Onderhoud en Egskeiding: Remedies vir wanbetaling?

hein-gonzales-2018-04

Hein Gonzales. Foto: Anne Grace Photography/Verskaf.

Deur Hein Gonzales

Kragtens ’n hofbevel in ’n egskeidings- en/of onderhoudshof, moet daar ’n maandelikse onderhoud aan jou betaal word deur die ander biologiese ouer van jul minderjarige kind(ers). Jy, as enkelouer sukkel egter om elke maand jou finansiële verpligtinge na te kom, terwyl jou eksman/-vrou in weelde leef, in duur motors ry en op oorsese vakansies gaan sonder om onderhoud te betaal.

Wat is jou regte en wat staan jou te doen?

Eerste stap: Strafregtelike aanklag

Kragtens art. 31 van die Wet op Onderhoud, Wet 99 van 1998, soos gewysig, is jy geregtig om ’n strafregterlike aanklag teen die persoon, wat regtens verplig is om te betaal, in te dien. Dit beteken dat die staat strafregterlike aanklagte teen die persoon gaan instel en vervolg soos, byvoorbeeld, in die geval van dronkbestuur saak. Indien skuldig bevind word aan die misdryf, is dit strafbaar met ’n boete of gevangenisstraf vir ’n tydperk van hoogstens 3jaar of met bogenoemde gevangenisstraf sonder die keuse van ’n boete.

Kragtens art. 31(2) van die wet, kan die verweer teen vervolging geopper word dat die oorsaak van wanbetaling te wyte is aan ’n gebrek aan finansiële vermoëns. Die persoon sal egter nie bloot op grond van sodanige verweer op vryspraak geregtig wees indien daar bewys word dat die versuim om te betaal aan sy of haar onwilligheid om te werk of wangedrag te wyte was nie.

Die klaer sal ’n J470E-vorm invul by die onderhoudsbeampte by die onderhoudshof, wat die proses amptelik sal begin, en wel met die nodige bewerings en feite.

Tweede stap: Siviele Eksekusie

Kragtens art. 24 en art. 26 van die wet, stipuleer dit dat wanneer ’n persoon aan wie ’n onderhoudsbevel beteken is, versuim om sodanige betalings te maak, die bevel afdwingbaar is ten opsigte van die bedrag wat die persoon versuim het om te betaal, met rente, deur:

  • ’n Lasbrief vir eksekusie vir die verwydering van roerende eiendom om op ’n openbare veiling verkoop te word. Indien die roerende eiendom onvoldoende is om agterstallige skuld te delg, kan daar op onroerende eiendom, soos huise, op beslag gelê word (Art27(1));
  • Beslaglegging op besoldiging van die skuldenaar (hofbevel dat onderhoud by ander persoon se salaris afgetrek word alvorens sy werkgewer sy salaris aan hom oorbetaal (Art 28)); en
  • ’n bevel vir die beslaglegging van enige skuld (art. 30);

Die effek hiervan is dat daar roerende eiendom soos, byvoorbeeld, motorfietse, meubels en/of motorvoertuie opgeskryf en verkoop kan word op die veiling, ten einde die agterstallige onderhoud en rente aan jou te kan betaal.

Derde stap: Kredietburo en rekords

Kragtens die onlangse wysiging van die Wet op Onderhoud, Wet 9 van 2015, word art. 26 van die oorspronklike wet gewysig deurdat ’n onderhoudsbeampte by magte is om die besonderhede te verstrek van ’n persoon teen wie ’n bevel ingedien is, aan ’n onderneming of besigheid wat krediet verleen as doelstelling, of by die bepaling van kredietwaardigheid van persone betrokke (art. 26 [2A]).

Die doelwit hiermee is om te verhoed dat die persoon wat jou onderhoud skuld, nie vir hom ’n nuwe TV of motor op krediet gaan koop, alvorens sy agterstallige onderhoud nie betaal is nie.

