Oekraïense misleiding fnuik Russiese weermag

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Verskeie faktore is verantwoordelik vir die skouspelagtige sukses wat met die huidige Oekraïense teenoffensief teen die Russiese invallers behaal word, maar as één daarvan uitgesonder kan word, is dit die kwessie van misleiding. Dit was ʼn operasie wat met die grootste vrug by die Suid-Afrikaanse Militêre Akademie in Saldanha bestudeer kan word.

Net om die geheue te verfris: Einde Februarie het die Russiese weermag die Oekraïne op bevel van president Wladimir Poetin binnegeval. Die rede was sogenaamd omdat die land se pro-Westerse houding ʼn bedreiging vir Moskou ingehou het, maar Poetin het die Oekraïense regering ook van “Nazisme” en “fascisme” beskuldig.

Die eintlike rede was eenvoudig dat Poetin, ʼn imperialistiese Russiese nasionalis, nie Oekraïne se bestaansreg erken nie. Sy idee is om die ou tsaristiese Rusland, minstens met die inlywing van Oekraïne en Belarus, te herstel.

Aanvanklik is groot sukses behaal. Die Russe kon deur die verdedigers se verbete teenstand gekeer word om die hoofstad, Kjif, in te neem, maar in die ooste van die land is groot gebiede beset.

Toe het die oorlog taamlik bevries. Geen grootskaalse terreinwinste kon deur die een of die ander kant gemaak word nie, en waarnemers het al begin dink aan ʼn langdurige konflik wat moontlik selfs jare kon duur.

Maar intussen het die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, die Weste – Amerika en Navo – daarvan oortuig dat dit in hul belang was om Poetin te keer en sy land met die nuutste wapentuig toe te rus. Só gesê, só gedaan. En binne enkele maande was die Oekraïense weermag een van die bes toegeruste strydkragte ter wêreld.

Hiér kom nou die kwessie van misleiding in. Reeds weke lank sirkuleer gerugte, subtiel vanuit Kjif aangemoedig, dat Oekraïne ʼn teenoffensief voorberei, en dat die swaartepunt daarvan in die suide van die besette gebied sou wees.

Vir die Russe, wat om verskeie redes met ʼn tekort aan mannekrag en toerusting te make het, was dit genoeg rede om die grootste deel van hul slaankrag te konsentreer in die suide, waar die Oekraïense aanval verwag is.

Die probleem is – toe die knal kom, kom hy juis in die nóórde, waar die Russe hul eie magte danig verswak het. Dit was ʼn yslike sukses van die Oekraïners se misleidingsoperasie, want daardeur was die Russiese magte hopeloos verkeerd gekonsentreer toe die hamerslag kom.

Die gevolg was (altans, tot dusver) skouspelagtig. Die Russe in die noorde is totaal op die verkeerde voet betrap. Luidens ooggetuieverslae was hulle só verras dat hulle alles – wapens, ammunisie, tenks, kanonne, voertuie, brandstof, noem maar op – in die steek gelaat en vir hul lewens gevlug het.

Toe dié woorde geskryf is, het die Oekraïners in die noorde reeds die Russiese grens genader. Nie dat hulle dit sal oorsteek nie, want dít sal régtig op moeilikheid soek neerkom.

Maar ook in die suide het hulle vordering gemaak, sy dit op beskeie skaal.

Die Russe self praat van “hergroepering” van hul magte. Hulle wil begryplikerwys nie hul nederlaag erken nie.

Volgens die meestal uiters goed ingeligte Britse departement van verdediging het die Russe begin met die ontruiming van ál hul magte uit die distrik Charkof – die noorde dus. Maar ook in die suide, by die stad Cherson, sukkel hulle: Hul enigste bevoorradingsroete, oor die rivier Dnipro, is deur die akkurate Oekraïense artillerievuur afgesny.

Bowendien, meen die Britte, het die Oekraïense sukses behoorlike implikasies vir die oorkoepelende Russiese operasionele planne. Hulle kan tans nie aan verdere offensiewe operasies dink nie, maar moet op die verdediging konsentreer, wat beteken dat hulle die inisiatief verloor het.

Daarby staan die volgende veelseggende sin in die mededeling van die Britse departement van verdediging: “Die al reeds beperkte vertroue van die ontplooide troepe in Rusland se senior militêre leiding sal waarskynlik verder daal.”

Inderdaad, ander berigte maak al ʼn tyd lank melding van die skrille kontras tussen die moraal van die Oekraïners en die Russe aan die front.

Die Oekraïners voel hulle veg vir hul vryheid, vir die voortbestaan van hul vaderland. Die Russe veg omdat hulle móét en vir die geldjie wat hulle aan die einde van die maand kry.

In die Duitse koerant, Die Zeit, skets die analis Hauke Friederichs die situasie: “Russiese soldate wat hoenders jag en televisies steel. Verlate tenks, wat met beskadigings of leë brandstoftenks eenvoudig agtergelaat word. En stukkend geskiete burgers, manlik en vroulik, misvormde lyke wat massaal in Oekraïense dorpe agterbly, bewyse van oorlogsmisdade. Die beeld wat die Russiese leër in die huidige oorlog in Oekraïne agterlaat, is haatlik.”

