Om te mag sê of nie – wie bepaal dit?

Pres. Donald Trump. Foto: REUTERS/Carlos Barria

Hoe ver strek die reg op die vryheid van spraak?

Dié vraag is relevant deurdat die sosiale media (’n mens dink aan Twitter, Facebook en Instagram) pres. Donald Trump se toegang daartoe geblokkeer het – in Twitter se geval selfs lewenslank.

En dis nie al nie. Twitter het die toegang van 70 000 mense, na bewering ondersteuners van die samesweringsteorie QAnon, opgeskort. (QAnon is ’n teorie waarvolgens Trump ’n heldhaftige stryd voer teen gesiglose kragte wat alles agter die skerms beheer, wat kinders ontvoer en verkrag, wat elektroniese skyfies saam met die entstof teen die koronavirus in jou liggaam inspuit waardeur jy tot ’n willose slaaf gereduseer word.)

Wat bewysbare onsin is.

Baie van Trump se ondersteuners het dus van Twitter na ’n alternatiewe medium, die regsgesinde Parler, probeer oorstap. Maar Amazon, die maatskappy wat Parler se toegangsportaal tot die internet hanteer, het die medium van die web afgeskop.

Waarna regses nou massaal oorbeweeg na webtuistes soos MeWe, Gab en Rumble. ’n Mens sal maar moet sien hoe lank die groot tegmaatskappye hulle laat voortbestaan.

Is dit toelaatbaar? Kan dit versoen word met die reg op spraakvryheid, soos dit in elke liberale demokrasie op die aardbol veranker is?

Kom ons begin met ’n stelling waarmee elke liberale demokraat sal instem: Die grense van spraakvryheid moet in beginsel so wyd moontlik getrek word. Agtereenvolgende geslagte het nie verniet deur die eeue heen geveg vir iets wat deesdae – in elk geval in die liberaal-demokratiese Weste – as vanselfsprekend gesien word nie.

Maar daar is grense aan enige reg. Immers, mý regte hou op waar jóú regte begin.

(Foto: pixabay)

’n Voorbeeld wat dikwels aangehaal word: Val dit onder spraakvryheid as iemand moedswillig in ’n volgepakte teater begin skreeu: “Brand! Brand!” ’n Kind kan voorsien dat dit ’n chaos, beserings en selfs die dood tot gevolg kan hê.

Die Duitse geskiedenis illustreer die dilemma duidelik.

In die Duitse keiserryk (1871-1918) se grondwet is individuele regte soos spraakvryheid doelbewus nie opgeneem nie omdat gevrees is dat dit die gevestigde orde kan ondermyn. In die daaropvolgende Weimar-republiek (1918-’33) het dus ’n voorbeeldige liberaal-demokratiese stelsel gegeld met volledige beskerming vir die vryheid van spraak, sonder enige beperking.

Maar dít het beteken dat ook ’n demagogiese populis soos Adolf Hitler beskerm is. En van daardie beskerming het hy misbruik gemaak om die mag in 1933 oor te neem – en vervolgens álle vryheid, met inbegrip op vrye spraak, te verbied.

Toe die grondwetgewers in die vrye Wes-Duitsland dus in 1949 byeenkom om ’n nuwe, demokratiese grondwet te skryf, was die Hitler-voorbeeld vars in hul geheue. Hul resultaat was interessant.

Enersyds word die vryheid van spraak duidelik verskans. Andersyds word die liberale demokrasie (anders as in die Weimar-tyd) nie as “neutrale” waarde beskou nie, maar as ’n waarde wat duidelik beskerm moet word.

Duitse staatsregsgeleerdes praat dus van ’n “militante demokrasie”. En dus is die grondwet deurdronge van die noodsaak om die demokrasie teen gewetenlose populiste soos Hitler te beskerm.

Dis daarom interessant om te sien hoe die Duitsers na die gebeure in Amerika kyk. Steffen Seibert, woordvoerder van bondskanselier Angela Merkel (iemand wat persoonlik ervaring van die kommunistiese diktatuur in Oos-Duitsland het), het vandeesweek laat blyk dat sy baie krities na die Amerikaanse Twitter-verbod kyk.

“Die grondreg op meningsvryheid is ’n grondreg van elementêre betekenis,” het hy haar standpunt verwoord. “In dié grondreg kán ingegryp word, maar kragtens wet en binne die raamwerk wat die wetgewer definieer – nie volgens die besluit van die leiding van sosialemediaplatforms nie.”

Gevolglik is die finale arbiter die regbank, wat moet toesien dat die wet nagekom word.

