Onder die dekmantel van ongenaakbare versoening

Stiltetyd-13.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Ds Petrus Kriel, NG Gemeente Levubu

Op 16 Junie 2016 vind die veertigste herdenking van die 1976-Soweto-opstande plaas. Onder leiding van Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke beplan Afrikaanse lidkerke ʼn versoeningsreis, wat strek vanaf 16 Junie tot 16 Desember.

Sommige Afrikaanse kerkleiers meen ons het “baie min gedoen het om die reënboog” van die nuwe Suid-Afrika in ʼn “werklikheid vir alle mense te omskep.” Daarom beskou kerkleiers 16 Junie 2016 as ʼn geskenk van die Here en ʼn geleentheid vir ʼn nuwe versoeningsreis met die tema Sing ʼn nuwe (Suid-Afrika) lied! na aanleiding van Psalm 98.

Die oortuiging het by die deelnemende kerke gegroei dat die “Afrikaanse” kerke (bedoelende die kerke met ʼn substansiële Afrikaanse lidmaattal, uit wie se geledere die grootste deel van dienspligtiges gekom het en wat die vorige bedeling op die een of ander wyse gelegitimeer het) ʼn besondere leiersrol in wat vir 16 Junie 2016 en verder voorsien word.” 

Op Saterdag 11 Junie vind ʼn “saamtrek van wit en swart” in die Orlando-stadion in Soweto plaas, waar gefokus word op belydenis, vergifnis, versoening en heling.

Op 16 Junie vind ʼn versoeningsdiens in die Rooms-Katolieke Regina Mundi-kerk in Soweto plaas.  Afrikaanse kerkleiers sal deelneem aan ʼn liturgiese seremonie by die Hector Petersen-monument. In kerklike kringe word die vraag gevra of soortgelyke byeenkomste nie ook by Robbeneiland en Bloedrivier moet plaasvind nie? Gemeentes sal binnekort ʼn spyskaart ontvang vir versoeningsprojekte tussen 16 Junie en 16 Desember.

Natuurlik wil die meeste Suid-Afrikaners in vrede veilig en voorspoedig lewe. Dit is noodsaaklik dat Suid-Afrikaners met mekaar begin praat oor sake wat die samelewing polariseer en anargie bevorder.

Daar is indringende vrae oor wysheid van die kerklike versoeningsaksie in die huidige verkiesingsklimaat. Nasionale vakansiedae soos Jeugdag en Versoeningsdag is nie as Christelike feesdae soos Paasfees en Kersfees bedoel nie. Die inisiatief herinner te veel aan die UDM in se pogings om wit en swart onder die sambreel van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke te verenig as ʼn geestelike versetbeweging teen die destydse NP-regering. Die Afrikaanse gemeenskap het tot dusver met wysheid en diplomasie elke poging probeer systap om in die huidige verkiesingstryd deur politieke partye geteiken te word wat deur rassehaat en kulturele vandalisme kiesers probeer werf.

Die huidige anargie is nie ʼn rasseprobleem nie. Nog minder is die oplossing ʼn kerklike seremoniële vertoon van mense as “wittes” en “swartes”. Is dit wys vir kerke om Suid-Afrikaners, veral wit Suid-Afrikaners, in die gevaarlike klimaat onder die dekmantel van versoening in te lok in ʼn nuwe kerklike verset teen die staat? Boonop is  die staat se vakansiedae soos Jeugdag nie as Christelike feesdae soos Paasfees en Kersfees bedoel nie.

Dit is onwaar dat ons nie genoeg gedoen het vir versoening en die sukses van die land nie. Die meeste Afrikaners het ten spyte van die aanvaarding van werksverlies, eiendomsverlies, die verlies van kontrakte, die meeleef met die plundering van die owerheid se kleptokrasie, onbillike rassekwotas en kriminaliteit nie die land verlaat nie. Hulle betaal belastings, is betrokke in hul gemeenskappe en werk hard aan ʼn beter toekoms vir hul kinders. Dit is ook waar van die meerderheid swart, bruin en Indiër Suid-Afrikaners. Het die burgerlike samelewing werklik nou ʼn nuwe kerklike beskuldiging van kollektiewe nalatigheid nodig?

Die kerke meen 16 Junie het “enorme simboliese waarde” en die simboliese waarde moet gebruik word” om versoening te bewerkstellig. Wat beteken versoening in die konteks presies? Word die versoening ter sprake onderlê deur die Bybel of eerder deur die nasiebou doktrine en transformasie-ideologie waar die verloëning van kulturele identiteit ʼn voorvereiste is? Gaan die versoeningsaksie vir die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke bloot oor die rasse-identiteit van witmense  en swart mense? Indien wel, versinnebeeld die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke bloot die papperige liberaliteit van ons tyd.

