in die VSA sal plaasvind nie. Hy was heel arrogant oor die sloping van die aanleg en kop in een mus met die UAW toe die aanleg vir ʼn appel en ei verkoop is.

Die heropening van die aanleg in 2015 deur ʼn Chinese motorglasvervaardiger, het die beskouing van die plaaslike burgemeester en ander amptenare (dat hierdie aanleg potensiaal het) bevestig. Oor Obama en die UAW se rol om dié potensiaal te vernietig, word daar in American Factory geswyg, maar die sukses van die Chinese vervaardiger word voorgehou asof dit húl toedoen was.

Revisionisme sal altyd die Obama-eienskap van sy vermaaklikheidsmaatskappy, Higher Ground, wees. Getrou aan sy Alinskyïetiese beginsels, sal hy seker maak dat elke magshefboom gebruik word om die denke van die publiek te beheer en om die Republikeinse seggenskap van die presidensie weg te vat. Hy is allesbehalwe geneë om met waardigheid af te tree en gebruik elke denkbare manier om van sy bête noire, Donald Trump, ontslae te raak.

Mike Turner sluit af: “Die skynheiligheid van hierdie Obama-rolprent is skokkend. Mnr. Obama faal daarin om sy direkte rol in die skep van die swaarkry wat die Moraine-werkers moes deurmaak, te erken. Boonop het hy niks te make gehad met die heropening van die aanleg nie – dit was alles die werk van staatsamptenare, plaaslike beamptes en gemeenskapsleiers. Indien die president sy sin gekry het, sou daar geen aanleg wees om ʼn dokumentêr oor te maak nie. American Factory sou ʼn ander naam gehad het: Abandoned Parking Lot.

 Voetnota:

[1] “I mean, you got the first mainstream African-American who is articulate and bright and clean and a nice-looking guy. I mean, that’s a storybook, man.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jerry ·

Insiggewend en so het almal maar hulle messe uit vir ander persone wat hulle op een of ander manier bedreig of met wie hulle ernstig van opinie en uitkyk op die lewe verskil. Die verskil tussen die foute of eerder die motiewe van Obama en Trump, is dat Obama se motiewe niks met magsmisbruik vanuit die kantoor van die president te doen het nie, maar Trump sin wel. Obama het ook nie ander lande gevra om die Amerikaanse verkiesings te beinvloed of om sy politieke opponente te beswadder nie, Trump wel. Obama het nie joernaliste afgemaak as die vyand wie fopnuus verkondig nie, Trump wel. Obama verwys nie na “whistleblowers” as “spies” nie, Trump wel. Obama speel nie die meerderheid teen minderheidsgroepe af nie en veroorsaak nie verdeeldheid nie, Trump wel. Obama sal nooit aan n “white power movement” behoort nie, Trump wel. Obama was nie net n president vir die demokrate nie, Trump is wel n president net vir die republikeine. Dit bring my by die ooglopende gevolgtrekking dat daar goeie en minder goeie motiewe aanwesig is by leiers aan enige kant van die politieke spektrum en dat “evil can only Trump, when good men do nothing”!

Rhoda Kadalie ·

Jerry your ignorance is astounding. Obama spied on the Associated Press, and journalist James Rosen. The Mueller and Inspector General’s reports show no collusion with Russia. The entire Russia hoax was based on a made up dossier paid for by the Hillary Clinton campaign.

Stan ·

Jerry, jou onkunde het geen einde nie. As jy nie die skade kan sien wat Obama aangerig het nie glo jy seker steeds daar is nie staatskaping in ons land nie. Los CNN uit en begin ware nuus volg.

Human ·

Rhoda ek is diep teleurgesteld in jou kognitiewe denke en het altyd gedink jy weet van beter, totdat jy ‘n Trump naprater geword het.

Henning ·

Jerry, jou lys is uiters eensydig en spreek van vooroordeel. Vergeet van VSA se laagste werkloosheid syfer in omtrent ses dekades en die sterk ekonomie met aandelebeurse op rekord hoogtes? Objektiwiteit is nie een van jou sterk punte nie.

Human ·

Ja ou Piet jy het ook gehoor die klokkie lui, maar weet nie waar die bel sit.

Annette ·

Mike Turner is n totale kens “conspiracy theory” aanblaser – hoe enige iemand met n reguit gesiggie die lagwekkende snert wat hy kwytraak in n baie swak artikel kan verander is n grap…… Hy het n punt gemaak om Obama te probeer ondermyn – Rhoda Kadalie – miskien moet jy volgende keer eerder jou eie gedagtes op papier probeer sit -nie die ou s’n nie!

Johan ·

Puik artikel Rhoda.Dankie tog ek kan n gebalenseerde artikel berus op feite lees en nie Melanie Verwoerd verdedigde ANC en aanvalende wit snert Nie.Rhoda net n vraag,gaan die impeachment van Trump slaag en wat se uitwerking gaan dit op die kanse vir n 2de termyn he?

WMirabilis. ·

Annette jy is darem gou om “conspiracy theories” uit te wys. Dit laat my wonder in hoe ‘n mate jyself daarin glo? Ek wed jou jy glo al die ”çonspiracy theories” oor Donald Trump wat die rondte doen.

