Om ʼn jong Afrikaner te wees, is haas onmoontlik

Afrikaner

Argieffoto: Adéle Changuion

Deur Daniel du Plessis

Hierdie meningstuk handel oor ʼn probleem. Nee, nie ‘n nuwe probleem nie – dit is al immers ‘n paar dekades oud – maar dit het nou tyd geword om dit uit te spel:

Dit is “onmoontlik” om ‘n jong Afrikaner in Suid-Afrika te wees.

Die woord onmoontlik beteken dat iets baie moeilik is en jong Afrikaners se posisie is tans uiters moeilik. Hulle besef dit ook – in mindere of meerdere mate.

Nou, goed, waarom die begrip “onmoontlik”? Waarom is dit moeilik om ʼn jong Suid-Afrikaner te wees? Is daar dan nie talle musiekfeeste, televisiekanale, publikasies en dergelike ander media-opsies wat spesifiek op jongmense fokus nie? Om hulle gelukkig en tuis in hul land te laat voel nie?

Kom ons kyk bietjie dieper. As jy ‘n wit (jong) Afrikaanssprekende is, is daar beslis goeie rede om nié binne die kulturele moment van die res van Suid-Afrika te wil leef nie. Die rede? Jy (as individu) word deurgaans deur middel van konsepte soos “whiteness”, “white privilege” en kollektiewe skuld, permanent en onlosmaaklik (en steeds) aanspreeklik gehou vir apartheid. Futiele pogings om van hierdie ondraaglike “skuld” te ontsnap, lei dan maklik tot moedeloosheid, frustrasie en selfs woede. Die meeste postapartheid-Afrikaners voel instinktief aan dat daar hier, in hul eie land, geen uitkoms of toekoms is nie.

Wat sou jý doen om van hierdie skuld ontslae te raak?

In die eerste plek is dit onmoontlik om van hierdie erfskuld vrygespreek te word. Om vergifnis te vra, moet jy immers iémand om vergifnis vra. Maar wie sal namens die res van die permanent beswaarde Suid-Afrika vir jou kwytskelding kan gee? En wie sou bereid wees (namens die res van die Afrikaners) om daardie vergifnis te vra?

Meeste jong Afrikaners voel nie moreel aanspreeklik vir apartheid nie – en waarom sou hulle? Dit is ondenkbaar om iemand moreel aanspreeklik te hou vir iets wat hy nie gedoen het – wat nog te sê van iets wat gebeur het voordat daardie persoon geleef het?

Selfs al kon mens om verskoning vra, sou dit egter niks beteken nie. Apartheid is ons “sonde” – en dit is een wat ons nie kan ophou “pleeg” nie. Hoe dan so?

Kollektiewe daderskap het ook ‘n ander sy. Dit maak van die res van Suid-Afrika kollektiewe slagoffers. ‘n Vinnige blaai deur enige koerant sal dit vir jou duidelik wys: Apartheid is baie meer as net ‘n gewese politieke stelsel.

Malema, Zuma, Ramaphosa – almal maak dit duidelik: Apartheid is stééds met ons. Dit is apartheid wat jou arm maak. Apartheid wat jou honger hou. Apartheid wat jou belemmer. Apartheid, in sy eenvoudigste vorm, is iets wat wit steeds daagliks aan swart doen. En hoeveel keer sal jy jou broer bly vergewe as hy aanhou teen jou sondig? Sewe maal sewentig is maar net 490 – en elke jaar van 1994 af het 365 dae elk.

Dit is selfs onmoontlik om boete te doen vir apartheid. Die grondsage is eintlik maar net een deel van die breër behoefte wat deur die monde van ons politici geopper word: Julle moet betáál vir wat met ons gebeur het. Dit verbaas dus nie om politici en aktiviste te hoor sê dat onteiening sonder vergoeding nie genoeg is nie – nee, wit mense moet die herstelwerk ook betaal.

Meeste jong Afrikaners het egter self nie veel waaroor hulle beskik nie. En die feit dat apartheid hierdie “nimmereindigende misdaad” geword het, beteken dit dat slagoffers daarvan daagliks toeneem. Jou karige bates as jong werkende, skolier of student word dus verdwerg deur hierdie immergroeiende opstapeling van menslike behoefte en ellende.

