Om ’n Huawei te hê of nie

‘n Man voor ‘n Huawei-winkel in Beijing. (Foto: AP Photo/Ng Han Guan)

Dis seker wat Shakespeare se Hamlet vandag sou vra indien hy geleef het en ook vasgevang was in die handelsoorlog tussen Amerika en China. Amerika bestempel Huawei as ’n sekuriteitsbedreiging en het sy eie maatskappye onlangs verbied om met Huawei sake te doen.

Maar wat presies is aan die gang? Laat ek eerstens sê dat Amerika nie die eerste land is wat selektiewe sanksies teen een van sy mededingers instel nie. Sowat tien jaar gelede het die Chinese regering Facebook en Gmail in die land verbied en, raai wat, omdat dit ’n veiligheidsbedreiging vir China sou inhou.

Dit was waar in ’n sekere sin: die Uighers, Moslemvegters in die weste van die land, het Facebook en ander “Westerse” apparaat gebruik om hul planne te smee. In die plek van Facebook en WhatsApp het China WeChat en soekenjins soos Baidu, wat makliker is vir die Chinese regering om te monitor.

Google en Facebook het dit aanvanklik toegelaat, want die enorme Chinese mark kon op ander maniere benut word… die land het sowat 700 miljoen internetgebruikers en Google se soekenjin word byvoorbeeld nog toegelaat.

Nietemin, die Amerikaanse regering het besluit om Huawei te teiken, myns insiens nie omdat dit ’n sekuriteitsbedreiging inhou nie maar, soos Trump dit self gestel het, dit ’n “bargaining chip” in die handelsoorlog self kan wees. Trump wil ten alle koste Amerika weer die voorste land in die wêreld maak, Daarin het hy die volle steun van die Amerikaanse kiesers, hoewel hulle nie die fyner besonderhede verstaan nie.

Alles in ag genome is dit egter nie China wat daaronder ly nie, maar die res van die wêreld, veral Suid-Afrika wat van sy minerale-uitvoere na die Ooste afhanklik is. Trump sê natuurlik hy wen (net soos hy glo hy wen in Noord-Korea, Iran en ander wêrelddele) en dat sy groeikoers die beste in Amerika se geskiedenis is. Terloops, Amerika groei teen 3% per jaar, sekere lande in Afrika tot en met 5% en China self deesdae teen 7%.

China is ook nie die enigste land met wie die Amerikaners aan die baklei is nie. Kanada en Mexiko, die Europese Unie en Japan is almal in handelsgeskille met Amerika betrokke. By al hul “onderhandelinge” is daar ’n gemene deler: kry Amerika nie sy sin nie, word Amerikaanse maatskappye verbied om met daardie lande sake te doen. Dit sê baie vir Amerikaanse kapitalisme, waar die regering gereeld by private maatskappye inmeng.

Elders is Amerika ook besig om sy nommer een-status met geweld af te dwing, maar jammer om te sê, dit is maar weer deel van die ou taktiek. Die Amerikaners het Iran onlangs gewaarsku om nie enige chemiese wapens te gebruik nie. Onthou u nog Irak en Sirië en soortgelyke waarskuwings? Selfs lede van sy eie party het die Amerikaanse militêre dienste van valse inligting beskuldig. Amerika, onder die aansporing van John Bolton, Trump se veiligheidsraadgewer, het ook oorlogskepe nader aan Iran geskuif en gewaarsku indien laasgenoemde die skepe sou aanval, dit “die einde van Iran sal wees”.

Regtig? So maklik?

Steeds stem ander lande nie met Amerika se besluit saam om die Wapenverdrag wat deur die Obama-regering gesluit is, eensydig op te skort nie. In die Midde-Ooste stamp Turkye en Amerika ook koppe en het laasgenoemde pas gedreig dat, indien die Turke hul planne uitvoer om wapens by Rusland te koop, hy sal sorg dat Amerikaanse vegvliegtuie waarvoor reeds betaal is, nie afgelewer word nie. Al daarop gelet dat die demonisering van President Erdoğan van Turkye reeds in die Amerikaanse pers begin het?

Elders in die wêreld, soos in Venezuela, het dit skielik stil geword ná die Amerikaners se mislukte poging tot ’n staatsgreep. Sien, Rusland is ook daar, en dit sal moeilik wees om die land te dreig met vernietiging. Moet egter nie dink die Amerikaners gaan moed opgee om ’n verandering van bewind tot stand te bring nie. Soos president Clinton by geleentheid gesê het “Dis die olie, domkop!”.

Vlieg oor die water na Noord-Korea, waar niks gebeur nie. Die Yanks het lankal belowe dat Kim gedwing gaan word om sy kern- en missielprogramme af te takel. Maar Amerika wil nie sanksies ophef nie. Hier, sowel as in ander dispute, is sy se taktiek duidelik: bluf, verbreek beloftes en ooreenkomste, en straf lande finansieel as hulle nie wil instem nie. Die probleem is dat in die proses nie net individue beledig word nie, maar ook lande. Irannese, Noord-Koreane en ander sal nie sommer vergewe vir die beledigings teen hul lande nie.