Terselfdertyd, gaan Friederichs voort, “behandel die Oekraïense leër sy mense veel beter.  Ook daarom is die motivering duidelik veel hoër as by die teenstanders. Hulle verdedig hul land, baie doen dit vrywillig… Berigte oor ontevrede soldate is daar byna nie.”

As ʼn mens die saak dieper bekyk, het die Russe te make met ʼn nadeel wat byna in elke totalitêre diktatuur teenwoordig is. Sake soos onafhanklike denke en eie inisiatief word in só ʼn stelsel ontmoedig of selfs gestraf.

Dit het ook ʼn uitwerking op die slagveld, waar junior- en middelslag-offisiere te bang is om self besluite te neem en wag op die bevele van senior offisiere. Dit beteken dat blitssnelle besluitneming by die Russe nagenoeg onmoontlik is en dat alles log en vertraag gebeur.

In Westerse weermagte is die doktrine dat besluite op die laagste moontlike vlak geneem word, en dat hoër range slegs inkom wanneer dit nodig is of wanneer besluite op strategiese of operasionele vlak moet gebeur. Dit is iets wat ook in Oekraïne oorgeneem is, en dít maak dié land se weermag op bevelsvlak ligvoetig en maklik aanpasbaar, in teenstelling met die stadige Russe.

ʼn Kolonel in die Duitse weermag, Matthias Rogg, som die Russiese bevelsbenadering só op: “Ek is die hoof en julle is die idiote.” Vir só iemand is die gewone soldate eenvoudig kanonvoer.

Intussen is iets unieks in die Russiese politiek aan die ontwikkel. Steeds meer openlik hoor ʼn mens die klanke van Poetin-kritici wat meen die man het ʼn yslike fout gemaak deur Oekraïne aan te pak sonder om behoorlik na te dink.

ʼn Goeie voorbeeld is die stadsraad van Smilskinskoje by Sint Petersburg, wat Poetin daarvan beskuldig dat hy verantwoordelik is vir die “afmaai van jong gesonde Russiese manne”.

Uiteraard slaan Poetin hard terug, want só iets kan hy nie bekostig nie. Maar steeds meer sulke klanke word hoorbaar.

Die vraag is: Hoe lank hou Poetin nog in die regering uit? En indien hy val, is dit die einde van die oorlog?

Dis egter nog te vroeg om dít te beantwoord.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Frans ·

Dalk is ek verkeerd, maar die kommentaar klink eensydig tenoor van die inligting huidiglik beskikbaar. Nie so seker of die een kant goed en ander kant net sleg is nie. Dít is dalk naïef en te eenvoudig gestel. Dit is nooit so eenvoudig nie… delf bietjie dieper.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jy is reg. Die skrywer mis die groter prentjie.

Human ·

Nou wat is die groter prentjie, dat Putin ‘n oorlogsugtige outokraat is en Rusland bedryf soos ‘n Mafia staat en nie ‘n flenter omgee vir mense, sy eie en die van die land wat sy troepe aangeval het en dan, soos ‘n peuter, sy speelgoed uit die kot gooi en die Wêreld afdreig met sy kernarsenaal as hy nie sy sin kan kry.

Republikein in die Wes Kaap ·

Human, kom ek vertel jou die ware storie. Die pa van Poetin se jongste buite egtelike kleindogter is ene Zelinski. Noem daai van en die man sien rooi.

Marthinus W ·

Die Russe trek startegies terug want dis nou modder tyd, en dan kom die winter. Onthou hoe Napoleon deur “generaal Winter” geknak is.

Human ·

Putin het ‘n perd opgesaal wat hy nie kan hanteer of beheer, net ‘n kwessie van tyd, dan gaan hy hard met die aarde(moedertjie Rusland) kennis maak. Sy uurglas is besig om uit te loop en die bunker en pistool(gif) is op die uitkyk vir hulle volgende kliënt.

Gerhardus ·

Putin/Poetin (hoe die “puriste” dit ookal wil uitspreek), het die akteur-President, Wolodimir Zelenski totaal-en-al onderskat. Hy het gedink Zelenski gaan net terugstaan en oorgee, maar toe word die ware leier in hom net wakker gemaak.

Republikein in die Wes Kaap ·

En wat ‘n leier! Zelinski is nou ‘n mini-diktator wat met neo-nazis simpatiseer in ‘n eenparty staat sonder media vryheid. Net wat Washington wil hê.

Treurwilger ·

Nadat die onlangse “skouspelagtige sukses” besing is, sal ‘n opsomming van die betreurenswaardige toestand waarin die wêreld homself bevind vinnig ontnugter.
Die VSA/NAVO samespanning het allermins oorloë voorkom, en beslis van die wêreld ‘n veel gevaarliker plek gemaak, met China en Rusland wat hulself gedwing voel om saam te staan. En met reg ook.
Of die Oekraïne/Weste nou die oorlog wen of verloor,samewerking met die Ooste is nou vir ewig neusie verby.