Kortom, al die gewone maniere van skuld vereffen is nié aan jou beskikbaar nie. Jy kan nie kwytgeskeld word van jou skuld nie, jy kan dit nie betaal nie en jy kan selfs nie eens ophou om skuld te maak nie! Kafka sou trots wees op jou.

Al wat oorbly is vlug – of doodeenvoudig weier om te betaal. Suid-Afrikaners word dus voor ‘n klomp onmoontlike keuses gestel. Jy kan nie beide ín Suid-Afrika bly én ‘n Afrikaner wees nie – die teenstellings is net te drasties om ʼn eenheid te vorm.

Behoort ons dan verbaas te wees as al hoe meer van hierdie postapartheid-Afrikaners hulself toenemend onttrek uit die Suid-Afrikaanse samelewing?

Selfs om jou Afrikanerskap te probeer verwerp, werk nie vir lank nie. Dit gaan immers oor hoe al die ander oor jou dink – en is dit nie kulturele selfmoord nie?

Solank as wat ons, as Suid-Afrikaners, daarop aandring om mense moreel aanspreeklik te hou op grond van hul ras, en solank as wat ons, as Afrikaners, gewilliglik die sondaars bly vir al Suid-Afrika se ellende, sal dit haas onmoontlik wees om ten volle ‘n jong Afrikaner in Suid-Afrika te wees weens die voortdurende spanning wat Afrikanerskap en Suid-Afrikanerskap meebring.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Ek ·

Ek voel nie dat ek enige skuld dra nie. Ek sal opstaan vir waarin ek glo en ek sal opstaan vir my eie kultuur.
S A behoort ook aan my .

Firtysamfieng ·

Jy som mooi op in jou slotparagraaf. Wees dan deel van die oplossing deur hard en duidelik nie die sondes van jou vader te aanvaar as jou eie nie. En moet dus verseker nie daarvoor betaal nie!

Nie om te se dat “jou vader” skuldig bevind is aan enigiets nie. Maar ons weet mos bewyse en ‘n regter is oortollig in vandag se SA.

Gys ·

Mense kan jou net die skuld vir iets gee indien jy hulle toelaat.
Tyd om vere te voel vir die planeet se 7 miljard inwoners.
Diegene van daai 7 miljard wat dit op hul eie stoom kan maak, goed so.
Diegene van daai 7 miljard wat dit nie op hul eie stoom kan maak nie, tough luck.
Help jouself en jou eie mense.

Salamander ·

Indien mens eers die begrip van 7 miljard begryp, is dit skrikwekkend. 7 miljard wat almal baklei vir ‘n plekkie in die son. Dit klink vergesog, maar besoek regte oorbevolkte lande soos Indonesia, Bangaladesh, India en sulke plekke, dan sal mense die konsep begryp. As jy huiwer of aarsel, is jy jou plekkie kwyt, want almal wil dit hê.

Veritas ·

Die feit dat die VVO, apartheid as ‘n ‘Sonde teen die Mensdom’, verdoem het, maak nie dat ons vergifnis moet vra vir iets wat van Suid-Afrika die sterkste ekonomie in Afrika, ‘n netto uitvoerder van ‘n wye reeks kommoditeite, uistekende onderwysstelsel, doeltreffende polisiemag, hoogs aangeskrewe weermag ens gemaak het nie. Apartheid het sy foute gehad maar die lewensstandaard van SA se inwoners was strate beter as vandag. Daar is absoluut niks om verskoning voor te vra nie. Al wat ten goede verander het in die nuwe SA is dat almal nou stemreg het. Die ander dinge wat van groter belang as stemreg is, het heeltemal ten gronde gegaan.

Annie Webb ·

Veritas, die VVO het nooit gesamentlik apartheid as “misdaad teen die mensdom” verklaar nie. Die “Afro-Asiatiese blok” soos dit destyds genoem is, het so ‘n resolusie voorgestel en dit is uiteindelik ná ongeveer ‘n dekade deur min of meer almal in dié blok onderteken. Min of geen Westerse lande het dit ooit onderteken en inderdaad gesê van die lande wat dit wel onderteken het, pleeg baie erger vergrype teen menseregte as apartheid. Die “misdaad teen die mensdom”-storie is maar net nóg lawaai waarmee enige werklike debat altyd beëindig word nog voordat dit begin het. Soos al die -ismes en die -fobies ook.

