Om jou kinders vir Afrika groot te maak

’n Tyd gelede het ek ’n boek gelees met die sonderlinge titel, “My hart wil Afrika”, deur Tienie Swanepoel. Sonderling, omdat dit klink of iets skort. Hoe kan ’n mens se hart nou “wil Afrika” ?

Willie Spies en spruite

Jou hart kan wel klop. Dit kan gaan staan. Dit kan liefhê. Maar “Afrika” – dis vreemd.

Waarskynlik net so vreemd as om te besluit jy wil jou kinders vir Afrika grootmaak. Ek het al dikwels gehoor mense sê die of daardie persoon maak sy kinders vir die verderf groot – of vir die tronk.

Vir baie beteken die woord Afrika soveel negatiewe dinge – donkerte, korrupsie, geweld en hongersnood.

Maar mense wat  die land verlaat het, vergeet van die korrupsie en die geweld. Al wat wat bly brand is die gemis van die veld, die son, die wild, die braaivleis, die kuier, die grappies en wat nog als.

Dis asof Afrika ’n gesplete siel het – mens verpes die donker kant van daardie siel – maar die ligkant kyk jy dikwels mis totdat jy dit nie meer het nie.

My skoonouers woon die afgelope sewe jaar in Engeland. Danksy hulle verblyf daar, het Engeland so elke drie jaar vir die Spiese ‘n  Junie-vakansie bestemming geword. Na die derde besoek was ons egter geskok om te hoor hoe Engeland vir ons kinders die metafoor van vakansie, skoonheid en ’n goeie lewe geword het.

Na ’n kort werksbesoek aan Zimbabwe verlede jaar het ek en my vrou besluit: Van nou af gaan ons kinders die ligkant van Afrika leer ken. Ons gaan ons kinders vir Afrika grootmaak.

Op 4 Julie vanjaar het die planne realiteit geword. Met ons Volkswagen Caddy, die Ventertjie met daktent en al het ons die N1 noord aangedurf – op pad na ons nuwe groot trek.

Hier in Suid-Afrika is ons nog nie werklik in Afrika nie – dis eers as jy by Louis Trichardt verby is en nogal heel simbolies deur die Hendrik Verwoerd-tonnels ry wat jy besef jy is nou in Afrika.

“Dis darem vreemd dat die Liewe Vader alles in Afrika so onderstebo gemaak het”, sê my vrou. “Selfs die bome groei onderstebo”, terwyl sy ’n foto van die soveelste Kremetart neem.

Ons kom by die grenspos met sy massas mense in toue. Sy skedonk-karre met sleepwaens wat so hoog gepak is dat mens wonder hoe hulle deur die Verwoerdtonnels gekom het. Na drie ure is ons deur.

Die eerste besoek is aan ’n boer wat van sy plaas verjaag is – sy een huiswerker moet nog die Vrydag in die hof verskyn – omdat hy sy werkgewer se kant gekies het en nie die oorlogsveterane bygestaan het om die plaas te gryp nie. “They think I am an old man, but they are wrong. This man has a big heart. I will not be moved”, sê hy met ’n sprankel in die oog wanneer hy vertel van die oorlogsveterane se intimidasietegnieke.

In daardie boer en sy lojale huiswerker se bestaan sien ek weer iets van die ligkant van Afrika: gelowige, bedagsame en lojale mense wat hulle nie laat beweeg deur die donker kant van hulle kontinent en sy gewaande leiers nie.

Op ’n klein lappie grond wat hy oor gehad het, het die boer weer in ’n kort tyd ’n lushof geskep. Hy het as’t ware die donker met lig verdryf.

Toe ons dae later die 80 km sinkplaatpad vol klippe en slaggate getrotseer het en ons daktentjie so 150 meter van die Zambezirivier staan gemaak het, was dit weereens die ligkant van Afrika wat ons begroet. Dis amper asof die hiënas wat saans rondom jou vuurmaakplek kom aas vir oorskiet, die seekoeie wat die wêreld vol is en die olifante wat ongestoord reg langs jou tent verbydrentel , nie weet dat die mens die natuurlike vyand van alle wild is nie. Toe ons dogtertjies na drie dae sonder badwater vir die eerste keer weer gaan stort sê ons jongste dogtertjie “Mamma, ons bad heeltemal te veel by die huis”.