Republikein in die Wes Kaap ·

100% korrek. Wie mislei wie en wat? Wat begin het as ‘n botsing tussen konserwatief Slawies Russiese en liberale Anglo Sakse/Germaanse beskawings moes vinnig opgelos word. Dit kan nou ontaard in ‘n uitgebreide konflik tussen die Ooste en die Weste. Indië begin ook kantel na die Ooste. Japan en Taiwan het groot probleme. Die meeste internasionale instellings wat ons ken kan verdwyn met rampspoedige gevolge vir almal. Wes en Sentraal Europa staan voor enorme uitdagings. Afrika sal ook die gevolge voel. Enige oorlog het geen werklike wenners nie, ten spyte van “skouspelagtige” suksesse. ‘n Kernoorlog lyk nou onafwendbaar.

Groen Ghoen ·

Jy is besonder goed ingelig en ken die ware feite. WO111 het begin. Die Russe weet dat die groot gelykmaker, die Winter, net om die draai wag vir Europa. Ons u klein landjie, minder as 1% van die globale ekonomie, gaan klippe kou.

Human ·

Feite volgens Putin se propaganda masjien? Praat van “ware feite,” eenogigheid is ook `n feit.

Republikein in die Wes Kaap ·

Westerse analiste sê dieselfde. Gaan lees maar.

Republikein in die Wes Kaap ·

Poetin het die meeste van sy doelwitte bereik. Die Dombas is nou onder Moskou se beheer en die Krim is beveilig. Maroepol is vernietig en Odessa is onder beleg. Die Russe kan die Krim nou per land bereik. Kiëf is afgesny van gedeeltes van die Swart See, dus beheer Moskou nou skeepsverkeer daar. Die kernkragnetwerk in die sentrale deel word deur die Russe beheer. Oekraïne se ekonomie sal nie gou herstel nie, hul weermag bestaan uit huursoldate wat betaal word met geskenke van die Weste.Wat is volgende? Gaan Zelinski deur sy eie mense uitgehaal word of gaan Rusland dit alles stop met kleiner kernbomme, iets wat die Yanks lankal sou gedoen het. Ja, gewone Russe wil ook hê dat alles nou tot ‘n einde kom. Troepe is moeg baklei. En Poetin weet dit. Een of ander tyd sal die partye moet onderhandel. Intussen kom die winter nader.

Groen Ghoen ·

Van almal wat hier skryf (Selfs ongelukkig die rubriekskrywer) is jy die bes ingeligte. Die
Militêre Akademie in Saldanha… Aai foeitog! Droom voort! Die enigste wenner van hierdie konflik is China. Energiekoste is besig om Europa te kelder en die winter is nog nie eens daar nie. Die VSA versuip in skuld. Die S.A. Titanic dobber maar net saam op die vaarwaters. Maar, dalk wen Jurassic Joe die oorlog met Rusland en is alles maanskyn en rose.

Rupert Ashford ·

En die Amerikaanse Militer-Industriele kompleks lag al die pad bank toe op die rug van die Amerikaanse belastingbetaler met die miljarde se wapens wat aan Ukraine “geskenk” word. En Biden betaal sy skuld vir die steun wat hy tydens die verkiesing gekry het…

Skuilnaam ·

Ja, swaer. Enige storie wat eindig met “Dis egter nog te vroeg om dít te beantwoord,” is niks anders as spekulasie – niksseggend en beteken niks. Mors van tyd om hierdie snert te lees.

Veronika ·

Poetin is n kommunis en hy wil Rusland weer so hê, dis maar sy eintlike doel!

Republikein in die Wes Kaap ·

Wow, jy so reg!!! Nou sien ek ook wat eintlik aan die gang is. Dankie!!!

Rupert Ashford ·

Hierdie konflik en die sanksies bring Rusland en China ook baie nader aan mekaar as wat hulle moontlik reeds was voor die konflik. En dit is waar die gevaar le op die lang termyn.

Marthinus W ·

Volgens die Amerikaanse oud-soldaat Scott Ritter, is hierdie oorlog Navo (beman deur Oekrainers) wat veg teen Rusland. Dis werklik naief om te dink dat die oorlog sal eindig indin Poetin nie meer aan bewind is nie. Dit toon n skreiende onkunde oor Rusland.

Human ·

Scott Ritter ‘n pro-russiese propagandis wat ‘n appeltjie te skil het met die Amerikaanse regstelsel as gevolg van gebeure uit sy verlede. Definitief nie die mees betroubare kommentator. Onkunde kom voor in vele vorms veral as al die aannames in ag geneem word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die nuwe kansellier van Duitsland wil nie by die spulletjie betrokke raak nie. En Swede het nou ‘n regering wat pro Russe insluit. Europa is deurmekaar geklits.

Autobahn ·

Die koerant “Die Zeit” word onder andere deur die globalis Bill Gates gefinanseer en is nie onafhanklik nie. Bowendien is Die Zeit een van die radikaalste propaganda masjiene van die sogenaamde Duitse regering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.