Om nougeset te wandel

Deur dr. Jan Jooste 

President Wladimir Poetin is oor die jare as ʼn regse bondgenoot gesien en het dan ook sekere regse groeperinge finansieel ondersteun. Jaco Kleynhans en ander kommentators verwys na Pat Buchanan wat Poetin se “konserwatiewe waardes as ʼn aanknopingspunt” vir samewerking sien. Ook: “Volgens regse leiers verteenwoordig Poetin ʼn terugstoot teen die opkoms van liberale waardes in die Weste.” Hierdie bondgenoot in die stryd teen liberalisme val egter ʼn buurland binne, en gebruik fosforbomme en moontlik ook chemiese wapens teen burgerlikes, wat dan ou tannies en kinders insluit. Hoe het ons hier gekom? Waar laat dit nóú regse denke?

Die probleem kom in wanneer “waardes” as maatstaf gebruik word.

Na Moses se afsterwe is die Israeliete by ʼn bestaanskrisis, daar op die walle van die Jordaan. Hoe nou? Dan wys die Here vir Joshua aan as leier, en in Joshua 1 hoor ons hoe God Almagtig met Joshua praat. Onder andere:

“Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan. Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.” (Joshua 1:7-8).

Drie maal sê die Here dat Joshua sterk en vol moed moet wees, en die volk herhaal ook die oproep wanneer hulle Joshua aanvaar. Die Here sê egter ook dat sy Woord die maatstaf is. Regse waardes is mos ʼn afwyking daarvan, omdat die Here gesê het slegs sy Woord. Nie links of regs nie. Sola Scriptura!

Wie moet ons dan kies? Die Here of aardse bondgenote?

Ons geskiedenis leer ons mos dat Psalm 46:2 minstens by Bloedrivier en Majuba en ook met die opstaan na die verarming van die Anglo-Boereoorlog ʼn werklikheid was:

“God is vir ons ʼn toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see.”

Genadiglik kan ek getuig dat die Here beide my vrou en oudste seun in afsonderlike aanvalle via Psalm 50:15 gered het:

“Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.”

Hierdie Psalm was skynbaar deel van Sarel Cilliers se oorweging by die skryf van die Gelofte, wat eindig met:

“… want de ere van Zijn Naam

Daardoor zal verheerlijkt worden

Dat de roem en eer van overwinning

Aan Hem sal worden gegeven.”

Twee stelle gebeure waar die Here vir Juda ʼn toevlug en sterkte was, gebeur in die koningskappe van Hiskia (2 Konings 18 en 19) en ook Josafat (2 Kronieke 20). In beide gevalle het die konings hulself genadiglik tot God gewend, en het God dan op wonderbaarlike wyse 185 000 Assiriërs gedood, en sóveel Ammoniete en Moabiete en mense van die gebergte van Seïr, dat Josafat se mense drie dae lank aan die buit weggedra het. Die Judeërs het egter selfs nie één swaard uitgetrek nie. God het die veldslae alléén gevoer.

Hiskia het egter vooraf ʼn verbond met Egipte probeer sluit en dan spot selfs Sanherib van Assirië se rábsake met dié poging om op ʼn geknakte riet te steun. Josafat weer het ongelukkig, na die wonderwerk van sy redding, “ʼn bondgenootskap aangegaan met Ahasia, die koning van Israel, wat goddeloos gehandel het” (2 Kronieke 20:35b). Hierdie bondgenootskap het gefaal, net soos Egipte se geknakte riet.

Aardse koninkryke kan maar onderling verbonde sluit. God se volk moet Hom egter alleen om hulp nader. Hy is in ʼn hoë mate beproef, maar waarsku ook dat: “… Ek, die HERE jou God, is ʼn jaloerse God.” Indien God se volk aardse verbonde sluit, kom dit in wese daarop neer dat ʼn aardse toevlug gesoek word en God kan dit uiteraard nie duld nie.

Hierdie artikel is geensins ʼn oproep dat die Afrikaner hom iewers in ʼn klooster of op ʼn paal moet gaan tuismaak nie. Ons as Christene het die sendingopdrag gekry om heen te gaan en dissipels te maak van al die nasies. Ons moet dus uitreik en kan ook saam met ander meer bereik.

Wanneer ons egter met moontlike bondgenote in gesprek tree, mag ons nooit skroom om hulle te wys op sondige optrede nie. In gesprekke met byvoorbeeld beide die Suid-Afrikaanse asook die Amerikaanse regerings moet ons hulle telkens weer daarop wys dat aborsie ʼn gruwel is in die oë van die Here. In hierdie saak sien ons hoedanig die Here se weë nie ons weë is nie. Hy doen dinge anders:

  • Ons moet mense teen sonde waarsku. Indien ons hulle waarsku, wel op ʼn mooi manier volgens Matteus 18, en hul luister, is die saak opgelos. Luister hulle nie, is ons nie verantwoordelik vir hul dood nie (Esegiël 33:7-12). As ons egter nie waarsku nie, dan geld “Ek sal jou verantwoordelik hou vir sy dood.”
  • Natuurlik moet waarskuwing op ʼn progressiewe manier plaasvind, en nooit ter wille van politieke gewin nie (Matteus 18).
  • Die Here waarsku dan ook: “BROEDERS, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie” (Galasiërs 6:1). Verder die vermaning om eers die balk uit jou eie oog te haal om die splinter in die ander se oog beter te kan sien (Matteus 7:3-5).

Ons kan en moet met ander volke kontak maak, maar moet deurgaans getrou by ons roeping bly.

Die Afrikaner is in ʼn bestaankrisis. God alléén gaan ons, as dit Sy wil is, deur hierdie dal van doodskaduwee dra. Dan egter moet ons self en veral ons leiers wéét waar ons hulp vandaan kom. Ook moet ons sterk wees en vol moed, en dan nougeset wandel sonder om links of regs af te wyk.

  • Dr Jan Jooste is ‘n navorsingsgenoot aan Akademia en besturende direkteur van Farateq. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Net gedink ·

Ek het deur die top Afrikaans se liede gekyk. Uiters uiters geskok oor die name van die liede en sangers/groepe. Lyk ons nog soos ‘n nougesette kultuur met goeie waardes?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.