In hierdie verband hoor ek juis dat Amerikaners nie meer so gewild in China is nie. Tot iPhone word nou daar geboikot, hoewel dit in Chengdu en Shenzhen vervaardig word. Toe ek in China gewoon het, het Amerikaners juis gesê hulle het voorgegee het dat hulle Suid-Afrikaners was toe Amerika in 1999 ’n bom op die Chinese ambassade in Belgrado gegooi het. Daar was nou selfs ’n sitbetoging teen Amerika in Beijing.

Maar wat van Huawei? Kyk, sanksies teen die maatskappy gaan nie werk nie. Sanksies werk nie, behalwe om die weerloses in Venezuela en Jemen te dood. Suid-Afrika het ’n kernbom ontwikkel terwyl hy sankies teen hom gehad het. Sanksies spoor ’n land net aan om selfversorgend te word.

Moet Suid Afrikaners op prinse (en Amerikaners) vertrou dat hulle by ooreenkomste sal hou?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Zaks ·

Beste foon. Root jou foon. Gaan oor na die blackmarket google play en betaal nooit weer vir n app nie, sien ook nooit weer n advertensie nie.
Als kan jy self doen op jou foon. Geen diep kenis nodig nie.

Ben Esterhuizen ·

Wat word hier gesê? Ek het my kosbare tyd gemors om hierdie artikel te lees!

WIEBO ·

Swak berig, die berig se werkilk niks………………………

Ellisras ·

Ek het ‘n Huawei en is gladnie bekommerd nie. Trump gaan een of ander tyd sy rieme styf loop. Nou is dit weer sanksies teen Mexico. Volgende week ‘n ander plek.

Human ·

Hoe lui die gesegde, `n goeie begrip het slegs `n halwe woord nodig.

Koos ·

So bly ek het die kommentaar voor die artikel gelees, anders het ek dalk my tyd gemors. Hahaha!

Therese van Schalkwyk ·

Of sanksies teen Huawei gaan werk of nie, is ‘n ope vraag. Dat China reeds dekades gelede die “handelsoorlog” begin én loshande gewen het, is ‘n feit.
Die ruggraatlose, geldgierige sakewêreld was/is te gemaksugtig om ‘n vinger te lig teen intellektuele diefstal en goedkoop produkte, en verdien alles wat hulle kry.
Tog bly dit fassinerend om die sirkus dop te hou.

Die sg. “demonisering van president Erdogan van Turkye” in die Amerikaanse pers is slegs ‘n breukdeel van die daaglikse demonisering wat president Trump in die Amerikaanse, sowel as die wêreldpers ondergaan.
Dit is om die waarheid te sê nog nie vir één sekonde verslap sodat die man die werk kan doen waarvoor hy demokraties verkies is nie. Selfs die Amerikaanse kiesstelsel word herhaaldelik bevraagteken om hom verdag te maak.
As groot Trump-ondersteuner hoop ek egter hy word volgende jaar vervang met Biden of Bernie. Geen mens verdien sulke konstante verguising nie.

Therese ·

Die woord, “verguising”, moet eerder met “ongebreidelde haat” vervang word.
Die vuil taal en beledigings wat Donald Trump en sy familie toegeslinger word, veral uit daardie ‘demokratiese’ Hollywood-nes, herinner aan die idioom van ‘semels en varke’.
Trots en dankbaar om nie in dieselfde geïndoktrineerde groep getel te word nie.
Biden, Bernie en Buttigieg pas perfek by hierdie ou wêreld.

Ben ·

Dis slegs jou opinie. Glad nie gegrond op feite wat self nagevors is uit verskeie bronne nie.

Dries du Toit ·

Ben waar kom jou nagevorsde bronne vandaan of praat jy namens die Clinton News Network (CNN) of Fox News

Hendrik UAE ·

Wil weet of jy iets persoonlik teen Trump het? Waarom die man so aanval as jy oor ‘n foon moet skryf?

alwyn burger ·

Die VSA is nie bang vir Huawei nie. Waarvoor die VSA bang is ,is die feit dat China besig is om te ontwikkel in die grootste ekonomie op die planeet. Dit gaan vir die Amerikaners ñ bitter pil wees om te sluk.

Dries du Toit ·

Ja Alwyn tot die nadeel van ons in SA ook. Die chinese is n baie groter gevaar vir ons as vir Amerika

dejager ·

As die Amerikaanse ekonomie met 3 persent gegroei het,verteenwoordig dit steeds meer groei in rand en sent as die 7 persent China groei.Dit is natuurlik duisende kere soveel as die afrikalande se 5 persent.
Trump kan gelukgewens word met sy presidentskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.