Hy het bygevoeg dat die gebruikers van sosiale media ’n baie groot verantwoordelikheid het om toe te sien dat die politieke gesprek nie “vergiftig” word deur haat, leuens of aanmoediging tot geweld nie. Dis reg om nie passief toe te kyk hoe sulke inhoud gepos word nie, maar inhoudelik daarop te reageer (met ander woorde, om ’n politieke debat met sulke mense aan te gaan).

Merkel se standpunt is gesteun deur die Franse minister van finansies, Bruno Le Maire, wat gesê het dis nie reg dat Big Tech die reëls bepaal nie. Dié Big Tech is “een van die bedreigings vir die demokrasie”.

Natuurlik is daar ook ’n ander kant van die munt. Sedert Trump se nederlaag in die presidentsverkiesing meer as twee maande gelede het hy – kom ons noem die kind maar op sy naam – sy reg op spraakvryheid skaamteloos misbruik deur te beweer dat sy oorwinning deur bedrog van hom “gesteel” is.

Dat sy advokate in sowat 60 sake nie die regters (van wie talle deur Trump self aangestel is) kon oortuig nie, kon hom nie skeel nie. Sy onvermoë om ’n demokratiese oordeel van die kiesers (of daardie oordeel korrek was, laat ek hier in die midde) te aanvaar, het gemaak dat hy gewillig was om die pilare van die hele demokratiese bestel oor homself om te trek.

Foto: Samuel Corum/Getty Images/AFP

Die dieptepunt was ’n week gelede, toe hy ’n opruiende toespraak voor die Withuis gehou en mense aangemoedig het om na die Kapitool, tuiste van die kongres, op te ruk en te keer dat dié Joe Biden se oorwinning bekragtig. Die mense het, reg of verkeerd, verstáán dat hy tot geweld oproep, en die gevolg was iets wat op ’n gewelddadige, mislukte revolusie neergekom het.

Teen dié agtergrond is dit op sigself begryplik dat Twitter en die ander groot internetmaatskappye besluit het om Trump en sy volgelinge in die bek te ruk. Hulle hét immers misbruik gemaak van hul toegang tot Twitter en ander platforms.

Die gevaar is egter dat die groot kapitaliste hiermee ’n ontoelaatbare groot invloed op die politieke diskoers in ’n demokrasie kry. Dat Jeff Bezos, Mark Zuckerberg en ander mag besluit wié aan die diskoers mag deelneem en wát die inhoud van hul deelname mag wees, is prinsipieel verkeerd. Dit druis teen die hele wese van die liberaal-demokratiese regstaat in.

Dit beteken nie dat Trump-hulle (soos Hitler voor hulle) self die demokrasie met onverantwoordelike haatpropaganda mag ondermyn nie. Maar dis hiér waar Merkel se standpunt suiwer is: Laat die demokraties verkose wetgewer wetlike perke skep of bestaandes aanpas, en laat die regbank vervolgens besluit of iemand soos Trump dit oortree.

Dít is die korrekte rigting. Laat Bezos, Zuckerberg en ander hulle bepaal by diensverlening en winsneming, en laat die samelewing sy eie gang, binne die perke van die reg, gaan.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andrew

Jong, dit het ou Trump gevat vir van julle om te begin agterkom wat aangaan. Big tech het maaitjies soos die media en ander wel af mense soos Soros, en die klomp bebaal wat mense moet dink eet en slaap. Uitgeslape het Trump sy regbank in orde gekry voor die verkiesing want hekse jag hier kom ons.

Vrijburger

Aaaaa my eerste koppie koffie en my Leopold vermaak/lag vir die dag. Hier gaan ons alweer met die Trump / Hitler obsessie, wat rerig nie jou argument enige guns doen nie, eerder die teendeel. Geen sosiale media maatskappy het die reg om ‘n demokratiese verkose president te sensor nie. Amerika se “First Amendment” geld steeds en word oortree deur die media. Dit is die verkose politici op Capital Hill se werk. Punt. Maak nie saak hoe jy hierdie probeer ‘spin’ nie. Net so ‘n belangrike punt – die sosiale media maatskappy wat net konserwatiewe menings sensor. Sekerlik moet dit ongrondwetlik… Lees meer »

Cryptogruppe

a quote from George Orwell’s seminal work 1984– a masterpiece that describes life in a totalitarian state that demands blind obedience. The ‘Party’ controlled everything– the economy, daily life, and even the truth. In Orwell’s 1984, “the heresy of heresies was common sense.” “Every record has been destroyed or falsified, every book rewritten, every picture has been repainted, every statue and street building has been renamed, every date has been altered.” “And the process is continuing day by day and minute by minute. History has stopped. Nothing exists except an endless present in which the Party is always right.” If… Lees meer »