Gert ·

Hierdie probleem bestaan eintlik oral waar wittes en ander rasse saamwoon. Kyk maar bietjie youtube oor hoe dit in die VSA gaan, al die onbeskryflike haat oor slawerny en “institutionalised racism” ens ens. Die enigste oplossing myns insiens is om te besef dat wittes oral gehaat word weens hulle suksesse, en dan aan te gaan in die wete dat jy niks verkeerd gedoen het nie, en dat jy jou eie voortreflikheid moet geniet en benut.

Jerry ·

Indien Afrikanerorganisasies gerat is om in die veiligheidsbehoeftes, beskerming en werksbehoeftes van jong Afrikaners te voorsien, dan is daar geen rede hoekom jongmense nie ook diep spore net soos hulle ouers en grootouers in SA kan trap nie. Indien Afrikanerorganisasies egter nie gerat is om jongmense te beskerm teen misdaad, politieke onverdraagsaamheid, intimidasie, ekonomiese uitsluiting en diskriminasie nie, sou dit wys wees vir jongmense om in die buiteland, daar waar jong Afrikaners welkom is, hulle heil te gaan soek. Jongmense kan weer na SA terugkeer indien hulle sou wou wanneer al die gemors wat nog voorle, uitgesorteer is. Jongmense verdien nie om uitgesluit, bedreig, vervolg en verneder te word om te boet vir apartheid nie en mag nie blootgestel word aan die gemors van onverdraagsaamheid wat in SA aangaan, nog gaan vererger en nog uitgesorteer moet word nie. Die skrywer se daar is twee keuses nl, om te vlug of om te weier om te betaal. Ek stem saam met die twee keuses. Om te vlug is om afstand te doen van die herlewing van Afrikaner nasionalisme en om te weier om te betaal is om te deel in die herlewing van Afrikaner nasionalisme. My raad aan jongmense is om te vlug en om nie weer terug te kyk nie en om diegene wat nie wil vlug nie en wat dan nog boonop weier om te betaal, toe te laat om persoonlik uiting te gee aan die gesegde van “put your money, where your mouth is”!

lewies ·

VERLEDE, HEDE, TOEKOMS. Hierdie drie dimensies van menslike bestaan het ‘n onafwendbare invloed op mekaar. Dit plaas ‘n onsettende verantwoordelikheid op die individu om in die HEDE die regte besluite te neem, sodat dit nie my TOEKOMS en die toekoms van my medemens negatief beinvloed nie. Verkeerde besluite in die VERLEDE op alle terreine van die lewe het ‘n manier om jou HEDE ondraaglik te maak. Dit kan ‘n mens se TOEKOMSPERSPEKTIEF negatief beinvloed.

Hierdie konsep geld vir alle generasies. Dit is dus ‘n intergeneratiewe beginsel vanaf Adam en Eva. “In kort gese; “vandag se verkeerde besluite is more se probleem” Die teendeel is ook egter moontlik.

Karel ·

Dit was ´n baie goeie stuk gewees die en dit bring ook op wat met my gebeur het. Ek was ook een van die jong Afrikaners wat my “Afrikanerskap” wou prys gee om te integreer in die nuwe Suid Afrika. Maar toe slaan realiteit my. Dit gaan nie oor hoe ek myself aan die gemeenskap “verkoop” nie, maar hoe die politici my sien. Niks wat ek doen sal ooit die verlede regstel nie, nie solank as wat die Politieke elite dit kan gebruik vir hul eie gewin nie.

