Ondernemings moet veg teen knyptang-regulasies

besigheid-ondernemings-groei-wen

Foto: Pixabay.com

AfriSake raadpleeg tans sy regspan oor die beperkinge wat op besighede geplaas word, veral voorafkeuringskriteria, in die Wet op die Raamwerk vir Voorkeurverkrygingsbeleid, 2000 (wetno. 5 van 2000).

Dié wet sal verseker dat besighede in wit besit ’n enorme stryd sal hê om aan al die vereistes te voldoen wat deur die wet voorgeskryf word, sowel as deur die Wet op Breëbasis- Swart Ekonomiese Bemagtiging, 2003 (wetno. 53 van 2003). Dit is reeds bykans onmoontlik vir besighede in wit besit om aan dié regulasies te voldoen en om regeringstenders aan hulle toegestaan te kry.

“Besighede het die afgelope 23 jaar agteroorgebuig en aangepas om aan alle wetgewing en regulasies te voldoen wat die regering afgedwing het om vorige ongelykhede aan te raak, asook swartekonomiesebemagtigingsprogramme en -beleidstellings. Dit is egter nou tyd dat besighede begin om hul belange te beskerm, en diskriminerende en beperkende regulasies te veroordeel. Die ekonomiese en sosiale impak van dié regulasies sal tot groter werksverlies bydra en ’n groot invloed op die ekonomie hê – veral op mikro-, klein- en mediumgrootte ondernemings,” sê Charles Castle, bestuurder by AfriSake.

Suid-Afrika se ekonomiese groei is hoogs afhanklik van ’n demokratiese stelsel wat op gelykheid gegrond is, en nie op rasvoorkeur nie. Die bevooroordelende skale van geregtigheid hel in hierdie geval reeds na ’n punt van ekstremisme oor. Die regering moet dit sterk oorweeg om na ’n meritokrasie te beweeg en hul eensydige, rasgebaseerde aanval op minderheidsgroepe in Suid-Afrika stop te sit.

AfriSake moedig alle besighede aan wat deur dié regulasies geraak word om die sakeregtewaghond met die toepaslike inligting te nader.

  • Hierdie artikel is verskaf deur AfriSake ʼn niewinsgewende sakeregtewaghond.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.