Onder watter omstandighede is oorlog ooit veroorloof?

poppy-day

Foto: Jelleke Vanooteghem/Unsplash.com

Die grootste deel van die Westerse wêreld het onlangs met die sogenaamde Poppy Day die einde van die Eerste Wêreldoorlog herdenk. Dit word elke jaar gedoen… wie van ons het nog nie die rooi papawertjie van papier gesien wat jaarliks in die knoopsgate van politici en ander hooggeplaastes pryk nie?

Waarom nou juis ʼn papawer? Dit is om die slagvelde van Vlaandere te gedenk waar duisende soldate van die Weste (en ook Duitsland) in die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het. Die velde van Vlaandere, by Waregem op die grens met Frankryk, was volgens oorlewering rooi van die bloed ná een van die bloedigste veldslae van die oorlog. Kort daarna was die veld ook bloedrooi met die rooi papawers wat vandag nog simboliese waarde het.

Meer as nege miljoen soldate het gesterf voor die oorlog verby was, meer as tien miljoen burgerlikes is dood en sowel Frankryk as Duitsland het sowat 80% van hul manlike bevolking tussen 15 en 49 jaar oud na die front gestuur. Die oorlog het geëindig met die Verdrag van Versailles, wat eintlik so ’n belediging vir die Duitsers was dat Hitler jare later dit uitgebuit en uiteindelik die Tweede Wêreldoorlog begin het. Hoe het hy dit gedoen? Deur populistiese openbare uitsprake dat Duitsland verneder was, en dat hy sy verlore trots moet terugwen. Daar was ook verskriklike werkloosheid in Duitsland en Hitler het gesien die enigste manier waarop hy werk kon skep, was om wapens te vervaardig.

“Deutschland Über Alles” (Duitsland is alles) het sy slagspreuk geword waarmee hy die mense opgesweep het. Dit alles het by my opgekom toe president Donald Trump sy eie doepa vir die massas gevoer het met “America First” – en dadelik sy wapennywerheid vrye teuels gegee het om soveel wapens moontlik te vervaardig en te verkoop.

Maar voor ons daar kom, onder watter omstandighede is oorlog veroorloof? Mag ’n mens jou jong mense stuur om ’n ander land aan te val om, onder meer, sy goud, diamante of olie te kry, of mag jy net na wapens gryp om jou land te verdedig wanneer hy aangeval word? Só het die Britse Ryk die Oranje-Vrystaatse en Transvaalse Republieke aan die begin van die twintigste eeu binnegeval nadat goud en diamante hier ontdek is; en só het Amerika, Brittanje en Frankryk in Irak, Afghanistan, Sirië, Libië en ander by rebellegroepe betrokke geraak om, word algemeen aanvaar, die vloei van olie uit die Midde-Ooste te beheer.

Die probleem is dat baie jong mans wat oorlog toe gaan, geen keuse het nie. Duisende jong Suid-Afrikaners het geen keuse gehad toe hulle onder die ou bedeling opgeroep is om “grens toe te gaan” nie. Wat waar is, is dat die Russe en Kubane op ons grense was, maar baie jong mense is daarna onregmatig deur die gemeenskap verwerp en sukkel vandag om aan die lewe te bly.

Dis egter waar dat die duisende Amerikaners, Britte en Franse wat gestuur word om in die Midde-Ooste te gaan veg, ’n keuse het. Hulle word betaal. Die probleem is egter dat hulle nie besef dat, terwyl hulle op die vyand skiet, die vyand ook terugskiet nie. Oorloë word egter geromantiseer – soos met ’n rooi papawer – en politici vertel aan hulle dat dit ’n eer is om vir jou land te sterf. Werklik, ek dink dis eerder ’n eer om vir jou land (en jou gesin) aan die lewe te bly.

Ek is nie ’n vrou nie, en kan nooit geboorte aan ’n seun skenk nie. Maar om te voel hoe jou seun in jou liggaam begin lewe, hom nege maande te dra en dan daarna in ’n vreemde land aan die dood af te staan net om die magsug van politici te bevredig, moet verskriklik wees.

