Onafhanklike media sal nie stilbly nie

susan_lombaard

Susan Lombaard Foto: Maroela Media

Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof van die SAUK, se aankondiging vroeër vandeesmaand dat die SAUK nie meer beelde of klank gaan uitsaai van stakers wat openbare eiendom beskadig of aan die brand steek nie, het gister tande gekry toe drie senior personeellede van die SAUK geskors is omdat hulle glo dié sensurering gekritiseer het. Die drie personeellede is Suna Venter, senior verslaggewer van RSG, Foeta Krige, Monitor/Spektrum se uitvoerende regisseur, en Thandeka Gqubule, sakeredakteur.

Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) se openbare verhoor oor klagtes oor Motsoeneng se sensuuropdrag, wat deur die Media Monitoring Project teen die openbare uitsaaier aanhangig gemaak is, neem vandag ‘n aanvang. Dié skorsing is dus slegs ‘n dag voor die verhoor ‘n aanvang neem.

Dis reeds onrusbarend dat die openbare uitsaaier hom skuldig maak aan sensuur oor aangeleenthede wat in publieke belang is. Maar dat drie personeellede wat hulle nie eens skuldig gemaak het aan oortreding van ‘n opdrag nie, maar bloot kritiek teen die opdrag uitgespreek het, geskors word, is uiters ontstellend in ‘n land waar vryheid van spraak hoog aangeskryf word.

Dis egter asof die openbare uitsaaier nie snap dat media lankal reeds nie meer beperk is tot die SAUK-geboue in Aucklandpark nie. Elke lid van die publiek loop met ‘n stukkie media in sy hand rond, en kan enige tyd foto’s versprei, beeldmateriaal publiseer en ‘n mening gee.

In ander nuus, ook gister, loop ‘n kleuterskool in Centurion deur omdat onderwysers na bewering kinders op grond van ras by verskillende tafeltjies laat sit het. Die ma van die swart dogtertjie wat alleen sit op ‘n foto, wat die onderwysers tydens ‘n klaspartytjie geneem en aan ouers versprei het, het heftig gereageer met ‘n fel aanval teen die kleuterskool en het onmiddellik haar kind uit die skool verwyder. Sy het ook geweier om met die skoolhoof te praat. Aan Maroela Media het die skoolhoof verduidelik wat volgens die skool gebeur het: Die swart dogtertjie en nog ‘n (wit) maatjie het ‘n bietjie langer op die speelgrond gespeel, en die eerste tafeltjie (waar die kolwyntjies vir die partytjie neergesit is) was reeds vol toe die twee stoep toe kom om partytjie te hou. Hulle het by die tafeltjie langsaan gaan sit. Die wit dogtertjie het begin huil en ‘n onderwyseres het haar opgetel en getroos, met die gevolg dat die swart dogtertjie toevallig alleen by die tweede tafel bly sit het, net toe die foto geneem is.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR van onderwys, het van die voorval te hore gekom en op Twitter uitgevaar oor die skynbare rassisme by die kleuterskool. Hy het onder meer gesê die feit dat Afrikaans die onderrigtaal by die skool is, is die rede vir die “status quo.” ‘n Maatskaplike werker is opdrag gegee om die skool onder hande te neem en te “doen wat reg is”. EFF-ondersteuners in Pretoria is van voorneme om vanoggend by die kleuterskool bymekaar kom om te betoog oor die voorval.

In ‘n onderhoud op die radiostasie 702 vanoggend is die hoof van die skool genooi om, saam met Lesufi, aan ‘n gesprek deel te neem oor die voorval, en haar kant van die saak te stel. Op die geskeduleerde tyd vir die onderhoud was die skoolhoof egter nie telefonies bereikbaar nie, en net Lesufi se kant van die storie het duisende 702-luisteraars bereik.

Ook hier het sosiale media ‘n kardinale rol gespeel in hoe die storie ontvou; ongelukkig dié keer tot nadeel van die skynbaar onskuldige skool.

Maar nie Lesufi of Motsoeneng sal dit regkry om die media stil te maak en die publiek van hul mening te ontneem nie. Deur onafhanklike media-instansies en sosiale media sal ons al die kante van elke storie aanhou vertel. Ons sal beeldmateriaal publiseer van onluste, want dit is wat daar buite gebeur, en dit raak ons elkeen. Ons sal praat met partye betrokke by voorvalle soos die “kolwyntjie-kleuterskool” en seker maak ons wys ‘n volledige prentjie.

Die media wat jy in jou hand vashou, waar jy jou mening op Facebook of Twitter kwytraak, is ook veronderstel om deel te wees van hierdie volledige prentjie wat ons en ander onafhanklike mediahuise probeer skets. Dit het net soveel mag soos dit wat die SAUK op die seweuur-nuus uitsaai. Die verantwoordelikheid van ‘n joernalis, om objektief, regverdig en volledig te berig, word nou joune. Dink mooi voor jy iets publiseer – dit kan maak of breek.

 

Groetnis
Susan Lombaard
Redakteur: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Janie van Heerden ·

Mooi so Maroela Media! Julle maak ons trots. Maar ek voel baie jammer vir die goeie joernaliste by die SAUK gemuilband word.

Celia ·

Baie dankie Maroela en mag die Here julle seen!
Julle is soos n tjoop op n stormsee vir ons!
Dankie vir wat julle doen, julle staan vir die waarheid en Christenskap. Die nuus is maar hartseer en sleg, maar ons verkies die waarheid en om nie mislei te word nie. Ons kan saamstaan en bid vir ons mense wat in nood verdruk word en slagoffers van plaasmoorde- sonder julle sou ons nie van hulle geweet het nie.
So erg as wat die nuus is ek verkies om te weet. Ek bid daagliks vir elkeen waaroor Maroela ons inlig en my hart gaan uit na die geskorste sabc personeel asook die skooltjie.
As almal van ons net kan saamstaan in gebed teen hierdie bose – ons kan n storm losbid!

Frik ·

Nie almal kyk seweuur nuus nie, maarek sou se 100% kyk elke dag tenminste eenkeer na hul mobiele media. So, kom ons vat die anc SAUK aan!

Retha ·

Susan jy is ‘n yster. So bly iemand staan teen die korrupte SABC op. Hulle bied in elk geval net ‘n pot vol gemors op hulle tv aan.

Marius Nortje ·

Ons moet n trust stig, waarin ons almal ons tv lisensiegelde kan inbetaal. Ons is op die oomblik besig om finansieel by te dra aan n propaganda wapen teen onsself. Wie gaan die ding lei? Afriforum?

NH ·

Mooi so Maroela! Sit die groot Klein mannetjies daar bo op hul plek!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.