Oekraïens-Russiese-krisis in retrospeksie: Moontlike lesse van Versailles

Deur Jean-Jacques Boshoff

Ontploffings en geweervuur is sedert Donderdagoggend oor die hele Oekraïne gehoor ná Rusland Oekraïne ingeval het (Foto: Anatolii Stepanov, AFP)

Die Russiese militêre aanval in die vroeë ure van 24 Februarie 2022 op verskeie stede in Oekraïne word deur baie in wangeloof waargeneem, maar dit het nie vir sommiges as ʼn skok gekom nie.

Die internasionale gemeenskap, veral die Weste, het tot dusver nog nie sy teenaanvalstrategie geopenbaar nie; dit sal sekerlik uitgebreide sankies en ekonomies-finansiële maatreëls bevat. Die geleentheid vir ʼn diplomatieke oplossing vir die konflik het nou die einde van die pad bereik met min tot geen kans om op ʼn suksesvolle wyse Rusland se militêre aanval, of moontlike inval, te stop nie.

Die afgelope week het die belofte van diplomatieke bemiddeling tot ʼn skielike halt gekom, met die nuus dat Rusland verskeie militêre en strategiese sleutelpunte met missiele gebombardeer het. Alhoewel die geleentheid vir diplomatieke onderhandeling tussen Russiese president Wladimir Poetin en president Wolodimir Zelenski van Oekraïne wel bestaan, is alle aanduidings daar dat dit ʼn diplomatieke wonderwerk sal verg.

Die militêre inval op Oekraïne wat tot dusver nog net deur missielaanvalle gekenmerk is, volg op ʼn week van diplomatieke struweling op die Oekraïens-Russiese grens. Die tyding van Poetin se missielaanval in Oekraïne na afloop van die Olimpiese Winterspele van 2022 in China beklemtoon ook die feit dat China se persepsie vir Poetin van kritieke belang is en dat die rol van die Weste nie oorbeklemtoon moet word nie. Poetin het sekerlik geweet dat enige militêre veldtog akkommoderend teenoor China moet wees, veral gedurende die Olimpiese Winterspele.

Hierdie diplomatieke mislukking is egter nie ʼn onlangse politieke vraagstuk nie, maar die ontstaan daarvan kan na die einde van die Koue Oorlog teruggespoor word. Sedert die ontbinding van die Sowjetunie was daar natuurlik ook vele ander belangrike geopolitieke gebeurtenisse wat agtergrond skep tot die huidige geopolitieke narratief. Sedert die ontbinding van die Sowjetunie in 1991 toe Rusland sy invloed in die vorm van “sekuriteitbuffersones” afgestaan het, was daar ʼn reeks ander aanduidings van Russiese ongelukkigheid.

Dit is noemenswaardig om ook te besef dat die opkoms van die sogenaamde “sterk man” Poetin en Russiese kulturisme in die vroeë 2000’s ʼn herlewingsoomblik vir Rusland was. Dit is gedurende hierdie tydperk tussen 2000 en 2005 waartydens ʼn reeks sogenaamde “kleurrevolusies” in Joego-Slawië, Belarus en Oekraïne plaasgevind het. Opgevolg deur die Russies-Georgiese Oorlog van 2008 waartydens Rusland in ʼn soortgelyke wyse die Russies-gesteunde, selfverklaarde republieke van Suid-Ossetië en Abchasië in ʼn konflik saamgesnoer het. Die Poetin-visier het homself reeds in 2014 op Oekraïne gerig na afloop van die “Euromaidan”-revolusie toe Rusland die Krim in die suide van Oekraïne geannekseer het. Hierdie reeks konflikte is deur die Minsk-ooreenkoms in 2014 opgevolg wat ʼn diplomatieke uitweg in die oorloggeteisterde Donbass-streek van Oekraïne gebied het. Hierdie ooreenkoms kon tot dusver duidelik nog nie die veiligheidsbesware van Rusland uit die weg ruim nie.

In ʼn onlangse persverklaring vanuit die kantoor van Josep Borrell, Europese Unie se hoof van buitelandse beleid, is ʼn sterk herinneringsboodskap gestuur dat die Russiese militêre aanvalle op Oekraïne getel kan word as van “die donkerste ure vir Europa sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog”. Die verwysing na die Tweede Wêreldoorlog staan nie buite konteks nie. Daar was ook ʼn reeks gebeurtenisse wat tot die oorlog bygedra het, insluitend die kruispad van 1919 wat grootliks tot die diepgaande ongelukkigheid van Duitsland in aanloop tot die Tweede Wêreldoorlog bygedra het. Die ervaring uit die verlede wys egter daarop dat die ontbinding van die Sowjetunie moontlik ʼn gulde geleentheid vir die Weste kon gewees het om deur grootmoedigheid die tipe misrekening soortgelyk aan die Versailles-verdrag van 1919 te kon vermy.