Terloops, dis nie net die mans wat swaarkry in oorloë nie; wat van die duisende vroue wat verkrag en saam met hul kinders, ’n hongerdood sterf? Dink maar wat vandag in Jemen gebeur, waar magte van Saoedi-Arabië met die hulp van Amerika, Rusland, Frankryk en Brittanje besig is om miljoene vroue en kinders te verhonger. En waarom? Om wapens aan die olieryke Saoedi-Arabië te verkoop.

Terloops, Suid-Afrika doen dit ook.

Terselfdertyd weier Amerika om stappe teen die Saoedi-kroonprins Mohammed bin Salman te neem ná die dood van die joernalis Jamal Khashoggi in Istanboel. Soveel van ’n eierdans het ek nog nooit gesien nie. Dit lyk asof Amerikaanse moraliteit aan die hoogste bieër verkoop kan word. Trump sê openlik hy wil nie die Saoedi’s vervreem nie, want hulle koop miljarde dollars se wapens by Amerika.

Klink dit bekend? “America First.” Die Amerikaanse ekonomie moet teen elke prys opgebou word. Net soos die Duitse ekonomie voor die Tweede Wêreldoorlog. “Deutschland Über Alles.”

En dan is daar nog mense wat Trump bewonder. ’n Man wat sedert hy aan bewind gekom het met tientalle lande rusie gemaak het, militêre en omgewingsooreenkomste opgeskeur het en lande soos Noord-Korea en Iran met die ergste vuur en swael dreig. Is dit net retoriek, of wanneer kan geweld nie meer gekeer word nie?

Kom daar ’n Derde Wêreldoorlog, of is dit reeds aan die gang? Ek weet nie, maar wat ek weet, is die volgende: Mammas, hou vas aan jul seuns en dogters. Politiek is gevaarlik!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Stephan de S ·

Ai Tienie jy ken darem die wêreld beter as dit. Trump se Amerca First en Hitler se Deutschland Uber Alles is wêrelde uit mekaar. Trump se slagspreuk behoort elke president se slagspreuk te wees.Soos wat elke vader sy gesin eerste behoort te stel so behoort elke president sy land eerste te stel.
Die Amerikaanse politieke stelsel gee aan geen president die mag om soos Hitler op te tree nie.
Daars geen gronde om te insinueer dat Hitler en Trump se wapenvervaardiging op dieselfde neerkom nie……dis onmoontlik vir n Amerikaanse president om op langtermyn n oorlogsdoelwit , soos Hitler, na te jaag nie.
Wat die morele keuses van state betref (jou voorbeeld van VSA en Saoedi Arabië verwys); in n vorige artikel deur L Scholtz het hy voorbeelde gegee van hoe politici soms besluite moet neem in die lig van wat polities moontlik is en nie noodwendig moreel is nie. Ons leef in n gebroke wêreld my vriend…..al my en jou besluite is nie altyd moreel nie.

Ronnie ·

Wie nog nie verstaan dat “America First” eintlik “Trump First” beteken nie, hou nie tred met die werklikheid nie. Sy enigste doelwit is selfveryking. Dit is so dat hy aanvanklik Amerika se militere vermoë wou versterk, maar na sy mees onlangse ontmoeting met Putin, (waarvan ons weet), het hy aangedui dit is ‘n fout. Putin se opdrag? Baie moontlik.Hy wil klaarblyklik nou eerder die fondse aanwend vir sy muur.
Daar is nie net mense wat Trump bewonder nie, daar is mense wat vra waarom Amerika nie vriendelike verhoudinge met Rusland kan vestig nie. Die antwoord is eenvoudig: dit pas Putin en die Kremlin om Amerika as ‘n vyand voor te hou. Putin stel belang om Amerika en die Westerse Alliansie te verswak en om Demokrasie waar dit nog voorkom te ondermyn. Sy uiteindelike doelwit is om die voormalige Soviet Unie te hervestig. Dit is tog duidelik met die vyandige optrede teenoor die Ukraine. Terselfdertyd word druk ook uitgeoefen op Georgia, Poland, Hongarye ens. Aanvanklik wou hierdie lande nader aan die Weste beweeg en vir daardie rede het Putin die Krim Skiereiland met geweld ge-annekseer.
Wie nog dink Putin en Trump is nie ‘n groot gevaar vir wêreld vrede en vir die handhawing van Demokrasie nie, weet nie dat Trump wil hê “sy mense” moet soos die van Noord Korea op aandag spring as hy praat nie. En Putin? Binnelands word oppossie tronkstraf opgelê en vermoor. En buitelands word hulle vergiftig.