Enkele dae later vertrek ons huisboot oor die wye blou horison van die Kariba – Afrika se grootste dam – na ons eerste vasmeerplek. “Pappa, ek dink ons is nou in droomland”, sê ons negejarige dogtertjie kort nadat sy haar eerste Kurper uit die oorvloed van die Kariba se varswatervisbronne gevang het.

Op pad terug moet ek ’n band vervang – die lae profiel bande van my Volkswagen Caddy was nie opgewasse teen die sinkplaatpad van Manna Pools nie. Ek betaal 120 Amerikaanse Dollar vir die band wat ingevoer is uit China (soos meeste van die masjinerie en konstruksietoerusting wat oral te sien is).

“It is beter now since they changed to US$” sê die werktuigkundige, “but everything is not fine. I tell you, the storm is looming. When it breaks loose, it will be like Libya. The people has suffered enough”.

Daar is ’n vasberadenheid by die werktuigkundige – op ’n vreemde manier maak sy onheilspraatjies my opgewonde en ek merk ’n sprankie lig sy donkerbruin oë.

Die mense van Zimbabwe het genoeg gely onder die donker tirannie van Robert Mugabe – die man wat hom aanbied as die bevryder van Zimbabwe maar so baie lewens in Matebeleland en elke ander MDC-vesting geneem het.

“Is ons nou terug in Suid-Afrika?” vra ons jongste toe ons die grenspos by Beitbrug baie vinniger oorsteek as met die koms. “Kom ons volgende jaar weer? Vra hy opgewonde.”

Ons plan het gewerk. Ons kinders wil in Afrika wees!

Soveel mense word eensaam oud in Suid-Afrika omdat hulle kinders landuit is. Baie keer is daardie kinders weg as gevolg van die donker kant waarmee hulle daagliks gekonfronteer word. Wanneer hulle weg is, is dit juis die ligkant wat hulle so mis.

Ons maak ons kinders dikwels groot om sinies na alles om ons te kyk en dan is ons verbaas as hulle as siniese volwassenes so maklik afskeid neem van alles wat lief en dierbaar is – selfs hulle families.

Toe ons terug is by die huis sê Wian ons oudste “Pa, ek gaan emigreer as ek groot is.”

Ek raak yskoud. Wat kon so vinnig verkeerd geloop het. Sien ons kind al klaar weer net die donker kant van ons kontinent se siel raak? Maar voor ek kan uitvra gaan hy verder : “Ek gaan Zimbabwe toe emigreer!”

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Willie Spies

Meer oor die skrywer: Willie Spies

Willie Spies is prokureur by Hurter Spies Ing en betrokke by verskeie regsaksies van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Christo Pretorius ·

Nêrens elders word die hartsnare so geroer soos ‘n Leeu se brul-steun of ‘n Naguiltjie se helder skemer-aandroep.  Ons kinders het dit saam met moedersmelk, pap en biltong ingekry. Maar hulle weet ook van die ‘Tswana-mense’ se ja is hulle nee, en nee is hulle ja; of dat by ‘n tradisionele Zoeloe-kraal moet jy pasop by wie se hut jy eerste aanmeld.  Ons kinders word aan die hand gevat en na Neerlage, naby Schuttorf, gelei en dan verder, na Leiden, Mauritius en 1666 se Kaapstad.  Dan tree ons hom af na Graaf-Reinett, Tulbagh, verby Bloukrans na die doopvont op Groot-Marico en die konsentrasiekamp anderkant Wolmaransstad.  
Terwyl die kooltjies gloei en die stokbroodjie bruin word, word vertel van die Depressie en Oupas wat Hartebeespoortdam gebou het, meelsak-broeke gedra het en nie teringliksense kon kry, want hulle was nie ‘Engels-genoeg’ nie.  Wanneer Ma die doekpoeding skep en  die room en sjokolade pot begin borrel – dan waarsku ons: Moenie skuldig voel oor julle plek hier nie; pasop dat ander jou vreemd maak, jy staan op die skouers van Afrikaners, jou mense wat anders is as ander; mense wat van hulle Skepper en Verlosser ruimte vra.