Pres. Wladimir Poetin tydens die aankondiging van ʼn militêre operasie in Oekraïne (Foto: Handout/KREMLIN.RU/AFP)

Ná die ontbinding van die Sowjetunie het dit duidelik geword dat Rusland nie deel sou vorm van die Weste se Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) nie en dat die Weste Rusland nie wou verwelkom nie. Rusland het ná die ontbinding van die Sowjetunie die bestaansreg van Navo betwyfel en was krities oor die moontlike uitbreiding van Navo in die streek. Hierdie sentiment het homself Woensdagaand herhaal toe Poetin in sy uitgerekte griewetoespraak oor Navo se oostelike uitbreiding gevra het: “Hoekom was dit nodig om ʼn vyand van ons te maak …? Hulle wou nie so ʼn groot, onafhanklike land soos Rusland hê nie.” Alhoewel George HW Bush in die vroeër 90’s die Sowjetleier Michail Gorbatsjof probeer verseker het dat Navo nie verder sal uitbrei nie, het Navo sedert 1999 met veertien lidlande uitgebrei.

Soortgelyke vraagstukke van integrasie en versoening tussen state kan ook in die geskiedenis gevind word. Van die mees invloedryke diplomatieke prosesse van versoening en integrasie sluit in die Kongres van Wene (1814) en die onsuksesvolle Verdrag van Versailles (1919). Dit is spesifiek die Parys-vredeskonferensie as voorloper tot die Versailles-verdrag wat as diplomatieke antitesis die belangrikheid van grootmoedigheid beklemtoon. Gedurende die Parys-vredeskonferensie van 1919 het een van die sleutelonderhandelaars, Jan Smuts, herhaaldelik aan Lloyd George geskryf om hom teen die vernietiging en marginalisering van Duitsland te waarsku omdat dit tot meer konflik en onstabiliteit sou kon lei.

Die Verdrag van Versailles was ʼn oorwinning vir die geallieerdes, maar sou Duitsland ekonomies vernietig en vervreem, wat later tot die opkoms van nazisme en uiteindelik die grootskaalse militêre konflik van die Tweede Wêreldoorlog sou bydra. Die geallieerdes het deur die Versailles-verdrag die oorlog gewen, maar die vrede verloor. Dit is moeilik om nie aan die Oekraïens-Russiese krisis te wil dink en hoe anders die politiek in die streek sou lyk as Navo ná die einde van die Koue Oorlog ontbind het en sy hand na die Sowjetunie uitgereik het nie. Hierdie diplomatieke grootmoedigheid is egter nie altyd so bekombaar vir leiers nie, omdat plaaslike politieke ondersteuning dikwels die troefkaart hou.

  • Jean-Jacques Boshoff is ʼn politieke kenner en dosent in sosiale wetenskappe aan Akademia.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Groen Ghoen

Inderdaad. Die ANC se “oorwinning” in 1994 het die Afrikaner ook bykans magteloos oorgelewer aan die stampe en stote van die demokratiese meerderheid gelaat. Hopelik kan die trotse Afrikaners net soos die Russe, na drie dekades, weer op hul regte begin staan en dit met gesag afdwing.

Treurwilger

Dankie vir hierdie vars, objektiewe perspektief op dié saak, want die eensydige nuusdekking raak te veel vir die gestel.
Tragiese verwoesting wat nooit moes plaasvind nie, en ‘n meer tegemoetkomende houding teenoor Rusland vanuit die arrogante Weste kon dit verhoed.
Donald Trump het probeer uitreik na Putin, maar alle pogings is in die wiele gery en verdag gemaak.
Westerse ‘staatshoofde’ kan gerus hand in eie boesem steek oor hierdie fiasko.

Human

Putin dwing so gesag af dat daar in 64 Russiese stede betoog word en meer as 1600 betogers gearresteer is na hy die Okraeïne onwederegterlik met sy magte aangeval het. Hy is niks anders as ‘n Diktator en is hoof van die Russiese Mafia wat sy mense met ‘n ysterhand onderdruk en regeer.
As die kommintaar gelewer op sommige artikels die van trotse Afrikaners is dan is daar min hoop indien enige vir die sogenaamde Afrikaner.

Vrijburger

Puik ontleding en agtergrond.
Te veel keer in die geskiedenis het die Westers leiers se arrogansie in die pad gestaan van die sluit van wen-wen ooreenkomste en langdurige vreugde.

Dries

Behalwe dat Putin n gewetenlose diktator en n despoot is dink ek hy is nog onnosel en stapelgek ook