Marthinus Willemse ·

Ek stel voor jy lees prof Richard Sakwa se boek “Frontline Ukraine”. Maar wees gewaarsku: hy demoniseer nie vir Rusland en Poetin nie, hy gebruik koue, harde, feite, en hy mag dalk jou oningeligtheid afskiet.

Trump se probleem is dat hy `n finansieel en moreel bankrot land geërf het. Tienie is reg, dat Amerika slegs uit hulle historiese skuld van iets soos $22 triljoen gaan kom as hulle `n wêreldoorlog kan begin, en massiewe hoeveelhede (swak) wapens aan die oorlogsugtiges verskaf. Die enigste rede waarom daar nog nie `n volskaalse oorlog in Oos-Europa is nie, is weens Poetin, Angela Merkel, en Francois Hollande se vredesinisiatiewe, sedert November 2013. Met Hollande weg, Merkel amper weg, en die res van Europa deel van die Village Idiot-saamtrek (beter bekend as Navo), is die kanse op oorlog groter.

Daar kan net om twee redes oorlog gemaak word: 1: wanneer die VN sê dis reg, en 2: wanneer `n land homself verdedig teen `n aggressor. Daar is duisende Amerikaanse soldate in die Oekraïne en Europa, maar nie een Rus nie. Dit laat jou mos dink.

Gert ·

Selfverryking?? Een van die rykste mense op aarde, wat glad nie ‘n salaris kry nie omdat hy self besluit het hy wil niks kry nie?
Die Trump-haters verstom my!

Hendrik UAE ·

Wel ek sit liewer met nTrump wat nie salaris trek nie en n Trump en Putin wat weier om hulle lande te laat oorneem deur vreemdelinge as met die klomp agterbakse korrupte spul ons het.Ten minste roei hulle nie die minderhede in hulle eie land uit nie en probeer ekonomies vooruit gaan.

Gerhard ·

Dit klink my sommige mense is behep met Amerika en Trump. Waarom sal hierdie mense nooit die eenpartystaat Sjina wat selfs meer skuldig is aan menseregte vergrype as Saoedi-Arabië en Rusland wat sommer dele van ander lande annekseer ooit kritiseer nie?

Therese van Schalkwyk ·

Dis heel duidelik dat die skrywer onwrikbaar anti-Trump is, en dat niks of niemand hom anders sal oortuig nie.

Waarom slégs die VSA/Trump moet ophou wapens verkoop om hul “moraliteit” te toon, moet iemand asb. verduidelik. Dieselfde met die Parys-akkoord waarvolgens Amerika miljoene aan omgewingsbelastings moet opdok, terwyl China, Indië, om van Suid-Afrika nie eers te praat nie, lustig voortgaan met vuil steenkoolverbranding?

Mnr. Fourie kan ontspan, dis net ‘n kwessie van tyd voor die ‘establishment’ se nimmereindigende heksejag op Donald Trump suksesvol is.
Dié van ons wat hom as ‘n vars bries, of dalk eerder orkaan, deur die muwwe politieke wêreld verwelkom het, ‘bad luck.
Die sogenaamde demokrate het gepraat!

Charles ·

Skrywer verstaan duidelik nie vandag se “winde van verandering nie”.Trump is ‘n fakkeldraer vir moee burgers wat moeg is daarvoor dat elitistiese, “humanism/egalitarianism gone awry”liberale globaliste vir hulle voorse waaraan en hoe hulle moet dink en handel.Ons gryp terug na ons wortels(konserwatisme)!

