Tydens ʼn terugblik oor die jaar kan ʼn mens seker ʼn paar insidente uitlig wat die gang van die kompetisie kon verander het en ander spanne in die finaal betrokke kon kry. Ons gaan nie daardie roete stap nie. Kom ons bepaal ons by dít wat die afgelope naweek gebeur het (dit is nou op die rugbyveld; ons skuif die opening van die Olimpiese Spele net vir ʼn wyle op die agtergrond.)
Vrydagoggend Suid-Afrikaanse tyd pak die Chiefs en die Crusaders mekaar in die eerste semi-finaal. Die Crusaders is gewoond aan die druk van uitspeelwedstryde. Hulle is nie verniet die mees suksesvolle span in die geskiedenis van die Super Rugby-kompetisie nie. Dit was harde en meedoënlose rugby, wat ʼn mens mos verwag in sulke wedstryde.
Alhoewel die Crusaders sy beste vorm in die laaste paar wedstryde begin bereik het, het die Chiefs tog genoeg skietgoed gehad om hulle te troef. Sommiges sal sê op ʼn ietwat kontroversiële manier, want ek kon met die beste nabyskote nie sien dat die een drie van die Chiefs wel oor of op die lyn gedruk was nie.
Die Chiefs was egter die beste span in Nieu-Seeland en ek gun hulle die naelskraap-oorwinning.
Wat egter hinder, is die feit dat hulle Vrydag gespeel het en dit hulle dus ʼn ekstra dag herstelkans bied wat in dié stadium van die kompetisie broodnodig is.
Na die opwinding van die Olimpiese Spele-openingseremonie is almal toe gereed vir die volgende semi-finaal in die Moederstad.
Die Sharks het die terugtog van Brisbane wel op ʼn vrolike noot aangepak maar die vlugflouheid het almal (buiten die Sharks) laat twyfel of hulle die Stormers op hulle tuisveld kan troef.
Wat ʼn wedstryd was dit nie. Sowat van fisiese inklimspel en rotsvaste verdediging is lanklaas gesien. Dit is ʼn bewys dat ons rugby tans kerngesond is. (Ons kan selfs ʼn beter Springbokspan kies as dié een wat die Engelse geklop het, indien ons meer spelers uit gister se wedstryd betrek. Die Bulls ondersteuners moet nou maar verlief neem want dié stelling is gister bewys.)
Dit het enkele stukkies individuele briljantheid gekos wat die spel in die Sharks se guns geswaai het. Louis Ludick en J P Petersen het daarvoor gesorg. Dit en die betroubare skopskoen van die Franse losskakel Freddie Michalak was net te goed vir die Stormers. Dit is al deur die jare op verskillende vlakke bewys dat geen span vir 80 minute lank, net kan verdedig nie.
Toe die Stormers met hulle rug teen die muur was, wou hulle aanvallende rugby speel maar dit was duidelik ʼn vreemde begrip vir hulle wat die heel jaar geglo het dat verdediging die beker sal wen.
Dit is toe dat die Sharks bewys het dat hulle net so goed kan verdedig.
Aan Alistair Coetzee en sy span, dankie vir ʼn harde, goeie wedstryd maar dit was nie goed genoeg nie. (Derde keer is nie altyd skeepsreg nie.)
Die voorval toe Eben Etzebeth vir Bismarck du Plessis met een van sy kenmerkende stormlope uit die grond geloop het, het my met absolute bewondering vervul want dit is die eerste keer dat ek dit met Bismarck sien gebeur. Hy is altyd aan die uitdeel maar Saterdag was hy beslis aan die ontvangskant en dit was verseker nie ʼn lekker ondervinding nie. Dat hy daar kon opstaan en met groter vuur in sy spel kon terugkom, weerspieël die ingesteldheid van die Sharks-span.
Ek dink die Chiefs glimlag van oor tot oor en ek hoop van harte dat hulle soos die res van die rugbypubliek gaan hoop dat die lang vlug terug Nieu-Seeland toe die Sharks se spel só gaan beïnvloed dat hulle slegs hoef op te daag om die beker te wen.
Die Sharks het bewys hulle kan dit doen en dit sal my (en die land se rugbyondersteuners) groot vreugde verskaf as die Sharks Saterdag die Chiefs se tjank ook aftrap.
My beste wense vergesel hulle en ek dink dat elke rugbyondersteuner in SA volgende Saterdag bankvas agter die Sharks sal staan.
Rugbygroete tot volgende week.