Ode aan ons onderwysers

Dirk Hermann. (Foto: Rozier van Tonder/Okay Deer.)

Op 27 Maart word Suid-Afrika ingeperk. Kinders moet huis toe. Suid-Afrika se skoolgeboue sluit hul deure, maar miljoene klein skooltjies maak skielik by huise oop.

Dit is die tyd van ʼn wonderdaad. Onderwysers tree in die bresse vir ons kinders. Terwyl ons ingeperk is, gaan slaap onderwysers laat en staan vroeg op. Hulle bou nuwe stelsels vir die skooltjies by die huis. Hulle hou net aan werk, nie vir hulself nie, maar vir ander se kinders.

As kindertjies hul oë in die oggend oop maak, is die les op die selfoon, tablet of rekenaar. Die vorige dag was dit nie daar nie, maar die volgende oggend is daar ʼn video. “Dit moet die werk van ʼn nagfeetjie wees,” sê my dogtertjie verstom. Dit is en haar naam is juffrou.

As ouers haal ons ons hoed af en lig dit hoog: Eer aan ons onderwysers; hulle is die helde in hierdie oorlog.

Skole maak weer oop en doodkry is min. Hulle werk sonder ophou voort… vir elke kind by die skool en die wat steeds tuis bly.

Ons kinders is onseker – emosies loop hoog. Dit is die onderwysers wat troos en sekerheid bring.

Dít is óns onderwysers; roepingsgedrewe vir ons kinders.

Dankie juffrou, dankie meneer. Die geskiedenis gaan julle positief oordeel. Ons besef julle is moeg. Julle het jul energie vir ons kinders gegee. Pas julle tog self op, julle moet ook rus.

Ek dink daar word ʼn spesiale plekkie vir ons onnies voorberei; naby die Troon.

Deel hierdie boodskap en gee erkenning aan al ons wonderlike onderwysers.

Groete, Dirk Hermann, wat voorsitter van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum is en ook pa van vier dogters op skool is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Snowball ·

Ek salueer hulle saam met Dr Hermann. Niks kan ‘n onderwyser wat sy sout werd is, vervang nie. En daar is nog soveel toegewyde, ware opvoeders, wat die ekstra myl sal loop, nie omdat hulle waardeer word of hoogsbetaald is nie, maar omdat dit hulle roeping is. Hulle verdien ons respek en lojaliteit.

Kokerboom ·

Baie dankie aan ons onderwyshelde vir die onbaatsugtige diens wat jul verrig. Jul is die rede dat die onderbou van ons ekonomie kan voortbestaan. Ons salueer julle

koos10 ·

As BL lid van 2 skole kan ek nie my dank genoeg uitspreek nie. Tans werk onderwysers by die twee skole dubbeld. Klas word normaal gegee en aanlyn klasse gaan ook voort. Watter mens sal dubbel werk en in sommige gevalle teen minder geld. Dan kom die beskerming van leerders teen COVID ook nog by.
Dan weier sommige ouers ook nog om skoolgeld te betaal, want ons kinders gaan mos nie skool nie.
Aan elke opvoeder in in land, ek waardeer elk een van julle en salueer julle!

JJ ·

Ek het in my glasbal gekyk en dit is wat ek sien. Private skole se groei gaan afneem. Baie meer ouers gaan hulle kinders uit die skole haal en begin tuis onderrig gee. Onderwyser se rol gaan ook verander. Hulle sal steeds onderwys gee, maar nou hulle dienste aanlyn verkoop op subskripsie basis. Diegene wat goed is, sal floreer. Die poweres en luies sal uitgedruk word. Uit die verbruiker se oogpunt gaan dit maklik wees. Ek hou nie van hoe jy die probleem verduidelik nie of ek hou nie van jou houding nie. Kliek. Subskripsie gekanselleer. Kliek ek sluit aan by een wat die probleem beter verduidelik. Wees gewaarsku. Daardie trein is in die tonnel… sonder dat sy koplig brand. Subskripsies en aanlyn onderwys gaan duur skoolgelde vervang.

Maria ·

Inderdaad ongelooflike mense. Om onderrig te gee, en daarna ook die les aanlyn beskikbaar te stel is die toppunt van toewyding!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.