Slotsom

Die onderhoudsproses in die howe kan ’n uitgerekte en tegniese proses word indien jy nie die regte bystand het nie. Voordat jy besluit om stappe te neem teen die wanbetaler van onderhoud, maak ’n afspraak by ’n goeie egskeidings- en onderhoudsprokureur wat jou kan help met die vorms en proses.

Regsonkoste moet jou ook nie ontmoedig om jou regte op te neem nie. Gesels met jou prokureur oor ’n maandelikse afbetalingsooreenkoms vir die saak. Die meeste prokureurs is oop vir hierdie tipe van onderhandeling.

Baie persone word ontmoedig deur die proses en die “papieroorlog” om jou regte af te dwing, maar onthou dat jy as ouer altyd moet optree in die beste belang van jou kind(ers). Stel altyd jou kind se geleenthede en beste belang bo die ongerief van die proses.

Indien jy enige navrae het oor die proses, stuur ’n e-pos na [email protected]

Bron: Wet op Onderhoud, 99 van 1998, soos gewysig.

  • Hein Gonzales is die eienaar van HFG Prokureurs in die Paarl. Besoek sy webwerf by www.hfglaw.co.za 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Eish ·

Ek hoop die jong bulle lees die artikel alvorens hul, hul begeef in n huwelik.
Taan jou lus,
en die vuur geblus.
Anders sit jy die pot mis.
Dié tipe getwis,
sal jou bankbalans spoedig uitwis!

Anon ·

En wat van die pa’s wat elke ekstra sent vir onderhoud gee en self kripeer van elende oor hulle staats beampte salaris nie genoeg is en hulle van die res van hulle familie afhanklik is om uit te help. Terwyl
hulle wel daagliks net so baie
Tyd met hul kinders spandeer in dien nie meer as die ma nie. Trewyl die ma net meer en meer vra om haar leefstyl te finansier. Alles omdat sy vir n egaleiding gevra het vir geen rede as die man voorsien nie aan haar behoeftes nie. Dis nie net altyd die sleg man nie. Sê maarnet

Landi ·

Ek sal ook graag wil weet, wat van die manne wat wel n groot bedrag betaal aan onderhoud en elke maand stiptelik betaal, maar die kind word opgemaak teen die pa en die pa is net daar om geld te gee. Die pa is net die gans wat die goue eiers lê want mammie lewe in weelde en kan lipo suctions ens bekostig maar pappie moet betaal????. Jammer ek is self n geskeide mamma want met die minimum klaargekom het sonder onderhoud en nou betrokke by n man wat gelooi word met onderhoud. Alle manne is die sondebokke nie en alle vrouens is nie geldwolwe nie, net jammer dat so baie vrouens hulle eks mans looi sodat hulle in weelde en gemak kan lewe en nie altyd die onderhoud aanwend vir die regte redes nie. Doen asb n artikel hieroor ook, dankie Maroela

Dom ·

Ek sit self in daardie booitjie maar ek gee maar net elke maand die onderhoud pligsgetrou want daai is een ding waarvoor ek nie toegesluit wil word nie. Ek weet vir n feit dat mamma in weelde lewe en amper nooit by die huis is nie en my twee seuns by haar ma los (wat by haar tuisgaan). Ek sukkel self om elke maand kop bo water te hou met al die dinge en dan moet ek weer n prokureur ook weer betaal om die bedrag te gaan betwis in die hof. Dit is net te maklik vir owerhede om die man te (straf) en aan sy eie lot oor te laat. Ek betaal dit elke maand stiptelik want ek wil glo dat my seuns daarby baat…maar tog weet ek die waarheid.

Boeremeisie ·

Geld dit ook vir die wat nie hulle verhoogde onderhoud (al vir jare) betaal nie?