Anoniem ·

Ek is ‘n Afrika kind. Ek is hier gebore en ek het hier grootgeword. Ons was verlede jaar ook Zimbabwe toe. Ons het amper 2 000 Bybels na ‘n sendingstasie geneem. Daar het ek besef hoe bevoorreg ek is om in Suid-Afrika te bly, maar ek het ook ervaar hoe Christenskap mense kan saambind, maak nie saak wat jou agtergrond is nie. Ek het geleer om dankbaar te wees. Vir water in my toilet, vir elektrisiteit, vir my Bybel. Maar ek het ook agter gekom dat ek sonder soveel kan klaarkom (water vir die toilet, elektrisiteit), maar nie my Bybel nie. Ek het besef: Met God kan ek enigiets doen, maar sonder Hom wil ek niks doen nie.

Jahni Cowley ·

Positief, en so waar.  My ma is ‘n Suidwester, my tannie en oom boer in Botswana.  Afrika is deel van my murg en been.  Ek kan my nie voorstel om iewers anders op aarde te probeer wortel skiet nie.

Anoniem ·

Ek was nog nie so bevoorreg om Afrika plat te reis nie, maar dit is heelbo aan my lys van dinge wat ek nog wil beleef. Wat ek al wel gesien het, is ons eie land – en hier wil ek bietjie van Willie verskil. Ja, ek is seker Afrika het soveel dinge wat dit “wild en woes” maak soos wat die Amerikaners en Hollywood ons laat glo, maar ek glo ook dat Suid-Afrika op sy wonderlike manier ook “Afrika” is. Afrika begin nie net
“eers as jy by Louis Trichardt verby is” nie.
Afrika begin vir my al in die Kaap met sy berg, dit strek oor die vlaktes van die Karoo, dit roep “Afrika” uit die Drakensberge, ek voel Afrika aan my lyf in die koue poele van Duiwelskloof, ek raak elke keer weer verlief op my Afrika as ek uitkyk oor die Blyderiviervallei, as ek uitkyk oor plate en plate mielies in die Vrystaat, as ons die bosveld invaar en nog ‘n asemrowende “Afrika-sonsondergang” beleef. Hierdie is my Afrika – en dit is ten volle Afrika!  

Ernst Roets ·

Ek het so paar jaar gelede ‘n aantal lande in Europa besoek.  Dit was ‘n wonderlike ervaring, maar ek sal nooit daar kan bly nie.  Die emosionele band en die liefde vir die lewe in Afrika is net te sterk.  Selfs al is daar baie wat pla, is dit nogsteeds vir my die moeite werd om hier te bly en te stry vir ‘n beter toekoms vir ons almal!

Heinrich Matthee ·

‘n Pragtige stuk!

Niemand het ‘n monopoliereg op Afrika met sy uiteenlopende mense en ruimtes nie: Negroied, Westers, Arabies, Berber, Asiaties en vele ander.

Afrika vir die Afrikane – al die Afrikane.

Jannie Theron ·

“Ons maak ons kinders dikwels groot om sinies na alles om ons te kyk en dan is ons verbaas as hulle as siniese volwassenes so maklik afskeid neem van alles wat lief en dierbaar is – selfs hulle families.” – was dit dan sinisme wat die voorvaders uit Europa na Afrika laat kom het, wonder ek. Sou dit vir hulle maklik gewees het om alles wat lief en dierbaar is agter te laat. 
Daar’s tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan – ons Vaderland is elder Willie. Heb 13:14

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.