Human ·

Die spaniekie wat so propageer vir Tantrum Trump is meestal gewese Suid-Afrikaners wat die gly pad gevat het VSA toe en is nou veel slimmer en beterweterig as die Amerikaners self van wat in die land aangaan. Hulle is beangs in hul stiksienigheid, dat wat in Suid Afrika vekeerd is, volgens hulle denkwyse, ook in die VSA kan gebeur en hang aan die lippe van Trump wie nou hul verlosser en redder is.

Ronnie ·

Obama is nou ‘n makliker onderwerp as Trump. Dit is nie die moeite werd om ernstig op die artikel te reageer nie. Miskien net dit: Mike Turner is ‘n verregse lid van die kongres. En die mens wat hy is maak dat sy mening van geen waarde is nie. Plus dit is welbekend dat Obama Moscow Mitch genader het om die publiek bewus te maak van die feit dat Putin ingemeng het met die verkiesing in 2016. Die “Grim Reaper” het geweier.
Baie interessanter is die “spies” in die Withuis. Trump meen verraaiers behoort die doodstraf te kry. Hy praat darem baie vinnig sonder om te dink. Soos altyd. Die enigste landsverraaiers is hyself, Hurricane Rudy, Mike Pompeo, Mnuchin en seker dosyne ander in die Withuis.
Drama in tien bedrywe. Absoluut fasineerend. Ek hoop vir Trump se part hulle gebruik die ou gloeilampe in sy toekomstige blyplek, want kan jy nou dink die energie besparende gloeilampe laat hom reeds oranje lyk en dan nog die oranje oorpak!
En as sy geluk hou, is daar nie ‘n windkragaanleg naby nie. Met alles wat nou so skeefloop vir hom kan hy hom nie nog kwel oor die moontlikheid van kanker nie.

Jack Klok ·

Absoluut fassinerend hoe opgewonde Seffrikaners kan word oor Trump en die demokrate wat hulleslf eintlik moet hernoem na die sosialiste.

As mens na CNN, CBC ABC en soortgelyke linkse itsaaiers kyk of linkse koerante lees iis Trump die duiwel gereinkarneer. As mens na Fox News of One America Network kyk is die demokrate ‘n klomp skelms wat Amerika uitverkoop het aan die Islam en die sosialiste.

Wie is nou eintlik reg? Ek is nie ‘n Yankee nie en raak dus nie opgewonde oor stories nie. Kyk liewer na feite. As ek reg onthou het die Republikeine elke keer as hulle aan bewind gekom het die VSA ekonomie reggeruk, werkloosheid het verminder, die dollar het versterk, staatsbesteding het afgeneem. Elke keer as die Demokrate aan bewind gekom het het hulle met Amerika se vyande geheul, staatsbesteding op welsyn verhoog, anargie aangemoedig met allerhande SJW idees, aborsie gewettig, almal dinge wat polarisaie verhoog en rasse spanning aangewakker het.
Dat Trump net ‘n president vir Republikeine is is omdat die Demokrate hom nie wil aanvaar nie.

In elk geval die Demokrate baklei tans onder mekaar soos kat en hond. Hulle potensieele presidentskandidate beindruk glad nie.

Marthinus Willemse ·

Ek hou van Rhoda se skryf, en kon tot dusver net met haar saamstem. Oor die sinnetjie “dat Rusland gedurende sy presidentskap die Oekraïene [sic] gedestabiliseer het”, wil ek egter verskil.

Daar was `n Obama-gesteunde staatsgreep in Kiëf op 21 Februarie 2014. Victoria Nuland, Amerikaanse adjunk-minister van buitelandse sake erken aan Christiane Amanpour op CNN dat haar departement $5 biljoen sedert 1991 in Kiëf ingepomp het (vir “demokrasieontwikkeling”), en Obama erken aan Fareed Zakaria op CNN hy “brokered a deal to transition power in Ukraine.”

Toe stuur die Nobel Vredespryswenner sy 173rd Airborne Brigade met “ongeveer 300” lede in. Nuland verduidelik aan die VSA se ambassadeur in Kiëf dat Witali Klitjkou nie die premier sal word nie, maar “Jats” (Jatsenjoek), en sê sy, “F**k the EU”. Daarna, word Joe Biden, Obama se adjunk-president, se seun, Hunter, aangestel as direkteur van Burisma, Oekraïne se grootste gasmaatskappy. (Hy was pas deur die Navy Reserve uitgeskop weens kokaïne-gebruik.) Saam met hom, is Devon Archer, van die Heinz-familietrust (van John Kerry, minister van buitelandse sake, se vrou Theresa Heinz, se trust).
John Brennan, direkteur van die CIA, besoek Kiëf, en skielik vlieg daar `n helikopter wat wit geverf is, met die letters “UN” in swart, wat aanvalle in die Donbas doen.
Ens. ens.

Maar, dis “Russiese aggressie” aldus Samantha Power en Obama en die media, en dis Russiese “destabilisering”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.