Of kan versoening beteken gemeenskappe streef onderling goeie verhoudinge na wat gekenmerk word deur naasteliefde en wedersydse respek? Indien dit die vertrek punt is, is dit moeilik om te sien hoe die kerklike kaping van gemeenskappe se historiese en kultuursimbole goeie verhoudinge gaan bewerkstellig.  Die kerk het immers ʼn baie kragtiger versoeningsimbool as 16 Junie of 16 Desember, naamlik die kruis van ons Verlosser. Die kruis is vir die meeste Suid-Afrikaners genoeg.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Petrus Kriel

Petrus Kriel is dominee van die NG Kerk Levubu.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

StopTheMadness ·

Uit die artiekel is dit nie duidelik of Ds Kriel n stelling maak of vraag vra nie. Die laaste twee sinne weeg vir my die swaarste. Ds Kriel moet verstaan dat so n aksie slegs tot waarde kan wees indien alle betrokke partye dieselfde agenda het. Ons weet uit ondervinding dat die regerende party, en so ook ander “struggle” bewegings hulle bestaansreg te danke het aan apartheid en die gepaargaande rassisme. Dit is presies om hierdie rede dat die rasse vuur constant deur die regerende party aangeblaas word om die massas te laat glo dat rassisme lewendig en gesond is. Die risiko vir hulle is dat die bestaansreg van enige sg “struggle” organisasie of party vernietig sal wees wees sonder rassisme. Rassisme is hulle lewensbloed.

hans ·

Bloot die feit dat daar n seremonie by die Peterson-gedenkteken gaan plaas vind twyfel ek nie daaraan dat die liturgiese verrigtinge ook aangewend gaan word vir politieke doeleindes. Verder as daar aan die optrede van Lauren Beukes teenoor Eugene de Kock,wat al herhaaldelik vergifnis gevra het vir sy optrede, het ek bedenkinge of die Soweto enige werklike doel gaan dien.

Hendrik ·

Ek stem saam Hans. Op hierdie staduim is my houding : Los my net eenvoudig uit. Ons reageer op elke moontlike dingetjie wat almal se. Ons kan nie Afrika meer red nie en ons kan nie ‘n ander regering instem nie. Die beste is of vir ons eie toekoms te sorg.

AvrilS ·

Ds Kriel, ek wil net vir u se, kry EERS almal by God se voete, laat almal daar vergifnis vra, dan kan jy weer probeer om almal bymekaar te kry. Ek is trots blank en uit daardie era, HOEKOM moet ek as blanke dienspligtige aanhoudend omverskoning vra.
Dit klink my dit gaan hier oor u eie ego, en NIE tot eer van GOD nie.

John ·

Ons president was vanjaar op Paasvrydag by ‘n plaaslike Christenbyeenkoms en op Opstandingsondag in ‘n Moslemland, glo met dringende handelsooreenkomste besig. Ons voormalige president Mandela was glo volgens oorsese berigte nie Christelik georienteerd nie. Hierdie land bestaan uit ‘n wedestrewige klomp mense. Skyngodsdiens met die een oog op mense se beursies, is godslasterlik. Alle godsdienste kan nie handevat nie. Hetsy Engels of politiek, ons gaan nie die Hemelvader se arm draai om te doen wat ons Hom beveel om te doen nie. Die hele bogenoemde aksie dien net ‘n aardse doel. Ons land is ‘n sirkus nou wil die kerklikes ook in die ring klim saam met die narre.

Cobus ·

Mnr die predikant. Daar het so baie kerke van die waarheid afgedwaal om die wêreld tevrede te stel. Kry eers jou eie verhouding reg tot die Lewende God en dan jou gemeente voor jy so graag “almal (wêreld)” wil verenig. Die reguit paadjie word net smaller en moeiliker. Wat reg was volgens die Skrif is nou verkeerd, en wat verkeerd was, is reg omdat die mens gedien word. Hou op aandag soek en spandeer eerder tyd in jou binnekamer voor die aangesig van die Here.

MJL ·

Ek dink van die kommentators hier moet net weer die stuk mooi gaan deurlees.

Ben Prinsloo ·

Dit is agv die kerke dat die blankes vandag sit waar hy sit. Ek weier om verskoning aan te bied agv die feit dat ek in die weermag was, in sogenaamde apartheid grootgeword het en vele ander verskonings wat ek moet maak. Die NG Kerk is egter die groot sondebok van die kerke. Ek sê ook dan reguit dat daar is nie n ding soos apartheid nie. Sou daar so iets was dan is die hele wereld in apartheid.

Dirk Breytenbach ·

Ek laat my nie brein spoel deur liberale godsdienstiges nie. Ek kan nie aan iets dink wat ons nog moet doen om vergifnis te kry nie daarom steur ek my nie aan godsdienstige en politieke praatjies in die verband nie. Ek en baie Afrikaanses om my het reeds ‘n prys betaal itv verlies van geleenthede, erkennings dat apartheid verkeerd was, afdankings onder die dekmantel van BBBEEE ens. wat steeds aan die gebeur is. Baie van ons werk desondanks aan ‘n nuwe gemeenskap en bou weer besighede op wat verlore gegaan het agv sosiale ingenieurswese en uitsluiting op grond van ras en kulturele afkoms. Aan die mense wat Eugene de Kock so sleg behandel het, skaam julle as julle so iets kan doen. Hy het ‘n groot prys betaal vir sy wandade los hom uit sodat hy ‘n nuttige burger van die land kan word. As die benadeeldes wag op een of ander wonderwerk om hul vir hulle verliese en benadeling te vergoed, dan gaan hulle wag tot Jesus kom soos die ANC lief is om te se. Ek dink dis tydmors om so aanhoudend te hamer op die verlede, die toekoms is nou belangriker. Hoeveel keer moet ek nog BBBEE voor ek aanvaarbaar is?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.