Net daar en dan het ek besef om my identiteit as Afrikaner, “Boerseun”, op te gee maak my ´n verlore boodjie in ´n see van storms. Die leuen wat aan ons almal verkoop is dat “Afrikaners kan nie saamstaan nie” was die grootste oorwinning vir die wat ons wil vernietig. Soveel so dat ons jeug, ons toekoms, oortuig is hulle moet hul eie volks-identiteit vernietig met die hoop om aanvaar te word in die Suid Afrikaanse samelewing. EK SÊ DAT DIT HET NOU TYD GEWORD OM ophou jammer te sê vir alles wat sleg is in Suid Afrika. Ons het slaan sakke geword waar elke politieke party ons stil slaan met ploitieke korrektheid en ons het sag geword. Ons het vergeet wat ons voorouers deur gegaan het om Suid Afrika te bou en hoe hulle baklei het en saamgewerk het met mekaar en ander.

Thinus Erasmus ·

Dis reg Karel, tyd op op te staan , saam te staan en baklei vir ons regte, en reg laat geskied.
Daar is meer as genoeg van ons wat wil saamwerk.

polities verkeerd ·

Die pers is ‘n groot sondaar – hulle vernietig alles wat Afrikaner is omdat hulle polities korrek wil wees en ook ‘IN’ wil wees.
Hulle is bang om te se hoe dit waarlik is. Dus geen rugraat nie.

1+1 ·

Die groot sonnebokke is somminge van die inbelstasies wat menslike persepsies die wereld instuur, voordat dit die waarheidstoets deurloop het. Mense het die reg het om te se wat hulle wil en nou en dan word die inbellers reggehelp, As dit is soos jy se “om polities korrek te wees gaan dit die leuen laat voortleef.

Paul ·

Ons moet net onthou die ANC, hul jeugliga veral, die EFF, die DA jeugliga voel ‘n veer of hulle populisties is, hulle ry daai golf, blaas die vure aan, voor die werklike waarheid bewys is en na vore kom, so bereik hulle hul ondersteuners en trek hul slagspreuke die wêreld vol onder die gejuig en aanmoediging van hul ondersteuners. Al wat koerant is berig daaroor, radio- en TV stasies, hulle kry dus gratis blootstelling, en teen die tyd dat die werklike waarheid uitkom, maak dit vir hulle nie ‘n vaal kol nie, want hulle het in die eerste instansie bereik wat hulle wou. En die volgende keer gebeur dit maar net weer.

DC ·

Nog nooit in die land se geskiedenis was daar soveel mislukkings en agteruitgang as tans. Dis nie Afrikaners of Apartheid se skuld nie. Daarom moet Afrikaners en jong mense hulself vrymaak van skuldgevoelens oor n politieke verlede. Mens vra nie verskoning vir sukses nie. Ons voorsate het die land mak gemaak. Jong mense moet self besluit oor ry of bly. Dat hier wel nog talle geleenthede is, is gewis so.

DC ·

Nog nooit in die land se geskiedenis was daar soveel mislukkings en agteruitgang as tans. Dis nie Afrikaners of Apartheid se skuld nie. Daarom moet Afrikaners en jong mense hulself vrymaak van skuldgevoelens oor n politieke verlede. Mens vra nie verskoning vir sukses nie. Ons voorsate het die land mak gemaak. Jong mense moet self besluit oor ry of bly. Dat hier wel nog talle geleenthede is om as Afrikaners te presteer, is gewis so.

Con Dumpo ·

Net soos die Jode deur baie ander nasies en gelowe (selfs Christene) veroordeel en weggewens word, ondervind wit Afrikaners ook toenemende vyandigheid. Deur ons voet net effens skeef te sit, word ‘n helse storm ontketen.
Maar deur die jare het die die klein Joodse volkie onteenseglik ‘n superras geword. God het Sy seën reeds in Gen. 12:3 aan hulle beloof én aan dié wat hulle seën. Maar aan die wat God se volk vervloek, het God Sy vloek beloof.
Golda Meir het van die Arabiere gesê: “There will only be peace when they (the Arabs) love their children more than they hate us”.
24 jaar ná demokrasie, blyk hierdie woorde ook toenemend van toepassing op wit Afrikaners te wees. Hoe hartseer is dit nie.
My raad: Kom ons wees gehoorsaam aan God se Woord en seën Sy volk, Israel en bid vir die vrede van Jerusalem, Psalm 122:6.
Shalom aan almal wat ware vrede soek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.