Om te rus is net so belangrik as om te werk

Die tyd van die jaar raak dinge stadiger en daar daal ‘n gees van rustigheid neer in die meeste normale werksplekke.

Dit is ʼn tyd waartydens mense by hulle gesinne en familie uitkom en op vakansie gaan om te rus. Die wêreld kan maar vergaan, daar sal eers in Januarie weer wakker gelê word oor die probleme en uitdagings van ons werk. Hierdie tydjie is van korte duur, want om te rus is lekker en wanneer iets lekker is vlieg die tyd. Januarie is om die draai en dan sien mens weer net stofwolke trek, teen Augustus begin almal vir mekaar te vertel hoe vinnig 2012 om is en word daar met opgewondenheid gewag op Desember.

In hierdie stukkie wil ek sonder om akademies te raak stilstaan by die volgende vrae: Wat is rus? Is rus nodig? Wat is volhoubare rus? Die antwoorde poog nie om volledig of akademies korrek te wees nie, die enigste poging van hierdie inset is om denke oor rus te stimuleer, sodat elkeen wat dit lees oor sy/haar eie rus praktyke kan nadink.

Vincent van Gogh, Noon - rest from work (after Millet)

Wat is rus?

ʼn Vinnige soektog op die internet koppel rus met woorde soos onder andere, slaap, stop van aktiwiteite, ontspanning, vrede, vryheid, gemak en stilte. Hierdie tipe woorde pas mooi in by die prentjie wat by die inleiding geskets is, maar rus is veel meer as dit. Die rus van liggaam, siel en gees is baie belangrik en behels dit nie noodwendig dieselfde aktiwiteite nie.

Wanneer jou liggaam rus is dit belangrik om energievlakke te herstel en jou liggaam te voed met wat nodig is. ʼn Gesonde dieet en genoeg slaap is op ʼn deurlopende grondslag nodig om jou liggaam in stand te hou. Dit is ook nodig om jou liggaam op verskillende wyses aan te wend ten einde effektief te kan rus. Indien mens onaktief is en nie gereeld oefeninge doen as deel van jou roetine nie, verlaag die kwaliteit van rustende periodes en in plaas daarvan dat die liggaam herstel, spiraal dit verder in moegheid en kan selfs lei tot uitbranding. Die rede vir oefening is hoofsaaklik omdat jou liggaam ook goed gekondisioneer moet bly ten einde tye van rus optimaal te benut. Daarmee saam help ʼn holistiese uitkyk op gesondheid en ʼn gebalanseerde leefstyl ook om rus te bevorder.

Die rus van jou siel en gees is ook belangrik. Om af te skakel, te dink en lees oor die dinge van die lewe, die ewigheid, jou belangstellings en jou aktief daarin te beoefen is noodsaaklik vir algemene welstand. Die mens is soekend geskape en byvoorbeeld vir my as Christen is my soeke ʼn verhouding met God die Vader, Seun en Heilige Gees. My siel vind sy rus by God en is ʼn lewende verhouding met Hom noodsaaklik vir hierdie rus. Rus van die siel is om tyd vir jouself te maak en tydjies opsy te skuif wat joune is, al is dit kort tydjies waartydens daar net gestaar is na die sterre. Gee jou egter die krediet wanneer jy so tydjie gemaak het. Daardie oomblikke van stilte, rus en vrede vergroot die balans in jou “rus” bank waaruit jy later, wanneer dit nodig is om hard te werk, die nodige onttrekking van krag en stamina kan gaan maak.

Julien Dupré, A moment's rest

Is rus nodig?

Ja, rus is nodig! Niemand van ons kan sonder rus klaarkom nie. Net soos jou liggaam voedsel nodig het om te oorleef het jou liggaam, siel en gees rus nodig om te oorleef. Die hartseer is dat niemand dit eintlik ontken nie, maar ʼn hele groot lot van ons rus nie genoeg nie. Dalk omdat ons glo dat om besig te bly beter is as om te rus. Ons word baie keer gedryf deur ons eie vrese en situasies om besig te bly sodat ons nie nodig het om dit wat ongemaklik is aan te spreek en uit te sorteer nie. Om die lig te sien, moet mens deur die donker werk.

Om met die mond te bely dat rus nodig is, is nog geen aksie nie. Om te rus is ‘n doelbewuste keuse. Daar is verskillende redes, maar ons meng baie maklik in met ons rustyd. Tyd is min en die maklikste plek om te gaan vat is die tyd wat vir rus bedoel was.

Met te min rus is die lewe nie volhoubaar nie en op een of ander stadium gaan die tekens van te min rus begin sigbaar raak. Baie keer is die besluit om dan te begin rus te laat en het mens krukke nodig om verder deur die lewe te gaan.

Foto: www.wallpapers.li

Wat is volhoubare rus?

Volhoubare rus is om deurlopend op alle vlakke tyd te maak vir rus. Dit is nie volhoubaar om elf maande van die jaar te hardloop en te werk ten koste van jouself en dan te dink in Desember sal ek myself beloon en opvang nie. Volhoubare rus word slegs deur ʼn lewensingesteldheid bereik. Elke dag het sy tyd vir rus, nie net slaap nie, maar ook aktief te rus deur te oefen en jou eie tyd van energiegewende aktiwiteite te bedryf. Gee deurlopend aan jouself die krediet vir dit wat jy gedoen het om jouself te laat rus. Elkeen van ons verdien dit!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Henk Schalekamp

Henk Schalekamp is voorsitter van Solidariteit Beleggingsmaatskappy en dien op die rade van Akademia, Sol-Tech, Solidariteit Eiendomme en Solidariteit Finansiële Dienste.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.