Oekraïne en Rusland: Oorlog of nie?

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Druzhinin/Sputnik/AFP)

Tans hou almal asem op of dit in Europa tot ʼn oorlog gaan kom. Europa, steeds getraumatiseerd deur verskriklike oorloë in die eerste helfte van die twintigste eeu (asook in vorige eeue), is vandag seker die pasifistiese vasteland wat oorlog ten alle koste wil vermy.

Nou dreig daar ʼn moontlike oorlog tussen Rusland en Oekraïne, wat die hele Oos-Europa, selfs die hele Europa, kan betrek. Met die VSA en China aan weerskante is selfs ʼn wêreldoorlog denkbaar, alhoewel dit onwaarskynlik lyk. Daar bestaan immers instellings en veral kernwapens aan beide kante wat eerder ʼn nuwe koue oorlog as ʼn warm oorlog waarskynlik maak. Hierdie kantelpunt wat nou bereik is, kom eintlik al oor baie jare. Nog steeds hoop die wêreld dat Wladimir Poetin, Russiese president, net bluf en met een of ander toegewing oortuig kan word om sy troepe van die grens met Oekraïne te onttrek.

Die konflik kom wel al oor baie jare, streng gesproke sedert die opbreek van die Sowjetunie in 1991. Rusland, as die regsopvolger en verreweg die grootste staat van die voormalige kommunistiese reuseryk, het na sowat ʼn dekade van onderhorigheid aan die Weste en die na-aap van die markekonomie onder Boris Jeltsin met Poetin in beheer sedert 2000 lankal ʼn ander koers ingeslaan, naamlik die van die herstel van eertydse glorie. Dit is geen terugkeer na die Sowjetunie nie, nog minder na die tsaar se ryk, maar dit is die drang dat Rusland minstens as streeksmoondheid erken moet word.

Die Weste sou Rusland (oftewel destyds nog die Sowjetunie in sy laaste stuiptrekkings) na bewering kort na die Duitse vereniging toegesê het dat NAVO (Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie) wel graag voormalige kommunistiese lande soos Pole en Tsjeggië as lede wil hê, maar nie voormalige deelstate van die Sowjetunie nie, wat as Rusland se agterplaas beskou is. Die drie Baltiese state is ten spyte daarvan as lede opgeneem, omdat hulle altyd baie sterk Westersgesind was, maar ook so klein dat hulle geen bedreiging vir Rusland inhou nie. Met Georgië, wat ook sterk na die Weste oorgehel het, was dit ʼn ander saak: Geografies was dit te ver van Europa en te naby aan Rusland se geostrategiese suidelike flank. Om die land te kelder het Rusland twee separatistiese gebiede in Georgië militêr ondersteun en hou sodoende sy duim op Georgië.

Oekraïne se pres. Volodymyr Zelensky Woensdag by ‘n weermagoefening. (Foto: Oekraïne dept. van verdediging/AFP)

In ander state is suksesvol gepoog om pro-Russiese, outokratiese leiers aan bewind te hou, soos in Witrusland en Kasakstan. In Oekraïne was Rusland tevrede met die pro-Russiese president Yanucovych, maar nadat hy deur ʼn volksopstand in 2014 ontsetel is, het verhoudinge tussen die twee state versuur en Rusland het alles moontlik gedoen om Oekraïne te kelder. Die besetting van die Krim-skiereiland en die steun aan Russiesgesinde separatiste in Oos-Oekraïne het onmiddellik gevolg. Die verhoudinge was onherstelbaar beskadig en Oekraïne het om verstaanbare redes nou nóg meer sy heil in die Weste gesoek om hom teen die Russiese boelie te beskerm. Die smeulende konflik het nou, waar daar sprake is van NAVO-lidmaatskap vir Oekraïne, weer in felheid toegeneem.

Die vraag is egter waarom juis nou? Die antwoord lê moontlik by die Amerikaanse president Joe Biden, vir wie Poetin geen ooghare het nie en wat hom van meet af as swak en weifelende leier bewys het. Dit was veral die halsoorkop onttrekking uit Afghanistan wat vir Poetin en ander gewys het dat die VSA nie meer die militêre en politieke mag van ouds is nie. Daar kan aanvaar word dat die huidige konflik met ʼn president Trump aan die stuur waarskynlik nooit so ver sou vorder nie. Sou Rusland aanval en die Weste behalwe vir verbale veroordelings en ekonomiese sanksies niks verder doen nie, kan dit vir China die groen lig gee om Taiwan aan te val.

Sal Rusland werklik Oekraïne aanval en verower? Waarskynlik nie. Rusland wil sy beskermingsring van goedgesinde state of gebiede teen sy grens bou en het in Oekraïne reeds beheer oor die oostelike dele wat deur die separatiste beheer word. Poetin het daardeur sy hulptroepe anderkant die grens en kan hulle gebruik sonder om ʼn tussenstaatlike oorlog te begin. Poetin het sopas, op versoek van die Russiese parlement en veiligheidsraad, die twee separatistiese republieke Donetsk en Loehandsk as onafhanklike state erken en volg die strategie wat ook in Georgië gevolg is. Sou Oekraïne die gebiede aanval, kan Rusland hulle broers anderkant die grens te hulp snel, en kom dan nie as die aanvaller van ʼn kleiner, soewereine staat voor nie, maar as die verdediger van ʼn etniese minderheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Treurwilger ·

Na vandag se lees van hierdie puik verduidelikende stuk deur Sebastiaan Biehl, en ook wat Jack F. Matlock oud-ambassadeur van die Reagan-bewind daaroor sê, is alle twyfel uit die weg geruim.
NAVO soek moeilikheid. Matlock is die skrywer van verskeie boeke oor die onderhandelings wat die Koue-oorlog beëindig het.

MT ·

Maar natuurlik is NAVO (ook bekend as die VSA) die aggressor! Soos wat dit ook was met die skrikwekkende bombardering van Kosovo vir amper 90 dae.

NAVO/VSA sal verseker sorg dat hier wel ‘n oorlog gebeur. Ek voorsien ‘n ‘Bay of Tonkin’ voorval, net soos in 1964, met ‘n oorlogsugtige Amerika wat instorm, net om later weer bloedneus te kry.

Intussen is daar GROOT geld te maak.

Dirk Mostert ·

Korreksies: 1. Die “volksopstand” in Ukraine was ‘n CIA-georkestreerde staatsgreep. 2. Russiese troepe het nou in die Donbas-streek inbeweeg nadat Rusland gister die twee wegbreek-republieke in Oos-Oekraine erken het en met hulle ‘n verdrag aangegaan het om hulle te beskerm teen Oekrainse magte, wat sedert die staatsgreep Donbas stedelike gebiede in puin gele het. Na die staatsgreep en nou weer vlug Oos-Oekrainers na Rusland, nie weswaarts nie.

Die veroordeling van die Russiese besluit deur die Weste is selektiewe moraliteit. Toe Oekraine, die Baltiese state en al die obskure stannetjies langs die Kaspiese See van die Sowjet Unie weggebreek het, het die Weste hulle onafhanklikheid erken.

Vrijburger ·

Mmmmm kom ons kyk ‘n bietjie uit ‘n ander hoek hierna. Wat sou die VSA se reaksie gewees het as Poetin die Warskou-verdrag laat herleef en dan vir Kuba en Mexico deel daarvan maak?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.