Elsabe Otto ·

Dis v my duidelik dat hier nie voorsiening gemaak word vir mense wat werkloos raak nie. Of werk minder bekom en dit deesdae skaars is. Ons sit in n staat met 80% werkloosheid. Daar kan tog nie bloed uit n klip getap word nie. Ek is besorg oor die houding van jy moet of. N kind het 2 ouers. Beide ouers moet saamwerk. Ek het as weduwee sonder enige hulp of bydrae my 3 kinders groot gemaak. Maar daar was week. Ek dink dat mens te maklik wil vervolg. Wat sou dit help om n werklose man se kredietwaardigheid aan te tas dat hy nie n TV ? Of dalk n goedkoper blyplek kan bekom nie.

Wimpie ·

EN WAT VAN DIE PA SE REGTE?
WAT VAN DIE KIND SE REGTE TOT N VERHOUDING MET SY/HAAR ANDER OUER?
Als in die wet gaan net oor onderhoud regte (die ma se regte want face dit 99.9% van tyd vat die ma primêre toesig)
Ons kinderwet in Artikel 19 & 20 tref geen onderskeid tussen geslag nie maar ons howe is teslapgat om ordentlik na elke saak tekyk. Wat maak n ma n beter ouer as n pa?
Ons howe klou steeds aan die outydse “Maternal Preference Rule” -Ongrondwetlik.
Pa’s word uit hulle kinders se lewens gedwing.
Wat is redelike kontak? 36 ure n maand?
Hoe bou jy n verhouding met jou kind met 36 ure n maand.
Gee vaders ook hulle regte.
50/50 dis hoe dit moet wees.

Hein ·

Baie mense se lewens sal baie beter wees as hulle ophou om kinders as die poort na geluk te sien. Te veel mense het in hul jongdae n obsessie met ouerskap.

Christien ·

En wat vd pappas wat nie n werk het nie en ni n inkomste het ni. Wat afhanklik van ander mense is. En die mammas kry n groot salarisse maar wil di pappa uit suig wat niks het nie. Is dit di pa se plig om te sorg dat ha

Kyk asb bietjie na di mans se omstandighede. Hul is ni altyd di vark indi verhaal ni

Nie n geldwolf ·

Ek het 2 kinders. Hy betaal R1400 n maand Vir altwee. Ek werk soos n man om te sorg dat my kinders Kan skoolgaan, koshuis, medies, draadjies en wat nog. Hy vra nie eens n foto nie. Hulle het hom vyf jaar terug gesien. Hy stel eenvoudig nie belang nie. Dis mos maklik, ek kom Al jare sonder hom reg en ek Kan so aangaan. As Hy nie belangstel nie hoekom moet ek moeite doen en myself ontstel om hom te dwing? Ek het een keer Vir hom fotos gestuur waarna sy huidige vroulief my geantwoord het en gevra het of ek hom Wil laat skuldig voel. Nee wat, ek voel hulle is my verantwoordelikheid. Ek sal hulle self versorg en grootmaat. Dis Maar my beskeie mening

Was daar ·

Hoe maak die wet voorsiening om seker te maak dat die geld wat deur die ouer betaal word werklik op die kinders gespandeer word? Ek stem saam dat die ouer wat die kinders versorg onderhoud moet kry maar die ander ouer hoef nie bewyse te gee dat sy/hy wel die onderhoud gebruik op die kinders.

Charmaine ·

15jr gelede het die regter my gese, jy’s n verpleegsuster en jy verwag dat jou eksman wat nie werk kry nie onderhoud moet betaal.Wel ek’t opgestaan en self my seun versorg,pappa is nog steeds werkloos,lyk soos n ou mannetjie. Ek werk nog steeds om my seun se verdere studies te betaal.

Gawie Stols ·

Baie Interessant ?my siening. Sien toe na egskeing dat daar n mate van positiewe kommunikasie gehandhaaf word tussen ouers tot voordeel van kinders. Die geld wat jy op prokureurs ens. mors kan aangewend word vir kinders want voor jy jou oë uitvee sit jy met n enorme rekening teen honderde/duisende rande per uur verhaalbaar en wie het dan regtig hier gewen, nie die ouers of die kinders nie. Jy as ouer het ongelukkig minimale beheer oor daai rekeninge . Ondervinding maak mens wys oor besluite wat mens neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.