Ode aan vryheid in Maastricht

dandilion-sade-wind

Foto: Dawid Zawiła/Unsplash.com

All people become brothers
Where your gentle wing abides
Who has succeeded in the great attempt,
To be a friend’s friend

Die toneel was die Vrijthof in Maastricht. André Rieu en sy orkes het in die plaaslike dialek op die verhoog losgetrek met Ludwig van Beethoven se “Ode aan die Vrede” as deel van sy Negende Simfonie. Die Hollandse tannie regs van my het op haar stoel geklim, ritmies van kant tot kant geswaai en kort-kort amper haar vuis op my kennebak geplant.

André Rieu het vroeg-vroeg al gewys waar sy lojaliteit lê. Hoeveel Britte is daar vanaand, het hy gevra. ’n Groot gejuig. Wie van julle hou van Brexit? Sowat die helfte juig. Wie hou nie van Brexit nie? Die ander helfte juig.

En toe trek hy los met soos ons dit ken “The Ode to Joy, oftewel die “Ode to Freedom” soos dit in latere jare verander het. ’n Gedig van die Duitser Friedrich Schiller, later getoonset deur die beroemde komponis Beethoven, ’n Duitser wat eintlik in hedendaagse Vlaandere gebore is.

En vandag is die “Ode to Joy” die amptelike volkslied van die Europese Unie. Die tannie regs van my se vuis het dié slag amper in my ribbes gepomp.

And whoever never managed,
He should steal away
Crying from this union.

Selfs die pro-Brexit-groepie onder die toeskouers was nou stil. Een ding was seker: André Rieu, Nederlandse kunstenaar wat deesdae oor die wêreld heen vereer word, is nie net ’n boorling van Maastricht en Nederland nie, maar ook ’n Europeër. Hy praat ook vyf ander Europese tale, naamlik Engels, Duits, Frans, Spaans en Italiaans.

Dié Limburgse stad lê heel suid, ’n hanetree van die grens met Duitsland en België en is een van die oudstes in Nederland. In die plaaslike dialek, waarin baie straatname nog aangegee word, is die stad se naam Mestreech. “Ode to Joy” word deesdae ook spontaan gesing by betogings in Hongkong, Suid-Amerika en ander.

Later het hy ook ’n draai gemaak by die drie wit sterre op ’n rooi agtergrond – die embleem op die vlag van die stad. Hoera! Viva. Mestreech. Ja, jy is in ons hart. “In taol, die we zingen klinkt” (In a language that sounds like singing). Almal het saamgesing, Mestreech of te not.

Toe drie meisies drie vlae met drie wit sterre op die verhoog ontplooi het niemand gekla nie. Mestreech is nie skaam om sy herkoms te deel nie. Hy bedreig ook niemand nie.

Ja, Rieu het ook by Suid-Afrika uitgekom. Hoeveel van Suid-Afrika is hier? Het hy gevra. Twee bedeesde groepies het hul vlae rondgeswaai. Ja, vir die polities korrektes, dit was die nuwe Suid-Afrikaanse vlag, nie soos in België tydens ’n onlangse Afrikaanse konsert nie.

Dan was daar Mestreech se dansgroep, wat met swaaiende heupe en amper volkspelerokke die Vryjthof binnegewals het. Eers was dit stemmig tussen die skare wat ’n terrein maklik so groot soos ses rugbyvelde volgesit het. Dan is daar nog die omliggende restaurante reg rondom die Vrijthof, wat sorg dat hulle munt slaan uit die weeklikse konserte in Julie. Maar hoe later hoe kwater het dit geword – toe het selfs die studente in hul rooi pakkies (wat die plekke moes aanwys), begin saamdans. Die tannie regs van my het van haar stoel afgeklim en die paadjie saam met dosyne ander aangedurf.

Selfs ek was later in die paadjie, maar (moet ek byvoeg meer in die pad as op die pad. En daar was groot manne in my pad. ’n Hele paar Bakkies Bothas. En het u geweet waar die naam Vlieënde Hollander vandaan kom? Dit moet die lang Hollandse meisies op hul fietse wees wat op en af snel.  Selfs Suid-Afrikaanse taxi’s sal hier ’n les of wat kan leer.

Toe ek skuins voor twaalfuur die nag uit die Vrijhthof is, het een van die rooi geklede meisies my by die hek gegroet: “Totsiens, Meneer”. In goeie Afrikaans (of is dit nou Vlaams?). Dis meer as wat ek van Suid-Afrika kan sê, waar dit deesdae nie vanselfsprekend is dat almal my moedertaal aanvaar nie.

Later in die bed het die “Ode to Joy” deur my kop gemaal. Nie in Engels nie, nie in Duits of Nederlands nie, maar soos ons dit dikwels in die kerk in Suid Afrika sing:

Al die tale, profesieë,
Met die tyd gaan dit verby
Net die liefde, die volmaakte
Net dit sal vir altyd bly.

Dankie, André. Ek het tuis gevoel, selfs meer as in my moederland.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jerry ·

Dit is nou mooi, baie mooi, so naby aan volmaak, maar tog ook so ver buite die mens se bereik, daarom dat die mens daarna hunker, daarna aanhou strewe!

John ·

What a beautiful dream… Oy, oy sal ‘n Joodjie byvoeg. Maar waar was oom Tienie voor 1994 toe al die verandering beplan is… waar was hy, of was hy toe ook aan’t drome oor… the good life in paradiso out yonder elsewhere, somewhere… but not on Earth.

Stem ·

Baie mooi. As mens ‘n glimlag op jou gesig wil sit, kyk na ‘n video van André Rieu. Dis pragtig en vreugdevol.

Colin ·

Ek is in Rhodesia gebore. On volkslied “Rise O voices of Rhodesia” het ook die selfde musiek gebruik. Blykbaar in die paradys van zimbobwe mag jy nie die stuk musiek van die Grote Beethoven speel nie (al het jy elektrisiteit!)

dejager ·

Die hele artikel roer geen snaar by my nie.Is dit net ek?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.