Om die gekonkel van die kaders te verklaar

Kaderologie is nie ʼn erkende begrip nie, maar dis nogtans ʼn studieveld wat reeds sedert 1994 in Suid-Afrika ontwikkel het. Dit verwys na die (wetenskaplike) bestudering van kaders, en die kundiges op hierdie gebied kan kaderoloë genoem word. Die woord ‘kader’, wat in ANC-kringe steeds met trots gebruik word, word histories geassosieer met ʼn opgeleide kommunistiese leier of aktivis.

Suid-Afrika se kaderoloë (wat moontlik nie hierdie benaming vir hulself sal toe-eien nie) is ʼn uitgelese groep kommentators wat die binnewerkinge van die regerende drieparty-alliansie – oftewel kaderpolitiek – bestudeer en aan die publiek probeer verduidelik. Die media is hul platform.

Georgy Zhukov en Josef Stalin by Wladimir Lenin se praalgraf (ongedateer)

Al is ‘kaderoloog’ ʼn vreemde benaming, het dit ʼn bekende klankie: dit herinner aan kremlinoloog, bedoelende ʼn Westerse ontleder van die ingewikkelde dinamika van die kommunistiese regering van die destydse Sowjet-Unie. Omdat die Sowjet-stelsel ʼn geslote een was, het kremlinoloë probeer om uit brokkies inligting – soos watter Sowjet-leiers staan langs wie by Lenin se praalgraf tydens die jaarlikse Meidagparade – af te lei wat in die binnekringe aangaan en wat dit sê van die stand van die land se binnelandse politiek en selfs sy buitelandse betrekkinge.

Daar is natuurlik ʼn enorme verskil tussen Suid-Afrika se liberale demokratiese bestel en die ou Sowjet-Unie se totalitêre orde. Die mate van deursigtigheid en aanspreeklikheid gekoppel aan openbare beleidformulering in Suid-Afrika was ongekend in die USSR. Wat wel steeds grootliks agter die skerms versluier is in Suid-Afrika, is die proses waarvolgens die ANC-SAKP-Cosatu-alliansie hul kaders rekruteer en daarna ontplooi en herontplooi in die openbare en selfs private sektore.

Hierdie is ʼn belangrike kwessie want kaders beland in gesagsposisies waar hulle besluit ‘wie kry wat, wanneer en waarom’, om een van die bekendste en nuttigste definisies van politiek aan te haal. Juis omdat die driekoppige alliansie se kaders Suid-Afrikaners se lot bepaal, het ons kaderoloë nodig om sin te maak van kaderpolitiek.

Maar daar is nóg ʼn belangrike bestaansrede vir ons eie kaderoloë: die Bisantynse aard van die drieparty-alliansiepolitiek. Die bekende Amerikaanse leksikograaf William Saffire beskryf Bisantyns as

“Machiavellian; characterized by scheming, double-crossing, backbiting and similarly nefarious behaviour often attributed to the denizens of the center of power; or labyrinth, arcane, mysteriously complex.”

Dis bepaald nie net in Suid-Afrika dat politiek op die hoogste vlak deur allerlei intriges gekenmerk word nie. Dink maar aan onlangse onheilighede in Brittanje waarby joernaliste, politici en polisie betrokke was, en die uitgerekte sepie-agtige dramas rondom die Italiaanse premier Silvio Berlusconi. Maar onder demokratiese state het die Bisantynse karakter van Suid-Afrika se binnekringpolitiek dalk min gelykes.

Gelukkig het ons goeie kaderoloë om die raaiselagtige en onverkwiklike werkinge van die regerende alliansie te help verduidelik. Maar dat kaderologie al so ʼn wesenlike element van Suid-Afrikaanse politieke ontleding geword het, is ʼn ernstige aanklag teen die aard van die politiek wat in die maghebbende alliansie bedryf word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Deon Geldenhuys

Deon Geldenhuys is ‘n emeritusprofessor in politiek aan die Universiteit van Johannesburg.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Friedman ·

Netjies gestel, die Kaderoloe irriteer my gereeld met hulle vertolking van die ANC binnekring politiek, asof alles daar bepaal word. Wat die Politici praat en doen is al minder belangrik, omdat die staatsdiens dit nie meer kan uitvoer nie. Hoe swakker die staat word, hoe groter die ruimte en geleenthede vir privatisering wat die enigste manier is om volhoubare dienste te voorsien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.