Onafhanklike regbank tot uiterste beproef

Mogoeng Mogoeng

Hoofregter Mogoeng Mogoeng. Foto: GCIS

Deur Jeannette Gnade

Dit was met skok en ontnugtering dat die land verneem het van die inbraak by hoofregter Mogoeng Mogoeng se kantoor. Wat uit die staanspoor geblyk het, is dat die diewe presies geweet het waarna hulle soek. Altesaam 15 rekenaars met sensitiewe inligting soos regters se woonadresse is met militêre presisie uit die afdeling vir menslike hulpbronne gesteel. Ander waardevolle items is net so gelaat. Die opposisie het dadelik vinger gewys na die departement van staatsveiligheid, wat natuurlik enige betrokkenheid ontken.

Die feit dat die gewaagde inbraak so gou ná die konstitusionele hof se uitspraak in die Sassa-debakel plaasgevind het, het ʼn sterk vermoede laat ontstaan dat die diefstal daarop gemik was om die land se hoogste hof die skrik op die lyf te jaag. So asof die howe gewaarsku word om nie die wetgewende en uitvoerende gesag in die land teen te gaan nie.

Hoe vergesog dit ook al klink, moet dit gesien word teen die agtergrond van die ANC se plan om die presidensie in ʼn soort oppergesag te omskep, oftewel ʼn magsentrum wat die staat se beskikbare geldbronne na sy eie goeddunke aanwend sonder inmenging van die Tesourie. Die feit dat regters se persoonlike inligting nou in die openbare domein is, is skrikwekkend. As dié gegewens in die verkeerde hande val, kan regters afgepers word om uitsprake te lewer wat die staat goedgesind is.

Die regering en die ANC het al soveel keer bloedneus in die land se howe gekry, dat dit nie onmoontlik is vir onderduimse regeerders om op dié manier hulle wil af te dwing nie. Die ondersoek is in die hande gelaat van die hoogste polisiegesag, maar selfs dit is ʼn skrale troos aangesien die hooggeregshof pas besluit het dat die aanstelling van die Valkehoof onwettig was.

Watter versekering is daar dat die polisie nog vertrou kan word? Daar is al dikwels gesê dat die Nasionale Vervolgingsgesag en die Valke-eenheid blote marionette van die regering is. Die groot vraag is egter wie die politieke poppespel beheer. Dit bring die kantoor van die president onder verdenking. Net hy het genoeg mag om al die toutjies te trek – veral as senior kabinetslede hulle samewerking gee.

Daar is dikwels voorspel dat die maande in die aanloop tot die ANC se leierskapskonferensie aan die einde van die jaar uiters gespanne gaan wees. Niemand het egter verwag dat die onafhanklike regbank tot die uiterste beproef gaan word nie. Die howe is al toevlug vir die land se burgerlike organisasies, opposisiepartye en gewone Suid-Afrikaners om reg en geregtigheid te laat geskied.

As hierdie onafhanklikheid wegval deur staatsmanipulasie kan daar net sowel ʼn militêre staatsgreep afgekondig word. Die geskiedenis het geleer dat ʼn land so dikwels deur rewolusionêre magte oorgeneem word, net vir die einste magte om teen hulle ondersteuners te draai as hulle teenkanting kry. Is dit wat tans in sonnige Suid-Afrika gebeur?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JAN ·

Dit sal ‘n donker dag vir die land wees as die regstelsel sy onafhanlikheid en gesag verloor.

Nogsteeds bly God in beheer: …want daar is geen gesag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel. Rom 13:1 Afr53

Al wat ek dink is dat ons getugtig en gelouter word deur die Here totdat die hele volk hom tot God opreg bekeer en die werke dra wat by bekering pas. As ek Siener van Rensburg se profesie reg interpreteer, dan gaan dit eers baie sleg gaan voor die verlossing kom met die hulp van die Duitsers. Hulle het ons bevry vd Katolieke met die reformasie in 16de eu, daarna die 1ste en 2de wereld oorlog.Een goed, twee slegtes. Hulle skuld ons ‘n goeie een.

Intussen kan ons onder andere die volgende doen:

1 Bid vir ons regeerders: …dat smekinge, gebede gedoen moet word vir … almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n stil en rustige lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. 1Tim2:1-2.

2 Nie vrees nie: moenie vrees vir die wat die liggaam dood maak en daarna niks kan doen nie, maar vrees Hom liewer wat die siel en die liggaam kan verderwe in die hel. Mat10.28

3 Ons vertroue op die REGVERDIGE REGTER plaas:
Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad. 2Kor5.10

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.