President Trump en sy verkiesing was die uiting van ‘n wereldwye rebellie teen moderne “liberalisme” en sy kabaal;wie dit nie sien nie is inderdaad nie op hoogte van sake nie-die Geel Veste in Frankryk, Nederland en Vlaandere wat al singend op patriotiese wyse hulle misnoe te kenne gee met politiese korrektheid,wie kan dan ontken dat die Weste besig is om ‘n renaissance binne te gaan?’n Lieflike opbloeiing en die daarstelling van dit waarop ons fondamente as Christelike beskawing gebou is.Lees asb.Pat Buchanan se artikel op die nuuswebwerf Townhall.In die VSA het die verfoeilike establishment demokrate en die paar anti Trump “fredocons Trump se verwydering in die oog WANT HY IS DIE EEN ENKELE GROOTSTE BEDREIGING TEEN HULLE VERAGTELIKE HEGEMONIE MAAR Hulle is besig om hulself bespotlik te maak,ORALS is verandering aan die gang,Brittanje,die VSA en nou ook Wes-Europa,na aanleiding van Oos- Europa(God seen hulle)se opstand teen die EU monster.En Suid-Afrika?Net die tyd sal leer…dit gaan nie oor die persoon en bv. die vraag of hy ‘n demagoog is nie, wat sou Hitlerbv.gewees het sonder die ondersteuning van die volk???

Jerry ·

Ek wens oorlog nie eers my vyande toe nie. Oorlog is n lelike ding, dit is boos en vernietig lewe! In oorlog is daar net verloorders. Diegene wat so vinnig praat van oorlog, weet nie waarvan hulle praat nie. Ware leiers bewerkstellig vrede. Swak leiers misluk daarmee!

Merkur ·

Hillary en Obama se „American exceptionalism“ klink vir my baie meer na ´n bedreiging.
„America first“ klink nugter.
Nietemin vind ek dit moeilik om te erken waar Trump deesdae staan en hoop dat hy nie deur Washington en die deep state oorweldig word nie. Ek kan nie dink dat dit vir hom maklik is om koers te hou in die „snakepit“ nie. Defnitief het Trump beweer by sy aantrede om geen onwettige oorloë te begin nie. In teenstelling met sy oorlogslustige voorgangers Bush junior én Bush senior, albei Clintons, Obama en ander oorlogsmisdadigers soos Madeleine Albright, wat eintlik almal agter tralies behoort.

Wat die tweede wêreld oorlog betref, was Engeland baie meer aan ´n oorlog teen Duitsland geïnteresseerd as wat Duitsland aan enige oorlog geïnteresseerd was. Dit moet tog langsaam vir almal duidelik word hoe meer die propaganda van die geallieerdes deurskou word.

Herman G ·

Jou laaste paragraaf is baie interessant. Ek lees nou Pat Buchanan se “Churchill, Hitler and the Unnecessary War”. Baie interessante boek, hy se die selfde as jy…..

Herman ·

Sommer n interesante opmerking oor die Anti Trump berigewing wat “blykbaar al is waaroor CNN kan berig: Ek sien die klomp vlugtelinge van Suid Amerika wat gedink het hulle gaan net oor die Amerikaanse grens loop.
Die linkse media het nou n nuwe naam gegee…. hulle is GLOBAL WARMING VICTIMS….

Klink mos baie beter as illegal immigrants…..

Wens ons Presidente wil n slag iets vir ons land doen.

Merkur ·

@Herman G. Dankie vir die wenk!

My oorspronklike antwoord aan jou met ook ´n wenk oor ´n skrywer en ´n boek van hom is deur Maroela Media verwyder. ´n Boek wat ´n goeie resensie by die koerant „Die Junge Freiheit“ gekry het.

(„Die Junge Freiheit“ is een van die koerante in Duitsland wat die belange van Afrikaners ´n platform gee en ´n onderhoud met Afriforum gevoer het.)

Charles ·

Baie dankie Merkur, jy’s bevonk, en my Germaanse bloedbroer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.